Ontkiem ʼn Wiki-saadjie en wen

Foto: Pixabay.com

Hoe het die Alternatiewe Afrikaanse Musiekbeweging in die laat 1980’s tot stand gekom? Waarom is die Hangklip-vuurtoring, wat op die oostelike punt van Valsbaai geleë is, in 1960 opgerig? En wat is die lewensverwagting van ‘n bloupylstert?

Van 15 Desember tot 15 Januarie word alle geesdriftige Wiki-gebruikers wéér uitgedaag om soveel as moontlik van die 23 265 Afrikaanse saadjies op Wikipedia te ontkiem.

ʼn Saadjie is ʼn brokkie inligting wat te kort is om as ʼn volledige artikel te kwalifiseer. Gewoonlik word ʼn minimum aantal grepe (bytes) nie vir die lengte van volledige artikels gespesifiseer nie, maar vir die doeleindes van dié kompetisie kom ʼn artikel eers in aanmerking wanneer dit 5 000 grepe of meer bevat.

Gebruikers kan ʼn volledige lys van Afrikaanse saadjies hier besigtig en onder Spesiaal: KortBladsye is ʼn lys van ongeveer 10 000 bladsye wat minder as 1 147 grepe bevat, wat ook ontwikkel kan word.

Die ontkiemingskompetisie is in 2018 van stapel gestuur.

“Daar is ʼn klomp gesprekke op Wikipedia oor kwaliteit teenoor kwantiteit en ek voel dié kompetisie is  ʼn lekker manier om die kwaliteit van artikels te verbeter,” vertel Rossouw van Rooyen, ʼn geesdriftige Wiki-ondersteuner wat in Namibië woon.

Van Rooyen, wat verlede jaar as die wenner aangewys is, organiseer vanjaar se kompetisie en gaan self ʼn stuiwer in die armbeurs gooi. Hy gaan egter nie vir pryse in aanmerking kom nie.

“My hoop is om dié jaar meer deelnemers te kry en nuwe mense aan te moedig om by die Afrikaanse Wiki-projek betrokke te raak,” vertel hy verder. “Tydens verlede jaar se kompetisie het ses deelnemers 255 artikels ontkiem. Vanjaar se mikpunt is om meer as 300 saadjies te ontkiem.”

Deelnemers word deurgaans noukeurig gekontroleer. Vir elke artikel wat meer as 5 000 grepe lank is, word ʼn punt toegeken. Die drie deelnemers wat die meeste saadjies gedurende die kompetisietydperk ontkiem het, ontvang elkeen ʼn Amazon-geskenkbewys wat deur WikimediaZA geborg is.

Klik hier vir meer inligting oor die ontkiemingskompetisie, hoe om as gebruiker te registreer en hoe om ʼn bydrae te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KrokodilBotha ·

Wou se , niks sal ontkiem in Suid Afrika se riool water nie.

Stof ·

Wat ‘n aangename vooruitsig.
So dankbaar dat daar instellings is wat kreatiwiteit stel bo die nare afwyking genaamd normaliteit.
Ek glo elke deelnemer doen dit vir die kreatiewe satisfsksie, meer as vir die prys.
Baie nuuskierig om te sien hoeveel mooi dinge gaan hier ontkiem.

koos ·

waarom nie net die nederlandse wikipedia gebruik nie? die VEEL groter as die afrikaanse een en dis vir Afrikaanssprekendes redelik maklik om te verstaan.

Charles ·

Jou oogpunt is in my opinie ‘n geldige een koos, ek lees nou juis die Nederlandse vertaling van De gebroeders Karamazov. Doodeenvoudig maklik; verstaanbaar; stimulerend.!!! Afrikaans = Nederlands vir Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.