‘Reisigers na môre’ met Afrikaans: Hoe nou gemaak?

Prof. Jacques van der Elst. (Foto: Akademia.)

Anne-Marie Beukes, hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het opnuut die belangrikheid van Afrikaans in ons samelewing beklemtoon: die derde grootste taal in ons land met byna 7 miljoen sprekers; nagenoeg 24 miljoen mense in die wêreld verstaan Afrikaans. Kortom: Afrikaans is ’n dinamiese taal wat vir ’n groot verskeidenheid mense ’n “tuiste” bied om in te kommunikeer, te leer, te redeneer, te verskil, te redekawel en ja. om in te kuier.

En as dit dan alles gesê is, duik die allesoorheersende vraag steeds op: Wat van die wonderlike taal môre, oormôre en in die jare wat kom, in die verre toekoms? Gaan Afrikaans saam op die reis na môre? Gaan dit vorentoe nog gewig dra? Wat van Afrikaans en ons kinders, kleinkinders en agterkleinkinders?

Die maklike antwoord is dat Afrikaans sal oorleef. Daar is ’n bloeiende taal- en kultuurlewe in Afrikaans. In ’n stad soos Pretoria hoor ’n mens links en regs nog Afrikaans. Selfs in Windhoek, in ’n land waar Afrikaans nie eens ’n amptelike taal is nie, hoor ’n mens orals Afrikaans. Die vraag oor Afrikaans is natuurlik nie nuut nie. Oor dekades heen is die vraag gestel, maar ná die nuwe politieke bedeling van 1994, toe Afrikaans uit ’n winterslaap geruk is en die taal sonder politieke steun moes voortbestaan, het die vraag dag vir dag aktueler geword.

En soveel jare gelede het NP van Wyk Louw, een van die grootste Afrikaanse digters, ook hieroor gewonder. Hy is half jaloers op digters wat in ander lande ongehinderd hul eie kultuur (en taal) ongehinderd kan uitleef en so ten volle mens kan wees. Sy woorde, wat ek effens uit verband ruk, het tog betrekking op ons probleem met ons taal:

“… ons stryd [is] geweldig en onseker …en [kan] net so goed op ’n nederlaag uitloop as op
oorwinning…”

Dan vra ’n mens jouself of ons deesdae in ’n stryd verkeer en wat, as dit so is, sou dan ’n oorwinning wees?  Louw maak bogenoemde opmerking in ’n essay in die bundel Berigte te velde met die opskrif Gedagtes oor die nasionalisme en kuns (Versamelde Prosa 1, 1986, p. 25). Hierdie opstel is rondom 1939 gepubliseer – dus voordat die Afrikaner in 1948 politieke mag behaal het en ’n bevoorregting van Afrikaans as reaksie teen die hegemonie of oorheersing van Engels begin het. Dié politieke wins destyds het ontsaglik baie vir Afrikaans en sy ontwikkeling as taal (akademies en andersins) beteken – Afrikaans kon die golf van bevoorregting tot 1994 ry.

Die prentjie vir Afrikaans het egter versleg: die gewenste oorwinning het, in die woorde van Louw, tog uitgeloop op ’n nederlaag.  Die een na die ander voorheen Afrikaanstalige universiteit het verengels en die jongste nuus is dat die departement Afrikaans by die toenmalige Randse Afrikaanse Universiteit aan die einde van die jaar sy deure gaan sluit. En om te dink dat die Randse Afrikaanse Universiteit destyds gestig is vir die Afrikaanstalige bevolking van Johannesburg en omgewing as ’n teëwig vir die Universiteit van die Witwatersrand.

Moet ons die huidige situasie sien as ’n volslae nederlaag vir Afrikaans of moet ons redeneer ten opsigte van Totius se gedig oor die doringboompie wat vertrap is deur ossewawiele, maar wat weer verrys vanweë sy wortels wat stewig gevestig is?

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Voor ek hierdie vraag beantwoord, wil ek kortliks die verhaal van Katalaans vertel. ’n Verhaal, nie heeltemal vergelykbaar met die verhaal van Afrikaans nie, maar daar is tog raakpunte. Katalonië, deel van Spanje, was ’n rukkie gelede in die nuus met die Kataloniërs se aandrang op onafhanklikheid, dus vry van die Spaanse sentrale regering.

Daar is ’n groot verskil tussen die situasie waarin die Kataloniërs verkeer en die situasie van Afrikaans. Die Kataloniërs woon in ’n afgebakende geografiese gebied met Barcelona as hoofstad en middelpunt van die provinsie. In die klein stadstaat Andorra is Katalaans die amptelike taal. In getalle oortref die Kataloniërs die sprekers van Afrikaans met ’n paar miljoen. Tog is daar ooreenkomste ten opsigte van NP van Wyk Louw se terme van stryd en oorwinning. Katalaans is, gedurende die termyn van die Spaanse diktator generaal Franco (1892-1975), onderdruk – nie alleen polities gesproke nie, maar ook kultureel. Katalaans is onder groot protes uit die skole verban en Spaans is as die enigste taal gepropageer en op die bevolking afgedwing. Eers in 1978, met die herstel van die Spaanse demokrasie, is taaldiversiteit, en daarmee Katalaans, erken. Vandag is dit ’n verpligte taal in die skole en ander openbare instellings. Terloops, Katalaans is ’n groter taal as Sweeds, Fins, Grieks en Deens.

Die verbanning van Katalaans het juis meegebring dat die taal bewaar is – die onderdrukking van en die outoritêre houding ten opsigte van Katalaanse taal en kultuur het juis ’n positiewe energie ontketen.

Afrikaans was en is nooit verban nie. Inteendeel, die regering erken taaldiversiteit in ’n elftalige land waar daar in die praktyk slegs een taal dominant is – ons beleef dit tog almal.

Eintlik kan die destydse verbanning van Katalaans deur die Spaanse owerheid vir Afrikaans in Suid-Afrika “vertaal” of vervang word met ’n houding van ignorering of ontkenning. Vanuit regeringskant word Afrikaans nie meer raakgesien nie en waarskynlik as ’n lastige stertjie van die taaldiversiteit in die land beskou. Daar word miskien geredeneer dat dit maar stil-stil kan verdwyn soos by die universiteite en by ons skole. Ondanks hofsake teen verengelsing van instellings, staan Albion sterk aan die wenkant. Dis eintlik vreemd in ’n land waar die erfenis van kolonialisme tans so sterk bestry word dat juis ’n koloniale taal, soos Engels, die oorhand kry en gekry het. Dit het natuurlik ook alles te doen met globalisering met sy vele uitkomste en natuurlik ’n verskuilde of onuitgesproke politieke agenda teen Afrikaans.

Wat staan die Afrikaans-moedertaalsprekers te doen? Is die modus van ignorering of ontkenning van amptelike kant nie ook deel van ’n oorgrote deel van die Afrikaanstalige bevolking se houding nie? Die verengelsing van die bruin bevolking van Suid-Afrika, wat tradisioneel Afrikaanssprekend was of is, is ’n gegewe. Wie die skole in Mitchells Plain besoek, sal agterkom dat byna al die skole daar verengels het. Die Universiteit van Wes-Kaapland, wat as ’n Afrikaanse instelling gestig is, het al lankal volledig verengels.

Afgesien van die groot probleme rakende Afrikaanse onderwys op alle vlakke, is daar ook die klein dingetjies ten opsigte van Afrikaans wat pla. Waarom sou ’n gewone apteek met ’n Afrikaanse bestuur in ’n sterk Afrikaanse omgewing al sy aankondigings en produkte net in Engels vertoon? “Sanitize your hands” is die kennisgewing by die deur en dis ’n “dispensary” waar jy jou medisyne afhaal. Ons raak gewoond daaraan – ons kan mos Engels lees en verstaan. As ABSA op die internet darem ’n keuse bied om in Afrikaans jou rekeninge te bestuur, word die keuse dikwels nie benut nie. Pick n Pay is Engels met al sy plakkate heeltemal Engels – altans in my omgewing. Checkers, die winkel net effens verder in die straat af, se aankondigings, daarenteen, is nog keurig ook in Afrikaans. Hinder die verwaarlosing van Afrikaans in die alledaagse omgang nog werklik?

So gaan die erosieproses voort. As “taalreisigers na môre” wonder ’n mens oor die toekoms van Afrikaans. Gaan my kleinkinders en agterkleinkinders nog in Afrikaans kan skoolgaan? Of gaan die verengelsing van die instellings vir hoër onderwys ook ons huidige Afrikaanse hoër- en laerskole in trurat verengels?

Hoe staan dit met die Afrikaanse moedertaalspreker se positiewe energie soos wat dit by die Katalane ontketen is weens die onderdrukking van hulle taal?

Daar is positiewe tekens: ’n Voorbeeld hiervan is die ontwikkeling van Akademia as ’n Afrikaanse tersiêre instelling. Dis dergelike inisiatiewe wat Afrikaans broodnodig het. Positiewe energie het alles te doen met die handhawing van ons taal op alle vlakke – handhawing nie op ’n afdwingbare en bullebakmanier nie – dit sal net vyandigheid kweek. Maar ons mág aanspraak maak op ons regmatige deel. Dit geld vir die onderwys, die kultuur en wat ook al proporsioneel vir Afrikaans van belang is.

Laat daar geen misverstand wees nie: die Afrikaanse kultuur floreer in sang en lied en boek en in die kunste. Afrikaanse sepies en die Afrikaanse TV-dramas is uiters gewild. Ons het TV-stasies en koerante met Afrikaans as medium. Afrikaanssprekendes word egter in baie opsigte teen wil en dank in ’n enklave gedwing. As dit dan so is, moet ons binne die enklave ons positiewe energie ontplooi en sorg dat Afrikaans sy hoër funksies behou en waar moontlik bevorder. Afrikaans is seker, naas Zulu, die mees verspreide taal in die land en dit is moontlik vir Afrikaans om op elke plek in die land deur middel van organisasies (soos die ATKV, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die FAK of nuwes) sy stem te laat hoor.

Organisasies soos, onder meer, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat die Afrikaanse Woordelys & Spelreëls uitgee, moet egter ook sorg dat die taal en taalgebruik nie verarm nie.

’n Mens wonder deesdae oor die algemene stand van geletterdheid in Afrikaans. Hoeveel kere moet ons nie hoor van dinge wat “amazing” is, selfs soms van die kansel af? Die sogenaamde “pêrel van groot waarde” moet tog sy skitterglans behou. Wat maak die digitale era byvoorbeeld met Afrikaans? Briewe word nie meer geskryf nie. Kommunikasie deur middel van e-pos en SMS’e is kripties en ondergrawe geletterdheid, nie net in geskrewe taal nie, maar ook in mondelinge taalgebruik. Natuurlik ondergaan enige taal altyd verandering en dit is goed so, maar Afrikaanssprekendes het ook hier ’n taak om keurige en korrekte taalgebruik te bevorder met inagneming van die variasies soos Kaapse Afrikaans. Die gesprek oor die variasies van Afrikaans is ’n tema vir ’n ander dag.

Meer oor die skrywer: Jacques van der Elst

Prof. Jacques van der Elst was die voormalige hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, PU vir CHO (tans NWU) en is tans direksielid van Akademia.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

Tale verander, tyd om oor dit te kom. Hoor ons nog Latyns? Nee, oor ‘n paar honderd jaar gaan Afrikaans, nes alle ander tale, deel van geskiedenis word. Om dit tee te staan is tyd mors.

maria ·

Dit is tyd dat toesprake en byeenkomste en Leer aanbiedinge nie net in afrikaans aangebied word met die verskoning dat almal eng. verstaan nie. Kinders op skool ook leer om suiwer afrikaans te praat. As ek dink hoe verkeerd woorde in eng. gebruik word sonder om die werklike afrikaans vir die woord te weet en verstaan bv. “awsome” wat vir alles gebruik word terwyl dit “ontsagwekkend” beteken. maar dit gebruik word om bv. ‘n paar skoene te beskryf, wat op aarde is so ontsagwekkend aan ‘n paar skoene??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.