Taaltoffie: Hoe gemaak met taalboelies?

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra. (Foto verskaf)

Sommige mense is so op keurige taal gefokus dat hulle salig onbewus van die tientalle foute is wat in hulle eie taalgebruik opduik.

In die laaste aflewering van Maroela Media se taalpodsendingreeks gesels Karien Brits, voltydse taalpraktisyn by Akademia, oor taalboelies en -skoorsoekers: daardie mense wat alewig en dikwels verkeerdelik ander taalgebruikers wil korrigeer.

Haar raad aan taalgebruikers oor hoe om so ʼn situasie te hanteer, is om soms eerder net weg te stap as die persoon se kommentaar nie geldig is nie.

“Die beste manier om taalskoorsoekers te hanteer, is om ʼn tree of twee eenkant toe te neem en vir jouself en die situasie te lag. Partykeer moet ʼn mens regtig net nie daardie kommentaar te ernstig opneem nie.”

Karien voeg by dat die korrigering van taal baie versigtig benader moet word omdat die verkeerde aanslag ʼn negatiewe uitwerking op taalgebruikers kan hê.

“Die manier waarop ʼn mens die korrigering van taal oordra, kan mense juis keer om mooi taal te gebruik. ʼn Mens moet dus baie mooi dink oor die manier hoe jy mense op hulle taalfoute wys.

“Ek sê nie dat ons nie vir die taal moet omgee of altyd net die beste en keurigste taal moet gebruik nie, want dit gebeur tog met almal van ons dat daar een of ander tyd ʼn fout of Engelse woord insluip.”

Haar raad aan taalgebruikers is om telkens ʼn woordeboek te raadpleeg en seker te maak dat jy die verskillende moontlike betekenisse van woorde ken en weet hoe om dit te gebruik. Sy stel ook voor dat mense ʼn taalhandleiding, soos die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), nader trek om die spelling van woorde na te gaan.

  • Luister boaan na die laaste episode van Maroela Media se podsendingreeks oor Afrikaanse taalgebruik.
  • Luister na vorige episodes in die taalpodsendingreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adri ·

Beteken dit nou dat jy nie vir mense daarop mag wys dat op pad en op soek altyd twee woorde moet wees nie en dat sommige woorde wat los geskryf word (veral met ‘n verbindings-s) verkeerd is? Vergewe my maar, maar ek sal maar aanhou om mense in liefde reg te help waar hulle my geliefde moedertaal vermink.

Cherokee ·

Adri, ek hou van jou reaksie op ‘n iets waarmee ek ook nie saamstem nie. Gebrek aan respek vir die taal, word duidelik uitgestippel in ‘n forum soos hierdie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.