Tel jou woorde: Is en was

Argieffoto

Een van die groot kwessies in skryftaal is die gebruik van was en is om die verlede tyd aan te dui. Dit is vir leerders ʼn nagmerrie, vir onderwysers ʼn kopseer, en vir taalgebruikers onthutsend om te verneem dat hulle blykbaar nie hulle moedertaal behoorlik beheers nie, want elke kort-kort is daar een of ander taalnazi wat hulle kritiseer oor die verledetydsaanduiding in hulle skryfwerk. Hierdie blog is ʼn poging om so ʼn bietjie lig in die duister te bring.

Eintlik is die reël vir die verlede tyd in Afrikaans baie eenvoudig. Voeg die hulpwerkwoord van tyd in die sin in, voeg ʼn ge- by die werkwoord en skuif die deelwoord na die einde van die sin. Siedaar, verlede tyd:

Hy eet elke oggend papaja vir ontbyt. -> Hy het elke oggend papaja vir ontbyt geëet.

Maar soos met alles wat taal aangaan, is daar mos altyd ʼn paar uitskieters wat die netjiese reël deurmekaarkrap. Een so ʼn uitskieter is die liewe is. Dié oënskynlik onbenullige woordjie is verantwoordelik vir ʼn klomp rooi kringe in opstelle, en dit kos soms kophou om die ding mooi netjies uit te pluis. Eintlik is daar net twee beginsels om te onthou:

  1. As is ʼn hoofwerkwoord is, is die verledetydsvorm daarvan was.
  2. As is ʼn medewerkwoord is, is dit reeds die verledetydsvorm.

Goed, een stap terug. As is ʼn hoofwerkwoord is, is dit ʼn koppelwerkwoord (dit koppel die onderwerp en ʼn eienskap van die onderwerp). Die verledetydsvorm van die koppelwerkwoord is is was. So lyk dit in ʼn sin:

Hy is moeg. -> Hy was moeg.
Hy is sy ma se oogappel -> Hy was sy ma se oogappel.
Hy is die eerste man op die maan. -> Hy was die eerste man op die maan.

Maar hier kom die vangplek: Is hoef nie ʼn hoofwerkwoord te wees nie, dit kan ʼn medewerkwoord wees. In so ʼn geval is daar ʼn ander hoofwerkwoord in die sin en is is net daar om die tyd aan te dui. Dit kry ons in passiefkonstruksies (ander naam: lydende vorm). Dit lyk so:

Hy word om die bos gelei. -> Hy is om die bos gelei.
Hy word van diefstal beskuldig. -> Hy is van diefstal beskuldig.
Hy word afgedank. => Hy is afgedank.

In die laaste stel voorbeelde is daar telkens ʼn ander hoofwerkwoord (gelei, beskuldig en afgedank) en die is is in elke sin die passiefhulpwerkwoord.

Die fout wat baie taalgebruikers hier begaan, is om daardie is soos ʼn koppelwerkwoord te hanteer en dit dan ʼn was te wil maak:

Hy was om die bos gelei.
Hy was van diefstal beskuldig.
Hy was afgedank.

Die probleem wat vir die leser van ʼn teks ontstaan, is dat so ʼn konstruksie nie grammatikaal verkeerd is nie, maar dat dit iets anders beteken as wat jy bedoel. As jy so skryf, lei jy met ander woorde jou leser op ʼn dwaalspoor, want wat jy eintlik hier te kenne gee, is dat daar ‘n ding gebeur het, maar dat hierdie ding nie meer so is nie:

Hy was om die bos gelei (maar hy weet nou wat die waarheid is).
Hy was van diefstal beskuldig (maar die klagte is teen hom teruggetrek).
Hy was afgedank (maar hy is weer in diens geneem).

Onderwysers en teksredakteurs wat oor die korrekte gebruik van was en is neul, is dus nie maar sommer net ʼn pyn in die oor nie, hulle beskerm die arme leser teen verdwaling in ʼn betekenisdoolhof.

Onthou dus jou twee beginsels:

  • As is alleen in die sin optree (ʼn hoofwerkwoord is), is die verlede tyd tien teen een was.
  • As is saam met ʼn ander hoofwerkwoord in ʼn sin optree, is dit tien teen een reeds in die verlede tyd, en gaan was ʼn ander betekenis aan die sin gee.

Mag dit vir jou, jou leser en jou redakteur tot stigting wees!

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MH ·

Dit is (nie was nie) altyd lekker en leersaam om Sophia se rubriek te lees.

Cassie Louw ·

Dit is baie nuttige taalhulp, dankie Sophia. Hopelik word hierdie verstaanbare en praktiese uiteensettings in ‘n publikasie saamgevat en beskikbaar gestel. Ek sien baie daarna uit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.