Wat is VivA se grammatikawêreld?

(Foto: Jamie Taylor/Unspslash)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) skep met Taalportaal en Taalonderrigportaal ‘n eerste taalkundepyplyn vir Afrikaans, wat boonop uniek in die wêreld is. Die pyplyn begin by die navorsing wat deur vakspesialiste en taalnavorsers onderneem word, en sal uiteindelik loop tot by die jongste lede van die taalgemeenskap en taalaanleeders wat vir die eerste keer met Afrikaans in aanraking kom.

Die idee vir hierdie pyplyn is gebore uit gesprekke onder akademici, in die Taalkommissie, en met taalondersteuners soos proff Wannie Carstens, Ernst Kotzé en Rufus Gouws en dr Theuns Eloff, wat saamgestem het dat ‘n moderne, wetenskaplik begronde beskrywing van Afrikaans se grammatika aan die taalgemeenskap beskikbaar gestel moet word. Daaruit is Taalportaal geskep. Navorsing deur vakspesialiste en navorsers met internasionale statuur het hulle insigte oor Afrikaans se grammatika daarin beskikbaar gemaak. Boonop is hierdie insigte in vergelyking gebring met soortgelyke insigte in die grammatika van Nederlands en Fries, wat die navorsing deel maak van ‘n internasionale taalnavorsingswêreld. Die navorsing in Taalportaal word in Engels aan die wêreld beskikbaar gestel, sodat navorsers wat Afrikaans nie magtig is nie, nou ook Afrikaans by hulle ondersoeke kan insluit.

Uit Taalportaal vloei ‘n Algemene Afrikaanse grammatika (AAG), ‘n Afrikaanse skoolgrammatika (ASG) en die Taalonderrigportaal, waar hierdie gespesialiseerde navorsing op verskillende vlakke vir die huidige geslag Afrikaansdosente, -studente, -onderwysers en -leerders toeganklik gemaak word. Met hierdie kennispyplyn word daar verseker dat die vakinhoud wat aan ‘n opkomende geslag gebied word, van hoogstaande gehalte is, en dat enige gebruiker wat insig in Afrikaans se grammatika wil bekom, verseker kan wees van gehalteversekerde en akademies begronde vakinhoud.

Wat is Taalportaal?

Taalportaal is ‘n digitale platform waarop omvattende, vergelykende beskrywings van die fonologie, morfologie en sintaksis van drie Wes-Germaanse tale (te wete Afrikaans, Fries en Nederlands) ontwikkel, gehuisves en gratis beskikbaar gestel word. Die primêre teikengebruikers is plaaslike en internasionale taalkundenavorsers en -belangstellendes, met die doel om gefundeerde navorsing oor die tale se grammatika te ondersteun, aan te moedig en voortdurend uit te brei.

Om sodanige grammatikabeskrywings vir Nederlands en Fries op te stel, het die Nederlandse Organisatie voor Wetenschappelijk Onderzoek (NWO) ‘n bedrag van €1.7 miljoen beskikbaar gemaak vir die Taalportaal Consortium (bestaande uit die Meertens Institute, Fryske Akademy, Universiteit van Leiden en Instituut voor Nederlandse Lexicologie). Dit het gou uit gesprekke met die Taalportaal Consortium geblyk dat die projek ‘n beduidende geleentheid bied om ook ‘n omvattende en vergelykende beskrywing van Afrikaans te skep, wat Afrikaans internasionaal sal posisioneer as ‘n taal van wetenskaplike belang.

‘n Samewerkingsooreenkoms is tussen die Meertens Instituut (Amsterdam, Nederland) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gesluit, befondsing is van die Dagbreek Trust verkry, en in Oktober 2014 het werk aan die Afrikaanse Taalportaal formeel afgeskop. In Mei 2020 is die volledige fonologie- en sintaksisafdeling en ‘n gedeelte van die morfologieafdeling bekendgestel; die morfologie sal aan die einde van Maart 2021 volledig afgehandel wees.

Om al hierdie en ander sake te beheer en bestuur, is VivA aan die begin van 2014 opgerig. VivA is ‘n maatskappy sonder winsoogmerk wat die ontwikkeling van digitale hulpbronne vir en kennis oor Afrikaans in die digitale era ten doel het. Dit is ‘n inisiatief van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), Noordwes-Universiteit (NWU), die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) en Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), in samewerking met verskeie plaaslike en internasionale universiteite, institute en finansiers.

Wat is Taalonderrigportaal?

Taalonderrigportaal is ‘n oop, digitale ruimte waarin gehalteversekerde, akademies begronde en geverifieerde vakinhoud oor Afrikaans se grammatika vir die hele taalgemeenskap beskikbaar gestel word.

Twee van die primêre bronne in Taalonderrigportaal is die volgende:

  • ‘n Algemene Afrikaanse grammatika (AAG),’n lewende bron waarin die grammatika van Afrikaans omvattend en in Afrikaans beskryf word. AAG is gebaseer op insigte in Taalportaal, op ouer en bekende navorsing wat in bestaande grammatikabronne gepubliseer is, en op die insigte van die AAG-skrywers wat met voorbeelde uit hedendaagse Afrikaanskorpusse werk. AAG sal deurlopend uitgebrei en bygewerk word, sodat nuwe insigte oor die grammatika deel bly van dit wat oor die taal en die grammatika te sê is. AAG word ontwikkel met die oog op Afrikaanse taalkundenavorsers en -dosente, studente wat die vak Afrikaans op voor- en nagraadse vlak aanpak, onderwysers van Afrikaans en taalnuuskieriges wat antwoorde oor grammatikakwessies benodig.
  • Die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG), ‘n bron met onderwysstudente en Afrikaansonderwysers in die VOO-fase as teikengebruikers. Dit wat oor Afrikaans se grammatika te sê is, selfs op skoolvlak, is uiteraard baie wyer en omvattender as wat in ‘n skoolkurrikulum gedek kan word; ASG word derhalwe nie deur die KABV gerig of beperk nie. Die oogmerk is wel dat ASG by voltooiing van die projek die vereistes wat in die KABV rakende die onderrig van taalstrukture en -konvensies gestel word, volledig sal ondervang. Die KABV stel die vereistes – ASG verskaf die inhoud waarmee onderwysers en leerders aan die vereistes kan voldoen.

Addisioneel tot hierdie twee bronne word eietydse materiaal soos blogs, podsendings en video’s deurlopend geskep en op Taalonderrigportaal beskikbaar gestel om die grammatika van Afrikaans vir soveel as moontlik gebruikers toeganklik te maak.

Watter Afrikaans?

Die Afrikaans wat in hierdie grammatikawêreld beskryf word, is die algemene vorm van Afrikaans, die vorm wat die wydste voorkom en deur moedertaalsprekers self as ongemerk beskou word. Dit is die gesproke en geskrewe Afrikaans van moedertaalsprekers aan die begin van die 21ste eeu, wat oor die algemeen te lese en te hore is in die hedendaagse hoofstroommedia.

Die bestaan, plek, rol en noodsaaklikheid van Afrikaans se variëteite word met hierdie benadering tot die sentrum van belangstelling betrek. Die variëteite van Afrikaans is sy lewensbloed, die lewende, kloppende hart van die taal. En die algemene vorm van Afrikaans is daardie vorm wat hierdie variëteite oor ‘n breë front met mekaar gemeen het. In taalkundeondersoek is ‘n beskrywing van hierdie algemene vorm ‘n wegspringplek vir die bestudering van die taal in sy volle kleur en geur. Hoe sal ons nou weet hoe lekker Kaapse of Namakwalandse of Windhoekse of Pretoriase of Mosselbaaise of Koekenaapse Afrikaans in sy sprekers se monde sit as ons nie kan uitwys wat uniek daaraan is nie? Dit is juis waarvoor hierdie “algemene” vorm gebruik word – om aan te toon watter taalskatte in die unieke vorme van Afrikaans bestaan en hoe algemene Afrikaans voortdurend daaruit ontwikkel.

Word Afrikaans se grammatika volledig beskryf?

Ons hoop is dat ons nooit die punt sal bereik waar Afrikaans se grammatika klaar geskryf is nie. Net op die dag dat die laaste Afrikaansspreker doodgaan, sal daar niks meer oor Afrikaans se grammatika te sê wees nie. AAG (soos Taalportaal) is derhalwe ‘n bron wat deurlopend versterk, verryk, aangepas en aangevul sal word. Ons hoop ook dat hierdie grammatika opkomende navorsers sal aanspoor om hulle insigte in en oor Afrikaans met die taalgemeenskap te deel.

Ons begryp egter dat veral skoolgebruikers binne ‘n bepaalde opleidingsiklus antwoorde oor grammatikakwessies benodig. Vir hulle beoog ons om ASG so volledig moontlik vir skooldoeleindes te skryf.

Ons het hierdie omvattende projek begin deur woordsoorte te beskryf – ‘n onderwerp wat juis nié omvattend op Taalportaal aan bod kom nie. Die rede daarvoor was eenvoudig: Kennis van woordsoorte is die hoeksteen van enige taalkundige gesprek. Praat ons oor spelreëls? Dan moet ons woordsoorte verstaan. Praat ons van die manier waarop ons woorde in Afrikaans bou? Dan moet ons woordsoorte verstaan. Praat ons van sinstruktuur? Woordsoorte.

Die inhoud van hierdie afdeling is reeds geskep, maar word tans aan moderering en kommentaar van teikengebruikers onderwerp. Ons beoog om al twaalf afdelings oor woordsoorte voor die einde van 2020 te publiseer. Werk aan die fonologie en sintaksis (gebaseer op die Taalportaalmateriaal) sal in Julie 2020 ‘n aanvang neem, terwyl werk aan die morfologie in die tweede kwartaal van 2021 sal afskop. Met verloop van tyd moet afdelings oor onder andere die ortografie, semantiek en leksikologie ook bygevoeg word.

Hoe word die inligting op Taalonderrigportaal aangebied?

AAG en ASG word saam op hierdie webblad gehuisves. Die inhoud word nie streng geskei nie, juis omdat dit noodsaaklik is dat gebruikers die oorsprong van die insigte in ASG in AAG kan naspoor. Dit is in der waarheid nie twee bronne nie, dit is een bron waarin inligting op twee verskillende maniere vir twee stelle teikengebruikers aangebied word.

Die inhoud wat op die skerm verskyn sodra ‘n mens die blad oopmaak, is telkens inligting wat vir ASG geskep is. Die inligting wat vertoon as jy op die “Lees meer”-skakel klik, is die inligting wat vir AAG geskep is.

Is AAG en ASG ‘n handboek?

Nee. Dit is die bron waaruit handboeke geskryf moet word.

Vervang AAG of ASG ‘n dosent of ‘n onderwyser?

Nee. Geen bron, hoe omvattend ook al, kan die rol van ‘n opvoeder vertolk nie. AAG en ASG bemagtig opvoeders om hulle taak as bemiddelaars van kennis na die beste van hulle vermoë te vertolk.

Gee Taalonderrigportaal antwoorde oor “regte” en “verkeerde” Afrikaans?

Nee. AAG en ASG is deskriptiewe grammatikas. Aangesien hierdie grammatika ‘n beskrywing is van algemene Afrikaans, is die oogmerk juis nie om voorskriftelik te wees oor hoe Afrikaans gebruik mag en moet word nie. ASG probeer wel ‘n brug slaan tussen die die deskriptiewe grammatika wat in Taalonderrigportaal beskryf word, en reëls en konvensies wat vir algemene Afrikaans opgestel is en in taalnormeringsbronne vervat word. Die outeurs van AAG en ASG is bewus van die uitstekende werk wat reeds op die gebied van taalnormering vir Afrikaans gedoen is, en ons sien geen punt daarin om dit in ASG te dupliseer nie. Ons besef wel dat daar in ‘n opleidingsomgewing ‘n behoefte aan sulke inligting bestaan, daarom verwys ons deurlopend na hierdie bronne waar sulke reëls aan bod kom. Gebruikers kan maklik via die skakels by antwoorde oor “reg” en “verkeerd” uitkom.

Wat kos toegang tot Taalonderrigportaal?

Niks. Ons glo dat onbelemmerde toegang tot kennis onlosmaaklik deel is van ‘n moderne, gedemokratiseerde samelewing. Geen dosent of onderwyser behoort te betaal vir toegang tot kennis wat hulle in staat stel om hulle werk te doen nie. Ons glo wel dat produkte wat uit hierdie kennis geskep word, of wat die oordrag van hierdie kennis vergemaklik (soos onderrigondersteuningsmateriaal), geld mag kos.

Hoe mag hierdie “oop” en “gratis” inligting aangewend word?

Die inhoud van Taalonderrigportaal behoort aan VivA. Dit is gratis toegangklik en mag vryelik gebruik word om produkte in en vir Afrikaansonderrig te ontwikkel, maar met die nodige erkenning aan VivA.

Hoe verkry ‘n mens toegang tot Taalonderrigportaal?

Enige geregistreerde VivA-gebruiker het toegang tot Taalonderrigportaal. Registrasie is gratis.

Wat doen ek as ek inhoud benodig wat nie op Taalonderrigportaal gepubliseer is nie?

Skakel gerus met ons. Ons het reeds heelwat vakinhoud ontwikkel wat in die finale stadia van gehalteversekering is. Ons kan dié inligting deel, al kan ons dit dalk nog net nie publiseer nie.

Wat kan ek nog van Taalonderrigportaal verwag?

Die inhoud van Taalonderrigportaal sal deurlopend uitgebrei word. Ons wil graag die afdelings oor sintaksis en fonologie binne die afsienbare toekoms publiseer. ASG sal ook voortdurend uitgebrei word om meer onderriggerigte inhoud beskikbaar te stel.

Vrae, kommentaar, versoeke, aanbevelings of kritiek?

Skakel gerus met ons, ons werk graag in vennootskap met die taalgemeenskap om die produk uit te brei en te verbeter. Besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ou Baardbek ·

Lectori salutem!
Terwyl die “bevordering”(?), en uitbreiding (?) van Afrikaans van harte verwelkom word, en ALLE pogings om die taal te handhaaf, en (korrekte) gebruik daarvan aan te moedig, is dit UITERS TELEURSTELLEND dat allerlei “afleidings” vanuit ander tale deesdae as erkende Afrikaanse terme verklaar en gebruik word! As DIT is hoe die taal “lewend” gehou word, is ‘n gewisse dood die eindresultaat!

As voorbeeld kan verwys word na terme wat selfs in die bostaande artikel gebruik word, soos, “sintaksis”, en nog ander. Wat van die patetiese woord “sibbe”(!!), wat deesdae algemeen gebruik word? Is daar werklik so ‘n onbeskryflike gebrek aan inisiatief en oorspronklikheid, dat ‘n EIE Afrikaanse BESKRYWENDE woord nie gevind of uitgedink kan word nie?? En danwil almal aanspraak maak daarop dat hulle “trots Afrikaans” is??

Die Engelse sê: “You can fool some of the people, some of the time, but NOT all the people ALL the time!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.