Woordsoorte: ʼn Inleiding

Argieffoto

Woordsoorte is een van daardie afdelings van grammatika waaroor die meeste mense ʼn hoofpyn kry as hulle net die term hoor. Die herkenning van woordsoorte is ook vir die meeste leerders ʼn moeilike vaardigheid om aan te leer, want dis soms ʼn gesukkel, soms ʼn haarklowery, en soms ʼn moeras van verkeerde inligting wat almal net van die wal in die sloot help.

So swaar as wat dit is, is dit allernoodsaaklik om die herkenning van woordsoorte wel te bemeester, want daar is bykans nie ʼn hoofstuk in die AWS waarin daar nié na woordsoorte verwys word nie. As jy spelreëls wil verstaan, moet jy woordsoorte kan herken. Dit help veel daar is ʼn reël soos “eienaamwoorde word met hoofletters geskryf”, maar ʼn mens weet nie wat ʼn eienaamwoord is nie. Of “byvoeglike naamwoorde word los geskryf”, maar jy weet nie hoe om te bepaal of privaat ʼn byvoeglike naamwoord is of nie. (Dit is.)

In hierdie reeks blogs oor woordsoorte probeer ek om ten minste net ʼn voetpad in die oerwoud te skep. Ons (dis nou ons hier by VivA) is besig om ʼn behoorlike grammatika te skryf waarin die saak meer breedvoerig en wetenskaplik uiteengesit sal word, maar intussen is daar hierdie hulp vir ouers en leerders wat darem iets in die koronatyd moet leer.

Kom ons begin net by die begin: Op grond waarvan bepaal ʼn mens woordsoorte? Woordsoorte gaan altyd, altyd, altyd oor hoe ʼn woord se bou (kan) verander en hoe ʼn woord in die sin (kan) optree. In meer wetenskaplike terme gestel: Woordsoorte word bepaal op grond van ʼn woord se morfosintaktiese eienskappe. Woordsoorte word naamlik bepaal op grond van die maniere waarop ʼn woord kan verbuig of affikse (voor-, tussen- en agtervoegsels) kan neem, en op grond van die omgewings in die sin waarin die woord kan optree. Kyk byvoorbeeld na die volgende sin: 

  • ʼn Man was die vensters.

In hierdie sin word daar na een handeling verwys: Daar is ʼn wassery aan die gang. Die woord waarmee hierdie handeling uitgedruk word, is ʼn werkwoord (ʼn woord wat aandui dat daar werk gedoen word). Hoe weet ons dit is ʼn werkwoord? Die handeling vind altyd binne ʼn bepaalde tyd plaas, en daarom is die woord wat ‘n handeling uitdruk gewoonlik ook die woord wat die tyd (Engels: tense) van die sin uitdruk. Wanneer die woord die tyd uitdruk (byvoorbeeld wanneer ʼn mens die sin in die verlede tyd oorskryf) verander die woord gewoonlik morfologies en/of sintakties: 

  • ʼn Man het die vensters gewas.

In die verlede tyd het die woord was morfologies ʼn prefiks (voorvoegsel) ge- gekry. Sintakties het die woord aan die sinseinde gaan staan. Hierdie morfologiese verandering en sintaktiese verskuiwing is die aanduidings op grond waarvan ʼn mens sê dat was ʼn werkwoord is.

Afgesien van die handeling, word daar in die voorbeeldsin ook na twee dinge verwys: Daar is ʼn man en daar is vensters. Die woordsoort wat sulke dinge benoem, is ʼn selfstandige naamwoord (ʼn woord wat die naam van ʼn ding is). Hoe weet ons dis ʼn selfstandige naamwoord? Die ding wat benoem word, is gewoonlik een (enkelvoud) of meer as een (meervoud) en die ding is aan die spreker bekend (wat dit bepaald maak) of onbekend (wat dit onbepaald maak). Hierdie eienskappe – dat die woorde morfologies meervoude kan neem en sintakties lidwoorde kan neem – sê vir ons dit is selfstandige naamwoorde.

In die voorbeeldsin is daar een man, daarom is die woord man in die enkelvoud. Hierdie man is nie aan die spreker bekend nie, en daarom kry man ʼn onbepaalde lidwoord (ʼn). Die ander ding waarna die sin verwys, vensters, is meer as een, daarom kry dit ʼn meervoud. Dit is ook aan die spreker bekend, daarom kry dit ʼn bepaalde lidwoord (die).

Natuurlik kan ʼn mens die sin met allerhande ander woorde uitbrei:

  • ʼn Jong man met bultende spiere was die vensters.
  • ‘n Man was die vensters op die boonste verdieping van die koshuis.
  • Vroeg daardie lente het ʼn jong mannetjie met bultende spiere die vensters op die boonste verdieping van die dameskoshuis kom was, en al die vroumense het omtrent uit hulle kamervensters geval om hom aan te gaap.

So onmoontlik as wat dit lyk, kan ʼn mens ʼn woordsoort vir elk van die woorde in die laaste voorbeeldsin identifiseer. Dit neem net langer, maar die proses bly dieselfde: Watter morfologiese eienskappe het die woord? Watter sintaktiese eienskappe het die woord?

ʼn Ander belangrike beginsel wat ʼn mens hieruit moet aflei, is dat ʼn mens glad nie woordsoorte moet probeer identifiseer as die woorde nie in ʼn sin staan nie. Want taal is ʼn soepel ding, en sy sprekers weet hoe om dit aan te wend dat hulle alles daarmee sê wat hulle gesê wil hê. Ons as studente van die taal moet in ag neem dat ons nooit taal van sy konteks mag losmaak nie; hy sal omdraai en ons in die wind skop. Kyk byvoorbeeld na wat met die woord was in die volgende sinne gebeur:

  • ʼn Man was die vensters. (hoofwerkwoord; oorganklik)
  • Die vensters was vuil. (hoofwerkwoord; koppelwerkwoord in die verlede tyd)
  • Hierdie diere was besonder vinnig aan. (hoofwerkwoord; onoorganklik; samekoppeling met aan)
  • Gooi jou vuil klere in die was. (selfstandige naamwoord; soortnaamwoord)
  • Die was van die kers het die tafeldoek beskadig. (selfstandige naamwoord; soortnaamwoord)

Ek sal in volgende blogs die verskillende woordsoorte meer volledig bespreek en aandui op grond van watter morfosintaktiese eienskappe hulle van ander woordsoorte onderskei word. As jy vandag net leer dat woordsoorte herken word op grond van morfologie en sintaksis, en dat jy woordsoorte net in ʼn sin kan herken, het jy al berge versit. Dis genoeg vir een dag, loop drink tee.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mauritz ·

Sophia, Dit is altyd lekker en insiggewend om jou artikels te lees. Ek dink net jy het hier ‘n perd opgesaal waarvoor ons gewone mense dalk ‘n ietsie sterker as tee gaan benodig om te verteer.

Jan Seerot ·

Sophia, ek drink nie tee nie. Ek drink koffie. Sterk, swart en bitter. Ek gaan nou loop koffie vat. ‘n Kommetjie java.

My dogter swot Afrikaans op die PUK. Altyd lekker om met haar te gesels synde ek ‘n goeie konsultant het, wat net ‘n toepassing op my foon ver is. Daarmee daarmee maak ek die ander twee mense in my lewe, hier in Mosambiek, se lewe gal as hulle Afrikaans so loop staan en skeef trek.

Groete uit Mosambiek.

Adamastor ·

Baie dankie vir hierdie leersame plasing, Sophia! Soos gewoonlik ontsluit jy insigte oor die Afrikaanse taal op meesterlike wyse. Ek sien uit na jou verdere inskrywings oor woordsoorte, wat hopelik dié sal insluit waarmee ek nog altyd gesukkel het (bv. abstrakte selfstandige naamwoorde).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.