Video: Hans du Plessis lééf stories

Hans du Plessis: ʼn man wat soveel meer as ʼn skrywer, digter of akademikus is. (Foto: Verskaf)

[Video’s waarin prof. Hans du Plessis oor verskeie onderwerpe gesels volg onderaan die berig]

Een oggend terwyl die flouerige herfsson deur die bome loer en daar nog asemwolke by die petroljoggies se monde uitkom, vertel Hans du Plessis, het hy en sy vrou, Magdaleen, gestop om hul motor se brandstoftenk op te vul.

“Môre, Oom! Môre, Tannie!” groet ʼn swart jong man wat vryf-vryf om sy hande warm te maak.

“Môre, meneer. Kan jy dalk die tenk met petrol volmaak, asseblief?”

“Reg so, Oom!”

Hier in Potchefstroom is dit Afrikaans wat mense saambind, sê Hans, terwyl hy teen die stoel terugsak en sy hande in mekaar vou.

“Daardie ‘oom’ en ‘tannie’ is aanspreekvorme van versoening. En daai soort goed gebeur op grondvlak.

“Gewone mense op straat sit en praat met mekaar Afrikaans. Trouens, ek dink daar is meer mense wat vir hulle daaglikse bestaan afhanklik is van Afrikaans, in vergelyking met van die ander moedertale,” verduidelik Hans soos wat hy links van hom deur die venster na die welige, groen tuin staar.

Dit is hier in sy studeerkamer waar Hans agter sy kiaathouttafel inskuif, skryfmateriaal nadertrek en stories aanmekaar weef, terwyl die voëls wat hy en Magdaleen so liefderyk voer, buite kwetter en baljaar.

Hans du Plessis en sy vrou Magdaleen het in 2020 hul 52ste huweliksherdenking gevier (Foto: Verskaf)

Hans het ná sy aftrede besluit om sy volgende beroep te volg en dit is om heeltyds te skryf. “Ek is nou my eie baas en as ek laat kom by die kantoor gaan niemand my afdank nie,” skerts hy.

Om ʼn storie te skep is iets wat Hans al toe-oë doen. Met sy hande steeds in sy skoot gevou en duime wat sirkelbewegings in die lug teken, deel hy iets oor die fynere kuns van storievertelling.

“ʼn Storie moet gemaak word. Jy kan ʼn storie sien en hoor, maar om hom te skryf moet jy elke deel noukeurig soos krale inryg totdat dit ʼn string vorm. ʼn Storie maak ʼn storie en natuurlik die feit dat daar ʼn verhaal is.”

Of Hans nou oor herinneringe uit die verlede praat en of hy, soos in Die opstand van Poppie Nel, skryf oor die sensitiewe onderwerp van ʼn jong meisie wat in ʼn sekte seksueel misbruik word – dit word met ʼn goue draad en sorg aanmekaargeweef.

Hans het oor die jare verskeie noemenswaardige bydraes tot die taalgemeenskap gelewer. Hy is veral bekend vir sy Griekwapsalms, navorsing oor variasietaalkunde in Suid-Afrika en menige skrywer sal hom as voormalige hoof van die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom onthou.

Die ATKV-Skryfskool het uit ʼn verloop van omstandighede ontstaan, onthou Hans. Dit het begin toe Dalene Matthee se Kringe in ʼn bos in 1984 verskyn het en ʼn groot debat oor die beskouing van letterkunde ontlok het. Daar is onder meer gedebatteer oor wat presies gewilde, middelmootprosa is. Hierdie gesprekke het tydens ʼn seminaar plaasgevind wat deur die ATKV gereël is.

Kringe in ʼn bos is uitstekend geskryf, sê Hans, maar of dit die Hertzogprys sou wen het g’n mens geweet nie. “Nou ja, ondanks die gekibbel het twee inisiatiewe uit die seminaar ontstaan: die ATKV se prosaprys (wat nou nog bestaan) en die ATKV se besluit om die Noordwes Universiteit vir ʼn leerstoel in skryfkuns te vra.”

Terloops, Kringe in ʼn bos is wel in 1986 met die eerste ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde prosa bekroon.

Sedert sy ontstaan het heelwat skrywers hul vaardighede by die ATKV-Skryfskool geslyp: Chanette Paul (Boheem (2009), Ewebeeld (2014) en haar Vywervrou-trilogie), Carina Stander (Bergengel-trilogie: Die Bergengel (2017), Die Wonderwese (2019) en Die Waterplek) en Irma Venter (skrywer van die S-reeks). Hans glimlag breed, soos ʼn trotse pa wat sien hoe sy kinders iets bereik, wanneer hy hieroor gesels.

hans-du-plessis-02

Hans du Plessis in sy studeerkamer. (Foto: Nardus Nel)

“Die hoogtepunte was die dag toe die skryfskool begin het, en dan natuurlik ook die suksesvolle skrywers wat hieruit gekom het. Jy kan miskien nie sê jy het hulle opgelei nie, maar daar is iets van ʼn stimulus. En dít is waarskynlik waar ons grootste bydrae lê.”

Opleiding van skrywers is weliswaar ʼn kernkomponent van die ATKV-Skryfskool se struktuur. Die genre waarin skrywers belangstel is egter van minder belang, want die beginsels bly dieselfde. Wanneer daar wél oor genres gepraat word, moet daar ook iets gesê word oor die wegdoen van grense in die letterkunde, sê Hans.

“Onthou, toe die skryfskool in die middel 1980’s gestig is, was die doel juis om die Afrikaanse middelmootliteratuur te bevorder,” vertel hy en voeg dan by: “Maar daar bestaan nie so ding nie. Jy wil mense eintlik net leer hoe om goed te skryf. Of die persoon ʼn liefdesverhaal of ʼn roman klaar kan skryf en of hulle letterkunde wil skryf is om’t ewe. Dit gaan daaroor om die basiese vaardighede van skryfkuns te leer.”

Hans het onlangs weer sy leermeesterskap aangebied toe hy ingestem het om die kursus “Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns” vir Skryfnet, ’n gesamentlike skryfskool van Maroela Media en Akademia, te ontwikkel.

“Eerstens, doen ek dit vir die behoud van Afrikaans, maar in die tweede plek geniet ek dit om met mense te werk wat wil leer skryf, veral met jong mense,” sê hy.

Die voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal, veral op tersiêre vlak, is selfs belangriker as om sprekers te hê wat die taal praat, meen Hans.

“Afrikaans kan nie oorleef as dit nie ʼn hoëfunksietaal bly nie. Met ander woorde, die oomblik as Afrikaans by universiteite verdwyn, word dit ʼn laefunksietaal. En jy kan nie sê ʼn taal oorleef, want daar is baie mense wat dit praat nie. Praat is nie genoeg om ʼn taal te laat voortleef nie.”

Hans du Plessis gesels met Bernard Odendaal oor sy boek “Tussen die klippe”. (Foto: Verskaf)

“Die oomblik wanneer Afrikaans op tersiêre vlak weggevat word, dan is Afrikaanse hoërskool ook nie meer nodig nie. En die oomblik as daar nie meer hoërskole is wat die taal vereis nie, hoekom het jy dan laerskole nodig?” sê-vra Hans.

“Hierdie geveg oor die behoud van Afrikaans op tersiêre vlak is verskriklik belangrik. As hulle dan regtig al die universiteite wil verengels het ons net één oplossing en dit is dan dat almal Akademia toe gaan.”

Die omvang van Hans du Plessis se bydrae tot Afrikaans is legio. Kyk ʼn mens byvoorbeeld na rye boeke met sy naam op die rugkant dan “lees” jy die storie van ʼn man wat soveel meer as ʼn skrywer, digter of akademikus is. En in Hans se storie vorm sy vurige passie vir Afrikaans die goue draad wat deur elke boek, gesprek, of navorsing geweef is.

  • In ʼn vorige artikel oor Prof. Hans du Plessis het hy gesels oor die beginjare van sy loopbaan, hoe die Griekwapsalms ontstaan het, sy bydrae tot variasietaalkunde en hoe Griekwa-Afrikaans eintlik heel toevallig oor sy pad gekom het.

Hoe weef jy ʼn storie suksesvol aanmekaar? Prof. Hans du Plessis vertel meer in dié video:

Prof. Hans vertel meer oor die ontstaan en sy betrokkenheid by die ATKV-Skryfskool:

Is Afrikaans in die moeilikheid en hoe sou ʼn mens die taal red? Prof. Hans vertel meer in dié video:

Prof. Hans gesels oor Afrikaans as versoeningstaal:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dawie ·

Wow, ek luister tans baie lekker aan die voorlesing van sy boek, Drie Vroue en ‘n Meisie, afgelaai hier op Maroela Media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.