Video’s: Hans du Plessis tel Afrikaans onder die soetdorings op

Prof. Hans du Plessis (Foto: Hans du Plessis/Facebook)

[Video’s waarin prof. Hans du Plessis oor verskeie onderwerpe gesels volg onderaan die berig]

“Onse Vader wat innie jimmel in sit,
ons wil nou vedag net vi U kom bid:
Lat U se Naam tog by ons ok geheilig raak,
lat U se Kapteinskap hie kom staningse maak,
lat U se Wil hie oener by ons oppie grond
ok gebere sos da bo tissennie sterretjiese rond,
en gjee vi ons vedag onse koppietjie meel,
vegjeef ons al onse geskjel en onse gesteel,
want sos ons nou yt U se Woord yt weet:
ons moet die naaste se sondese ok vegjeet.
Lat ons onse rigte gjee virrie versoekingse,
en velos ons nou vannie hele dywel se dinge”

(Uit ‘Onse Vader’ wat in Innie Skylte vannie Jirre verskyn).

Griekwagedigte soos dié praat met jou hart as jy Afrikaans is. Dit laat jou onthou wie jy is en waar jy inpas hier aan die suidpunt van Afrika, waar jou moedertaal soveel variasies het soos die natuurskoon van die land waar die taal gemaak is.

Die man agter dié woorde is Hans du Plessis. Hy is geliefd, gerespekteer en gewaardeer in sy vriendekring, in akademiese kringe en in die skrywersgeselskap.

Sy naam pryk op ʼn rits akademiese en letterkundeboeke wat jy in enige goeie boekversameling sal vind. In akademiese kringe is hy bekend vir sy navorsing oor variasietaalkunde in Afrikaans. Skrywers ken hom as die voormalige hoof van die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom, waar talle nou bekende skrywers hul skryftande geslyp het. Hy is ʼn mentor vir talle skrywers en studente, en skrywer van jeug en geskiedkundige romans. Verlede jaar het Die opstand van Poppie Nel, waarin hy die sensitiewe onderwerp van ʼn jong meisie wat in ʼn sekte seksueel misbruik word onder die loep neem, verskyn en groot indruk gemaak.

Hans du Plessis en sy vrou, Magdaleen, het in 2020 hul 52ste huweliksherdenking gevier (Foto: Verskaf)

Maar soek jy hom oor Kerstyd of Nuwejaar, of enige ander tyd wanneer hy en sy vrou, Magdaleen, kans kry, is hy op Hengelaarskroon naby Eersterivier in Tsitsikamma – dieselfde dorpie waar sy roman Die opstand van Poppie Nel afspeel. Op dié dorpie is nie eens ʼn poskantoor nie en hou die stilte en die branders hom geselskap. Hier kan hy skryf, en wag op die kinders en kleinkinders wat tydens die feestyd die huis kom vol maak.

“Om alleen te wees, is soms nodig,” sê hy. “Maar om eensaam te wees, is onmenslik. Deur die jaar is ek en Magdaleen tussen vriende en kennisse deel van die samelewing van Potchefstroom, maar hier teen November trek ons Eersterivierstrand toe om reg te maak vir samesyn met die kinders en kleinkinders. Dan word samesyn vir ons ʼn intiemer familiebesigheid wat teen Oukersaand die samesyn van kuier en geskenkies word. Kersdag is vir ons saamwees in die kerksaaltjie teen die berg, en die breek van branders word ʼn dankbare psalm van heilige samesyn.”

In Hans se geselskap is jy sommer vinnig op jou gemak. Jy word deel van sy leefwêreld wanneer sy sin vir humor spontaan opduik of hy heel beskeie oor hoogtepunte in sy loopbaan praat.

So gesels hy oor die beginjare en toe hy nog vasbeslote was om ʼn digter te wees. Gou het Hans besef dat dit nie sy voorland is nie.

“Ek het aanvanklik gedink ek is ʼn digter, maar ek ken min skrywers wat dit nié gedink het nie. Etienne van Heerden en André P Brink het byvoorbeeld ook eers by die poësie begin,” vertel hy en voeg dan skertsend by: “Ek het later wel agtergekom die enigste digter wat ek is, is ek is digter as al die ander ouens. Toe het ek my eerste roman/novelle geskryf.”

Tog het sy Griekwapsalms later jare ʼn lêplek in die volksmond gevind, al het Hans nie toe gedink hy skryf iets besonders nie. Hy onthou dat dit een aand sommerso in die hotel in Douglas ontstaan het terwyl hy besig was met navorsing oor die Afrikaans wat deur die Griekwas gebruik word. Hans het heel rustig gelê en Psalm 23 lees toe die gedagte skielik by hom opkom: as oorlede Dawid nou ʼn Griekwa was, hoe sou hy die psalm geskryf het?

Voor jy Griekwapsalms kon sê het Hans weggetrek en verskeie teksgedeeltes uit die Bybel in Griekwa-Afrikaans herskryf, onder meer die Onse Vader, 1 Korintiërs 13, sowel as dele uit Prediker en Spreuke. Dié psalms en gedigte is ʼn paar maande later voltooi en ʼn digbundel het die lig gesien.

‘Innie skylte vannie Jirre’ deur Hans du Plessis het in 2001 verskyn. Dit volg op die bundel ‘Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt’ wat hy self uitgegee het.

“Die Griekwapsalms is ʼn hoogtepunt en dit is hoekom mense ʼn mens ken. Ek skaam my nie daaroor nie, maar ek dink natuurlik my groter bydrae lê by die paar jeugboeke [Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, 1991; Bakgat, en wat dan van my?, 1995; Ditsem, Dawid!, 1996] en die laaste historiese romans [Die pad na Skuilhoek, 2011; As die wind kom draai, 2013; Inboekeling, 2014; Tussen die klippe, 2016; Drie vroue en ʼn meisie, 2017] wat ek geskryf het,” sê hy.

Hans gesels verder oor sy bydrae tot die variasietaalkunde en hoe Griekwa-Afrikaans eintlik heel toevallig oor sy pad gekom het – wéér met ʼn tikkie spot in sy stem.

“Ek het in daardie tyd [klas in] sintaksis en teoretiese sintaksis gegee, maar het gou agtergekom dit verveel die studente. Toe begin prof. Christo van Rensburg in die begin van die tagtigerjare met ʼn projek oor die Afrikaans van die Griekwas. Om eerlik te wees, het ek nie mooi geweet wie is die Griekwas nie, behalwe dat dit ʼn rugbyspan is,” vertel hy laggend.

Maar dan raak hy stil en dink ʼn rukkie voor hy weer gesels. Die navorsing wat hy destyds saam met Christo gedoen het, het ʼn ongelooflike invloed op sy loopbaan gehad, sê Hans. Hy het die teoretiese taalkunde opsy geskuif en saam het hulle die ongebaande weë van Afrikaans begin ontdek.

Onthou, Afrikaans het toe nog nie erkende dialekte gehad soos wat dit vandag bestaan nie, herinner Hans. Eers met die opkoms van die sosiolinguistiek en filosofiese oortuigings dat dialekte nie ʼn minderwaardige vorm van ʼn taal is nie, kon die projek behoorlik op dreef kom.

Hans vertel met oorgawe hoe hulle gery het om met mense reg oor die land te gaan gesels. Soms vir ʼn hele week en boonop met hope geduld, want jy moet iemand op band opneem sonder dat hy of sy weet hy of sy word opgeneem.

“Baie van die mense was byvoorbeeld nog nooit buite Prieska nie en is ongeletterd. As jy na hulle toe gaan en met hulle gesels, moet jy op ʼn baie spesifieke manier met hulle gesels. Jy moet ʼn verhouding opbou en die oomblik as jy ʼn bandmasjien of enige ander opnemer voor ʼn persoon neersit, dan praat hulle glad nie.

“En dan bou jy daardie verhouding op ʼn ander manier. Jy leer mense op ʼn ander manier ken. En jy leer ken Afrikaans op ʼn ander manier. Jy tel hom onder die soetdoring en uit die sand uit op. Jy sien ʼn kameeldoring en dan sien jy dáár onder in die sand lê Afrikaans.”

So het Hans saam met Christo die geografiese dialekte van Afrikaans padlangs verken en navorsing gestimuleer wat nie voorheen gedoen is nie.

“Christo was ʼn ongelooflike stimulus. Nie net vir die Griekwa-Afrikaans nie, maar ons (en ook baie ander taalkundiges) het ook begin om ander dialekte te ondersoek. Dit het ʼn studierigting gestimuleer wat vir Afrikaans goed is,” vertel Hans.

Hengelaarskroon, waar Hans en Magdaleen saam met hulle kinders en kleinkinders oor Kerstyd en Nuwejaar tyd deurbring (Foto: Verskaf)

Maar, sê hy, dit is tyd dat ʼn nuwe stimulus sy opwagting maak. Destyds het ʼn mens in jou motor geklim en Afrikaans gaan soek, maar vandag kan jy gewoon na iemand luister om te weet in watter voorstad hulle woon of aan watter sosiale kringe die persoon behoort. Ja, dit gaan dalk goed met variasietaalkunde in Suid-Afrika, maar daar is nuwe taalmerkers soos sosiale verskille wat bestudeer moet word.

Intussen skryf Hans oor die stories en die mense wat oor sy pad kom, want, glo hy, jy kan nie skryf oor iets wat jy nog nie eerstehands ervaar het nie. Net soos hy die Griekwas se Afrikaans onder ʼn kameeldoring moes gaan soek voor hy gedigte daarmee kon skryf.

  • In ʼn volgende artikel oor Prof. Hans du Plessis gesels hy oor die inklusiwiteit van Afrikaans, waarom dit belangrik is dat die taal sy hoë funksie op universiteitsvlak behou, en Afrikaans as versoeningstaal. Hy vertel ook meer oor die ontstaan en sy betrokkenheid by die ATKV-Skryfskool en hoe om ʼn storie suksesvol aanmekaar te weef.

Hans dink in dié video terug aan die begin van sy skryfloopbaan:

In hierdie video gesels Hans oor dít waarvoor hy graag onthou wil word:

Luister hier hoe sy Griekwapsalms een aand sommerso in die hotel in Douglas ontstaan het: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Om met woorde te boer, dikwels eerder te smokkel op die subteksvlak, is seker die beste selfterapie wat enige griffelaar ooit kan pleeg. En in die proses, word hierdie genesing ook deel van elke leser se eie heling van die gemeenskapsdolke, van hartspyn, maar dikwels, ook bevryding van die beperkende self…
Welgedaan, Hans.

Johan ·

Hans se skryfwerk gryp ‘n mens in die hart. Hy is geseën ‘n unieke gawe om Afrikaans te laat blom. Niemand kan die Griekwahartstaal beter as hy vertolk nie. Dis taalweelde sonder sonder Engels. Kosbaar en oor en oor se lees werd. Dankie Hans, baie dankie in my hartstaal aangebied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.