Grafsteen-raaisel spoedig opgelos

Die grafsteen wat gevind is.

Die grafsteen wat gevind is.

Die raaisel van die grafsteen van ʼn 58-jarige man wat verlede jaar dood is, wat op ʼn vreemde plek in ʼn woonbuurt in die noorde van Pretoria gevind is, is vinnig opgelos.

Maroela Media het Maandag berig lede van die Sinoville-gemeenskapspolisiëringsforum het oor die naweek die spokerige vonds in Keilaan gemaak terwyl hulle op patrollie was. Dit het regop in die pad gestaan en daar was geen sigbare skade aan die steen nie. Dít het die vermoede dat dit uit ʼn bewegende voertuig geval het, uit die weg geruim.

Die vreemde verskynsel het die polisie laat kopkrap en dit was nie duidelik hoe die grafsteen daar gekom het, of wie die eienaar kan wees nie.

Kort nadat Maroela Media se berig gepubliseer is, het op-en-wakker inwoners vinnig die kloutjie by die oor gebring en die ware eienaar van die grafsteen opgespoor. Die grafsteen is ʼn vertoongrafsteen van Vyfstergraniet se onderneming op die hoek van Paul Krugerrylaan en Fred Nicholsonstraat in Mayville.

“Die grafsteen staan buite ons winkel en word met silikon vasgemaak. Dit is deur die loop van Vrydagaand gesteel. Die polisie het gesê dit is vermoedelik deur vier dronk mans in ʼn voertuig gelaai en in Sinoville afgelaai,” het Glenn Brown, wat saam met sy pa, Jac, die onderneming besit, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Die polisie het Glenn Maandagmiddag in kennis gestel dat die grafsteen by die Sinvolle-polisiestasie gehou word en hy het dit Dinsdag gaan haal.

Die Browns is nie van plan om strafregtelike stappe te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Linda ·

Ek het nogal gewonder oor daai grafstene wat daar voor daardie winkel staan. Die name en datums is absurd!

Annatjie ·

Dit is uitgestalde voorbeelde van grafstene ( vir die oningeligtes)

Jana ·

Ag nee regtig sien tog net die komiese kand van die saak… En as jy die naam en datem opgemerk het hy daai winkel se advertise gewerk

Karolis ·

Jana,
ag nee wat, ek sal maar eerder die komiese kant van jou kommentaar raaksien.

Losloper ·

n 58 jarige man? As die grafsteen eg was dan sou die man 57 jaar oud gewees het met sy afsterwe.

Peet Schabort ·

Volgens die steen het ‘n vliegtuig hom kom haal. Maak nogal sin nadat ‘n ooievaar hom gebring het.
Ook op die ou end ‘n goeie gratis advertensie vir die besigheid.

ladybug ·

Julle wat in Brakpan bly sal onthou van die doodskis wat een aand opgeduik het in ‘n huis se oprit … mens ons was verstom, maar die storie kom toe uit … vriende van die man het dit daar neer gesit … hyt erken dit laat almal draaie om sy huis loop nadat hy dit bokant die tuinhekkie gemonteer het! LOL!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.