Lesersbrief: God bly dieselfde – gister, vandag en vir ewig

Marleen Swart van Centurion skryf:

Marleen Swart. Foto: Verskaf

Ek het die volgende al in 2017 geskryf, ná ek en my gesin vir drie jaar, deur drie winters, in ʼn Wendy-huis gebly het. Ek hoop dit beteken vandag iets vir jou.

Heb 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Oor die afgelope vier dae het ek en my gesin na ʼn nuwe huis getrek. Ons het by die huis ingetrek wat God my en Deon sewe maande gelede help koop het. Ons het 30 maande lank (twee en ʼn half jaar) in ʼn Wendy-huis gebly. Sewe maande gelede het God ons gehelp om ons heel eerste huis te koop en nou het ons hier ingetrek saam met ons ouers. Ons het self die trek behartig. Dit het ons twee dae geneem om alles te trek, buiten die tuingereedskap en my pa se gereedskap. Dit het ons twee dae geneem om alles uit te pak. Dit was ʼn uiters besige tyd, maar te midde van al die harde werk, was daar een konstante. God.

Ek spandeer elke oggend tyd saam met Jesus in sy Woord en in gebed. Ek was doodmoeg, maar dit was belangrik vir my om stil te staan en tyd saam met God te spandeer. Ek is lief vir Hom en dit is hoofsaaklik die belangrikste rede hoekom ek tyd saam met Hom spandeer, want ek weet ek het Hom nodig. Sonder sy Woord elke dag, wat my lei, sal ek verlore wees. Deur hierdie dol tyd het sy Woord my gelei, my getroos en vir my die krag gegee om met die harde werk voort te gaan.

Wanneer ek tyd spandeer en sy teenwoordigheid wat ek so goed ken, ervaar, besef ek Hy is die énigste konstante in my lewe. Deur al die geskarrel, die nuwe dinge wat ons moes leer, soos die voorafbetaalde elektrisiteitstelsel wat vir ons gewys het hoeveel elektrisiteit ons gebruik (wat skokkend was), die alarm wat afgegaan het, ensovoorts. Die enigste konstante was God, sy teenwoordigheid, sy Woord en Hy self. In hierdie nuwe huis en omgewing was sy teenwoordigheid en Woord dieselfde as in ons vorige huis waar ek die geleentheid gehad het om God te leer ken vir wie Hy is. Hy is my krag, vertroosting, my ware liefde. Ek is baie lief vir Hom.

Ons lewe kan gevul wees met baie goed en baie moeilike tye. Dalk lê finansiële probleme voor, gesondheidsprobleme, sterfte, maar die enigste konstante is God. Wanneer jy na Jesus gaan te midde van al die besige tye, moeilikhede, ’n chroniese siekte of sterfte, sal jy sy teenwoordigheid ervaar en sy Woord sal jou lig en brood wees. Dit sal jou rig, jou vertroos en jou lei. Daardie tyd wat jy aan God toewy, wanneer jy wegry by die hospitaal waar ʼn familielid van jou siek lê om alleen te wees saam met God, is Hy jou Konstante en jou Vertroosting.

Te midde van watter moeilike of besige of kommerwekkende situasie jy ook al tans beleef, bly God jou konstante. Die Een waar jy sal ontdek niks het verander nie, die plek waar alles dieselfde bly, gister, vandag en môre.

Ons het dit in ons lewe nodig. Ons is skeppings wat liefde en vertroosting nodig het en ons kan dit slegs by Jesus kry – ons vreugde in ʼn tyd van wanhoop.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elmine ·

Liewe Marleen
Baie, baie dankie dat jy in dié tyd hierdie stuk wat jy in 2017 al geskryf het, met ons deel! Dis sooooooo relevant en net wat ek nodig gehad het om vandag te hoor! Dis dinge wat ons weet, maar ons het mos nodig om mekaar aan dié waarhede te herinner… Soms wanneer dit swaar gaan, of as my woorde heeltemal opraak, klink die lied “My enigste troos in lewe en dood, is dat ek aan Jesus Christus behoort! Met Sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop, dis my anker, my vaste hoop!” in my hart op. Ons Vader het geweet ons sal jou bydrae in 2020 sal kan lees en daarmee sal identifiseer op soveel maniere! Ek glo julle is ook in dié tyd in Hom geanker, soos in 2017. Barend se Dawid en Goliat-bydrae van vandag bevestig ons gesels: Jesus Christus is die Een wat al ons Goliatte verslaan. Daarom kan ons nie op eie krag enige dag ingaan nie! Jou brief is die perfekte inleiding tot my eie stiltyd saam met Hom vandag! Dankie! xxxx

Frieda ·

Ek hef my oë op na die berge waar sal my hulp vandaan kom van die Here !! my konstante Megesel.

Frederik ·

Ek kan net se “Amen Amen En Amen”, baie waar woorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.