Lesersbrief: Hoe baie is baie?

geld-munte-in-bottel

Foto: Michael Longmire/Unsplash.com

Stefan Saayman, algemene bestuurder van Kanaal 7 ’n radiostasie in Windhoek, Namibië skryf:

Ek lees nou onlangs ’n berig waarin ’n Afrikaanse SA nuusskrywer ’n Engelse getal (three trillion rand) verkeerdelik vertaal as drie triljoen rand.

Vir baie mense is triljoen, biljoen, miljard en selfs miljoen net “baie”. Maar wanneer ons ʼn bedrag aanhaal, dan is dit belangrik om die regte woorde te gebruik. Kyk dus na die volgende:

Engels: billion – Afrikaans: miljard          1 000 000 000
Engels: trillion – Afrikaans: biljoen          1 000 000 000 000  (of duisend miljard)
ʼn Afrikaanse triljoen is ʼn ongelooflike 1 000 000 000 000 000 000 (of een miljoen x biljoen)

Dus, die skrywer se fout is net een miljoen keer groter as die werklike getal – maar vir baie mense is dit maar net “baie”.

Terug by die berig met die fout. Suid-Afrika se buitelandse skuld op Saterdag 31 Augustus 2019 om 17:00 beloop R3 298 655 150 252. Die skuld groei met R5 786 per sekonde (hoofsaaklik rente). ‘n Mens kan hier sien hoe hierdie syfer groei.

Dus, Suid-Afrika se buitelandse skuld beloop nagenoeg R3,3 biljoen (Engels: trillion). R3 298 655 150 252 in woorde is: drie biljoen, tweehonderd ag-en-negentig miljard, seshonderd vyf-en-vyftig miljoen, eenhonderd en vyftig duisend, tweehonderd twee-en-vyftig rand en enige sente.

Hoe baie geld is dit?

Gestel jy en 9 999 (negeduisend negehonderd nege-en-negentig) van jou vriende kry die taak om R3 298 655 150 252 in eenrandmuntstukke te tel.  (Julle is 10 000 bymekaar.)

Gestel verder dit neem een sekonde om een rand te tel (Hierdie is ʼn verkeerde aanname, maar ons gebruik dit om die berekenings te vereenvoudig – lees bietjie die getal in woorde hierbo en kyk hoe lank dit jou neem net om dit te lees!  Beslis meer as een sekonde, reg?)

Gestel julle eerbiedig die Arbeidswetgewing en tel agt uur per dag voltyds (naweke en openbare vakansiedae uitgesluit), sonder onderbreking – met slegs een uur etenstyd. Dit beteken julle gaan ʼn formidabele R288 miljoen rand per dag tel!

Dit sal julle almal saam 45 jaar 10 maande neem om hierdie getal in eenrandstukke uit te tel… Dit is wat Suid-Afrika se totale skuld op 31 Augustus 2019 om 17:00 beloop het – kyk gerus waar trek dit nou.

Die nuusskrywer het verkeerdelik aangedui dat die Suid-Afrika se skuldprobleem ’n miljoen keer groter is, maar wat is ’n miljoen tussen vriende in Afrika?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nico K ·

Na ek die berig gelees het is ek nou eers van mening dat baie is net baie. Dit is getalle wat ek nie kan indink nie. Maar op ‘n ernstige noot, hoekom praat die Engelse van ‘n duisend miljoen and “billion”. Dit is mos tegnies verkeerd. ‘n Biljoen moet moes miljoen miljoen wees. En ‘n triljoen moet miljoen miljoen miljoen wees. Dis net logies.

SjN ·

Moet net nie vir n vorige president vra om dit uit te spreek nie asb.

koos ·

SjN, stik ek nou soos ek lag, baie skerp. Dis seker deur hierdie masiewe bedrae dat hy SA nou in die dinges het.
Op ‘n ander noot, kan ons maar nie ons Afrikaans verander dat die vertalings meer sin maak nie. Toe hierdie getale bedink was, het niemand in Afrikaans geglo dat dat getalle in daaglikse gebruik sal kom nie, die bedrae was net te veel (wys jou wat inflasie doen).

Anoniem ·

Die verskil tussen die Afrikaanse en Engelse benamings vir hierdie groot getalle is totaal onlogies. Hoe op aarde het dit gebeur? Kan ons dit nie asb verander nie?

Gert ·

Anoniem, na my wete gebruik alle Europese tale dieselfde terminologie as ons, ek het al spesifiek met Duitsers, Hollanders en Finne vergelyk, blykbaar is dit net die Ingelse wat dit verkeerd doen, so as iemand moet verander, laat dit hulle wees.

Anoniem ·

Dankie vir jou terugvoer, Gert. Ek leer nou iets by jou…

Kosie Kramer ·

Twee ander algemene probleme, is die gebruik van die punt in plaas van die komma, en van duim in plaas van sentimeter.

Sedert 1970, toe ons die metrieke stelsel aanvaar het, word die komma as desimale simbool gebruik, bv. 2,4 km. Radiostasies wat hulself adverteer as bv. 94.7 is tegnies verkeerd; dit moet 94,7 wees.
Selfoon- en TV-skerms word frustrerend baie aangedui in duim (inch), terwyl dit sentimeter moet wees.
Hier naby my is `n brug wat die hoogte aandui as 2300 mm! Dit moet 2,3 m wees.

In die “ou dae” het die Buro van Standaarde hierdie dinge dopgehou. Dit skep verwarring by skoliere, wat op skool (hopelik) leer van die metrieke stelsel, maar dan in advertensies en op straat die imperiale dinge sien.

Rita Leven ·

Is daar iemand wat weet hoeveel zeros in ‘n “Google”?
Vra maar net want lyk my niemand weet eintlik wat die stand van meer as ses nulle moet wees.
Bespied ek dalk ‘n tong inni kies iewers ………..

Rhodesier ·

Dit lyk ook nie of baie skuld iemand meer pla nie, als gaan maar net voort soos altyd, tot op n dag, dan val die Rand se waarde soos die Zimbabwiese Dollar! Daardie dag kom al nader…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.