Japie van Zyl: NASA het ’n ster verloor

Dr. Japie van Zyl was 33 jaar aan NASA verbonde. (Foto: Namibië se ambassade in die VSA/Facebook.)

Deur Hugo Vermeulen

Toe ek in Desember 2002 as nuwe skoolhoof van die Privaat Skool Moria, in Outjo Namibië aankom, het ek binne 48 uur duidelik geweet – dít is die gemeenskap van dr. Japie van Zyl van Nasa. Boonop het sy familie reg oorkant ons gewoon.

Alhoewel ek nie alles van hom geweet het nie, het ek gereeld in die skoolsaal na hom as voorbeeld verwys as iemand wat groot gedroom het en hoë hoogtes bereik het – al kom mens van ʼn klein plattelandse dorpie af.

Jare later by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ek my Namibiese kontakte gebruik om hom te probeer bereik per e-pos. My gedagte was om hom in sy hoedanigheid as hoof van Nasa se Jet Propulsion Laboratory as spreker by ons jaarlikse onderwyskongres te laat optree. Aanvanklik was daar geen reaksie op my Afrikaanse e-pos na die VSA nie. Later rig ek ʼn Engelse e-pos, maar sonder enige sukses.

Toe probeer ek ʼn ander roete. Ek kry Japie se vrou, Kalfie, se selnommer en stuur ʼn WhatsApp-boodskap op 19 September 2017. Steeds kry ek geen reaksie nie. Ek probeer om haar deur familiekonneksies te bereik om te laat weet dat ek hulle soek. Op 28 November 2017 sien ek daar was ʼn “missed call” vanaf Kalfie. Daarna het gereëlde gesprekke gevolg tussen my, Japie en Kalfie. Ons was later soos familie.

In Junie 2018 word die SOS se droom ʼn realiteit en kry ons dit reg dat Japie regstreeks ʼn aanbieding doen en as hoofspreker optree by die eerste dag van ons onderwyskongres. Meer as 450 onderwysers hang aan sy lippe en ons kyk na verstommende beeldmateriaal van Mars-sendings en planne met virtuele realiteit. Ons hoor van Japie se groot planne met toekomstige Mars-sendings en die droom om mense eendag daar te laat woon, en die voortdurende soeke na ander planete wat lewe kon of sal kan onderhou.

Die gehoor kry geleentheid vir vrae en daar word vir hom gevra hoe het dit gekom het dat hy sulke groot hoogtes kon bereik, dit komende van ʼn klein plattelandse dorpie in die Noordweste van Namibië?

Sy antwoord sal ons jare nog bybly: “Ek het as jong hoërskoolkind een aand saam met my moeder na die mooi sterrehemel gekyk en my moeder gevra of sy dink daar is lewe op ander planete.” Haar antwoord was, “Aangesien jy so nuuskierig is, hoekom studeer jy nie in daardie rigting en vind dit vir jouself uit nie?”

Die res is geskiedenis.

Ek kon nie help om te dink hoeveel ouers daarbuite hul kinders se drome van jongs af vergruis deur neerhalende en afbrekende antwoorde op hul kinders se nuuskierige vrae te gee. Dalk lê baie van ons onderwysers en ouers se probleem juis daar?

Gedurende 2018 het die SOS ook die VSA saam met skoolhoofde besoek en kon ons almal die waarde van robotika as ’n toekomsvak ervaar en het dit baie belangstelling en verwondering uitgelok. Weer eens was Nasa op groot skaal betrokke om jong wetenskaplikes en ruimtevaarders se nuuskierigheid met robotika te prikkel.

Dit was dus ʼn “no-brainer” dat die SOS in 2019 geweldige fokus op robotika en kodering as ʼn belangrike toekomsvak wou laat val, en ons wou graag hier die leiding neem in onderwysopleiding. Ons besluit toe om ʼn unieke nuwe vakvereniging vir onderwysers te skep. Die verdere gedagte ontstaan – wat as ons dit die Dr. Japie van Zyl-robotikavereniging noem? Maar sal Japie daartoe instem? Japie stem in en boonop kon ons Japie toe met trots deel maak van die regstreekse mediabekendstelling van die vereniging in 2019.

Telefoongesprekke het steeds plaasgevind en ek was verbaas om vroeg in 2020 by Japie te hoor hy tree af by Nasa se JPL (Jet Propulsion Laboratory). Dankbaar verneem ek dat sy helikopter-sendingprojek vir Mars steeds voortgaan saam met Nasa se volgende vlug (wat toe in Julie gelanseer is).

Japie het ook genoem dat hy met sy aftrede by Nasa besluit het hy het nou genoeg vir ander planete gedoen en hy het nou ’n nuwe droom – om iets groots vir planeet Aarde te doen.

Hy vertel met opgewondenheid van die nuwe maatskappy Hydrosat. Hy werk saam met Skandinawiese lande en beoog om spesiale satelliete saam met Elon Musk se SPACE-X op te stuur. Die satelliete monitor dan plante se temperatuur en bepaal só hul waterbehoeftes. Boerderye sal massief kan baat by hierdie projek deur presies te weet hoeveel en wanneer landbougewasse water moet kry.

Ek is onmiddellik opgewonde en reël dat Japie met ʼn private landbougroep in Suid-Afrika gesels. Ek hoop steeds hier kan iets groots van kom.

Toe tref Covid-19 die wêreld in Maart 2020 en die getal siekes- en sterftes styg geweldig in die VSA. Laataand lui my foon – dit is Japie en Kalfie wat van Kalifornië af bel. Hulle wil net sê ek moet asseblief aan Suid-Afrikaners vertel hoe gevaarlik die siekte is en dat ons almal moet waarsku om veilig te wees en eerder in afsondering te gaan – toe was daar nog geen Covid-19-gevalle in Suid-Afrika nie. Hul vrese was dat as die virus Suid-Afrika eers tref, dié land nie sal kan voorbly met maatreëls en hospitale nie. Ekself was maar aanvanklik skepties, maar hulle was reg.

Die SOS begin toe op groot skaal Zoom-webinare aanbied en weer kom die idee by my op: Wat van Japie as gasspreker by ʼn wetenskap- en robotikawebinaar saam met SOS-spanlede? Weer eens was dit nie te veel gevra nie en Japie staan een oggend in Mei spesiaal om 06:00 (VSA-tyd) op om 15:00 (SA-tyd) die gasspreker by ons webinaar te wees. Japie was maar te gewillig om te vertel van vordering met die Nasa-helikopter, sy planne by Hydrosat, maar ook dat hy met die navorsers van Caltech besig was om nuwe Covid-19-toetsapparaat te ontwikkel sodat meer pasiënte vinniger getoets kan word. Meteens onthou en besef ek: hy leef sy droom, hy wil werklik meer doen vir planeet Aarde.

Verlede week laat weet Kalfie my Japie moet in isolasie gaan – hy was in kontak met mense wat positief getoets het en sy mag nie naby hom kom nie. Sy wonder wat dink die bure, want sy en Japie moet deur toe deure en mure met mekaar praat, en dit klink vir die bure seker soos ʼn woordewisseling. Ons het nog lekker hieroor gelag.

ʼn Week later kom die verdoemende nuus: Die dokters kry geen breinfunksie meer by Japie nie.

Dit is steeds onwerklik.

Die wêreld, Afrika, suidelike Afrika en Namibië het een van sy grootste wetenskaplikes verloor. Hy wou nog so baie doen.

Dit sal my en ons plig as liefhebbers van die wetenskap wees om te help toesien dat sy nalatenskap bly voortleef. Ons moet toesien dat jong wetenskaplikes voortdurend deur die Dr. Japie van Zyl-robotikavereniging geïnspireer word om aanhou groot te droom en om, soos sy moeder, die saadjie by jong leerders te plant om self planne te maak om hul nuuskierigheid te bevredig.

Daar sit nog talle Japie van Zyls in ons midde, en dit is ons plig om hulle aan te moedig.

Dankie, Japie! Lank lewe jou nagedagtenis!

 Huldeblyke van SOS-spanlede:

“Al het dr. Japie van Zyl in Amerika gewoon en ek hom nog nooit persoonlik ontmoet nie, het dit gevoel of ek hom self geken het. Ek dink sy nederige hartlikheid en passie vir sy werk en die lewe was aansteeklik, en daarom voel dit onwerklik dat hy so skielik weg is. Ons is saam met sy geliefdes baie hartseer, maar weet ook dat hy menige jongmens geïnspireer het om te waag om te droom soos wat hy as kaalvoet Namibiese skoolseun gedoen het. Rus in vrede.” – Jana Terblanche

“Dr Japie, my hart huil vandag. Dit was ʼn groot voorreg en eer om April saam met Dokter ʼn webinaar te kon aanbied. Jou geduld, rustige geaardheid, pragtige Namibiese aksent en ontsaglike kennis was binne minute opmerklik. Jou Nasa-helikopter, Curiosity, land eersdaags op Mars en is net weer ʼn bewys dat om groot te droom, nie onmoontlik is nie. Die wêreld is vandag ʼn besonderse mens armer, maar die hemel juig. Rus sag, dr. Japie.” – Marnelda de Beer

“Dit is vir my bitter slegte nuus. Alhoewel ek hom nooit persoonlik ontmoet het nie het sy nederigheid as mens my altyd opgeval! Sy oop glimlag en Namibiese aksent het mens laat voel asof hy familie is. ʼn Briljante wetenskaplike wat ek as ʼn rolmodel gesien het! My hart gaan uit na sy vrou Kalfie en al die vriende en familie. ʼn Groot boom in die Suid-Afrikaanse en Namibiese geskiedenis het geval. Rus sag en vlieg hoog!” – Celeste Labuschagne

  • Hugo Vermeulen is die hoof van opleiding aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie Japie..dis al wat ons met groot hartseer kan se. Rus sag…GOD het groter planne met jou!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.