Lesersbrief: Baie welkom, liewe minister

Anoniem skryf:

Minister Sindiswe Chikunga en haar gevolg was verlede week die slagoffers van ʼn gewapende rooftog op die N3. (Foto: @Dotransport/X/Twitter)

Ek lees rustig deur my dag se nuus op Maroela Media toe die artikel my oog tref: “Minister beroof… hulle het ʼn wapen teen my kop gehou!”

Geagte minister, baie welkom by die realiteit van Suid-Afrikaanse burgers se daaglikse lewens. Baie welkom in die wêreld van geweld en pyn. Die wêreld van misdaad in elke hoek, kaap, baai, vlakte, grasveld en berg in ons land. Welkom in my wêreld…

Ek is ʼn enkelma van die Noord-Kaap. Ek moet veiligheid vir my drie kosbare kinders elke dag verseker. Ek is hulle skuiling teen die bose wêreld daar buite. Geagte minister, hoe doen ek dit in ons realiteit? Hoe doen ek dit sonder lyfwagte? Hoe verduidelik ek aan my kinders die inbraak in ons huis? Of die geweer teen my kop? Hoe verduidelik ek die verdwyning van kosbare besittings uit ons veilige plekkie omdat ek werk geskep het? Hoe verduidelik ek die inperking in die klein afgekampte erf waar ek hulle kan sien?

Hoe verduidelik ek die blatante, neerhalende opmerkings? Hoe verduidelik ek die vreemdeling wat net eenvoudig helder oordag instap en vat wat hy wil? Hoe verduidelik ek die magdom slotte aan ons deur? Die toesluit van elke kamer vir ingeval… Die kermisbed op die vloer aand na aand…

Ek kan nie! Ek faal my kinders omdat ons geliefde land se regering ons gefaal het. Ek wil eintlik graag vir u sê dat ek jammer is oor die vrees wat u moes deurgaan, maar…

Nou weet u hoe vrees werklik voel.

Nou weet u hoe koud ʼn wapen se loop teen jou kop is.

Nou weet u dat ʼn lewe niks beteken nie.

Nou weet u dat die onsekerheid jou mal maak.

Nou weet u dat ʼn slapelose nag van vrees jou so uitput dat jy soms wens daardie sneller is getrek.

Nou weet jy hoe paniek jou brein verswelg.

Nou weet jy hoe dit voel om jou lewe te moet aanpas om die trauma te verwerk.

Nou weet jy hoe dit is om ʼn regte Suid-Afrikaanse burger te wees.

Welkom in ons wêreld van realiteit. Hier is nie rooitapyte, fênsie karre en lyfwagte nie. Hier is dit net jy en jou vrese. Jy en jou paniek. Jy en jou hoop verlore self.

Miskien eendag sal ons paaie kruis. Miskien dan sal jy jammer kan sê. Miskien dan sal jy kan eerlik wees en erken dat ons mooi land en sy mense gefaal is. Maar vir nou koop ons nog slotte.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

BullsBabe ·

Sterk vrou….jy vat die woorde so uit baie van ons land se mense se monde…..ek salute jou!

Geagte minister, ons kan nie regtig onverskoning vra of empatie gee vir wat met jou gebeur het nie……tenminste was hulle goed geklede rowers plus hul het jou ring gespaar wat jy van jou oorlede man gekry het…..so, met lyfwagte (wat toe nie eintlik iets beteken het nie) was die rowers nogal goedhartig om jou ring te spaar……mmmmmm….Welkom in die REALITEIT waarin ons moet lewe omdat ons regering nie sy hardwerkende burders beskerm nie. Sterk wees.

skurweberg ·

Minister die realiteit is: Die gemors wat deur die regering veroorsaak het kom nou op hulle eie koppe meer. Kry vir jou ‘n happie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.