Lesersbrief: Die onbekende engele op my kanker-pad

Estelle Venter skryf:

(Foto: Pixabay)

Ek lees al die vroue se briewe wat die borskanker-pad stap of gestap het en ek herleef my eie ervaring van 12 jaar gelede.

Ek was 48 jaar oud toe ek met borskanker gediagnoseer is. Ek het ook chemoterapie ontvang. My hare het ook uitgeval en die gevolge van die chemo was uitmergelend, maar ek het besluit om aan te hou werk. My dokter het my aangeraai om ses maande siekverlof te neem, maar ek het gevoel ek moet aanhou en deurdruk – ek moet hierdie siekte veg met alles wat in my is.

Gelukkig het ek baie ondersteunende werkgewers gehad wat nie gehuiwer het om my tienuur in die oggend reeds huis toe te stuur as hulle kon sien ek voel nie lekker na ʼn chemo-sessie nie.

Wat ek egter die meeste onthou, en miskien is dit ook goed so, is die engele wat oor my pad gekom het tydens my behandeling.

My dierbare man, wat elke chemo-sessie by my kom sit het vir die hele dag, my twee kinders wat altyd verstaan het as mamma nie lekker voel nie, en dan my huiswerker wat stiptelik elke middag twaalfuur vir my gebid het. Sondae het sy my opgedra in haar kerk, totdat ʼn ou omie haar op ʼn dag gevra het hoekom sy nie meer Sondae my naam noem in die kerk nie, waarop sy geantwoord het dat ek nou gesond is. Sy antwoord aan haar: “Moet nooit ophou bid vir haar nie”. Dankie oom, ek het jou nooit geken nie, maar jy is ook ʼn engel.

Ek dink aan my onkoloog en die kankersusters – julle is engele uit een stuk.

Daar was baie onbekende engele – mense wat ek van geen kant af geken het nie, maar wat ongesiens in my lewe ingestap het. Eendag het ʼn onbekende dame my kantoor binnegestap en gevra na een of ander persoon se kantoor. Sy het opgemerk dat ek ʼn kopdoek dra (ek wou nooit ʼn pruik dra nie). Toe ek haar antwoord dat ek borskanker het en behandeling ontvang, het sy haarself voorgestel en gesê dat sy ʼn mediese verteenwoordiger is. Sy wou weet of ek my suiker gereeld laat toets tydens my chemoterapie. Sonder om te huiwer, haal sy ʼn splinternuwe suikertoetsmasjientjie uit haar tas en skenk dit aan my. ʼn Onbekende engel wat eintlik na iemand anders op soek was…

Op ʼn dag het ek en my dogter supermark toe gegaan. ʼn Dame het my ook uitgevra na my kopdoek – of dit uit keuse is en of ek dalk kanker het. Ek het geantwoord dis as gevolg van die chemobehandeling en sonder om twee keer te dink haal sy ʼn geskenkie uit haar handsak. Haar woorde: “Ek het sommer geweet ek moet vandag vir iemand ʼn presentjie gee.” Nog ʼn onbekende engel.

Dankie aan al die engele in ons kankervegters se lewens – of julle bekende of onbekende engele is, julle gee ons vlerke.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Wat n mooi storie. Daar is daagliks engele op ons pad..ons moet net ons oë oophou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.