Fanie Cronje skryf:
Met die afsterwe van Mangosuthu “Gatsha” Buthelezi duik daar nou vele opinies rondom hom op. Van die mees belaglike is die van “moordenaar” en “apartheid-ondersteuner”. Dit kom hoofsaaklik van die Vrye Weekblad tot die Sowetan en City Press.
In dié verband noem Mondli Makhanya van City Press hom “a thoroughly evil man” en die Inkatha-Vryheidsparty beskryf hom as ʼn “man van sy woord wat altyd versoenend opgetree het”. Eersgenoemde reken die grafskrif op sy grafsteen behoort te lees “chief apartheid collaborator and mass murderer”.
Rondom sy beweerde aandeel in die Inkatha “warlord”-oorlog teen die ANC gaan ek my nie veel uitlaat nie, behalwe om te bevestig dat die “oorlog” in die vroeë negentigs twee betrokke partye gehad het.
Die ander deel van dié verskriklike hoofstuk in ons onlangse geskiedenis, wat nie vertel word nie, is die rol wat bloeddorstige ANC-krygshere soos Harry Gwala, ANC-leier in die Natalse Middellande, en Sifiso Nkabinde, sy handlanger in Richmond, gespeel het. Albei het ná 1994 senior ANC-posisies gekry.
Die WVK het bevind Gwala, vandag nog ʼn groot ANC-held, “functioned as a self-styled ANC warlord”, terwyl Nkabinde later in ʼn debat in die provinsiale wetgewer in KwaZulu-Natal erken het hy was ʼn ANC-krygsheer, maar volgehou het dat hy net sy mense beskerm het.
Maar terug by die aantyging dat Buthelezi ʼn “apartheid-samesweerder” was. In die 1970’s het die ANC hard na Buthelezi en Inkatha gevry, hoofsaaklik om in die openbaar ANC-bande te verklaar. Buthelezi wou nooit byt nie, hoofsaaklik weens die strategie wat hy wel aan die ANC voorgelê het. Sy standpunt was deurlopend dat daar ook iemand in die sisteem moet wees om die “geveg vir vryheid” op alle fronte te voer.
Inkatha en Buthelezi was daardie binnefiguur. Dit is nie bekend of die ANC wel die beleid amptelik op geheime vlak voorgestaan het nie, maar die feit dat kritiek teen Buthelezi van relatiewe lae intensiteit was, ondersteun die vermoede dat die ANC dié denkrigting ten minste verstaan en verdra het.
(Buthelezi was vroeër ook ʼn lid van die ANC, voordat hy Inkatha gestig het. Die vraag is wel of die stigting nie juis dalk ANC-strategie was nie.).
Buthelezi het dan ook deurlopend geweier dat KwaZulu-Natal (destydse Natal) onafhanklikheid aanvaar, soos die TBVC-state (Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei). Sou die Nasionale Party-regering wel daarin kon slaag om Buthelezi en Inkatha te oorreed, sou dit die kans op sukses vir die beleid van afsonderlike ontwikkeling deurslaggewend verbeter het.
Dan het Buthelezi en Inkatha ook nie aktief betrokke geraak by die South African Federal Union (Safu)-inisiatief van ander “tuislandleiers” – veral Cedric Phatudi van Lebowa en prof. Hudson Ntshanwisi van Gazankulu, wat as teenoffensief vir die UDF moes dien – nie. Die nie-betrokkenheid van Natal asook die louwarm reaksie van die NP-regering, het ook die (retrospektief-belowende) inisiatief ʼn vinnige dood laat sterf.
Die verregaande kritiek teen Buthelezi as meeloper van “apartheid” is onvanpas en hewig oordrewe. ʼn Mens kan net verstom staan oor sulke onkundige joernalistiek wat die narratief probeer dryf.
Wat Ian jy anders van ou max du preez en sy dom handlangers verwag?
Ek het die artikel in VWB weer gaan lees en sien niks verkeerd daarmee nie. Gebalanseerd en feitelik. Die lewe het soms meer as een dimensie.
Sjoe, moet ‘n mens nie darem ‘n bietjie wag voordat jy iemand so swart smeer reg na sy afsterwe nie? Gee die familie ‘n bietjie kans om te rou?