Lesersbrief: Geen verneukspul op Verneukpan

Verneukpan (Foto: Henry Jonker – http://www.willeklong.co.za/ via Wikimedia Commons)

Marlene Farmer skryf:

“Ons gaan op Verneukpan-kamp.” Die woorde van my broer, die ervare kampeerder.

In die weke voor die vertrek het ek my dikwels gevind op ʼn plek van wonder. Wonder waar die naam vandaan kom en of ons ons teen ʼn grootskaalse verneukery gaan vasloop.

Volgens my navorsing is Verneukpan ʼn soutpan. Dit is ongeveer 57 kilometer lank en 11 kilometer breed en lê tussen Askham en Fraserburg. Verneukpan is volgens inligting baie gewild onder ekstreme kampeerders. Nou ja, vriende, een van hulle is ek gewis nie, maar…

Ons vat toe ewe dapper die pad noorde toe. Ons eerste oornagplek? Verneukpan, Namakwaland, Noord-Kaap. Op pad daarheen bespiegel ons wyd oor hoe dit daar sou lyk. En natuurlik bespreek ons ablusie en dergelike noodsaaklike sake. Wel, ek kan julle verseker wat ons daar gevind het, was geensins dit wat ons met ons geestesoë gesien het nie.

By die plaashek, wat toegang verleen tot die pan, maak ons ons buiging en neem foto’s vir die nageslag. Ons ry deur om ons te bevind in ʼn gebied so wyd soos onse Heer se genade. En plat, soos in plat. Waar om ons tent op te slaan? Vir ʼn wyle is ons oorweldig deur die keuse, want waar ons kyk, sien ons net vir ons. Nie ʼn boom, nie ʼn bos, nie ʼn klip, nie ʼn wal, nie ʼn graspol, nie ander kampeerders nie. Niks. Is ons verneuk? Ons sal moet uitvind.

(Foto: Verskaf)

By ons gekose plek klim ons ryvoos en honger uit. Die sonnetjie is besig om agter die niks te verdwyn en die kwik is besig om gevaarlik te daal. Maar ons is hier vir die ervaring en staan vir ʼn wyle stil om nie net te kyk nie, maar te kyk om te sien. En te voel. En te luister.

Vriende, ons sien nie ʼn voël of ʼn dier of ʼn insek nie. En ons ervaar die onbeskryflike seën van stilte.

Maar die kwik daal en ons moet die Miskruier staan maak. Kort voor lank is ons huis reg en die ablusieblok is gereserveer. Diskreet aan die agterkant van ons staning. Om ʼn longdrop te grawe, blyk toe nie so maklik te wees nie. Die grond wat herinner aan die kraters op die maan, is klipsteenhard. Maar die nood roep en die takie moet noodgedwonge afgehandel word.

Die uitroep: “Ek gaan badkamer toe” word gesien as teken dat niemand anders na die ablusieblok mag beweeg nie. Pretensies is nou wel by die hek van die pan agtergelaat, maar jy het darem nog jou trots.

Toegedraai in komberse sit ons later die aand voor die kampvuur met ʼn beker boeretroos en aanskou die epiese toneel voor ons.

Dit herinner my aan ʼn strofe uit ‘nag in die Namib’ deur Helene Bester.

Dan word die hemel ʼn straat vol ligte
En die groot stilte word stil

Ons is sprakeloos, want daar is nie woorde vir die skoonheid voor, bo en rondom ons nie.

Ons neem foto’s vir later se kyk en hoopvolle verwagting dat ons die oomblik sal kan herleef.

Maar nou ja, van foto’s gepraat. Natuurlik moet daar ook foto’s geneem word van die ablusieblok as bewyse dat ons ons bo verdenking gedra het waar net die hemele en die pan ons kon aanskou. En nie die waarheid geweld aandoen nie.

Vroeg die volgende oggend, kort duskant dagbreek, moet elkeen van ons ons sit kry op ons opvoubare troon. Die kwesbare plekke toegemaak met ʼn kombers. ʼn Troon, op Verneukpan, in die vroeë oggendure wanneer die kwik gevaarlik naby aan vriespunt is, is nie vir sissies nie. As jy nie versigtig is nie… nou ja enigiets is moontlik. Gelukkig hoef jy nie bang te wees vir ʼn slang in die gras om jou onverhoeds te vang met jou broek op jou knieë – vir ewig vasgelê op ʼn foto nie.

Wat ek tog wel vir voornemende kampeerders kan aanbeveel, is om nie die warm as van jou kampvuurtjie in die longdrop te gooi (om later met sand te verdoesel) en dan vinnig jou laaste draaitjie te loop nie. Die kombinasies van sekere elemente mag dalk net sorg vir ʼn benoude gilletjie.

Nou ja, jy wonder seker of daar toe wel ʼn verneukspul by die pan was. Vir die vinnige jaers wie so oë verblind was deur die lugspieëling miskien, maar vir ons? Vir seker en gewis nie!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Ek sien al daai ontploffinkie wat lei tot die gilletjie!
Wat ʼn ervaring, die Verneukpan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.