Lesersbrief: Is kosblik pak regtig veronderstel om so stresvol te wees?

Hanneli van Vuuren skryf:

(Foto: CA Creative/ Unsplash)

Te veel kennis vermoei die siel, sê die Prediker.

Ja, sowaar. Vat nou maar ʼn eenvoudige ding soos ʼn kosblik vir skool. Vandat die wêreld besluit het dat die eet van enige koolhidraat (carb), ʼn doodsonde is, is skoolkosblikke ʼn gekompliseerde ding.

Ek verlang na my kinderdae toe ʼn skoolkosblik bestaan het uit ʼn katjiebotter-en-stroop-toebroodjie en ʼn appel. Daar was nie ʼn drink-ding by nie. Jy het wydsbeen oor die modderpappery langs die spuitfonteintjie gestaan en louwarm water gedrink.

As die grondboontjiebotter op was, het die toebroodjie soms gisteraand se oorskietkos op gehad. Groenboontjies was nie ongewoon nie. Of Bovril. Net na maandeinde, het die toebroodjie soms pienk polonie en kaas opgehad. Of konfyt en kaas.

Middagete was dieselfde – bruinboord was die hoofbestanddeel. Op die tafel was ʼn wye keuse van smeergoed, waarvan die meeste suiker ingehad het: grondboontjiebotter (weer), gouestroop (weer), tuisgekookte konfyt, Bovril en kaas. Later jare het ons ʼn snackwich-masjien gekry en die lekkerste
geroosterde kaas-broodjies gemaak.

Nou is suiker en brood verban en ek stoei om planne te maak om my tienerseuns se mae vol te hou. Die kosblik moet soveel gesondheidsboksies tik: “Laag in koolhidrate”, “hoog in proteïen”, suikervry, preserveermiddelvry, en verkieslik sogenaamde “heel kosse” (whole foods).

Maar wee o wee as jy ʼn vrug insit! “Weet jy hoe baie suiker is daar in vrugte?”. Of nog erger, vrugtesap. Kraanwater kan onder geen omstandighede vertrou word nie en as enigiemand sien dat jou aandagafleibare kind Oros drink, word die oë tot diep in die kaste gerol en jy kan sommer die
veroordeling oor ʼn afstand voel.

Die veganiste plaas elke dag ʼn nuwe resep op YouTube wat vir jou vertel jou kinders gaan mal wees oor die lugbraaiergeroosterde kekerertjies en die avokado-sjokoladepoeding.

Is kosblik pak regtig veronderstel om so stresvol te wees?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Dis glad nie moeilik nie. Proteine hou kinders “vol” en ‘n klein vrug kan dien as’ ‘n snoepie…. kyk maar by die winkels watse “gemorskos” koop mense. Bulk voorbereiding op’ n Sondag maak ons heel week se kosblike vol.

Elize ·

Dis is nou regtig snert hierdie. Toebroodjie sal in die kosblik gepak word en basta met hierdie veganiste. Hulle moet maar blare begin eet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.