Lesersbrief: NGV reeds in privaat hospitale

Debbie Zaayman skryf:

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Shutterstock)

Ons werkersklas mense sit elke jaar en hou asem op om te sien hoeveel die mediese fondse se fooie opgaan en hoe die voordele gaan verminder. Ons skarrel om die pot aan die kook te hou en as daar een ding is wat ʼn mens nie sonder kan nie, is dit ʼn mediese fonds.

Daardie bedrae wat jy betaal elke maand is hardverdiende geld wat jy in die mediese fonds instoot sodat jy die nodige hulp kan kry indien jy dit nodig het. Dan kom die plaaslike regering en hulle wil teen alle mag en geweld die nasionale gesondheidstelsel implementeer.

Dit terwyl die bestaande privaat hospitale alreeds tekens toon van agteruitgang.

Op ʼn Sondagoggend 02:30 het my ma komplikasies gehad na ʼn operasie wat sy ondergaan het, en met gemak het ek ʼn ambulans gebel, en met ʼn geruste hart hulle haar na een van die top hospitale in Pretoria laat neem.

Wat ʼn ontnugtering toe ek na vier dae drastiese stappe moet neem om haar uit die betrokke hospitaal te kry. Nie omdat sy nie ʼn privaat kamer gehad het of omdat sy nie persoonlike hulp gehad het nie. Nee. Omdat sy nie die nodige basiese mediese sorg soos medikasie ontvang het nie.

Sy het gevra vir pynmedikasie en daar word geskarrel om by iemand anders pynmedikasie te vat om haar pyn te verlig, want daar is niks beskikbaar nie. Verder is ek ontnugter toe ek haar help bad, en ontdek haar wond is nie eers meer ʼn pleister gedek nie. Toe ek vra hoekom haar wond oop is, was die antwoord “watter wond?”.

Sy moes behandeling kry vir ʼn erge infeksie en die helfte van die tyd was daar nie eers ʼn drup in haar arm nie, want die toestel se battery het ingegee en daar is nie nuwes nie. Dit in ʼn privaat hospitaal. In ʼn hospitaal waar die mediese fondse gery word om die rekeninge te betaal.

Ek vra myself die vraag af hoe gaan ons privaat hospitale funksioneer as die NGV ingebring word.

Wel, na my mening is dit klaar in werking. Die standaard van diens in die privaat hospitale is alreeds op die vlak van die staatshospitale. Dít terwyl ons geld betaal vir ons basiese menseregte – mediese sorg!

As dit is hoe dit gaan in ʼn privaat hospitaal kan ek net bid vir genade as die regering verder hulle sin kry en die klein bietjie standaard wat daar wel is, verder vernietig en afbring.

Mag my gesin nie binnekort weer mediese sorg in ʼn hospitaal nodig kry nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elmarie ·

Sleg om van jou ondervinding te lees. Ek hoop regtig jy het ‘n brief aan jou mediese fonds gestuur, hulle kan dalk dinge verder vat of toesien dat lede nie daardie hospitaal gebruik nie. Moet asb nie net daar los nie!

Thys ·

By die zuid Afrikaanse hospitaal sou dit nooit gebeur het nie

Frank ·

Dit is nogal kwaai veralgemening om sommer almal oor dieselfde kam te skeer na slegs een slegte ondervinding by een private hospitaal

domheks ·

Dit gaan maar nie te wel in die hospitale nie. As jy na die personeel kyk kan jy sommer die rede ook verstrek. Het die werk gekry om BBBEEE punte te kry.

Manie ·

‘n Mens teken omtrent jou lewe weg wanneer jy in ‘n privaat hospitaal opgeneem word. Behalwe jou lidmaatskap aan ‘n mediese fonds, wil hulle nog boonop weet of jy “gap cover”het indien die mediese fonds nie alles betaal nie. Daarna moet jy boonop teken dat jy alle kort betalings self sal betaal. Ek kry die idee dat “gap cover” ‘n handige manier is om die maksimum fooie te hef en as dit nie genoeg is nie, melk hulle jou persoonlik. Ja daar is kostes verbonde aan goeie mediese hulp, maar daar is ‘n verskil tussen billikheid en gulsigheid.

piet ·

Kla met die witbrood onder die arm. ‘n Staatspasient sal waarskynlik nie eers ‘n bed he nie…

Anel ·

Manie, ek het al geleer om te sê dat ek nie GAP het nie. Ek was verlede jaar vir ‘n heupvervanging en en die jaar vir ‘n knievervanging, by dieselfde hospitaal en dieselfde ortopeed. Ek het altwee kere afslag gekry by ortopeed en narkotiseur.
Het uitstekende behandeling gekry. My pa was 2022 in dieselfde hospitaal, in gewone hoësorg. Hulle het hom hard, amper gevriesde kos gevoer. Hy kon dit nie eers kou nie en hy het verstik. Hy is ‘n week later in intensief oorlede. Hy was 91. In 2016 het hy hartomleining gehad. Terwyl hy in intensief was het hulle vir vis en skyfies in polistreen bakkie gebring vir aandete. Hy kon nie eens regop sit nie. So, dit hang af van die afdeling waar jy lê. Ons was al in verskeie hospitale en die is die naaste aan ons. By die ander het ons wel uitstekende diens gekry. Glo dit hang ook af van die dokters. Hulle het ook ‘n uitwerking op die res van die personeel en hul pasiente se nasorg.

Kompas ·

Ek glo dat die vlak van opleiding vir verpleegkundiges nie meer op standaard is nie. Dit gaan ook nie meer oor optimale pasiëntsorg nie. Daar is wel nog hier en daar goeie verpleegkundiges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.