Lesersbrief: Waar lê ons prioriteite?

Sarita du Toit skryf:

Joyce Chauke, ook bekend as Mama Joy. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Ek stel nie eintlik in netbal belang nie, maar het Suid-Afrika se Wêreldbekerwedstryde gekyk wanneer ek kon. Ek kyk nie eintlik rugby nie, maar kyk die Springbokke se Wêreldbekerwedstryde wanneer ek kan. Andersins kyk ek die hoogtepunte of lees ʼn berig of wat daaroor.

Dit was dus met verbasing dat ek onlangs presies dieselfde toeskouer by ʼn Rugbywêreldbekerwedstryd van Suid-Afrika sien as wat ek by die Netbalwêreldbeker gesien het.

En dit was met uiterste skok dat ek Woensdag die berig “As dié super-fêns jou pla, is jy rassisties, sê departement” lees oor twee sogenaamde superondersteuners en besef dit is wie die persoon was. En dat (volgens die berig) alle reis- en verblyfkoste asook ʼn toelae aan hulle betaal word deur die departement van sport, kuns en kultuur. En dat dieselfde departement nie die kriteria vir die keuse van die twee persone bekend wil maak nie.

Hoekom is ek so ongelooflik geskok? Ek bly die afgelope sewe maande in ʼn karoodorp waar die swaarkry uiterste vorme aanneem. Ek sien ʼn maer volwasse man van in sy 30’s vra vir geld, kos en werk langs die pad.

Ek stop en hoor die maer verhongerde seun langs hom is sy seun. Tien jaar oud. Hy stel hulself beleefd voor en ek gee hul ʼn geleentheid na die plaaslike supermark om R160 se kos en vrugte teen ʼn goeie prys te koop. Want dit is wat ek vandag aan hom kan afstaan. Toe ek wegry, verskyn ʼn vrou en klein dogtertjie langs hom en die vier stap in die straat af asof hulle saam hoort. ʼn Gesin wat definitief in armoede leef en die skoolgaande seun van 10 jaar wat lyk of hy baie lanklaas behoorlik geëet het.

Wanneer ek op ander dae verby hulle ry, gee ek vrugte of iets wat ek te ete het in my motor. Dikwels sien ek hom nie daar nie en wonder waar hulle vandag kos vandaan kry? Hoe die 10-jarige seun op skool vaar? Sy liggaam benodig immers voedsel om fisies en kognitief te presteer en te leer? Ek praat nie eens van die duisende ander in hierdie dorp en miljoene ander in die land wat in dieselfde situasie is nie.

Dikwels huil ek oor die situasie. En ek wens ek kon hulle help sodat die pa ten minste ʼn vaste werk kan hê en ʼn beter lewe vir sy gesin kan skep.

Of, miskien moet ek noem van die klein, maer “gogo” wat alleen die straat afsukkel met haar twee krukke. Haar “Sassa-ekspedisie” was vrugteloos – sy gaan nou vir haar bure vra vir kos.

Dan lees ek die berig dat twee mense (wat is die kans dat hul albei “super” rugby- en netbal-“fêns” is?) deur ʼn staatsdepartement befonds word om as toeskouers op te tree tydens ʼn Wêreldbeker in ʼn Europese hoofstad?

Hoekom? Hoeveel mense kon kos of vaardighede verkry het vir daardie duisende rande? Wat is ons prioriteite? Wat is ons visie as land? Wil ons die skyn bewaar terwyl ander van honger doodgaan? Ek probeer die som doen, maar dit werk net nie uit nie. Miskien kan iemand anders dit verklaar? Ek wonder en vra maar net…

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Watsenaam ·

Hierdie is n baie geldige vraag om te vra.
Ek het ook oor die “super fans”se befondsing gewonder. Liewe brief skrywer, ek weet nie wat you etniteit is nie, maar ek huil saam met jou en ander regdenkendes. Kom ons troos ons met die wete dat elke persoon op aarde, eendag sal rekenskap moet gee oor hul liefde lose optredes. Somtyds dink ek die woorde van”jy moet jou medemens (naaste) lief hê soos jouself, hierdie wet is aan alle wette gekoppel. As jy (lees, leiers) nie eers die basiese mense wet kan gehoorsaam nie, moet hulle onthou aan wie hulle eendag rekenskap sal gee.

Karoo ·

Sarita du Toit…. jy slaan die spyker op sy kop. Baie dankie dat jy dit uit spreek.

Kobus ·

ANC is altyd voor wanneer die “for the poor” skree maar wanneer dit by bling-bling kom dan het hulle geen gelyke nie. Hoe dink hulle? Duisende ondersteuners is by wedstryde sonder vergoeding maar wanneer hierdie vermorsing van geld bevraagteken word dan word die rasse kaart gespeel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime voel niks vir ander nie. Hulle voel niks vir die Wes-Kaap se mariene bronne nie. Hulle niks vir die Karoo se beperkte ondergrondse waterbronne nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.