Lesersbrief: Wanneer jy ná die ‘ergste erg’ aan ʼn polisiedeur moet hamer

(Argieffoto)

Selfs op ʼn goeie dag is die daaglikse nuus beslis nie daar om ons op te beur nie.

Sedert my dae as student in politieke wetenskap lees ek egter elke dag wyd en weens die aard van my werk het ek ʼn nuusneus wat my elke dag na hope stories lei. Maar sommige dae is moeiliker as ander.

Die onlangse Krugersdorp-massaverkragtings was pynlik. Die pleister wat onse minister van polisie daarop probeer plak het, het ook klaaglik misluk. Ons is almal net weer daaraan herinner dat die Baas van ons Misdaadplaas nie eens probeer insig toon nie. En ons behoort eintlik banger te wees as wat ons is.

En toe, op 4 Augustus, word hierdie vrees ʼn aaklige werklikheid vir iemand wat ek ken.

ʼn Naam met ʼn gesig. My huiswerker se 16-jarige dogter bel; sy is deur vier mans aangeval en een van hulle het haar verkrag. Net vir konteks: vir die afgelope 12 jaar is die Engel en haar gesin soos familie wat ons gekies het. Ons deel in mekaar se lief en leed. Sy is lief vir my kinders en haar gesin het ʼn baie spesiale plek in ons harte.

Ek en Engel ry met swaar harte na die township waar hulle woon. Claire*, wat ek sowaar nog net sien lag het, huil saggies terwyl sy dapper haar storie vertel. Sy het reeds die polisie gebel. Hulle het haar verseker dat sy net rustig tuis moet bly; hulle is op pad Ga-Rankuwa toe om die maatskaplike werker te gaan haal en dié persoon sal saam met haar na die kliniek en polisiestasie toe gaan. Ná twee uur is dit duidelik: ons wag is tevergeefs.

Ons ry kliniek toe, maar die dokter is nog nie daar nie. Hulle vra dat ons solank na die plaaslike polisiestasie gaan om ʼn saak aanhangig te maak. Ek, Claire en Engel stap ʼn stil polisiestasie binne. Ek vra vir ʼn vrouebeampte.

(Argieffoto)

“Why?” vra die beampte, wat bly sit in sy stoel.

Ons word uitgestuur na die parkeerterrein, wat blykbaar die aanmeldingspunt vir enige saak is. Weereens, vir die soveelste keer, verduidelik ons en elke keer breek my hart vir Claire. ʼn Simpatieke beampte neem ons na ʼn klein, koue vertrekkie. Die vrouebeampte, vir wie ons gevra het, maak haar verskyning.

Soms is jy in ʼn situasie wat so surrealisties voel dat die volle omvang en skok van dít wat gebeur het, jou eers agterna tref. Want vir die volgende uur was ek en Engel ooggetuies van hoe ʼn polisiebeampte ʼn kind wat pas deur hel is, intimideer en manipuleer; hoe sy haar stoomroller met vrae, die meeste daarvan onsensitief en onvanpas. Of sy jok en of sy seker is van haar feite. Of sy bereid is om alleen (ja … jy is 16!) in ʼn hof te gaan sit en kruisondervra te word.

Sy hoor hoe haar onderwysers gevra gaan word om karakterverklarings te doen, want hulle weet wie die meisies is wat rondslaap en agterna daaroor wil kla. In ʼn stadium seg sy dat Claire so goed lyk en hoe moet sy, as ʼn getuie in die saak, dan antwoord as die hof sou vra: In what state was the victim?

Engel probeer ingryp: om braaf te wees, is hulle manier van cope. Ek vertel dat dit ʼn goeie kind is.

Ek kan sien Claire is op breekpunt. Wat gebeur as sy nie ʼn verklaring aflê nie, vra ek. Geen saak, geen verkragtingstoetsstel. Ek en Engel vra haar om asseblief net vir nog ʼn ruk dapper te wees.

Die beampte dring daarop aan dat ons uitgaan, want soms lieg kinders voor hulle ouers.

Ter wille van die kind loop ons. In ʼn stadium kom Claire snikkend na die parkeerterrein. Sy kan nie meer nie, sy is moeg om iemand te probeer oortuig dat sy beroof is van haar 16-jarige onskuld. Ons paai en stuur haar weer die leeukuil binne.

Die verkragtingstoetsstel. Dít is hoekom jy hierdie vuurproef moet deurmaak. ʼn Nuwe skoflid meld aan en ʼn beampte verseker my hulle sal sorg dat Engel en Claire by die kliniek en daarna by die huis  uitkom.

Om 23:45 stuur Engel vir my ʼn boodskap: hulle het pas tuisgekom ná 12 uur van burokratiese rompslomp en vernedering.

Ek kan nie verder slaap nie. Ek onthou hoe Claire in Maart vanjaar blinkoog vir my vertel het dat sy verpleging as beroep oorweeg. Sy is slim en werk hard en haar ma het al jare gelede vir haar ʼn kleinerige studiepolis uitgeneem.

Ondanks haar township-bestaan het sy hoop vir ʼn beter toekoms. En ja, danksy ʼn ongelooflike familie en mense wat omgee, gaan sy genadiglik steeds daar uitkom.

Ek is oud genoeg om te weet dat ʼn mens almal nooit, ooit oor een kam kan skeer nie. Maar op 4 Augustus is ʼn 16-jarige verkragtingslagoffer in die steek gelaat deur ʼn stelsel wat haar moes beskerm.

Dit is duidelik dat die lyf van die kop af ondertoe vrot. Selfs ʼn piepklein stasie in ʼn landelike dorp is in die moeilikheid.

Op hierdie Vrouedag is my hart seer: vir al die vroue en meisies wat onveilig moet voel. En dan, as die ergste erg gebeur, aan toe polisiedeure moet hamer. Die Here hoor my, ons moet tog beter as dit kan doen.

*ʼn Skuilnaam is gebruik om die jong meisie se identiteit te beskerm.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Okay ·

Hierdie is so hardseer maar tog ‘n realiteit in ons land. Ek self was deur polisie lede in ‘n klein kamer in gedruk en moes daar sit vir amper twee ure waar hulle nog “vriende” roep om in te kom sodat ek my gebeure kan vertel. Dan word daar vir my gelag, name genoem en tot op ‘n punt waar Ek self nie meer kon neem nie. Ek moes dinge in my Eie hande neem, trek, werk verander, alle sosiale media delete en oor begin net om weg te kom van ‘n persoon wat my lewe verwoes ( of probeer verwoes). Niks hulp van die polisie, inteendeel ek sal hulle nooit weer vetrou nie.

blia ·

En DIT is hoekom soveel slagoffers stilbly en nooit ‘n saak maak nie. Hulle weet dat hul as die skuldige en ongeloofwaardige party uitgemaak sal word. Dis hartverskeurend.

Koos 100 ·

Dis nie reg nie, maar neem asb ook in ag dat daar 100de kere per dag “verkragtingssake” geopen word om mans seer te maak en terug te kry. Alle vroue en meisies is nie altyd die slagoffer nie.
Ek wil nie die lede se gedrag goedpraat nie, maar ek wil net probeer om die lede se gedrag te verduidelik. SAPS lede kry ook min of geen opleiding om sake soos die te hanteer nie, en daarvoor moet die bestuur blameer word.

Jaco ·

Iets maak nou nie sin nie: dié slagoffer is tog, nes die polisie en die ANC-regering, deel van our people. Dan moet die behandeling mos eersteklas wees. Hoe dan nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.