Om ’n boer te wees

plaas-verwoes-01

Foto: Verskaf.

Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder van Stellaland, skryf:

Ek is ’n boerkind. Gebore en getoë. Ek weet hoeveel harde werk dit verg om kos te produseer. Geloof. Volharding. Soveel meer vandag, met so baie faktore wat teen die boer is.

Vandag het ek gesien hoe lyk moedeloos. Desperaat. Hooploos.

’n Boer wie se grond aan ’n voormalige sendingstasie grens, soek hulp. Die sendingstasie is verruil en is nou ’n informele nedersetting met HOP-huise en plakkershutte. Daar is nie werk vir die mense wat daar bly nie, dus is die meerderheid van die inwoners werkloos. Hulle besit nie grond nie, maar sommige wel vee.

Hierdie boer besit so 900 ha-grond teen die ou sendingstasie. Hy het dit nie gesteel nie. Sy pa het hard gewerk om dit te koop en aan hom nagelaat. Hy is trots daarop. Hy ken die plaas. Hy is lief vir die plaas.

Die familie hét die veeplaas toegerus met goeie drade, pompe, damme en suipings. Ongelukkig moet ek verlede tyd gebruik.

Die nuwe bure voel en sê dat die grond aan hulle behoort. Hulle vee móét daar wei. Politiek? Die drade is in die pad, dus is dit afgebreek. ’n Pomp wat jy “verniet” kry, is ’n paar rand werd. Dis nie belangrik dat diere water moet hê nie. In geen dam of krip is nou ’n druppel water nie.

Die wettige eienaar is moedeloos. Hy het al bykans ’n halfmiljoen rand verloor aan skade. Vandalisme. Hy kan nie sy vee meer daar laat wei nie. Tensy hy hulle nie meer wil hê nie. Hy is op breekpunt. Ek dink ek verstaan. Selfs die polisie is onwillig om te help. Hy voel niemand gee om nie. Hy sukkel nog om die gevolge van die droogte te verwerk. Daar is nie geld oor vir skade ly nie.

Ek wil hom bemoedig, maar dis moeilik. Sy noodroep het by ons uitgekom. Ons wil graag help. Ek verstaan sy hulproep, maar ek het nie ’n plaas nie. Verstaan ek regtig?

Op pad terug van die plaas af besef ek: Hierdie is nie soos die Hemelse Vader dit wil hê nie. Hy is ’n God van orde en hierdie is nie orde nie. Dis wanorde. Dis nie hoe dit hoort nie.

My besluit is duidelik: As ek ’n Christen is, móét ek hierdie ongeregtigheid met alle mag beveg. Ek weet nie of ons sukses sal behaal nie, maar gelukkig het ek ’n bevoegde span agter my.

Ek het die boer probeer bemoedig en gemaan om nie impulsief op te tree nie. Ek voel self bietjie kriewelrig om op die plaas rond te stap. Ek weet ek verstaan nie mooi hoe hy voel nie. Ek neem ’n besluit: Vir jou, vir die omgewing, vir ons land en volk, maar boweal, vir God sal ek hierdie stryd stry.

Ek wil op my medeburgers en -geloofsgenote ’n beroep doen: Los kleinlike verskille. Staan saam teen ongeregtigheid. Moenie vra wie dit gaan doen nie. Slaan jou hand aan die ploeg. Staan saam en wees die verskil.

Totius se beryming van Psalm 138: 4 kom in my gedagtes op en ek weet: Ons dien ’n almagtige God!

“As in my angs en teëspoed
Die krag en moed my wil begewe.
As vyande van veglus brand
Dan keer u hand en red my lewe.
Die HEER is goed en wondersterk
Hy sal sy werk deur niks laat keer nie.
Laat my o Heer wat my bewaar
Tog nou nie vaar en nimmermeer nie.”

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Von

Ag Here hoor tog ons nood…..in Jesus naam

Julie Jansen van Rensburg

Miskien sal sommige mense my verkeerd opneem, maar ek is net dankbaar dat my ouers – wat baie jare lank in die Ermelo distrik geboer het – reeds lankal nie meer lewe nie, want ek vrees dat sou hulle vandag nog geleef het, sou hull ook baie moontlik slagoffers van ‘n wrede plaasaanval kon gewees het. Hier in die vroeë jare was daar wedersydse respek tussen wit en swart; daar was drie Swazi gesinne wat op die plaas gewoon en gewerk het, maar dit was so vreedsaam dat deure en vensters in die warm somernagte wydoop gestaan het, en AS… Lees meer »

Schalk

Hoe antwoord mens iemand se moedeloosheid. wat erg klink is dikwels veel erger vir iemand wat direk betrokke is by die situasie. Dit is nie reg nie. Die situasie regverdig optrede en vanoggend lees ek die artikel. Wil jy bouer of breker wees? Duidelik uit die artikel klasifiseer dit jou optrede , jou houding en bowenal jou persoonlikheid. Positief of negatief? Maar reg is reg en verkeerd bly verkeerd altyd. Elke mens weet ongeag sy opvoeding wat reg en verkeerd is. Trots om op te staan en verkeerd te beveg bestaan al minder want die negatiewe element word sterker. Dit… Lees meer »

Jerry

Dit is hard, maar lekker om te boer, want jy pluk die vrugte van jou arbeid. Wanneer daar egter n tyd aanbreek dat dit nie meer lekker is nie agv watse redes ookal, dan beteken dit dat gesonde verstand ingespan moet word vir keuses wat gemaak moet word. Indien jy die keuses wat gemaak moet word, uitstel en uitstel beland jy in n situasie waar jy later geen keuse meer kan maak, behalwe om dieper weg te sak in jou nou reeds vasgevalle situasie. Die boer oor wie Alta nou skryf, bevind homself nou in daardie vasgevalle situasie, dieselfde situasie… Lees meer »

Risko

Ek het simpatie met ons boere maar glo my, almal van ons het nie regtig ‘n heenkome nie. As 50 jarige moet ek nou alles verkoop om in ‘n ander land oor te begin. Dit is nie net mense op plase wat vermoor word nie, my buurvrou, my oom, my vriend se seun, almal vermoor. Die land sal nooit weer ekonomies meëding nie, ons politikuste is pateties en het geen vermoëns om ons deur die drif te trek te kry nie.