Lesersbrief: Pensioenarisse sê ‘Tot hier toe en nie verder nie’

Annatjie Kruger. Foto: Verskaf.

Annatjie Kruger skryf:

Ek is ‘n pensioenaris, ek het as 18-jarige by die Suid-Afrikaanse Polisiediens begin werk as ‘n klerk en het met my vervroegde aftrede byna 33 jaar diens gehad.

Ek is geensins beïndruk met die jongste verwikkelinge ten opsigte van Eskom en die staatsdienspensioenfonds nie.

Dit bekommer my werklik dat die regering, veral pres. Cyril Ramaphosa en minister Pravin Gordhan, kan dink dat hulle los en vas met geld wat aan ander mense behoort, kan werk. Hulle behoort nie eens toegang tot daardie geld te hê nie.

En hoe kan Cosatu van my verwag om gelukkig te wees met dié vakbond se voorstel dat mý geld gebruik word om mense, wat nie eens aan hierdie fonds behoort, se werk te behou nie. Daar is selfs gerugte dat die pensioenfonds van Eskom-werkers reeds gebruik is om die maatskappy uit die gemors te help. Nou het hulle hul oog op die groter staatsdiens se pensioenfonds.

Alle gesprekke dui daarop dat Eskom totaal en al bankrot is en hopeloos oorbeman is. Ek kan my net voorstel dat ‘n groot klomp van daardie “werkers” in hoë poste is, wat beteken dat die moontlikheid bestaan dat dié mense wat die geld by Eskom gesteel of wanbestuur het, juis diegene is wat in ‘n posisie is om dit weer te doen. En nou is hul oog op die Pensioenfonds vir Staatsamptenare staatsdienspensioenfonds (PFSA, oftewel GEPF).

Waar is al die geld wat aan Eskom “geleen” is die afgelope sowat twee jaar? Ons praat van meer as R530 miljoen. Sekerlik kon hulle reeds met daardie geld begin het om Eskom reg te ruk. Hoe seker kan ek en al die ander staatsamptenare wees dat, indien hulle geld van die fonds ontvang, dit nie net eenvoudig wéér gesteel of “wanbestuur” sal word nie en wat sal veroorsaak dat die PFSA op die ou end ‘n tweede Transnet kan word?

Ek dink die woorde “wanbestuur” is in die Suid-Afrikaanse konteks sinoniem met “steel”. Dit klink beter om vir die buiteland te sê die instansie is wanbestuur as om te erken dat die geld gesteel is.

Daar word op finansiële programme op radio en TV met kenners gesels. Hulle almal gee hul opinie, maar ek wonder wanneer daar na die lede van die pensioenfonds self geluister gaan word. Dit is óns geld en almal bespreek óns geld asof óns nie bestaan nie. Wel, ons bestaan en ons gaan nie stilswyend in die niet verdwyn nie.

Wat my betref behoort Eskom (of ten minste ‘n gedeelte daarvan) geprivatiseer te word, veral die uitvoerende gedeelte. Eskom behoort op te hou om elektrisiteit aan byvoorbeeld Zimbabwe te voorsien, want ek verstaan dat daardie rekenings reeds vir jare nie betaal word nie. Daar sal beslis moet gekyk word na munisipaliteite en woonbuurtes wat nie hul rekening by Eskom vereffen nie.

Boonop gaan dit my verstand te bowe dat miljoene rande se skuld onbetaald bly wanneer die munisipaliteite nie hul rekenings betaal nie, terwyl ‘n huiseienaar wat vir slegs een maand nie betaal nie, se elektrisiteit summier gesny word. Of soos in my geval: indien ek nie aan die begin van die maand my voorafbetaalde krag koop nie, sal daar nie elektrisiteit in my huis wees nie. En dan is dit juis hiérdie krag wat ek klaar gekoop het, wat Eskom na willekeur aan en afskakel. Ek betaal dus vir dienste waarvoor ek feitlik daagliks en vir ure lank ure nie ontvang nie!

Nou kom ons by die groot olifant in die vertrek: Eskom en die gedagte om staatsdienspensioen te gebruik om hulle (weer eens) ‘n reddingsboei te gee. My antwoord hierop vir Ramaphosa, Gordhan, Cosatu en enigiemand wat met lang oë na hierdie pensioenfonds kyk: “Hou julle hande van ons geld af.” Dit is geld waarvoor ek gewerk het en geld waarvoor ek sal baklei tot die bitter einde toe.

Tot hier toe en nie verder nie! Die openbare beleggingskorporasie het reeds te veel van ons geld gemors. Eskom is nie geregtig op hierdie pensioengeld nie.

Die Facebook-blad GEPF Watchdog – Waghond waar staatsdiensamptenare (aktief en met pensioen) hul misnoeë oor die “gebruik” van óns pensioengeld bespreek, spreek boekdele. Ons werk baie hard daaraan om soveel lede as moontlik te werf sodat die regering kan sien dat ons nie tevrede is met hul verkwisting van óns geld nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Moedeloos ·

Annatjie Kruger ek is met jou. My pa is vroeg oorlede en my ma was die een wat op die einde gesukkel het om maandliks met haar pensioen oor die weg te kom agv Transnet se korrupsie. Sy het glad nie bo haar inkomste gelewe nie maar moes elke maand geld afsknyp vir medies en onvoorsieninge uitgawes en Transnet het vere gevoel. Die lewenskostes het opgegaan maar hierdie mense het verarm. Baklei vir jou regte asb want niemand gaan dit namens jou doen nie. Sterkte

Kiewiet ·

Annatjie, wat se ons die gewone arbeiders, en bydraers tot die land se staatskas, nou eintlik? As ek my se kan se, sal Maroela nie my antwoord plaas nie. Almal skree ten hemele….. maar wie is ons nou eintlik? Ons blankes word vir alles wat verkeerd gaan blameer, al is jy n duisend kilometers van die probleem af. Eskom, kry die onwettige gebruikers van elektrisiteit om hulle skuld te betaal …. siedaar probleem opgelos!

Danie ·

Moenie vergeet dat die huidige regering, eers in 1992 en toe om dit finaal weer en finaal te bevestig weer in 1994 toestemming gegee is om te maak soos hulle wil nie.

Tans is alles wat gebeur gevolge van hierdie toestemming wat oorgretig gegee is omdat…sommer…

Jan ·

Dit is skrikwekkend, maar dit is ongelukkig so dat die regering en die kaders reeds n ontsaglike groot deel van die GEPF geplunder het. En niks gaan hulle stuit nie. Die GEPF loop ongelukkig dieselfde paadjie as die Transnet pensioenfonds. n Feit waaraan min hulle steur is dat ongeveer R90bn reeds in Eskom “bele” is. Nodeloos om te se die geldjies is weg.
Astronomiese bedrae is reeds op etlike ander entiteite soos e-tol verkwis.
En die standaard antwoord om klaers te paai is om te se die GEPF word deur die staat gewaarborg. Wat is die waarborg van n bankrot staat werd?
Sterkte aan GEPF pensioenarisse

Jan ·

n Verdere bekommernis aangaande die GEPF is dat sedert Nov 2019 word maandeliks meer uitbetaal aan pensioene as wat bygedra word deur dienende lede. Watter besigheid/fonds kan in so situasie likied bly?

Anoniem ·

Annatjie Kruger ek stem heelhartig saam met jou. Die staatsamptenare is nie daarvoor verantwoordelik dat ESKOM in hierdie helse gemors beland het nie. Hulle het hulle self, as gevolg van wanbestuur in hierdie gemors laat beland en hulle moet maar self sien en kom uit hierdie gemors. Hoekom begin hulle nie die geld invorder van die munisipaliteite en individue vir wie daar geld aan ESKOM verskuldig is nie. ESKOM kan daar begin. Aan COSATU en die ander vakbonde wil ek ‘n baie duidelike boodskap stuur, los die Staatsamptenare se pensioengeld uit. Ons dra al jare by tot hierdie fonds om ‘n gerieflike ou dag vir onsself te virseker en dit is nie daar vir ander instansies wie hulle instansie wanbestuur om die GEPF te plunder nie. Hulle het niks verloor by die Staatsdiens Pensioenfonds nie en hierdie fonds mag nie aangewend word om hulle uit die gemors uit te help nie.

david ·

Ek is ook ‘n pensioenaris…nou wel nie van die van wie daarnou geld “geneem/geleen” gaan word. Dit maak nie my pensioen noodwendig veilig nie.
Kom ons wees eerlik–Eskom se penarie is deur sy eie amptenare veroorsaak, niemand anders nie–dit geld van bo na onder. Ek het ‘n paar maande gelede op TV gekyk na Ted Blom se voorlegging voor die Parlement. Wat hy daar vertel het was glad nie van die doen en late van die top vlak amptenare nie. Ek stel voor dat Eskom voor ‘n soort van Waarheidskomissie moet kom getuig–al die amptenare wat oor inligting beskik moet hulle sake kom blootle voor die komissie. Dit help nie om ‘n paar grootkoppe af te dank nie, die “kanker” strek veel dieper.
Per slot van rekening is ons, die gebruikers eintlik dieselfde as aandeelhouers in ‘n privaat maatskappy –dis ons goeie reg om te weet wat daar binne die donker gange aanaan..!

Sophia ·

Net die weer nog ‘n kommissie nie, want dit vreet ook ons belastingbetalers se geld sonder dat daar iets aan die ‘perpetrators’ gedoen word!

Sophia ·

Ek dink dit is tyd dat die hele GEPF soos een man ‘n saak maak teen ESKOM of die Regering, of wie ook al wat nou ook die staatsdienspensioenarisse wil onteien van hulle swaarverdiende geld!!

Jacobus ·

Wat ek nie kan verstaan is wanneer mens ‘n gat grawe daar ‘n groot hoeveelheid residu bestaan.
Wat het van die miljaarde geword wat die gat in die land se ekonomie verteenwoordig. In wie se rekeninge is daai geld. Glo dat die klomp wie ons land regeer presies weet waar maar dat dit gevaarlik is om te hard te soek. EN DIT is die skreiende skande wat die klomp lingse drek aan ons gewone kommin mense MOET verduidelik.
Onthou daai geregtigheids toutjie raak by die dag korter.
Dis ‘n goeie stryd wat jy aan het Annetjie

Isabel ·

Het n epos ontvang vanaf GEPF, nog geen rede tot kommer nie. Dit is net bewerings, daar is nog niks van die aard nie

Jan ·

Ja, Isabel, die mense van Steinhoff het ook die dag voor hulle tot niet gegaan het gese daar’s geen rede vir kommer nie.

Foefie ·

DIT… is hoekom ek jare gelede toe ek die dinge gesien aankom het, besluit het om nie ‘n bloue duit in enige pensioenfonds te belê nie. Ek wil my geld “sien”. Daarom het ek in eiendom belê. Al sukkel ek soms om my huurgeld te kry, is my eiendom nog daar… Wel, vir tyd-en-wyl altans. Tot die vlermuise hul pad oopgeknaag het soontoe ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.