Lesersbrief: Skotse boertjie kom kuier in Suid-Afrika

Greg Senior

Greg Senior, van Skotland, het twee jaar gelede begin om Afrikaans te leer. Hy het al voorheen ook spesiaal vir Maroela se lesers geskryf. Hy deel graag ook dié brief oor sy onlangse eerste besoek aan Suid-Afrika. Dit word gepubliseer net soos hy dit aan ons gestuur het. Die brief is nie geredigeer of teksversorg nie. -Red

Vroegoggend op die plaas. Die enigste ding wat ons hoor is die sagte Johannesburgse briesie en die versteekte voëltjies wat tjirp. Maar ons jag nie voëls nie, ons het ʼn groter teiken in gedagte.

Die 10 liter bottel water het in die verte regop gestaan, salig onbewus oor wat kom. Nes ʼn vlieënier wat sy ‘pre-flight checks’ doen het ek deur Hannes se raad gegaan: geweer vas teen die skouer, teiken in die visier en sag met die sneller.

In daardie oomblik het ek gedink hoe, 120 jaar terug, dinge tussen ons anders sou gewees het – ʼn Boer en ʼn Skot saam in die veld. Dalk het ek en Hannes se voorvaders teen mekaar baklei (snaaks hoe die lewe uitwerk nè?) Maar nou bly ek onder sy dak saam met hom en sy gesin – weereens iemand wat die verstommende gasvryheid, waarvoor die Afrikaner bekend is, ontvang.

Die bottel het, nes my laerskool onnie se kort humeur, ontplof. Water het opgesproei en verwronge stukkies was al wat van my plastiek vyand oorgebly het. Ek moes ʼn skerpskutter gewees het. Daarna, met astrante opgewondenheid het ek probeer om kleiduiwe met ʼn haelgeweer te skiet maar ons sal nie daaroor praat nie. Kom ons sê dat die gesegde ‘quit while you’re ahead’ is hier van toepassing.

Die mense gons, en dit is sonder goeie rede nie, oor die bekende besienswaardighede in Suid-Afrika. Maar daai uurtjie op die plaas met die oggendstilte en die mooi landskap was een van die hoogtepunte van my besoek. Ek het teruggedink aan Februarie 2020 toe ek my eerste aanlyn Afrikaanse les gehad het. Wat ʼn wonderlike ding het Die Here met my gedoen! Wat ʼn voorreg om wysheid van Hom te kry, ʼn nuwe taal te begin baasraak en wonderlike oomblikke soos my avontuur op die plaas te kan geniet.

En nou is ek terug. In Skotland kan ons nie skiet (beslis nie) en ek kan nie die heeldag met mense in Afrikaans gesels nie. Ek voel wat net beskryf kon word as ʼn tipe heimwee. Dit laat my dink aan die gedig ‘Mandalay’ deur Rudyard Kipling. Terug in sy reënerige vaderland verlang ʼn Britse soldaat na sy tyd in Burma en die prag en vryheid wat hy daar ervaar het, tog is alles vir hom ver weg en onbereikbaar. Voordat ek Suid-Afrika besoek het, het ek gewonder hoe ʼn mens so iets oor ʼn land wat nie jou eie is nie kon voel. Nou verstaan ek. Maar ja, dalk raak ek te filosofies!

Ten slotte, wil ek graag hierdie geleentheid gebruik om mense te bedank. Dankie aan Hannes, Simoné en die mense by hul kerk vir hul gasvryheid en goedhartigheid. Dankie aan Oom Ron en Tannie Annemarie vir die kosbare herinneringe wat ons saam gemaak het (Oom Ron kry ekstra punte omdat hy al die pad Kaap toe gery het sonder om ʼn slaggat te tref). Dankie aan Oom Willy wat my op die nippertjie ʼn toer van Kaapstad gegee het.

Laastens, baie dankie aan Suid-Afrika, ek sal terugkom.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

‘S math a rinn thu fear òg. Wel, volgens Google se vertaling is dit Skotse Gallies vir “Knap gedaan jong man”.

Illa ·

Genugtig! Die klong se Afrikaans is beter as sommige eie Afrikaners!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.