Lesersbrief: Suid-Afrika, bid saam met ons

Corli Henderson. Foto: Facebook.

Corli Henderson (26) ʼn Engelse onderwyser in Viëtnam skryf:

Ek maak vanoggend my foon oop en lees die volgende:  “Meer as 70 000 mense wêreldwyd is nou besmet met die Koronavirus.”

Vir drie weke lank is die wêreld in rep en roer oor die Koronavirus. WhatsApp-boodskappe van bekommerde familielede stroom in en almal het hul eie opinie en las graag ‘n stertjie aan (soos net ons Suid-Afrikaners kan doen).

“Dra jy heeltyd jou masker?” “Is dit ‘n spookdorp?” “Ek sien hulle los die lyke in die strate.” “Word julle in konsentrasiekampe geplaas?” “Gebruik bakpoeier en was jou hande gereeld, Sussie, sê die buurtwag.” “Dis omdat China alles eet wat beweeg.”

Ek lees al vir drie weke die berigte, kyk al die video’s en hou die stygende syfers stip dop. Tog wil ek graag die volgende sê:

Ja, dit is ernstig. En ja, dit is ongelooflik sleg. Ons grense is gesluit, ons skole is vir die derde week al toe, maar hierdie epidemie raak nié net al die buitelanders in Asië nie, dit beïnvloed álmal. Handeldryf met ander lande, die ekonomie, die kinders in die skole … stel jouself voor jy is in matriek, maar jy kan vir drie weke nie skool toe gaan nie.

Vandag bid ek vir die hele Asië en elke ander land wat beïnvloed word deur die Koronavirus, vir elke pasiënt wat opgeneem is daarmee en vir al die ouers wat bekommerd is oor hul kinders in die buiteland.

Nee, ons is nie in konsentrasiekampe nie. Ons het kos, ons is versigtig, ons tref voorsorg en ons glo en bid en vertrou dat ons binnekort sal kan terugkeer na ons skole.

Wat ons nou die meeste nodig het, is ons mense in ons land se gebede. Ons vertrou volkome dat God se plan groter en beter is as dit wat ons nou sien, en ons gaan getuig van sy goedheid en guns!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan Venter ·

Ek sit hier in Suid-Afrika en volg daagliks die gebeure, genadiglik is ons mense sensitief, baie bekommerd, ons kyk die realiteit in die oë oor berigte betreffende die oorsaak, in die hoop dat die mense die oorsaak en ‘n kuur in belang van die mensdom vind, maar genadiglik “las almal nie graag ‘n stertjie aan (soos net ons Suid-Afrikaners kan doen)”, soos jy dit uitdruk nie.

Ons bid saam met julle.

Johan Venter ·

Ek haal jou graag aan: “Wat ons nou die meeste nodig het, is ons mense in ons land se gebede. Ons vertrou volkome dat God se plan groter en beter is as dit wat ons nou sien, en ons gaan getuig van sy goedheid en guns!”

Dan besef mens die Here praat met ons. My hart gaan uit na julle in gebed.

Johan Venter ·

‘n Mediese dokter het vir my 20 jaar gelede gesê, “die Here praat met jou, jy sal ‘n besluit moet neem… NOU… anders het jy 6 maande om te lewe.”

Hoe nou? ·

Moes al vir 2 knie-operasies gaan van al die bid. Bid dat God sal toetree in die geveg om renosters ea wild te beskerm. Dalk sal meer mense nou ‘n stem voeg by die menigte dierebeskermingsorganisasies wat vir jare al veg teen die onmenslike mishandeling van wildlewe om ‘n onophoudelike vraag daarna te bevredig. Dalk sal hulle nou ‘n stem voeg by permanente verbanning van daardie walglike diere markte waar dié virus ontstaan het. Wanneer sommiges se kultuur en eetgewoontes die wêreld dodelik siek maak is dit tog ooglopend verkeerd en onaanvaarbaar, of hoe? Wanneer renosters lewendig geslag word vir horings om ‘n vals geloof te bevredig, wanneer leeus lewendig vermink word vir hul pote en tande, wanneer pelse van lewendige diere afgeskeur word om die “goeie” kwaliteit te behou: Is. Dit. Tog. Ooglopend. Verkeerd. Man!

Oujongvrou ·

Ja dis verkeerd, erg verkeerd. En een of ander tyd vang al die verkeerd n mens.

Nic ·

Ons bid saam met julle, glo en vertrou soos jy doen, dat die Here se plan altyd beter is as die planne wat ons beraam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.