Lesersbrief: Wiskundiges is hardwerkendes

Charmaine van der Merwe. (Foto: Verskaf.)

Charmaine van der Merwe, wat self haar twee kinders gehelp het met wiskunde en ekstra wiskundeklasse aanbied, skryf:

Daar het onlangs ’n artikel op Maroela Media verskyn waar daar klem geplaas is op hoe goed ons Wiskundeonderwysers is. Die fokus moet eerder skuif na hoe ons die studente gaan kry om te wiskunde met insig te leer.

My dogter wou Veeartsenykunde studeer en die wiskundepunt dra 40% gewig tot toelating in Veeartsenykunde. In haar derde jaar het die patologieprofessor aan die studente gesê dat hulle geen logika het nie. Hoe is dit moontlik? Veeartsenykunde studente behaal gemiddeld 85% plus vir wiskunde in matriek en wiskunde is veronderstel om jou logika te bevorder. Die rede hiervoor is dat studente geleer word om te memoriseer en nie om te dink nie.

Meer onlangs het ’n professor in wiskunde beweer het dat studente wat onderskeidings behaal het in wiskunde net nie slaag in wiskundigerigtings nie. Sy skryf die rede hieraan toe dat hulle vraestelle uitwerk met die oog om patrone te herken en nooit insig ontwikkel het nie.

Wiskundiges is hardwerkende mense wat geleer het om wiskunde te leer, om verby die oppervlakkige formules te kyk en dus om insig te ontwikkel deur eenvoudig te dink! 

’n Leerder kan die beste onderrig ontvang, die beste notas en handboeke hê, selfs in besit wees van ou vraestelle en memos, elke dag gaan vir ekstra klasse, sy ouers kan duisende rande spandeer aan onderrig, maar totdat die student nie self die ure insit en die wiskunde  sy eie maak nie, sal hy nooit werklik groei nie.

Wiskunde benodig werklik meer tyd om vas te lê as ander vakke en die gemiddelde student sit eenvoudig net nie genoeg tyd in vir die leer van Wiskunde nie. Hulle leer wiskunde oppervlakkig.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Onderwysers en ekstra klasse is geen towerstaf wat inligting in die student se brein kan plaas nie. Hulle gee slegs riglyne en leiding – dit is wat die leerder met die inligting maak, wat tel en dit is waarom slegs ’n klein persentasie studente baat vind by ekstra klasse. Dit neem werklik jare om logika en insig te ontwikkel en te leer hoe om wiskundig te dink. Universiteite weet egter dat studente wat goed doen in wiskunde onafhanklik kan werk sonder om met die lepel gevoer te word en oor die vermoë beskik om selfstudie te doen – alles eienskappe vir sukses! Die skole en onderwysstelsel stel net belang om studente deur die stelsel te kry en gee werklikwaar nie ’n duit om oor wat met hul toekoms ná skool gebeur nie.  Dit is ook waarom so baie studente aangemoedig word om oor te skakel na wiskundegeletterdheid.

’n Student moet leer om te lees, te dink en te analiseer. Hy moet leer om op te som en wiskundige terme te gebruik wat simbole en sketse inkorporeer. Dit gaan nie oor ’n vraestel klaarmaak nie, maar eerder dat dit wat jy doen korrek is.

Kennis kan oorgedra word, maar die toepassing van kennis kan niemand jou leer nie – dit moet jyself vaslê.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wondermaarnet ·

Gelukkig is my dogter duidelik wiskundig aangelê en snap onmiddellik. Sy het haar graad in wiskunde cum laude geslaag.

Pieter ·

Baie waar. Ek het sleg gevaar in wiskunde op skool, maar in my tweede jaar op universiteit wiskunde analise met lof geslaag. Dit het begin sin maak en is soos goeie musiek. Vandag vermy mense my omdat ek logies dink en probleme maklik oplos. Die menslike sosiale sisteem is wiskunde avers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.