Waar sagte ideologie en harde werklikheid mekaar gaan tref

Deur Mihan van Zyl

Die hospitaalgange is pikdonker weens ‘n kragonderbreking by die Hillbrow Community Health Centre. (Foto: DA)

Die Nasionale Raad van Provinsies se onlangse aanvaarding van die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) plaas dié beleid in die kollig van die openbare politieke debat.

Suid-Afrikaanse burgers moet egter versigtig wees om nie om die bos gelei te word deur vals beloftes, skynbaar edele bedoelings en mooi woorde nie.

Die wetsontwerp beoog om gesondheidsorg in Suid-Afrika meer toeganklik te maak deur middel van ʼn fonds vir nasionale gesondheidsversekering wat die finansiering van gesondheidsorg sal sentraliseer. Privaat mediese skemas gaan beperk word tot mediese prosedures wat buite die omvang van NGV val.

Dit is duidelik ʼn ingrypende inperking van burgers se reg tot vrye keuse oor hul gesondheidsorg. Terselfdertyd staar ʼn moontlike drastiese verhoging in belasting ons in die gesig om die verhoging in mediese uitgawes te dek wat hierdie beleid vir die regering tot gevolg gaan hê.

Die grootste leemte in hierdie wetsontwerp kom duidelik na vore as ons kyk na die wanfunksionering van ander regeringsinstansies soos Transnet, Eskom en SAL. Hierdie sistemiese probleem is egter gewoonlik die gevolg van wanbestuur eerder as ʼn gebrek aan fondse. Die ANC se spreekwoordelike wortel van toegankliker gesondheidsorg is dus nie juis gerusstellend as ʼn mens na die swak standaard van openbare dienslewering kyk nie.

Ons almal kan saamstem dat ʼn wêreld waarin almal gratis, hoë gehalte gesondheidsorg kan geniet as ʼn edele ideaal beskou kan word. Hierdie is nie net waar vanuit die ANC se ideologiese perspektief nie, maar ook vanuit vele van ons eie perspektiewe. NGV is egter ongelukkig nog ʼn voorbeeld van hoe die pad hel toe dikwels met goeie bedoelings geplavei is.

Die vraag wat ons onsself in die Suid-Afrikaanse konteks moet afvra, is wat die praktiese implikasies van só ʼn beleid gaan wees, eerder as om net op die goedbedoelde ideologiese grondslag te fokus waaruit dit spruit. Só kan ons verhoed dat ons beleide in werking stel wat bloot op onpraktiese ideologiese lojaliteit gegrond is – en terselfdertyd voorkom dat ons werkbare beleide van die hand wys bloot omdat dit dalk met ideologie bots.

Dit verg nie ʼn sekere ideologiese lewensbeskouing om te besef dat die ligte soms vir ses ure per dag afgeskakel is nie; om te weet dat ons spoornetwerke in die grond in bestuur word nie; of om te voel hoe jou kar ruk as dit ʼn slaggat tref nie. Die regering is eenvoudig nie in staat om doeltreffend na burgers se behoeftes om te sien nie. Die kernvraag moet wees: Hoe doeltreffend gaan hierdie regeringsbeheerde gesondheidsorgstelsel loop as die tekkie die teer tref?

Om NGV teen te staan beteken ook nie dat jy aanvoer dat almal skielik privaat gesondheidsversekering moet uitneem nie. Vir donkiejare vóór NGV het Suid-Afrika reeds ʼn gratis openbare gesondheidsorgstelsel gehad. Oor die jare heen het hierdie stelsel, soos ander staatsdepartemente, egter stelselmatig verswak.

As ons die ideologie bril afhaal en dán na NGV kyk, kan ons duidelik sien dat wetlike inperking op privaat gesondheidsversekering en verhoogde belasting nie die gehalte van openbare gesondheidsorg gaan verbeter nie. Ons sal eerder die bestuur van die bestaande openbare stelsel moet regruk voordat ons werklik nader aan gelyke toegang tot mediese dienste gaan kom.

NGV is maar een voorbeeld van ideologiese besetenheid wat ons maklik op ʼn dwaalspoor kan lei. Suid-Afrika verdien om op ʼn praktiese koers gestuur te word, wat tot ʼn beter toekoms vir al ons mense sal lei. ʼn Goeie skeepskaptein oorweeg nie net die kortste-roete op die kaart nie, maar hou ook die weer dop en soek gedurig na vuurtorings wat waarskuwing bied teen die harde rotse van die realiteit.

  • Mihan van Zyl is ʼn finalejaarstudent in ʼn tweejarige nagraadse LLB-program aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het in 2022 ʼn BA (Regte)-graad voltooi.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Mihan jy spreek die wortel van die kwaad aan. Onbevoegdheid, korrupsie en swak dienslewering is endemies aan ons staatsdiensstelsel. Geen plan sal in daardie omgewing van die grond af kom nie. Dit gaan jare neem om SA weer ‘n lopende saak te maak. NGV gaan die wiele vinniger laat afval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.