Wat maak mý plek in Pretoria so spesiaal?

Deur Leandry Smith

Leandry Smith (Foto: Verskaf)

Dit is ʼn vraag wat al deur duisende dromers gevra is. Dit is ʼn vraag wat baie mense vra, maar min werklik met feite kan antwoord.

Ons leef in die 21ste eeu – die eeu waar die advertensieborde en blink praatjies sterker staan as die regte waarde of aksie van ʼn saak. Ons leef in die eeu waar die algemene stadsburger tot meer inligting as ʼn biblioteek vol boeke toegang het. Maar hoe dan nou? Wat maak ʼn mens, of nog tans ʼn jongmens, met al hierdie kennis om aktuele kwessies aan te spreek?

Dit begin ALLES tuis. Nie noodwendig in die binnehoeke van die sitkamer nie, maar eerder in die 4 blokke rondom jóú woning. Wêreldbekende aktivis, Mahatma Ghandi, het eens gesê: “If you want change, be the change”. Hierdie woorde steek vas as ek dink aan gemeenskapsbetrokkenheid.

Leandry Smith op ‘n uitreik (Foto: Verskaf)

Ek glo voordat jy verantwoordelike burgerskap in jou omgewing uitleef, moet jy dit eers vir jouself prakties maak. Kyk ʼn bietjie… Neem kennis van die vaardighede wat jy het wat jy as pitkos vir jou gemeenskap kan gee. As jy geletterd is, leer kinders lees of skryf, as jy ʼn grassnyer het, help die sypaadjie skoon hou, hou Facebook-groepe dop vir uitreik-aksies, maak kontak met mense in jou straat en vra hoe julle mekaar kan ondersteun. As jy dit jou visie maak om ʼn verskil te maak in ander se lewens, sal daar eindelose geleenthede wees waarby jy betrokke kan raak.

Nog ‘n uitreik (Foto: Verskaf)

Jongmense, as ons ʼn samelewing wil skep waar samewerking aan die orde van die dag is, moet ons besef dat óns die fakkel moet voort dra. Ons moet dit beskerm en voort bou vir die toekoms.

Verantwoordelike burgerskap is ʼn ellelange konsep wat ʼn mens af en toe hoor op ʼn radio-onderhoud of in die HAT, maar ek daag jou uit… Maak 2024 die jaar wat jy hierdie woord jou eie maak. Wees ʼn baken vir jou medemens. Jy hoef nie huise te bou of juwele te belowe aan iemand om waarde in hul lewe toe te voeg nie.

Begin klein! Daarmee saam moet ons in ag neem dat 2024 ʼn verkiesingsjaar is. Jongmens, dit beteken dat jý die geleentheid het om inspraak te lewer op wie jy wil hê moet voor loop. Elke stem tel. Elk stem beïnvloed die rigtingwyser vir ons stad se toekoms. Moet dit nie vergeet nie. Staan jou plekkie vol in Pretoria. Jy is gemaak om ʼn lopende getuigskrif te wees van diensbaarheid.

  • Leandry Smith is die junior burgemeester van Tshwane en ʼn leerder aan Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Wat ‘n posetiewe storie, bou voort en mag ander ook waarde hierin sien. Ek hoop julle “steek” ander jongmense aan en wys ons ou “grys koppe” wat julle kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.