2017 is wat óns daarvan maak

Toekomspad

Argieffoto.

Mense vra my gereeld my mening oor die toekoms en veral deesdae, noudat dit die einde van 2016 is, wat in 2017 gaan gebeur. Voorspellings is gevaarlik en ons as navorsers, kenners en ontleders loop onder hewige kritiek deur indien ons verkeerd is. Ons word dikwels oor die kole gehaal omdat ons nie met presiese sekerheid kan sê wat gaan gebeur nie. Maar soos die ontslape Deense fisikus Nils Bohr al melancholies opgemerk het: “Prediction is very difficult, especially if it’s about the future.”

G’n annus horribilis óf annus mirabilis

Die punt is niemand weet enigiets presies nie en dít is wat die lewe so wispelturig en terselfdertyd interessant maak. In 2016 is soveel van die gevestigde sieninge en feitlik onomstootlike voorspellings heeltemal omgekeer. Ander aanwysers en vooruitskattings is weer net effens gewysig en (ongelukkig vir Suid-Afrika) áfwaarts aangepas. Die Internasionale Monetêre Fonds en die Tesourie was nog optimisties met ons ekonomiese groeikoers aan die begin van die jaar en mettertyd het dit van ruweg 1,7% in Maart na ’n skamele 0,2% teen die einde van die jaar gedaal. Brittanje sou nie Brexit nie en die vulgêre Donald Trump het nie ’n roomys se kans in die Desember-son op ’n sege in die Amerikaanse presidentsverkiesing gehad nie. Die ANC het toe heelwat meer steun verloor as wat die peilings en menigte ontleders ons wou wysmaak.

Een ding waaroor gewone en wyse mense saamgestem het (en toevallig ook reg was), was dat 2016 ’n moeilike jaar sou wees. Dit was inderdaad ’n uitdagende jaar, maar niemand kon met vreeslike groot sekerheid sê wat die graad van ons lyding sou wees nie. Met die wysheid van nabetragting (die beste soort!) kan ek wel aanvoer dat 2016 nie ’n katastrofale óf briljante jaar was nie. Die wêreld en die Suid-Afrikaanse ekonomieë is weliswaar traag, maar dit is eintlik al die “nuwe normaal” en gaan nog vir ’n wyle ons realiteit bly. Die beste is om daarby te probeer aanpas. Die meer liberale DA regeer na afloop van die plaaslike verkiesing die meeste van ons grootste metro’s en ’n hele paar nuwe plaaslike munisipaliteite, maar hulle is uitgelewer aan die EFF as hul koalisievennote en die ANC probeer hulle om elke hoek en draai ondergrawe.

Pres. Jacob Zuma doen sy bes om die staatsbeheerde ondernemings verder te kaap, maar hy en sy kornuite loop hulle ook vas teen veerkragtige instellings en indiwidue. Die ANC en EFF het telkens gevalle van rassisme (waarvan daar meer as genoeg in 2016 was) en allerlei ander kwessies en gebeurtenisse, soos die verkiesing, in rassesensusse laat ontaard. Hulle het daarin misluk hoewel rassisme steeds welig tier in Suid-Afrika.

Vir elke sege of terugslag, was daar derhalwe ’n byna gelykmatige teenreaksie of kwalifikasie. Die aarde het nie ophou draai nie.

Gedagtig hieraan kan ek op dieselfde manier met groot sekerheid voorspel dat 2017 waarskynlik nie beter as 2016 gaan wees nie. Polities gaan dit ’n wipwaentjierit van ongekende afmetings wees namate die aanloop tot die ANC se nasionale verkiesing in Desember spoed optel en Zuma se posisie as ANC-leier asook president by die dag meer benard lyk. Sy vyande binne en buite die ANC en regering is besig om soos aasvoëls om hom saam te drom, maar hy en sy patronaatnetwerk blyk steeds te sterk vir ’n afranseling te wees. Trouens, hy kan selfs meer outokraties, magsbehep en sinister word namate sy posisie toenemend prekêr word en die binnekant van ’n tronksel vir hom wink. Die verskil tussen 2017 en 2009, toe hy president geword het, is dat aanmerklike elemente binne die ANC, en meerderhede van veral die SAKP en Cosatu as die ander alliansievennote, geheel en al vertroue in hom verloor het en hom sien as ’n albatros om die alliansie-nek in die aanloop tot 2019 se allerbelangrike nasionale verkiesing. Die faksies gaan mekaar met hernieude felheid takel en die innuendo’s en verdagmakery gaan dik aangesmeer word.

Ekonomies gaan dit weer ’n taamlik droewige jaar wees as daar na die groot prentjie gekyk word, maar daar is wel sekere groen lote en optimisme te bespeur. Deutsche Bank glo die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan weer kop optel soos die vraag na, en natuurlik ook die prys van, kommoditeite stukrag kry. Dit is moeilik om te glo as daar na ons huidige stand van werkloosheid (27%), ons mynbousyfers en ons treurige ekonomiese groeisyfers gekyk word, maar kom ons hoop darem ook ’n slag vir die beste. Toekomshoop kan ’n selfvervullende profesie word.

Afgesien hiervan sal die ekonomie, hier en ook elders, aanhou struktureel verander en voortgaan om die arbeidsmark grondig te hervorm. Tegnologie gaan ’n al groter wordende rol speel. Sekere soorte werk gaan permanent in die slag bly soos hulle uitgedien raak en geen hoeveelheid politieke druk of stakings gaan dit kan verander nie. Deur bowendien aan polities aanloklike aangeleenthede soos die minimum loon te karring, gaan nie hierdie meedoënlose proses stuit of versag nie. Inteendeel, dit gaan mense wat oor die mees kwesbare werksekerheid beskik se werk net verder in die gedrang bring. Laastens kan volgende jaar weer hervat met betogings en kriminele gedrag op kampusse landwyd, hoewel ek glo dat daar ’n soort katarsis in hierdie stryd kan kom.

Bou die toekoms en voorspellings is oorbodig

Die idee wat ek uiteindelik probeer tuisbring, is dat verandering en stormagtigheid deel van elke jaar gaan wees, nes daar ook rede tot optimisme is. Ons kan egter nie ons lot as gemeenskap of indiwidue van eksterne faktore, buiten natuurlik vir God se genade, laat afhang nie.

Die stryd binne die ANC, die EFF se gekke ras-uitlatings, trae ekonomiese groei en die digitale rewolusie gaan nie weggaan nie en stellig net feller raak. Die ANC blameer pal die wêreldekonomie vir die plaaslike ekonomie se treurmare, die EFF blameer wit mense vir swart mense se probleme en Cosatu blameer wit monopolie-kapitaal vir (veral swart) werkers se ellendes. Dis uiteraard als eksterne hersenskimme en strooipoppe, of selfs opreg verkeerde diagnoses, wat in polities aantreklike retoriek geklee is. Maar dit gaan nie ’n duit verskil aan hul kiesers, ondersteuners en lede se lot maak nie en geen aantal stakings, nuwe regulasies of rastirades gaan dit verander nie.

Selfs Donald Trump kan nie al sy kiesers en Amerika se probleme oplos nie, want dit hang nie slegs van hom af nie. Hy kan hoogstens ’n beter omgewing vir besigheid skep, maar die werklike potensiaal vir verandering lê by die mense self.

Ons as Afrikaners het lankal opgehou om ons geloof in prinse te stel, en dis een van die beste goed wat ooit kon gebeur. Ons is reeds ontnugter en ons het tot groot mate ons onskuld prysgegee. Ons het besef dat aanpasbaarheid, selfwerksaamheid en ’n sin vir gemeenskap die enigste manier is om in hierdie tye, en hierdie land, te oorleef. Die staat gaan jou nie in 2017 van goeie werk verseker of vir ons kinders ’n toekoms bou nie – nes dit nie die antwoord op hierdie vraagstukke in 2040 of die 22ste eeu sal wees nie. Nie net het dit nie die vermoë om dit te doen nie, maar die wil ontbreek ook heeltemal. 2017, met al sy berge en dale, se sukses sal daarom van onsself afhang.

Daar is geleenthede en terugslae in elke jaar en die kuns is om die beste van jou geleenthede te maak terwyl jy gou van jou terugslae herstel. Veelal kom geleenthede boonop verskuil in die vorm van terugslae en mislukkings. Hierdie toedrag van sake sal nie verander nie. Met die regte waardes en ingesteldheid hoef jy geen jaar se gebeure te vrees nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Jan ·

Wat my nou weer vandag droewig gestem het is, ons gaan koop vanoggend ‘n paar goedjies, ook sommer ‘n sak 500 gram grondbone in doppe, om, so nou en dan, in hierdie dae af te dop en aan te peusel. Dit het ons ook na kleintyd se rugby laat verlang, die pakkies wat by die stadions verkoop is.

By die huis beloer ons die verpakking, toe sien ons dit is in Boksburg verpak, maar die grondbone kom van China af.

John ·

2017 hang alles af van in Wie ons glo. Self gaan ons dit nie maak nie.

AL ·

Eerstens moet ons ons saak met God regmaak en Hom opreg dien, dan sal Sy genade vir ons deurkom. Tweedens kon die Afrikaner homself nog altyd hervorm en aanpas. Daar is werk wat ons vir onsself kan skep soos daar behoeftes ontstaan in mark.

Henry ·

Die opskrif en inhoud van hierdie artikel bevestig dat 2017, soos 2016, grootliks bepaal sal word deur ons vermoë om die daaglikse werklikhede te hanteer. Dit sal waarskynlik ook die voorvereiste wees vir die dekades en eeue wat oor die horison lê en wag.

Met ‘n korrupte regime aan bewind wat hierdie droewe land reeds stewig op die weg na ‘n volwaardige Afrikastaat ge-transformeer het, is daar geen ruimte vir alternatiewe uitkomste nie.

Alvorens mens allerlei alternatiewe, ‘oulike’ oplossings en vergesigte wil vertroetel, hou in gedagte dat 50 miljoen siele se wense altyd voorrang sal geniet bo die van ‘n skrale 5 miljoen.

Anders as die skrywer, vermoed ek dat daar talle Afrikaners is wat steeds nie die stap geneem het om NIE hul geloof op prinse te stel nie.

Arie ·

Wat ek graag sou wou sien is dat mense begin besef dat onse God hom nie direk besig hou met die polities en ekonomiese wel art in RSA nie.
Veeleer is die geestelik welvaart van die mense belangrik en so gee Hy die mense die geestelik vermoee en insig om die probleme wat voor hulle is op te los. Weliswaar rig Hy die dense in rigting wat hy vooraf bepaal het, maar hy laat dit aan die mense oor om uitvoering aan sy planned te gee.

Loslip ·

Jis Arie!
Jy beskik klaarblyklik oor uitsonderlike toegang en insigte.

william ·

Eenvoudig -weerhou belasting!..
Hoekom moet jy eimand betaal om als van jou te ontneem en jou nog boonop te onderdruk?.
As elke wit persoon ophou betaal-dan sal hulle begin kriewel.
Jou belasting geld word GLAD nie vir JOU aangewend nie-inteendeels word TEEN jou gebruik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.