2018 se belangrikste nuus  

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Daar was talle internasionale nuusgebeure wat in 2018 die wêreld laat regop sit het. Hier word enkele groot gebeure per maand uitgelig:

Februarie

Suid-Afrika kry ʼn nuwe president

Ná nege jaar wat veral gekenmerk is deur erge korrupsie, ekonomiese insinking, groeiende misdaad en ʼn verdere verslegting in rasseverhoudinge in Suid-Afrika bedank pres. Jacob Zuma voor die einde van sy termyn weens druk uit sy eie party. Cyril Ramaphosa, wat reeds einde 2017 tot president van die ANC verkies is, word as nuwe president van die land ingehuldig. Ná aanvanklike euforie oor die nuwe president volg die ontnugtering baie gou toe ʼn mosie van die EFF in die parlement om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak deur die ANC en ander partye gesteun word. Die proses word aan die gang gesit met ʼn parlementêre komitee wat openbare getuienis aanhoor. Teenstaanders van die grondwetlike verandering raak ook aktief en selfs die buiteland word betrek, maar die proses word teen die einde van 2018 verder gevoer met die komitee en die parlement wat ten gunste van die beginsel van grondonteiening stem.

Rusland se president Wladimir Poetin (18 Maart 2018) Foto: AP Photo/Alexander Zemlianichenko

Maart

Poetin as Russiese leier herkies

Pres. Wladimir Poetin wen die presidentsverkiesing met 76% van die stemme, wat sy vierde termyn moontlik maak. Saam met die posisie van eerste minister, wat hy weens termynbeperkings met sy getroue volgeling Vladimir Medwedew ruil, is hy sedert 2000 die sterk man van Rusland. Internasionaal omstrede, met outokratiese neigings en ʼn aggressiewe buitelandse beleid, bly hy in sy eie land baie gewild en sorg hy dat Rusland ʼn rolspeler op die internasionale toneel bly en dat die land se politieke eenheid behoue bly.

Verkiesing in Italië en die vorming van ʼn populistiese regering

In die Italiaanse parlementsverkiesing vind ʼn duidelike swaai na regs plaas. Die regerende linkse Demokratiese Party van Matteo Renzi verloor skerp en die populistiese Vyf Sterre-beweging word die grootste party en die regse blok, met die Lega as grootste party, wen duidelik. Twee maande van uitgerekte koalisieonderhandelinge volg en uiteindelik beklink die Vyf Sterre-beweging en Lega ʼn koalisieregering met die regsgeleerde Giovanni Conte as kompromiskandidaat vir eerste minister. Die sterk figuur in die regering is egter vise-eerste minister en minister van binnelandse sake, Matteo Salvini, leier van Lega, wat onmiddellik wegspring en die vlugtelingstrome na Italië deur sluiting van hawens en ander maatreëls stuit en binne maande met 80% verminder, wat sy gewildheid in sy land aanhelp, maar wat hom egter in konflik met die EU-kommissie en hulle pro-immigrasiebeleid bring.

Abdel-Malek al-Mekhlafi, minister van buitelandse sake van Jemen, in gesprek met ʼn afgevaardigde voor die hoëvlakbelofte-gebeurtenis vir die humanitêre krisis in Jemen by die Verenigde Nasies se Europese hoofkantoor in Genève, Switserland. (Foto: Salvatore Di Nolfi, AP)

April

Burgeroorlog duur voort in Sirië en Jemen

In Sirië duur die burgeroorlog voort, maar die regeringsmagte van pres. Basjar al-Assad, gesteun deur Rusland en Iran, wen voortdurend veld. ʼn Chemiese aanval op ʼn rebellevesting noop die VSA om militêre teikens in Sirië te bombardeer, maar andersins is die Weste huiwerig om op dieselfde skaal as Rusland, Iran en Turkye in die konflik betrokke te raak. Die Islamitiese Staat (IS) word ook in Sirië op groot skaal teruggedwing en van sy operasionele vermoë gestroop. 2018 sien ten minste in die Weste minder opspraakwekkende Islamitiese terreur as gevolg van die verswakking van IS. Teen die einde van die jaar is Assad se mag oor Sirië grootliks herstel en begin die moeilike taak van heropbou van die vernietigde stede en dorpe, en van ʼn versoening tussen die verskillende faksies, etniese groepe en denominasies. Ook in Jemen duur die burgeroorlog tussen Houthi-rebelle, gesteun deur Iran, en die regering, wat grootliks beheer oor die land verloor het en deur Saoedi-Arabië en ander gesteun word, voort, met ontsettende lyding van die bevolking.

Mei

VSA onttrek hom aan kernwapenooreenkoms met Iran

Weens ernstige gebreke aan die kernwapenooreenkoms tussen Iran en ander moondhede besluit die VSA onder pres. Trump om hom daaraan te onttrek. Die kernwapenooreenkoms is nog deur Trump se voorganger, pres. Barack Obama, beding. Die VSA stel weer streng sanksies teen Iran in. Die ander ondertekenaars van die ooreenkoms, Iran, Rusland, China, Groot-Brittanje, Frankryk en Duitsland, staan egter by die ooreenkoms. Ook op ander internasionale terreine is daar ʼn duidelike verandering van die VSA se beleid weg van die multi-lateralisme en vertroue in wêreldorganisasies onder Obama na ʼn beleid van “Amerika eerste” onder Trump. Die VSA onttrek hom ook aan die Wêreldklimaatverdrag en die internasionale migrasiepakt.

Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, tydens die geskiedkundige beraad tussen dié twee leiers op die Sentosa-eiland in Singapoer (11 Junie 2018). Foto: AP Photo/Evan Vucci

Junie

Minder gespanne verhouding met Noord-Korea

Die gespanne verhouding tussen die aartsvyande Noord- en Suid-Korea, wat saamloop met betrokkenheid van China en die VSA as onderskeie bondgenote in die proses, het in 2018 gedeeltelik afgeneem. Nadat die Noord- en Suid-Korea reeds in Februarie gesamentlik aan die Winter Olimpiese Spele deelgeneem het, het ʼn ontmoeting tussen die leiers van Noord- en Suid-Korea in Mei plaasgevind op die grens tussen die twee lande. Die ontmoeting het goed afgeloop. Die hoogtepunt was egter die ontmoeting tussen Trump van die VSA en Kim Jong-oen van Noord-Korea in Singapoer. Die hoofonderwerp was die opgee van Noord-Korea se kernwapenprogram en beter verhoudinge tussen Noord-Korea en die lande van die streek asook met die VSA. Nadat Trump en Kim mekaar nog vroeër die jaar die stryd aangesê het oor Noord-Korea se kernwapenprogram, kom hulle tydens hulle ontmoeting persoonlik nader aan mekaar. Daar lê egter nog ʼn lang pad voor om van die geïsoleerde kommunistiese diktatorskap in Noord-Korea ʼn vreedsame staat te maak.

Julie

Frankryk wen die Wêreldbeker-sokkertoernooi

Die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat vanjaar in Junie in Rusland begin het, was vol verrassings. Die meeste klassieke sokkerlande en voormalige kampioene soos Duitsland en Argentinië het in die eerste ronde uitgeval, of nie eens gekwalifiseer nie, soos Italië en Nederland; terwyl buiteperde verbasend goed gevaar het. Veral Kroasië het almal verras en deurgedring tot die eindstryd. Hoewel Frankryk na ʼn omstrede spel gewen het, was Kroasië die kampioen van die harte.

Ethiopië en Eritrea beëindig konflik

Die twee lande, wat sedert Eritrea se afskeiding in 1993 in konflik met mekaar is oor die posisie van die grens, het kort na die benoeming van ʼn nuwe Ethiopiese eerste minister, Abiy Ahmed, vrede gesluit. Ook met ander buurlande is vrede gesluit of die verhoudinge genormaliseer. Abiy is deel van die heersende party, maar ʼn hervormer wat ook op ander terreine die jarelange kwasi-diktatorskap probeer beëindig. Politieke gevangenes is vrygelaat, die noodtoestand opgehef en vrye verkiesings vir 2020 aangekondig. Veral die grootste etniese groep, die Omoros, wat van die mag uitgesluit was, het deur betogings en verset wat hardhandig onderdruk is, uiteindelik ʼn koersverandering teweeg gebring.

Jamal Khashoggi (Foto: Time)

Oktober

Khashoggi-moord

Die Saoedi-Arabiese joernalis Jamal Khashoggi wat vir die Washington Post geskryf het en teen die bewind in sy land gekant was, is in die Saoediese konsulaat in Istanbul in Turkye onder weersinswekkende omstandighede vermoor. Daar is van sy lyk ontslae geraak. Die misdaad en die betrokkenheid van kroonprins Mohammed bin Salman asook sy pogings om dit toe te smeer het geleidelik aan die lig gekom en is nog nie ten volle opgeklaar nie, veral die vraag van aanspreeklikheid. Dis ʼn groot verleentheid vir Saoedi-Arabië en sy bondgenote.

Brasilië

Die kandidaat van die regsgesinde Liberaal-Demokratiese Party, Jair Bolsonaro, wen die presidentsverkiesing in die tweede ronde met 55% teenoor die kandidaat van die linkse Arbeidersparty, Fernando Haddad, met 45%. Bolsonaro, aanvanklik ʼn buiteperd, het reeds in die eerste ronde voorgeloop, waar sy party ook besonder goed gevaar het in die parlements-, goewerneurs- en streeksverkiesings. Die verkiesing van Bolsonaro bevestig ʼn wêreldwye golf weg van partye wat gevestigde belange voorstaan na sogenaamde populistiese partye. Bolsonaro se oorwinning is moontlik gemaak deur ʼn dekadelange Arbeiderspartybewind waar korrupsie, misdaad en morele verval gedy het.

November

Middeltermyn verkiesing in die VSA

In die eerste toets vir Trump se stormagtige twee jaar as president herower die Demokrate die huis van verteenwoordigers, maar vergroot die Republikeine hul meerderheid in die senaat. Albei kante verklaar hulleself die oorwinnaar. Trump en die Republikeine het nou ʼn deel van hulle mag verloor, maar hulle het met ʼn blou oog weggekom in die aangesig van ʼn onverpoosde media-veldtog teen Trump (en talle flaters aan sy kant).

poppy-day

Foto: Jelleke Vanooteghem/Unsplash.com

Einde van Eerste Wêreldoorlog gedenk

Op 11 November 1918, honderd jaar gelede, het die Eerste Wêreldoorlog geëindig, ʼn waterskeiding in die geskiedenis en wat gepaard gegaan het met lewensverlies van miljoene en verspreide vernietiging. Die gebeurtenis word wêreldwyd gedenk en sluit vier jaar van ʼn verhoogte bewusmaking van die gebeure van die Eerste Wêreldoorlog af.

Desember

Brexit-onderhandelinge bereik dooie punt

Volgende jaar in Maart sal Groot-Brittanje die Europese Unie verlaat en reg deur die jaar is 2018 deur onderhandelinge oor ʼn ooreenkoms gekenmerk. Theresa May, die Britse premier, moet druk en kritiek vanuit die EU-kommissie, vanuit die parlementêre opposisie en uit dele van haar eie party te bowe kom en ʼn kompromis vind. Dit blyk ʼn onbegonne taak te wees om almal tevrede te stel. Die stemming in die Britse parlement oor die goedkeuring van die ooreenkoms met die EU wat bereik is, wat vir 11 Desember geskeduleer is, is eers uitgestel omdat May na alle aanduidings geen meerderheid agter haar het nie.

Geelbaadjie-betogers in Marseille, in die suide van Frankryk (8 Desember 2018) (Foto: AP Photo/Claude Paris)

Geel baadjie proteste ruk Frankryk

Grootskaalse betogings teen veral die beperkings op dieselvoertuie en nuwe omgewingsbelastings en hoë lewenskoste, maar oor die algemeen teen die elite en pres. Emanuel Macron met honderde duisende deelnemers oor die hele Frankryk vind plaas. Die kenteken is ʼn geel glimbaadjie en die boodskap van die betogings, wat deels gewelddadig raak, is: “Ons sukkel om ons begroting te balanseer terwyl die elite die hele tyd nuwe belastings en wette instel.” Na protes wat weke lank duur gee Macron toe en kondig aan dat die minimumloon verhoog word en sekere belastings afgeskaf word.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae