2020 die jaar van sonsvernuwing

Deur prof. Hannes Rautenbach

Foto: NASA/SDO

Die jaar 2020 word nie net gekenmerk deur die aanbreek van ʼn nuwe jaar of selfs die aanbreek van ʼn nuwe dekade nie, maar ook deur die aanbreek van ʼn nuwe periode in sonaktiwiteite.

Die twee nuwe sonvlekke wat op 24 Desember 2019 deur ʼn NASA-satelliet – wat sonaktiwiteite op ʼn hoogte van 35 000 kilometer bo die aarde se oppervlakte monitor – opgespoor het, is aanduidend tot die aanvang van ʼn nuwe elfjaarsiklus van sonvlekaktiwiteite.

Dit verbreek dan ook ʼn lang stilperiode van uitsonderlik min sonaktiwiteite wat oor die afgelope tyd voorgekom het. Daar word verwag dat sonaktiwiteite, wat gepaard gaan met ʼn toename in die aantal sonvlekke en sonfakkels, oor die volgende vyf jaar gaan toeneem om ʼn maksimum in 2024 te bereik, waarna dit weer sal afneem tot ʼn minimum in 2031.

Die son word nie net gesien as die bron van lig wat ons slaappatrone bepaal nie, maar ook as die bron van energie wat feitlik alle vorme van beweging en lewe op die aarde moontlik maak. Energie van die son beïnvloed dus ook ons weerstelsels, en met die uitmergelende droogte wat tans oor Suid-Afrika voorkom, word die vraag dikwels gevra of sonaktiwiteite aan reënvalpatrone gekoppel kan word.

Die son se oppervlak bestaan uit vloeiende elektries-gelaaide gasse met magnetiese velde, wat die frekwensie van sonaktiwiteite bepaal. Dit beteken dat die oppervlak van die son somtyds meer aktief is. Die wisseling van ʼn meer aktiewe sonoppervlak tot ʼn minder aktiewe een kom in ʼn siklus van ongeveer elf jaar voor. Dit het ook tot gevolg dat die son se magnetiese veld elke elf jaar omkeer, wat beteken dat die son se noord- en suidpool oor ʼn periode van elf jaar plekke wissel.

Die elfjaarsiklus van sonaktiwiteite beïnvloed natuurlik ook die voorkoms van sonvlekke wat gevorm word deur die son se magnetiese velde. Sonvlekke is gebiede wat donker vertoon op die sonoppervlak omdat die vlekke kouer is as die omringende gebiede. Hierdie kouer vlekke word gekenmerk deur sterk magnetiese velde wat verhoed dat hitte-energie deurdring na die son se oppervlak. Daar word algemeen aanvaar dat meer sonvlekke voorkom namate sonaktiwiteite toeneem, terwyl die aantal sonvlekke afneem met ʼn afname in sonaktiwiteite.

Die sterk magnetiese velde wat voorkom in sonvlekke gee dikwels aanleiding tot energieuitbarstings in die vorm van sonfakkels. Sonfakkels kan groot hoeveelhede stralingsenergie in die ruimte instuur. Noemenswaardig is dat sonfakkels gevorm word deur die grootste vorm van ontploffings wat in ons sonnestelsel voorkom.

Wanneer die stralingsenergie vanaf sonfakkels die aarde bereik, kan dit aanleiding gee tot die vorming van auroras wat oor beide die Noord- en Suidpoolgebiede voorkom, maar wat in die noordelike halfrond aanskou kan word as die noorderlig of aurora borealis – ʼn asemrowende kleurespel van wisselende ligpatrone wat in die hoër atmosfeer voorkom. Laasgenoemde word veral goed verbeeld in C. Louis Leipoldt se “Kersnaglegende”.

Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia. Foto: Verskaf.

Die stralingsenergie vanaf sonfakkels kan egter ook die aarde se kommunikasiestelsels versteur, en kan in uiterste gevalle selfs kragonderbrekings veroorsaak. Daarbenewens is satelliettegnologie ook kwesbaar vir uitsonderlike hoë vorme van straling.

Etlike studies is al gedoen in ʼn poging om verbande te vind tussen sonaktiwiteite en reënvalpatrone. So is daar byvoorbeeld onlangs bevind dat ʼn toename in sonvlekke wel kan bydra tot ʼn hoër intensiteit van reënval in Oos-Afrika. Reënvalpatrone word egter ook beïnvloed deur ʼn magdom van ander faktore, wat dit meestal moeilik maak om die gedeeltelike invloed van sonaktiwiteite op reënval te isoleer. In Suid-Afrika is daar egter wel in die verlede voorlopige verbande opgespoor tussen riviervloei en sonaktiwiteite, alhoewel baie meer navorsing steeds nodig is voordat sonaktiwiteite as ʼn bykomende faktor in langtermynvoorspellings bygevoeg kan word.

Dit is uniek en verblydend dat die aanbreek van 2020 ook gepaard gegaan het met verskeie vorme van vernuwing, wat aan ons die geleentheid bied om die verlede agter te laat en met nuwe oë na ʼn uiteenlopende nuwe toekoms te kyk. Daarmee saam moet ons ook hoopvol wees dat dit die jaar gaan wees waar die uitmergelende droogte wat die afgelope paar jaar in Suid-Afrika voorgekom het, verbreek gaan word. Die goeie en wydverspreide reënval sedert die begin van 2020 gee ons nuwe hoop. Maar net die tyd sal leer.

  • Prof. Rautenbach is die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KarinB ·

Baie dankie aan prof Rautenbach vir dié interessante artikel oor die son se aktiwiteite. Ek sien uit na meer.

Ellen ·

Dankie Prof.
Dit was nou baie leersaam.
Mag ons aarde son nooit uitbrand nie.

Lou ·

Dankie Prof. Regtig insiggewend.
Ek het altyd gedink sonvlekke is warmer areas op die son se oppervlakte.
Mag die nuwe periode vir ons goeie reen bring.

John ·

Die prof raak-raak aan die son vir sy rol tov van ons klimaat. Dit is natuurlik onder die huidige paradigma van klimaatsverandering taboe om die son enigsins in aanmerking te neem wanneer ys smelt of mense krepeer van die hitte. Die Aarde se noordpool skuif oos en die son se pole ruil om, maar ons kerm reeds weer by Davos vir meer geld vir Afrikalande wat bome afkap en die aarde verwoes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.