25 jaar later: Wat sou Mandela sê?

Die Suid-Afrikaanse vlag wapper tydens voorbereidings vir vanjaar se staatsrede in Kaapstad. Foto: Siyasanga Mbambani/DoC.

Die Suid-Afrikaanse vlag wapper tydens voorbereidings vir vanjaar se staatsrede in Kaapstad. Foto: Siyasanga Mbambani/DoC.

Op 11 Februarie 1990, 25 jaar gelede, het Nelson Mandela as ’n vry man uit die tronk gestap. Die land, nee die wêreld, het gegons.

By sy eerste openbare verskyning, enkele ure na sy vrylating, het Mandela daarop aangedring dat die gewapende stryd opgeskerp moet word. Die volgende dag het hy egter verklaar dat hy hom vir vrede en versoening wil beywer. Mandela se twee uiteenlopende standpunte was eintlik maar ’n weerspieëling van die interne konflik wat op daardie stadium binne die ANC geheers het.

In ANC-geledere was daar nog ’n hewige debat oor die sogenaamde “path to power”. Die Thabo Mbeki-kamp wou ’n onderhandelde skikking bewerkstellig, terwyl die Chris Hani-kamp ’n gewapende rewolusie wou voer. Die ANC se gevolglike strategie was een van dubbelsinnigheid – dat daar oorlog gevoer moet word in die townships, maar dat daar terselfdertyd vir vrede onderhandel moet word. Dr. Anthea Jeffery van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge noem dit die “talking peace while waging war”-strategie.

En oorlog was daar. In die vier jaar sedert Mandela se vrylating is bykans 15 000 mense as gevolg van politieke geweld dood, en nee, net ’n klein getal van hulle is deur die polisie doodgeskiet. Dit, in teenstelling met die ongeveer 5 000 lyke wat as gevolg van politieke geweld in die 1980’s getel is. Die ironie is dat hierdie verskerpte gewapende stryd ’n deurslaggewende rol gespeel het om die onderhandelings met die Nasionale Party-regering in die ANC se guns te druk. Elke keer wanneer die onderhandelings ’n dooie punt bereik het, het geweld in die townships weer opgevlam. En elke keer wanneer die geweld opgevlam het, is oudpresident FW de Klerk persoonlik vir die geweld geblameer, wat groter druk op hom geplaas het om toegewings in die ANC se guns te maak.

Op ekonomiese beleid het Mandela later vertel dat sy gesprekke met besigheidsleiers tydens die onderhandelings hom ernstige stof tot nadenke gegee het. Die ANC se standpunt was een van growwe staatsregulering, nasionalisering, uitbundige welsyn vir armes en hoë belasting vir die “rykes” – en dit is ook so deur Mandela aangevoer. Beleggers het egter gewaarsku dat so ’n beleid katastrofies vir die ekonomie kan wees, veral in die troebele waters waarin Suid-Afrika hom op daardie stadium bevind het. Die wêreld het Suid-Afrika onder die vergrootglas gehou en beleggers was gretig om by die sukkelende ekonomie in te spring as hulle daarvan verseker kan word dat die vryemark in stand gehou sal word.

Harry Oppenheimer het later opgemerk dat Mandela oop was vir oortuiging as dit by ekonomiese beleid gekom het.

“When you talked about the future of the country, particularly on the economic side, (Mandela) said a great many things that seemed to me very silly, but he says many less of them now, and even when he said (them)… you never got a feeling of ill-will from the man. Even if he felt that capitalism should be destroyed, it wasn’t out of hatred for capitalists. He was just doing his best as he saw for the country.”

Ook oor nasionalisering het Mandela se standpunt met verloop van tyd verander, soos hy dit self in 1992 verwoord het:

“Nationalization is our policy, but there is a shift in our thinking… We have observed the hostility and concern of businessmen toward nationalization, and we can’t ignore their perceptions… we are well aware that if you cannot cooperate with business, you cannot succeed in generating growth.”

Twee en ’n half dekades later lyk dit egter of die ANC se bereidwilligheid om verskillende rolspelers se opinies in ag te neem ernstig aan die kwyn is. Inteendeel, tydens president Jacob Zuma se sogenaamde 8 Januarie verklaring vroeër vanjaar het hy hom sterk teen die beginsel van “vrywillige koper, vrywillige verkoper” (met ander woorde die vryemark) uitgespreek en belowe dat die ANC vanjaar sal werk om radikale verandering in die ekonomie te bewerkstellig.

Wat hierdie radikale verandering sal behels is nog vaag, maar ons kan verseker weet dat dit nie radikale verandering om die land meer besigheidsvriendelik te maak behels nie. As dit die geval was, sou daar nie so iets soos e-tol gewees het nie, besigheidseienaars sou nie as die vyand van armoede uitgekryt geword het nie en die ANC sou verseker nie op reklameborde gespog het oor die feit dat 16 miljoen Suid-Afrikaners op welsynstoelae is nie.

Terselfdertyd was die ANC nie in staat om die nodige leiding te gee om Suid-Afrika se geweldskultuur af te skud nie – en die ANC het ’n toonaangewende rol in die skepping van hierdie kultuur gespeel. Ten spyte van die vier jaar wat Mandela as president gewy het aan die bevordering van versoening en nasiebou is rasseverhoudinge nou op ’n laagtepunt.

Die toekoms is nog onseker. Wat wel seker is, is dat gemeenskappe nie kan aanvaar dat hulle toekoms in goeie hande is as hulle nie self betrokke raak by die oplossing nie. Daarvoor sal ons almal moet inspring.

Intussen kan ’n mens op ’n dag soos vandag maar net spekuleer of Mandela nog tevrede sou wees dat die ANC op die koers is wat hy kort na sy vrylating voorgestaan het, en of hy teleurgesteld sou wees dat sy party nie meer bereid is om die nodige aanpassings te maak om die land se beste belange te bevorder nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

chris ·

Wat se vraag is dit .Hy sal natuurlik baie trots gewees het.Wat van die toestande(beleidsrigtings) vandag is nie deel van sy geliefde ANC nie,wat hy so terloops gehoop het daar ‘n tak van in die hiernamaals sou wees ?So trots was hy.
Dink jy regtig hy sou dit anders wou he,werklik?Hoeveel keer het hy hom uitgespreek teen die plaasmoorde wat reeds fel was gedurende sy lewe.Nee wat noem net een keer asb.
Ons ou Buurman Robbie was maar net so gedienstig die eerste klompie jare.Mandela sou presies sy pad geloop het as hy nie daar was vir ‘n spesifieke taak nie.Sy eerste toespraak was sy enigste eerlike een waaraan ek nou kan dink.

“Die ANC se standpunt was een van growwe staatsregulering, nasionalisering, uitbundige welsyn vir armes en hoë belasting vir die “rykes” – en dit is ook so deur Mandela aangevoer.”
Ek dink nie dit was nie maar is nogsteets.

So van aanpassings gepraat watter deel van die ANC beleid het hy aangepas?

Cathy Kotze ·

Baie van pres. Mandela se latere uitsprake wat so ‘n positiewe weerklank het, is geskryf deur sy bekwame toespraak skrywers. Sy aanvanklike woorde (dikwels in sy eie handskrif) spreek egter boekdele: Een van daardie werklik persoonlike uitsprake lui: “Communists have always played an active role in the fight by colonised countries for their freedom, because the short-term goals of Communism always corresponded with the longterm objects of freedom movements.”

Beeldpoetsers speel ‘n groot rol in die lewens van die meeste politici en pres. Mandela s’n was meesterlik. Lees mens egter sy skrywes en uitlatings van vroeër, kom ‘n ander persona na vore. Die ANC van vandag volvoer net die redes waarvoor pres Mandela bereid was om al daardie jare in die gevangenis te wees. Daar moet onthou word dat sy vrylating baie gouer sou geskied indien hy bereid was om geweld af te sweer en die diplomatiese roete te volg.

Willem ·

1. Lees Leopold Scholtz, die ANC was nog altyd korrup, so wat sê dit van hul toekoms en terwyl hulle in beheer is?
2. Die ANC het in die aanloop tot Mandela se vrylating die swart leierskap in SA gekaap en met vrees die mense gedwing om of te verdwyn, of om die ANC te ondersteun.
3. Erfgeld is swerfgeld. (Kyk punt 1.)

Henry ·

Meeste mense wat regop loop en tot by tien kan tel, het nie Scholtz se skrywes nodig om hulle oor die stand van sake in hierdie droewe land in te lig nie.

Gwen ·

Ek kon nie minder omgee wat die veroordeelde terroris Mandela sou sê nie. Vra eerder wat sou ons volksvaders wat die land opgebou het sou sê van hoe ons land daar uitsien vandag. ’n Hool van korrupsie en misdaad en die miskenning van die Afrikaner se regte.

Henry ·

Innie kol Gwen en Cathy Kotze!

Stel ook nie belang in wat oorle’ Mandela nou te sê het nie. Ge-oordeel aan sy baie bekende standpunte voor 1994, wat deesdae so deeglik verswyg word, behoort hy heel tevrede te wees met die verloop van sake.

O ja. Het dit nie laaaankal tyd geword dat die piete, na 25 jaar, ons veel eerder moet vertel wat van al die “wigte en teenwigte” geword het? Hulle het hoeka ons vroeg en laat vertel van al die “wonderlike ingeboude” maatreëls wat ‘n spiksplinternuwe wonderlike Weenboognasie (skies Reënboognasie) sou verseker.
En toe…???

James Moulder ·

Hy lag hom seker simpel soos die res van ons. “n President wat vir hom ‘n paleis bou met ons geld in die middel van seer sekerlik die armste dele van ons land. “n Parlement wat soos ‘n sirkus lyk. Ons is nie net ‘n piesang republiek in die oe van die wereld nie, ons is nou DIE piesang republiek. Ek begin deesdae luidkeels lag as ek op die nuus sien hoe swaar mense kry in die “townships” of dit en dat oor korrupsie ens, want al wat by my opkom as ek dit sien is die volgende gedagte: Suffer jou B*^#sem, jy stem dan elke keer vir hulle.

Johan Wiggill ·

Wie gee om wat ‘n terroris nou sou sê of nie sê nie. Die vraag is eerder wat is Afriforum/Solidariteit se beheptheid met Mandela?? Die Afrikaner volk verdien baie meer respek van ‘n organisasie wat voorhou dat hulle Afrikaner belange bevorder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.