30 jaar later: vryheid vir wie presies?

President Nelson Mandela op 27 April 1994 in Oshlange, naby Durban, terwyl hy sy geskiedkundige stem uitbring tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Suid-Afrika werk nie meer nie. Op soveel verskillende manier en vir soveel verskillende mense.

30 jaar gelede het die idee van ʼn nuwe Suid-Afrika die verbeelding van mense hier en in die res van die wêreld aangegryp. Dit was ʼn gegewe dat apartheid tot ʼn einde moes kom. Die vraag was net – waarmee moet dit vervang word?

Vandag staan die meeste mense baie wreed ontnugter deur ʼn mislukkende land – een waarin dít doodeenvoudig nie meer werk nie. Ja die klein goed werk nie meer nie, soos paaie, water, elektrisiteit, openbare hospitale, die brandweer, die polisie en die vervolgingsgesag. Maar daar is ook ʼn groter “dit” wat nie meer werk nie – iets wat maak dat al die kleiner dinge ook nie werk nie.

Wat presies hierdie groter “dit” is wat nie meer werk nie, is die groot vraag. In verskillende vorme, met klem op verskillende goed, probeer amper almal in Suid-Afrika dié vraag tans beantwoord.

Kollig op Vryheidsdag

Vandeesmaand gaan groot dele van die nuus ook nog oorheers word deur die “viering van 30 jaar van demokrasie” – met die hoogtepunt daarvan op Vryheidsdag. Die huidige regering, gelei deur die ANC, gaan aanvoer dat ons bloot die pad byster geraak het (want selfs hulle weet dinge gaan nie meer goed nie). Ons het absoluut die regte idee met hierdie nuwe Suid-Afrika gehad, maar het net iewers onder swak leierskap die plot verloor.

Vir die meeste mense was dit die Zuma-plundertog van ʼn presidentskap. Was dit dan regtig net Zuma?

As ons net terug kan gaan na die pre-Zuma-Suid-Afrika, sal alles weer beter wees? Dit is natuurlik ook waarom sommige kommentators regtig voorstel dat oudpres. Mbeki weer na vore moet tree as president van die land – hy is die beste kans wat Suid-Afrika het om te herleef en weer te wérk.

Slegte regering

Ons moet met ander woorde net die “slegte regering”, sommiges sê die “slegte ANC” uitkry en weer óf die “goeie ANC” óf iemand anders in beheer van sake kry.

As ons net rég kan stem in die komende verkiesing, kan ons ʼn beter regering kry, gevul met beter mense wat Suid-Afrika weer reg gaan ruk.

Hierdie idee van Suid-Afrika wat reggeruk of gered moet word – wat in verskeie politieke partye se manifeste weerklink – impliseer wel ons was vroeër (dalk voor Zuma) 100% op die regte pad. Ons moet net weer terugkeer na daai pad, dalk soos tydens die Mbeki-era.

Onder Mbeki het alles nog gewerk, die rand was sterk, mense was ryker en die ligte was nog aan.

Die “dit” wat fout was, was met ander woorde net ʼn slegte regering. As ons die slegte regering met ʼn beter een vervang, sal alles weer reg wees. Of dalk beter. Wel, minstens net nie so sleg soos wat dit nou is nie. Ons kan net nie meer aangaan soos wat ons nou doen nie.

Bloudruk was reg

Ons moet met ander woorde bloot dieselfde prentjie gebruik om dieselfde ding te herbou – en net seker maak slegte mense regeer nie dié keer daaroor nie.

Die probleem is wel die volgende. Dit was so maklik vir die huidige (slegte) regering om beheer van hierdie “ding” te kry en só moeilik vir ons om van hulle ontslae te raak – dit het 30 jaar gevat om die ANC dálk uit die regering te skop. Mense het verkiesing na verkiesing na verkiesing aanhou stem dat die ANC moet regeer, ongeag hoe sleg hulle regeer het. So die “demokrasie” van Suid-Afrika het aanhou werk, maar die land regtig nie.

Ons moes nou maar jaar na jaar sit en kyk hoe werkende goed ophou werk en ʼn moderne Suid-Afrika demoderniseer. En hoop dat genoeg mense ontevrede genoeg sal raak om iets daaraan te doen. Is hierdie regtig hoe ons wil hê “demokrasie” moet lyk? ʼn Stelsel waar almal permanent ly onder die besluite van die meerderheid?

Dalk tog ʼn verkeerde bloudruk

Was hierdie oorspronklike prentjie dan regtig só ideaal? Selfs in die “dae toe alles nog gewerk het”, het die ANC absoluut geheers oor (1) alle ander partye, (2) álle mense, (3) alle openbare instellings en selfs (4) privaat instellings. Mense het net nie so ʼn groot probleem daarmee gehad nie, want goed het nog gewerk, die rand was nog sterk, mense was ryker en die ligte was nog aan. As genoeg dinge nog goed gaan, dink ʼn mens nie soveel aan wat alles fout is nie.

Die ANC wat nou regeer is die ANC wat toe ook regeer het – hulle het nog dieselfde idees en dieselfde ideale. Ons het dit egter eers begin besef toe die wiele van die bus begin afval en die Mandela-euforie begin taan het.

Dalk was die “dit” wat fout was dan nie net ʼn slegte kaptein nie, maar ook ʼn verkeerde boot? Dan sit ons inderdaad nie nét met ʼn regering wat die probleem is nie, maar eerder ʼn bedeling wat die probleem is?

Wanpassing met die werklikheid

Die rede hoekom Suid-Afrika nie werk nie, is omdat ons ʼn vierkantblokkie in ʼn sirkelvormige gat probeer forseer – dit kan dalk met genoeg geweld ingeforseer word, maar dit is beslis nie die beste passing nie. En dis ook net ʼn kwessie van tyd voor óf die vierkantblokkie of die sirkelvormige gat gaan begin buig en breek.

Hoekom sit ons dan tans met ʼn sirkelvormige bedeling vir ʼn vierkantige samelewing?

Suid-Afrika soos wat ons dit vandag ken, was ʼn antwoord op die verkeerde vraag. Dié bedeling moes nooit ʼn reaksie op apartheid wees nie, maar eerder ʼn beter antwoord as wat die vorige bedeling kon bied op die vraagstuk van Suid-Afrika se komplekse werklikheid.

Ons moes nooit ʼn anti-apartheid-Suid-Afrika probeer bou nie, maar eerder een wat pas by die werklikheid. Die werklikheid van ʼn Suid-Afrika wat enorm groot is, verskriklik baie mense het en talle kultuurgemeenskappe wat elk op hul eie manier leef en dink. Is een sentrale en verenigde regering wat oor hierdie alles heers en oorheers dan werklik so ʼn goeie idee? Wat presies is die alternatief?

30 jaar later

Nou, 30 jaar na die vorige bedelingsverandering, sit die meeste mense ontnugter en ongelukkig met dit wat rondom ons aangaan. Voor ons sommer net sê dat volgende maand se verkiesing die belangrikste en énigste belangrike ding is, moet ons dalk eers Aprilmaand vat en dink oor wat regtig rondom ons aangaan.

As ons in die verkeerde boot is, gaan ʼn goeie kaptein sake dalk in die korttermyn aan mekaar kan hou, maar in die langtermyn ook sukkel om deur die stroomversnellings van die werklikheid te kom. Met die regte boot kan genoeg mense (buite die regering) egter help roei, stuur en seker maak ons hou kop bo water.

In April gaan Nou Pra Jy die menings van verskeie kenners deel wat hierdie vraagstuk uit verskillende hoeke ondersoek. Dit alles met dieselfde doel om uiteindelik te kan antwoord waarom ons presies is waar ons 30 jaar later is.

Suid-Afrika is ʼn komplekse land. Daar is nie een eenvoudige antwoord op die vraagstukke rondom ons nie. Daar is wel goeie en slegte antwoorde te gee op die groot vraag van hoekom hierdie storie eenvoudig nie meer werk nie.

Ons is dit aan onsself en toekomstige geslagte verskuldig om die beste moontlike antwoord op hierdie vraag te kry, hoe moeilik en kompleks dit ook al mag wees. Dit is nie nodig om terug te verlang na die verlede nie. Dit is egter ook nie nodig om tevrede te wees met die huidige omstandighede nie.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Mandela en Mbeki kon nog teer op die pre-1994 SA se sukses. In Mbeki se tweede termyn het dit verdwyn. Hy kon niks nuuts op die tafel plaas nie.

unavitafigereillud ·

Een Apartheid is bloot vervang met ‘n nuwe Apartheid. Die vetjie wat oorgeneem is tydens “demokrasie” was bloot wat opgebou is uit kundigheid en vaardighede, wat intussen deur die huidige regering en wetgewing, die kundigheid en vaardighede uit die land verplig het.

OW ·

Dit is ongelukkig die ANC wat ‘n anti-apartheid-Suid-Afrika gebou het, en Zuma het juis op ‘n stadium gesê dat apartheid nie meer blameer kan word vir die ANC se mislukkings nie.Toe sy twee termyne verby was,het sy opvolger,die apartheidsperd behoorlik gery en ry hom steeds.Die vooruitsig en hoop is beslis daar,vir ‘n alternatief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.