Aardverwarming: Kweekhuiseffek en eietydse ketters

aardverwarming

Foto: Youtube.com

Almal ken die gemors wat die mens van die wêreld maak: lugbesoedeling, waterbesoedeling, besoedeling van die see, plakkerskampe, plastieksakke, uitwissing van fauna en flora, en so meer. Jy kan amper nie anders as om mense te steun wat die omgewing wil red nie.

Ons word vertel klimaatsverandering is ʼn werklikheid. Die wêreld word warmer. Selfs een enkele graad Celsius net in hierdie eeu (die eeu is maar 16 jaar oud). As dinge so voortduur, sê die wetenskaplikes wat klimaatsverandering ondersoek, gaan ons nog so drie grade Celsius hoër temperature hierdie eeu ervaar. Ons sal dit dalk ongemaklik vind, maar ons kinders en kleinkinders sal die gevolge moet dra.

Soos elke jaar gebeur, het daar pas ‘n Verenigde Nasies- (VN-) konferensie oor klimaatsverandering plaasgevind, hierdie keer in Marrakesj, Marokko. Duisende afgevaardigdes van oor die hele wêreld, wat insluit politici, wêreldleiers, omgewingsaktiviste en maatskappye se verteenwoordigers, het gepraat dat die spoeg spat oor die aardverwarming-apokalips wat die wêreld gaan tref en wat regerings moet doen om dit te vermy.

ʼn Groot oorwinning vir omgewingsaktiviste en -kundiges was die Paryse verdrag, wat in 2015 beding is en waarvan 193 lande lidlande geword óf die verdrag onderteken het. Suid-Afrika, die VSA, die lande van die EU, China en Indië het onder meer lede van die Paryse verdrag geword.

Die Paryse verdrag en ongure ketters

Volgens hierdie verdrag, wat op 4 November vanjaar in werking getree het, aanvaar regerings dat hulle heelwat sal moet doen om koolstofdioksied-uitlaatgasse hok te slaan. Dit is veral die groot industriële lande wat hier in die spervuur is, lande soos die VSA (wat vir 18% van alle uitlaatgasse verantwoordelik is), Duitsland (3%), Brittanje (2%) en Japan (4%). Dan is ook groot ontwikkelende ekonomieë soos China (20%), Indië (4%) en Rusland (8%) van die wêreld se grootste lugbesoedelaars. Suid-Afrika is vir 1,5% van lugbesoedeling verantwoordelik.

Die Paryse verdrag is egter nie vreeslik bindend nie. Lande moet ná twee jaar en dan ná vyf jaar verslag lewer oor wat hulle gedoen het om hul koolstofdioksied-uitlaatgasse te verminder. Volgens die wetenskaplikes dra uitlaatgasse by tot die sogenaamde kweekhuiseffek. Al die koolstof sit iewers in die aarde se atmosfeer vas en keer dat sonstrale wat ons aarde leefbaar maak, weer terug weerkaats word deur die atmosfeer. Die aarde word gevolglik soos ʼn kweekhuis wat die hitte binnehou en die wêreld se temperature verhoog.

Wie kan nou nie bekommerd wees as die aarde so warm gaan word dat die pole smelt en Kaapstad of San Francisco onder die water gaan verdwyn nie? Of dat ysbere gaan uitsterf, of die suidelike deel van Afrika in die een of ander woestyn soos die Sahara-woestyn gaan verander nie? Ondenkbaar! Natuurlik kan niemand daarmee stry dat dit ʼn ramp of reeks rampe sal wees nie.

Volgens hierdie teorie word die meeste natuurrampe voor klimaatverandering se deur gelê. Dit beteken dat fabrieke se uitlaatgasse, die brand van steenkool om elektrisiteit op te wek, die afbrand van oerwoude of bome en selfs windopbrekende koeie aardverwarming veroorsaak. Prakties word gereken dat vloede, droogtes, hittegolwe en ysige koue op die een of ander manier herlei kan word na aardverwarming, hoe onlogies dit ook al mag klink. Op sigself is vooruitgang en ekonomiese groei dus nou verbind met die kweekhuiseffek.

Daar is natuurlik nie eenstemmigheid oor die gevolge van aardverwarming nie. Opponente van aardverwarming word kweekhuis-skeptici genoem. Hierdie skeptici word eintlik soos melaatses behandel. Hulle menings of idees word verwerplik gevind; hulle is die ontkenners, die mense wat nie gehoor behoort te word nie weens hul ongure menings.

Daar is ʼn klompie wetenskaplikes wat deel van hierdie “ongure” groepie is, wat ook insluit maatskappyhoofde en regeringsleiers. Regeringsleiers soos die nuutverkose president van die VSA, Donald Trump, wat blykbaar nie glo dat die aardverwarming gekeer kan word nie. Hy het blykbaar jare terug op Twitter kwytgeraak dat die hele storie rondom aardverwarming die maaksel van die Chinese is. Seker om Amerikaners te dwing om hul fabrieke te sluit sodat China dan hul werk kan oorneem. Of so iets. Hy glo dus om koolstofdioksied-uitlaatgasse te verminder en regeringsubsidies te bestee aan alternatiewe energiebronne is teenproduktief en nadelig vir die VSA se ekonomie.

Om aardverwarming te ontken kan jou net so ʼn skandvlek gee soos om as ʼn sogenaamde “rassis” gekenmerk te word. In die ou dae was sulke mense ketters, vandag rassiste en “aardverwarming-skeptici”. Dit het destyds gelei tot die Spaanse Inkwisisie, wat so 500 jaar gelede in Spanje mense op allerhande wrede maniere gefolter het, veral as hulle nie streng Katolieke gebruike gevolg het nie, die kerk gekritiseer het, of ander gelowe aangehang het. Baie het met hul lewe geboet.

Wel, die Spaanse Inkwisisie is terug, net in ʼn ander vorm. Vra maar vir ouens soos Donald Trump of Steve Hofmeyr hoeveel alternatiewe menings in ons sogenaamde oop, demokratiese vryheid-van-spraak-samelewings geduld word! Dieselfde geld vir ouens wat die apokaliptiese voorspellings van die sogenaamde kundiges probeer weerspreek.

Voor ons gaan kyk wat die alternatiewes se mening is (ons probeer darem gebalanseerd wees in hierdie meningstuk), net ʼn paar woorde oor die mens se beheptheid om altyd ʼn vrees vir die toekoms te hê. Soms sinvol, ander kere nie.

Mensgemaakte nuwe bedreigings

Ná die val van kommunisme, wat die wêreld vir ʼn goeie 70 jaar in ʼn vrees-wurggreep gehad het (kommunisme was seker een van die aakligste vorme van regering wat honderde miljoene mense se lewens geëis het), het die wêreld byna gesmag na ʼn nuwe bedreiging.

Die vrees vir kommunisme en kernoorlog het plek gemaak vir die vrees dat die osoonlaag, basies ons stratosfeer, tot niet sou gaan. Wie onthou nog hoe yskaste en reukweerders in spuitblikkies in die 1980’s en vroeë 1990’s die grootste bedreiging vir die mensdom was? Die chlorofluorokoolstowwe (CFC’s) wat hierdie produkte blykbaar vrygestel het, het die osoonlaag so beskadig dat die pole binne enkele jare blykbaar sou ontvries omdat die stratosfeer nie ultraviolet strale kon binnehou nie! Die teenoorgestelde van die koolstofdioksied-uitlaatgasse was hier ter sprake maar met dieselfde gevolg: die wegbrand van die osoonlaag het blykbaar veroorsaak dat uitstraling te veel was en dat direkte son die pole sou laat smelt.

Wat vreemd is, is dat ons reeds vir byna 20 jaar nie veel van die uitputting van die osoonlaag gehoor het nie. Inteendeel, die jongste navorsing wys daarop dat die osoonlaag dermate herstel het, dat dit nie meer bedreig word nie. Volgens die omgewingskundiges is dit reeds omdat daar nie meer yskaste en reukweerders vervaardig word wat CFC’s vrystel nie. Miljarde dollars later is die proses omgekeer. Maklik, nè?

ʼn Ander interessante vrees wat die wêreld beetgepak het, was die Y2K- (oftewel die jaar 2000-) virus. Die laaste paar jaar voor die millennium se wenteling (laat 1990’s) het ons byna elke dag gehoor dat rekenaars nie die oorgang van die millennium sou kon hanteer nie. Daar is voorspel dat alle rekenaars net eenvoudig sou ophou werk. Dit beteken vliegtuie sou uit die lug val, treine sou ontspoor, damwalle sou meegee omdat rekenaars nie sluise sou oopmaak nie en die mensdom sou algehele donkerte in die gesig staar omdat kragsubstasies en kragopwekking eenvoudig sou ophou werk. Die wêreld het asem opgehou en die ergste verwag.

Rekenaarmaatskappye het soos paddastoele opgeskiet en oornag miljarde dollars gemaak om die Y2K-virus te keer. Sowat 300-600 miljard dollar later (in vandag se terme 400-800 miljard dollar) het … wel niks gebeur nie. Goed, dis nie heeltemal korrek nie. In Australië het ʼn masjien wat buskaartjies gedruk het, opgehou werk, 150 dobbelmasjiene by ʼn perderesiesbaan in die VSA het ophou werk, en sommige rekenaars het die datum aangegee as 1 Januarie 19100.

Die hele Y2K-gedrog het net so min impak soos ʼn Springbokspan op ʼn All Black-agterlynbeweging gehad.

Dit bring my terug by vandag se grootste bedreiging: aardverwarming. Die kritici oftewel skeptici het ʼn ander mening. Hulle glo dat daar weinig, indien enige, bewyse is dat die koolstofdioksied-uitlaatgasse die aarde warmer laat word. Hulle beskou dit bloot as ʼn teorie of hipotese.

Dit gaan alles oor geld …

Terselfdertyd wys hulle daarop dat die aarde deur periodes van ekstreme hitte en koue gaan. Hitte soos tydens die tydperk van die dinosourusse en koue soos in die ystydperke. Hulle glo dat die meeste koolstofdioksied deur die aarde se atmosfeer verdwyn en dat die meeste sogenaamde kenners van aardverhitting ʼn paar aardverwarming-proponente/teoretici napraat sonder enige bewese navorsing. Hulle glo ons moet eers heelwat meer navorsing doen voor ons kan sê mensgemaakte aardverwarming bestaan.

Dit gaan natuurlik alles oor geld. Regerings, soos dié in die VSA en Europa, subsidieer alternatiewe energiebronne teen enorme bedrae geld. Skeptici wys daarop dat etanolverbranding geen impak op uitlaatgasse het nie, elektriese motors word ten duurste gesubsidieer maar benodig net soveel indien nie meer fossielbrandstowwe om die motor se elektriese lading op te wek nie, windplase het ʼn fossielbrandstof-rugsteun nodig en die groot lemme bedreig voëlspesies, terwyl sonverhitting weer afhanklik is van subsidies en baie duur is. Dit gee mens dalk ʼn blik waarom Trump teen die subsidies van groot maatskappye gekant is wat veral skep uit die alternatiewe energie-ontwikkelings.

Vanweë ʼn gebrek aan wetenskaplike kennis kan mens dus nie ʼn klinkklare mening waag om te sê wie van die aardverwarmer-teoretici of -skeptici korrek is nie. Ons moet nietemin waak om nie alles wat deur die internasionale media, omgewingsaktiviste en regerings as die waarheid verkondig word vir soetkoek op te eet nie. Wat sekerlik waar is, is dat die aarde besig is om warmer te word. Die statistieke oor temperature op verskillende plekke ter wêreld bewys dit. Of mense dit veroorsaak of nie, is nie noodwendig seker nie.

Natuurlik is dit belangrik om skoner lug, minder plastieksakke, en so meer te ondersteun. Almal verdien seker onbesoedelde lug en water omdat besoedeling siektes veroorsaak. Nietemin neem die wêreld se bevolking dermate toe dat ons die stryd teen besoedeling gaan verloor. Soos mense ontwikkelde status bereik, veral in China en Indië, word besoedeling oneindig meer.

Terselfdertyd is dit te betwyfel of die Paryse verdrag sy teikens gaan bereik. Daar is te veel opkomende ekonomieë wat so vinnig groei dat hulle nie koolstofdioksied-besoedeling kan of wil inperk nie. As die skeptici korrek is, is dit in elk geval relevant?

Regerings wat dit wel gaan doen, gaan ekonomies agteruitgaan weens die hoë koste van alternatiewe energiebronne.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

58 Kommentare

SkarrelKind ·

Nico, ek het jou skrywe geniet. Mens probeer maar mens se deel doen om te herwin en spaarsamig te werk met krag en water en om nie kos te mors nie, maar mens aanvaar ook sommer net al die teorieë oor aardverwarming blindelings. Jy het my beslis nou bietjie laat dink en ek sal die feite Google. Dankie vir die skrywe.

Nico Stegmann ·

Dankie skarrelkind. Ek dink die Internet gee mens net soveel meer opsies om inligting na te vors en menings te kry.

Bruno Stef ·

My wens is dat elke skrywer of kommentator wat n punt wil maak hulle tog sal weerhou om Donald Trump of Steve Hofmeyr by sulke aangeleenthede in te sleep.Die algemene publiek stel tog nie belang wat hy/sy se politieke voorkeure is nie onthou net wat die hart van vol is loop die mond van oor.

Nico Stegmann ·

Goeiedag Bruno. As die nuutste leier van die Westerse wereld en die magtigste man op aarde is Trump beslis relevant. As mens die nuusgebeure volg sal jy sien hy word reeds genoem as die man wat aardverwarming gaan aanjaag. Dis juis relevant. Ek verstaan dus nie eintlik jou punt nie.

Rupert Ashford ·

Welgedaan Nico. Hierdie is die eerste werklik gebalanseerde stuk oor hierdie onderwerp wat ek in jare op ‘n hoofstroom nuusblad sien. Geluk ook Maroela dat julle dit plaas. Enigiemand wat vir ons wil preek oor hoe ons die gasse moet inperk deur onsself ekonomies seer te maak sonder om ook sy voorstel oor hoe om die wereldbevolking te verminder blatant op die tafel te plaas vertel leuens want oorbevolking is die allesoorheersende probleem.

Nico Stegmann ·

Dankie Rupert. Daar is beslis nie konsensus oor oorsaak vir aardverwarming nie. Waardeer die mening.

Rupert Ashford ·

Nico, ek ondersteun enige van die maatreels om besoedeling te verminder (plastieksakke, herwinning ensomeer), en ook die soeke na alternatiwe energiebronne bloot omdat die fossielbrandstowwe een of ander tyd gaan uitgeput raak, maar dit kan nie ideologies gedryf word en uiteindelik net ‘n proses van “herverdeling van rykdom” wees waar sg “ryk” lande dan die res geld betaal nie soos met Parys en Marrakech en diesulkes die geval is nie. Daardie alternatiewe energiebronne moet ekonomies lewensvatbaar wees en nie met erge subsidies aan die gang gehou word nie. En daarom is son en wind in hulle huidige formaat ongelukig nie die oplossing nie.

Theuns ·

Nico jou skrywe is relevant en laat ‘n mens dink! Dit is ook so dat gevestigde belange ons baie leuns vertel om geld te maak! Vat die botter/ margarine storie. Daar is gese dat Rooivleis is sleg vir jou(Protiene) en dat koolhidrate entlik is wat jy moet eet? Vandag is die storie omgedraai. Ek het ook jare gelede gelees dat die aarde se massa gaan toeneem met die bevolkings ontploffing en dat planne gemaak moet word om dit te verhoed. ‘N slim ou het wiskundig bewys dat die aarde nie in massa toeneem nie en dat die teorie maar net ‘n leun was! Onthou jy nog die fliek waar mense in Fabrieke verwerk is om blokkies protiene te maak om in die Supermarkte te verkoop. Dit was al kos wat daar was en jy het ‘n keuse gehad van verskillende klere blokkies. Die fliek se naam was “Soilent Green”! Ek was al 71 keer om die son in my leeftyd en ek kan net bevestig dat aardverwarming wel bestaan. Ek het gesien hoe die aarde verander!

Nico Stegmann ·

Goeie punt oor rooivleis en botter. Ek wag nog vir die dag as rook gesond verklaar word…wag, dis klaar daar. Dagga rook is blykbaar goed vir jou as medisyne-bossie!

Nico Stegmann ·

Jammer Theuns my antwoord het iewers verlore geraak. Kom ons probeer weer. Dis ‘n goeie punt oor rooivleis en margarine wat jy maak. Nou wag ons net om te hoor dat rook goed is vir jou….dit het eintlik reeds gebeur. Blykbaar het dagga-bossies baie medisinale waarde!

Derek Meyer ·

Ja, ons kan verseker uitvind wie’s korrek.

Die vakkundiges. Vakkundige konsensus is baie kragtig.

Mense weet hulle het nie die kennis of tyd om alles te leer nie, daarom gaan ons deurentyd na die kennis van die kundiges. Dis hoekom ek na mediese dokters toe gaan wanneer ek siek is en nie na my plaaslike motorwerktuigkundige oor my siektes nie.

Kom ons gaan kyk na die werklikheid. In artikels gepubliseer in die toepaslike vakkundige joernale, stem amper 100% van die deskundiges se navorsing ooreen dat die aarde se klimaat verander.

Omtrent 97% van daardie deskundiges se data toon dat klimaatsverandering aangehelp word deur menslike aktiwiteite. Die ander 3 persent se data toon dat vulkane, ens. die oorsaak is.

Mensgemaakte klimaatsverandering is die gevolgtrekking van meer as 13 000 eweknie-hersiende studies gepubliseer in vakkundige tydskrifte.

Dis maklik vir my. Daai duisende deskundiges van oral op aarde weet waarvan hulle praat. Jy nie.

Nico Stegmann ·

Jong Derek, ek sal nie alles glo wat ek lees nie. Ek is beslis nie ‘n deskundige nie, maar die feit dat daar nie eenstemmigheid is nie, laat mens dink. Dalk is daai 3% nie so dom as wat jy dink nie?

Rupert Ashford ·

Derek, gaan lees bietjie hoe by daardie 97% konsensus syfer uitgekom is en begin dan wonder. Gaan kyk na mense soos Prof Judith Curry se skrywes – sy is een van die 3% wat verketter word omdat sy durf vrae stel. Jy kan ook iemand se soos Jo Nova se blog lees waar baie van die dinge bymekaargetrek word. Gaan op die video kanaal en kyk na Prof Bob Carter se videos. Hy is ongelukkig vroeer hierdie jaar oorlede, maar was ‘n baie goeie wetenskaplike wat vrae gevra het oor die dinge en ook oor langer tydperke as die laaste 50 jaar gekyk het na tendense van verhitting/afkoeling. Daar is tans Russiese wetenskaplikes (ook seker van die sg 3%) wat se ons is reeds besig om in ‘n mini ystydperk in te gaan en dat daardie groot kernreaktor hier in ons omgewing in die melkweg (die son) eintlik die verhitting en afkoeling in die hand werk want dit gaan ook deur siklusse van hoer en laer aktiwiteit en dit lyk of dit tans in ‘n tydperk van amperse “hibernasie” ingaan wat allerhande dinge aan die sonnestelsel doen behalwe om net minder hitte te genereer (elektromagnetiese golwe wat wolkvorming beinvloed en so-aan).

Emile ·

Goeie artikel Nico

(Jy’t nagelaat om die “suur-reen” histerie, 1980s voorloper van die Osoon-histerie, te noem.)

Hierdie wetenskaplike histeries verkoop goed en daar is baie geld uit te maak. Amerikaanse navorsers veral word deur kompeterende fondswerwingsbepaling gedwing om die belangrikheid van hul eie vakgebied hoog op te hemel ten einde befondsing te kry. Wat makliker as “fear-mongering”?

Soos ‘n senior tandepastebemarker eendag opgemerk het: “Dentists didn’t invent plaque. We did…”

My besorgdheid met die huidige gebruik en afhanklikheid van fossielbrandstowwe is nie “Aardverwarming” nie. Dis eenvoudig dat fossielbrandstowwe nie hernubaar is nie en letterlik op ‘n stadium gaan opraak. Niks meer oor nie. Waarmee ry ons, vlieg ons, dryf ons huishoudings en die ekonomie aan? Watter oorloe word dan deur watter moondhede op watter vastelande onder watter voorwendsels geveg?

In die sg aardverwarmings-teologie word baie min aandag geskenk aan uiters belangrike faktore soos Sonaktiwiteit. Die mini-ystydperk van die 18de eeu was agv 70 jaar se verlaagde Sonaktiwiteit (Maunder minimum). So ook die latere Dalton-minimum en die 13de eeuse “medieval warming” agv verhoogde Sonaktiwiteit. Dan is daar ook nog die Aardbaan Milankovitch siklus wat die groot ystydperke reguleer. Almal natuurlike verskynsels waaroor die mens geen beheer het nie maar gerieflikheidshalwe ignoreer word want dit maak nie geld nie.

Ons moet dus maar krities staan teen die aardverwarmings-teologie, selfs al word ons as ketters gebrandmerk. Ketters soos Luther het goot waarhede ontbloot.

Herman ·

Ongelukkig is die sonaktiwiteit-teorie ook lankal agterweë gelaat. In die afgelope 15 jaar het sonaktiwiteit byvoorbeeld drasties gedaal, maar die aarde drasties verhit. Vergelyk gerus NASA se data oor “total solar irradiance” per jaar met gemiddelde temperature.

Emile ·

Sonaktiwiteit het geensins “drasties” gedaal nie. Gaan gekyk gerus na die gemete aktiwiteit. Drasties is die bykans volkome afwesigheid van sonvlekke soos tydens die Maunder minimum (1645-1715). Ons ervaar tans normale sonaktiwiteit volgens ‘n normale Sonsiklus.

Herman ·

Emile, Die laaste keer wat die son se gemiddelde aktiwiteit op sulke (lae) vlakke was, was die 1930’s.

Derek Meyer ·

Nico, daar is nie eens eenstemmigheid onder Fisici dat die aarde om die son wentel nie. ‘n Klein heoveelheid van hulle glo nog steeds dat die son om die aarde wentel. Moenie jou ore uitleen aan ‘n paar malletjies nie.

Jy onthou ook daai Vigs gemors waar onse agbare minister haar ore uitgeleen het aan ‘n paar mal Dokters?

Derek Meyer ·

Rupert, gelukkig vir mense is skrywes van mense nie baie belangrik nie. Enigiemand kan enigiets skrywe.

Wat tel is die eweknie-hersiende artikels as ‘n eerste en maklikste stap in wetenskap. Doodgewone skrywes, selfs mense wat Professore is, beteken nie baie nie. Wat wel iets beteken is hoe daardie data herhaal kan word en hoe daai gevolgtrekkings deur die kenners aanvaar word.

Rupert Ashford ·

Jy noem dinge wat herhaalbaar is. Derek meeste van die dinge wat gese word, word aan die hand van rekenaarmodelle voorspel en alles word deur “ewekniee” gestaaf en gepubliseer. Maar die modelle “verhit” almal meer as wat die realiteit vir ons wys en word gevra oor “validation” dokumentasie van die modelle is daar ook nie antwoorde nie. Maar nouja “each to his own”.

Derek Meyer ·

Regtig Rupert?

Weet jy eintlik hoe die natuurwetenskappe werk?

Emile ·

Akkoord Rupert

Omdat klimaatstudies uiters komplekse en geintegreerde stelses beskryf, gebruik modelle sekere aannames omdat:

sekere inligting nog nie beskikbaar is nie;
sekere prosesse nog nie verstaan word nie;
sekere prosesse en verskynsels uiters moeilik of onmoontlik is om te modelleerbaar agv die kompleksiteit daarvan.

Baie van hierdie stelsels is ook sg “chaoties” of “stochasties” modelleer waar klein onsekerhede in parameters baie groot veranderings in uitsette kan he. Dink aan die sg “skoenlapper-effek”

Verder is verskeie navorsingsdissiplines betrokke wat uit verskillende denkrigtings kom, verskillende modelle met verskillende fokus-areas gebruik en nie noodwendig om dieselfde vuur sit nie. Dit sluit in oa Atmosferiese, Klimaat, Oseaan, Fisika, Chemie, Heliosferies, Paleontologiese wetenskappe ens.

Tussen hierdie groepe is daar nie altyd konsensus oor annames, afleidings ens nie.

Uiteraard moet modelle se prestasie ook aan werklike data gemeet word. Soms ontbreek werklike data eenvoudig net en word aanvaar die modelle weerspieel die werklikheid. Dit kan uiteraard tot verkeerde resultate lei.

Dink maar net hoe verkeerd die meningspeiling Hillary Clinton se verkiesingsoorwinning voorspel het, agv verkeerde aannames.

Jamesie ·

Ek is so bly om vir ‘n slag ‘n artikel te lees wat nie deurspek is met linkse, hoofstroom media ideologiee nie – iemand wat vir ‘n slag die waarheid in teenstelling met die fabels wat die sogenaamde “vakkundiges” vir ons wil opdis nie. Goed, nie alles is snert nie, maar die meeste is, omrede aardverwarming-voorkoming (en enige ander “voorkoming” per se is alles behalwe die primere fokus. Eie gewin, ja…daar kom ons nader aan die waarheid. Dis dieselfde met evolusie, die oer-knal ens. Niemand het konsensus nie – nie eers Darwin het op sy sterfbed gehad nie, maar die snert word as ‘n waarheid in al wat keelgat is, afgedwing.
Ek is bly om die meer konserwatiewe (rassionele) ontwaking oral (VSA/Europa) te sien uitbreek.

Andre ·

Jamesie. Ek neem aan jy verkies ook tradisionele genesers, want wat weet hierdie klomp wetenskaplike gefundeerde mediese dokters dan nou ook.

Derek Meyer ·

O, en Rupert, hoop jy weet dat Prof Judith Curry die konsensus oor mensgemaakte klimaatverandering ondersteun. Haar eie navorsing daaroor is mooi gepubliseer vir almal om te lees.

Rupert Ashford ·

Ek het nerens gese Judith Curry is ‘n sg “denier” nie, of dat ek nie ook saamstem dat die mens bydrae tot klimaatsverandering nie, maar sy is nie ‘n “alarmist” nie en vra vrae waarvoor sy nie geliefd is nie. Maar moenie sosialisme aantrek in groen kleertjies en vir my vertel ons gaan alles oplos deur geld te “herverdeel” van eerstewereldlande na sg “ontwikkelende” lande terwyl groot CO2 produseerders soos China en Indie (en ander) nog hulle CO2 produksie ongebreideld gaan opstoot tot lank na 2030 nie. Ons stem tot ‘n mate saam oor die oorsake (oorbevolkte aarde = menslike bydrae maar nie allesoorheersend nie) maar waar politiek en wetenskap begin meng beland jy in ‘n moeras. En waar geld ‘n rol begin speel kom die mens in sy boosste gewaad sterk in die prentjie en kan die edele “peer review” meganisme maar net so korrup raak soos enigiets ander waaraan ons raak.

Lana ·

Ek het al baie gewonder hoe die ouens wat so opgewonde raak oor koolstofgasse die wêreld se teerpaaie en geboue heeltemal miskyk? Niemand sal sommer op hierdie mooi warm dag kaalvoet op ‘n teerpad loop nie, want die teerpad absorbeer die son se hitte en straal dit weer as hitte energie uit (in eenvoudige Afrikaans is die pad vrek warm). Op ‘n grasperk kan mens maklik loop, want die gras absorbeer die hitte en gebruik dan die energie vir groei en fotosintese ens. As mens in ag neem dat meeste van die oppervlaktes wat vandag deur teerpaaie bedek word, omtrent 100 jaar gelede deur gras bedek is, behoort dit nie te moeilik te wees om te wonder hoeveel die paaie tot aardverwarming bydra nie.

Derek Meyer ·

Lana, klimaatverandering gaan oor die gasse losgelaat in die atmosfeer.

Herman ·

Dit is deel daarvan. Die hitte wat mens voel op ‘n teerpad is as gevolg van die hittekonduksie-koëffisiënt van die teer, wat hoër is as dié van gras. Die uitralingskoëffisiënt van teer is toevallig ook relatief hoog, so dit omskep die son se inkomende strale (wat ‘n breë gedeelte van die spektrum, van infrarooi tot ultraviolet beslaan) in infrarooi strale wat die aarde wel verhit. Infrarooi strale is wat ons as hitte beleef. Tog sou dit nie die so erg wees as ons nie soveel CO2 in die atmosfeer in gepomp het nie. Ons bou vir ons ‘n eenrigting-kombersie wat nie die inkomende strale in alle dele van die spektrum keer nie, maar wel die soort strale keer wat teerpaaie uitstraal. Ons noem dit die kweekhuiseffek, want glas laat baie sonlig in, maar min infrarooi uit. Dis hoekom jou kar of kweekhuis warm word in direkte sonlig.

Therese van Schalkwyk ·

Nico Stegmann, pas op, jy is vinnig besig om my gunsteling skrywer te raak!

En ja, klimaat-skeptici is amper meer melaats as ‘verregses’.

Natuurlik verander die wêreld se klimaat voortdurend en almal moet hul kant bring om van die Aarde ‘n beter, skoner plek te maak, maar ek sien nie dat mense juis oorywerig is om koud te stort, uit hul groot voertuie en op hul fietse te klim ens. nie. Verdrae onderteken is makliker!

Sou verkies dat ons eerder ‘n Ystydperk ingaan as die ondraaglike hittegolwe!
Hou aan skryf, en veral oor President Trump en sy manewales. Hoop tog nie hy word “impeach” voor hy sy ding gedoen het nie. :-)

Herman ·

Dit waarteen die wetenskaplikes waarsku is nie dat ons almal bietjie warmer gaan kry nie. Dit gaan die klakouse net bietjie meer gee om oor te gesels. Dit is wel nagevolge soos meer intense El-Nino droogtes (soos wat nou beleef het), die verandering van habitatte as gevolg van reënvalverskuiwings (soos dat die Vrystaat nie meer mielies kan verbou nie, en die Kaap nie meer druiwe kan lewer nie), die verspreiding van voormalig-tropiese siektes wat tans net in “midde Afrika” voorkom, die vernietiging van insekspesies wat ons ekosisteme en boerderybedrywighede aan die gang hou, ens.

En die alternatief is gelukkig nie die Ystertydperk nie, maar bloot slim tegnologie en die besef dat ons ons vraatsige verbruikskultuur gaan moet inperk.

Therese van Schalkwyk ·

Herman
Ek dra kennis van al die skrikwekkende voorspellings en die 40°+ somerdae wat al meer gereeld voorkom, is genoeg om my te oortuig van klimaatsverandering, die bestaan van kweekhuisgasse en die erns van die saak.
Voordat die mensdom se vraatsugtige verbruikskultuur nie meer aandag kry as berade, konferensies, verdrae en groot bedrae geld nie sal ek egter my bedenkinge hê oor die werklike érns met die saak.
Die “slim tegnologie” sluit o.a. sonpanele en batterye om krag te stoor in, en ‘n mens sidder oor die impak wat die vervaardiging en weggooi/vervanging van massas hiervan alléén op die Aarde het.

Herman ·

Dan stem ons saam. Ja, die vervaardiging van enigiets het ‘n impak. Die impak van die totale lewensikluskoste van ‘n sonpaneel per kWh elektrisiteit gelewer in vergelyking met steenkool is wel baie laag, selfs as vervaardiging van die sonpanele in ag geneem word. Hertwich et al. se artikel “Integrated life-cycle assessment of electricity supply scenarios confirms global environmental benefit of low-carbon technologies” in die Proceedings of the National Academy of Sciences, 2015 illustreer dit mooi.

Herman ·

Nico,
Ek waardeer debat oor hierdie saak, so dankie vir jou skrywe. Ek is ‘n voormalige klimaatskeptikus en wetenskaplike navorser aan die Universiteit van Pretoria. Ek moet ongelukkig sê dat alhoewel ons ‘n paar jaar gelede met sulke wetenskaplike verdagmakery kon wegkom, dit nie meer die geval is nie. Om die wetenskap te lees is wel harde werk, en leke word maklik deur verdagmakers wat natuurlik ook ‘n ekonomiese belang daarin het, soos met die destydse sigarette-kanker verdagmakery. Soos jy tereg uitwys is daar mense wat die onsekerhede waarmee die modelle antroposentriese oorsake aan waargenome verwarming toedig, bevraagteken. Dit is hopeloos. Ons kan die meganismes wetenskaplik beskryf, en waarnemings klop met ons voorspellings. Klimaatsverandering, en die mens se aandeel daarin, is een van die mees nagevorsde onderwerpe in die wetenskap vandag. Natuurlik is goeie wetenskap altyd voorlopig in ‘n sin, maar ons is van min dinge so seker. As jy dit bevraagteken, kan jy maar net sowel ‘n sangoma gaan raadpleeg oor jou hartkwaal, en méér sigarette rook om jou longkanker te genees.

Almal is geregtig tot ‘n opinie – die plat-aarde manne ook. Maar nie almal se opinie is ewe geldig nie.

PC ·

Die probleem met bykans AL die navorsing en die modelle wat dit gebruik is dat dit iewers van aannames gebruik maak. Dit is bloot nie goed genoeg nie.

Derek Meyer ·

PC, die kenners stem nie met jou saam nie. Is jy slimmer as al daai duisende kenners?

Herman ·

PC, dit is darem ‘n baie idealistiese stelling om te maak. Jy neem darem ‘n groot hoeveelheid dinge in die proses aan! Is jou kommentaar dus nie goed genoeg nie? Nee, dis maar beter om bewus te wees van jou aannames, en hulle duidelik te stel, as om te maak asof jy nie sulke goed het nie.

Die vraag is nie of ons aannames gebruik of nie, maar of hulle regverdig is, en watter impak hulle op die model het. Dit is hoekom ons gesofistikeerde sensitiwiteitsanalises doen, en met gegewe onsekerheidsperke rapporteer. (Wanneer Jan Publiek “onsekerheidsperke” hoor, dink hy dit beteken die resultaat is onbetroubaar. Dit is ‘n voorbeeld ‘n valse aanname gebore uit onkunde.) Selfs metings (die alternatief tot modelle) word met bepaalde aannames en onsekerheidsperke gemaak. Wanneer ons ons aannames duidelik maak, is die proses meer deursigtig en kan ander wetenskaplikes daarop verbeter of dit verkeerd bewys. Aannames is goeie wetenskap. Sover is die klimaatmodelle se aannames konserwatief, d.w.s. ons onderskat die impak van sekere faktore, eerder as om dit te oorskat en later ons resultate te moet terugtrek. Dit werk wel albei kante toe: ouer modelle het die rol van die see onderskat, en dus ons temperatuurstyging bietjie oorskat. Al wat dit eintlik beteken is dat wanneer die see-temperatuurstyging momentum opbou, die nagevolge eintlik erger gaan wees as wat ons gedink het.

JohannesT ·

@Nico: Goeie artikel. Ons moet beslis meer gesprekke hê en dink oor hierdie onderwerpe (o.a. klimaatsverandering, onbeheersde bevolkinsgstoename, beperkte hulpbronne) wat krities is vir ons kollektiewe bestaan.

@Herman: Jou argument is baie goed gestel. Ongelukkig verstaan leke nie altyd lekker hoe die wetenskaplike proses werk nie.

@PC: Enige model sal altyd aannames bevat. {Jou hele denke en optrede elke oomblik word bepaal deur klomp aannames wat jy (onbewustelik) maak.} Natuurlik moet mens goeie aannames maak of dit kan verdedig/verduidelik. Sommige aannames sal net tyd kan leer of dit goeies was of nie. As jy GEEN vereenvoudigende aannames maak nie, sal jy geen model kan maak nie. Om ‘n voorbeeld te gee: iets so eenvoudig soos ‘n rubber bal wat hop kan met vereenvoudigende aannames baie akkuraat beskryf word met bewegingsvergelykings. Tog is dit aannames. As jy geen aannames maak nie, sal jou model die volle werklikheid moet kan beskryf insluitende die beweging van elke elektron in elke molekuul in die bal en nog meer detail. Geen rekenaar sal dit ooit kan oplos nie. Indien jy dit wel sou kon simuleer, sou jy ‘n nuwe werklikheid kon skep.

PC ·

Die probleem met die aannames wat gebruik word deur baie wetenskaplikes in die debat is dat hulle dit gebruik om die ketting te voltooi. Dit is nie noodwendig gegrond op suiwer wetenskap nie, maar op die opinie van die wetenskaplike wat sy interpretasie heg aan n stel feite. Toegegee hy maak die aanname gegrond op die uitslae. Die probleem is dat n ander Deskundige/wetenskaplike met dieselfde stel resultate tot n ander aanname kan kom. Wetenskaplikes is baie keer afhanklik van befonsing en aanvaarding vanaf die hoofstroom media en denkrigting. Hulle durf nie buite die hoofstroom denke beweeg nie anders is hulle uitgelewer aan baie kretiek wat hulle inkomste en repetasie kan beinvloed. Die feit dat hier te veel skakels in die kettings gevul word met aannmames wat uitgelewer is aan die opinie van n persoon eerder as suiwer wetenskap is bloot nie goed genoeg nie. Ek doen tans self navorsing by n Suid Afrikaanse universiteit en sien daagliks hoe wetenskaplikes hulle oe toeknyp vir die minder gewilde denkrigting want hulle is bloot nie bereid om die publieke ongemak op hulle te vestig nie. Jammer hou op om die skakels te vul met dit wat julle uit julle duim suig en dit dan wetenskap te noem. Sê eerder ek weet nie wat om met die data voor my te doen nie. Dat die aarde vernietig word is so. Dat die klimaat aan die verander is, is so. Hoekom het nie so eenvoudige antwoord nie.

Herman ·

PC, dit is so dat wetenskaplike rewolusies een begrafnis op ‘n slag gebeur. Tog dink ek is die prentjie nie so duister soos party mense dit wil skets nie. Daar is baie (geld) waarde daarin om goeie andersdenke wetenskap te kan publiseer. Joernale en universiteite hou daarvan, want dit word baie aangehaal. Kyk maar na die MIT klimaatskeptikus Richard Lindzen, wat gereeld in goeie joernale soos “Geophysical Research Letters” publiseer. Hy moet dalk harder werk om sy punt te kan bewys, maar sy artikels is goud werd – vir hom, die joernaal, en MIT. Die media is ook mal daaroor om dit te lees, want wie wil nou nie ‘n skokkende opskrif in hul koerant plaas nie? Hoofstroom denke en resultate wat al oor en oor tot dieselfde gevolgtrekking gekom het is vervelig! Niemand wil daarvan lees nie. En joernale is ook winsgedrewe. En as die Koch broers vir jou geld gaan gee om klimaatsverandering verdag te maak, hoekom nie? Die diskriminasie teen andersdenkendes is baie meer algemeen in die (linkse) geesteswetenskappe as in die natuurwetenskappe.

Pietman ·

Ek is ook ‘n groot Trump aanhanger en besef die duidelike agenda wat hoofstroommedia het maar kom by mense, Aarverwarming is ‘n realiteit! Hier word genoem dat koolstofdioksied verlaat die atmosfeer natuurlik. Maar die koolstofdioksied in atmosfeer is op rekord vlakke en hou aan styg. Verlede jaar was die warmste jaar ooit aangeteken en hierdie jaar gaan laas jaar se hitte oortref. As ons nie meer in die wetenskap wil glo nie weet ek nie waarheen ons oppad is nie. Ongelukkig verhit die aarde nou selfs vinniger as wat modelle aanvanklik voorspel het.

Derek Meyer ·

Ah, fantasties. Kan jy enige eweknie-hersiende artikels noem wat Trump ingedien het oor aardverwarming? Die data?

TDW ·

Hoe lekker is dit vir my om julle kommentare te lees. Intelligente mense wat ‘n gesonde debat voer!
Mal daaroor!Ek het baie geleer net van julle! Dankie

Piet Badenhorst ·

Ons kan stry en aannames met modelle as argumente.
Die uitdaging is om met antwoorde te kom.
Self ervaar ek as Boer n verandering in die klimaat. Of aardverwarming n feit is of nie, my eie navorsing is om dit tot my voordeel aan te wend. Veral die kweekhuis effek.
Mikro organismes kan als wat aardverwarming voortbring gebruik tot meer groei,
Al beperkende faktor is water.
Co2, hitte ens. Dit is voorheen gedoen en kan weer.
Solank dit reën en julle oor modelle stry, groei my gras!

Rupert Ashford ·

Piet ek dink nie ons kan stry oor of klimaatverandering ‘n werklikheid is nie. Die aarde is ‘n dinamiese sisteem waar verandering nog altyd plaasgevind het – die klimaat was nog nooit konstant nie. Die vraag is egter hoe ons dit gaan hanteer in die toekoms met die ewig-groeiende wereldbevolking wat al hoe meer geindustrialiseerd raak en daarom al meer hulpbronne gebruik en ‘n effek het op die planeet waarop ons bly.

Pieter ·

Baie goeie artikel. Ek reken daar is te veel onsekerhede in enige van die modelle wat ongekwantifiseerd is of net eenvoudig weggelaat word. Bv Mars verwarm ook en ek glo nie daar is ‘n mens nie. Verder is dit interessant dat almal wat so bekommerd is oor die gasse en koolstof wat ons vrylaat reis almal hierdie mense met vliegtuie en karre en bly in hotelle om mekaar te oortuig – wat is hulle bydrae met al hierdie kongresse ens tot aardverwarming?

Andre ·

Is daar werklik nog enigiemand wat kan dink niks gaan gebeur met ons wêreld as die CO2 (‘n kweekhuisgas) in ons atmosfeer verhoog het van 280ppm in 1950 tot 400ppm vandag nie. Op watter getal dink diegene moet mens bekommerd begin raak?

Pendoring ·

Wat mense gerieflikheids onthalwe vergeet is dat die mens te nietig is om enige ” skade” aan die aarde aan te rig. Feitlik elke ordentlike vulkanies uitbarsting pomp meer kweekhuis gasse in die atmosfeer in as wat die mens met sy masjienerie kan genereer. Dis nie net CO2 nie, maar al die ander gasse. Daar is 150 aktiewe vulkane regoor die aarde waarvan 32 op hierdie oomblik besig is met uitbarstings. Die groot probleem is nie dat ons die aarde gaan vernietig nie; die mens is bang die aarde gaan ons vernietig. Ons moet begin werk aan planne om in ‘n ” mens onvriendelike” omgewing aan te pas. Ons gaan nie die aardverwarming kan omkeer nie.

Herman ·

Pendoring, die vulkaniese uitbarsting-teorie is ongelukkig wensdenkery. Daar is geen goeie wetenskap wat dit staaf nie. Volgens ons beste skattings dra vulkane so 1% by. Die res is mensgemaak.

Pendoring ·

Herman, dis net waar vir CO2, nie vir die res van die gasse en stof wat saam uitgepomp word nie.

Riana Mostert ·

Interessante inligting uit ‘n Landbouweekblad van 2004 oor sg kweekhuis effek:
Weerkundige sg. Alexander word aangehaal dat oor die afgelope 100 jaar dat die sg. kweekhuis effek geen invloed op Suid Afrikaanse reënval patrone gehad het nie. Na 21 jaar word ‘n langdurige droogte gewoonlik gebreek deur ‘n vloed, waarna reënval geleidelik afneem vir tussen 9 en 11 jaar. Daarna vind ‘n ‘middeltermyn ‘ plaas , waarna ‘n tweede droogte met ‘n groter omvang as die een net voor die middeltermyn heers. Die droogte word na 21 jaar deur baie nat seisoen gevolg en so herhaal die patroon homself. Vlg Alexander wys rekords vir die Vaalrivier die afgelope 100 jaar( onthou geskryf in 2004) vyf gevalle waar groot droogtes deur groot vloede gebreek is : 1912 , toe 21 jaar later in 1933, 21 jaar later in 1954, 20 jaar later in 1974 en 21 jaar later in 1995. Sy voorspelling in daardie artikel is dat die groot droogte weer in ‘ 2016’ gebreek gaan word. Vlg. hom het die weerpatrone te doen met die hoeveelheid en grootte van sigbare sonvlekke wat daagliks verander. Sterrekundiges is vlg. hom reeds bewus van 11 jaar siklusse van hierdie sonvlek veranderings. Ek haal artikel aan: ” Alexander sê dié feit stel hom in staat om te voorspel dat Suid Afrikaners hulle moet staal vir minstens twee droë jare voor die vlg middeltermyn-vloed in 2006. Daarna behoort ‘n tweede droogte te volg wat groter en meer intens as die huidige is en wat eers in 2016 gebreek gaan word, 21 jaar na die laaste groot vloede in 1995.”
Miskien is Trump meer ingelig as wat mense wil weet…

katryn ·

…glo jy alles wat in die Landbouweekblad staan? Net omdat dit daar staan, maak dit nie waar nie.

Herman ·

‘n 2004 artikel uit die LW is skaars wetenskap. Die wetenskap het al baie vêr aanbeweeg, veral op hierdie punt. Natuurlik is daar siklusse – ons noem dit El Nino. Die aarde se klimaat is soos ‘n stuk musiek met harder en sagter dele. Wat ons deur klimaatsverandering doen, is om die volume op te draai. Dis hoekom die onlangse droogte, wat heeltemal verwags was, soveel erger was as vorige droogtes.

Griet ·

Ek is totaal ‘n leek, maar ek glo: moenie mors nie, herwin, spaar – alles. Ek glo dat die gasse en rook ‘n negatiewe effek op die aarde het. Ek glo dat die uitroei van reënwoude ‘n negatiewe effek op aarde het. Ek is telleurgesteld in julle wat sê die gemors maak nie saak nie en is nie die rede vir die klimaatsveranderinge nie. Ek hoef nie ‘n kundige te wees om te weet dat slegte goed soos besoedeling sleg is vir my gesondheid en sleg is vir die aarde nie. Liewe aarde, kom by, hou op mors en begin herwin en spaar – alles!

Logies ·

Griet, dis alles waar wat jy sê. Ons mors te veel, die woude se vernietiging is nie goed nie en ons moet bespaar. Dink mooi daaroor, die mens is te klein en nietig om die aarde te breek. Probeer om Google Earth ‘n mens op die aarde raak te sien. Dis nogal moeilk. Al wil ons kan ons nie die aarde ” stukkend” maak nie. Pendoring is reg, die aarde gaan die mens ” stukkend” maak. Gaan doen jou navorsing en jy sal vind dat op elke liewe plek waar die mens aan die aarde gepeuter en gepla het, het die natuur teruggekeer en in baie gevalle omtrent alle bewyse dat die mens daar was uitgewis. Ons is ‘n BAIE groter gevaar vir onsself as wat ons vir die aarde is.

Riana Mostert ·

Klink my Herman en Katryn is wetenskaplike kenners met statistieke wat die teendeel kan bewys tov die Landbouweekblad artikel wat ek aangehaal het. Sal graag van julle dan die volledige prentjie wetenskaplik wil hoor met julle eie statistieke soos wat Alexander die Vaalrivier se vlakke , gebruik het in sy mening.

Theuns ·

Elke dag op die ruimteskip met die naam “Aarde” is ‘n belewenis en staan ek in verruking oor God se skeppings vermoe. Hy het die skip aan ons geskenk en is / was 100% volhoubaar. Die skip vervaardig sy eie Suurstof en gebruik ook sy eie CO2, vervaardig reen en kos, het verskillende seisoene (winter, lente,somer en herfs),daar is lig in die nag en lig vir die dag, oseane wat gemaak is om die extra hitte/CO2 te absorbeer en die weer te beinvloed, daar is ‘n oorvloed steenkool neerslae en ander elemente/chemikalie vir die mens se gebruik!God het ook die sterre en planete gemaak met ‘n heelal wat onbeskryflik groot is. God se liefde is so onbeskryflik dat hy die ruimteskip aan ons geskenk het om die mens te verheerlik en nie te misbruik nie. Nadat hy die mens geskep het moes hy herhaaldelik ingryp om die oorsaak van vernietiging, die mens, self te venietig om sodoende die skade aan ons ruimteskip te verdiskonteer en nuut te maak. Weer is God se ingryping naby. Elke knie sal voor Hom buig!

Rupert Ashford ·

Jou laaste twee sinne Theuns… Hulle is die Groot Waarheid. Hierdie is eintlik waaroor dit gaan ten spyte van al die slim plannetjies wat gemaak word…shalom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.