Advertensies hou media aan die lewe

Johannes Froneman

Advertensies het Suid-Afrika se massamedia die afgelope 220 jaar bekostigbaar gemaak — dis nou uitgesonder die tydperk 1936 tot 1950 toe die SAUK net op lisensiegeld aangewese was en geen advertensies op die radio uitgesaai is nie.

Maar reeds in 1950 is Springbokradio begin om advertensieinkomste te genereer. En in die 1960s is streekmusiekstasies (soos Radio Hoëveld) begin om geld te maak. Die instelling van FM het juis heelwat gekos. In 1978 is advertensies op TV toegelaat om hierdie duur medium te befonds en in 1986 begin die Afrikaanse radiodiens (toe bekend as Radio Suid-Afrika) advertensies dra.

Koerante en tydskrifte het sedert 1800 deurgaans sterk gesteun op inkomste uit advertensies, hoewel die omslagprys natuurlik ook tot die uitgewer se inkomste bygedra het en sommige publikasies se intekenare hulle vir lank gedra het. Daar was inderdaad ʼn tyd dat koerante en tydskrifte per pos aan intekenare gelewer is.

So het die SAUK as staatsuitsaaier vir dekades sonder staatsgeld kop bo water hou en koerante en tydskrifte het oorleef (en selfs baie geld gemaak). Tog was daar altyd publikasies wat nie genoeg lesers en advertensies kon trek nie en daarom gesink het. Teen die 1990s het die SAUK ook ernstig begin sukkel.

Die digitale revolusie het enige bestaande finansiële probleme drasties vererger. Google en sosiale media slurp nou al verskeie jare advertensies op wat voorheen na koerante en tydskrifte gevloei het. Daarom moes verskeie tydskrifte en koerante die afgelope twee jaar sluit.

Daar is steeds ʼn goeie verskeidenheid tydskrifte om van te kies, maar dié wat die digitale revolusie én Covid oorleef het kom minder gereeld uit.

Hoewel aanlyn nuuswebwerwe in ʼn mate vergoed vir die verlies aan stewige gedrukte media, is daar algeheel minder joernaliste in diens en is talle ervare joernaliste verplig om ʼn ander heenkome te vind.

Die SAUK — nou SABC genoem — moet elke nou en dan geld by die regering bedel, maar besef daardie kraantjie word nou toegedraai en plaas die nasionale uitsaaier onder groot druk om sy boeke te laat klop.

Soos by drukmedia, is die impak van finansiële druk ook op radiogebruikers wesenlik. Dit het ons nou onlangs gesien toe RSG veranderinge aan sy programme aangekondig het in ʼn poging om meer (jonger) luisteraars te trek. Die hoop is uiteraard om inkomste uit advertensies te verhoog en winsgewendheid te verbeter.

Of RSG dit reg gehanteer het, is nie hier ter sprake nie. Ek fokus op die bedoeling en die ekonomiese kragte wat die media en sy inhoud sterk bepaal. Want uiteindelik oorleef media omdat hulle genoeg geld maak — of dit nou uit advertensies, lisensiegeld, subsidies of skenkings kom.

Die SABC kry maar sowat 15% van sy inkomste uit lisensiegeld. As model is dit ʼn mislukking, want te veel luisteraars/ kykers betaal nie hulle deel nie. So sê die SABC dat net 2,2 miljoen uit 10,3 miljoen lisensiehouers op hul databasis die afgelope jaar hul lisensies hernu het.

Toe die ou Afrikaanse en Engelse radiodienste, wat sedert 1936 vry was van advertensies, hibriede stasies gemaak is wat enersyds as openbare diensstasies moes funksioneer, maar andersyds geld maak juis om hul werk te kan doen, was luisteraars en uitsaaiers glad nie tevrede nie. Tog het hulle metterwyl daaraan gewoond geraak.

Gemeenskapsradiostasies is eweneens op advertensies aangewese, maar swak ekonomiese toestande, Covid en minder as beloofde ondersteuning van die regering se kommunikasiediens dra by tot hierdie sektor se gesukkel. Daar is uitsonderings, maar talle kleiner stasies is in die nood.

Advertensies sit dus aan die hart van die media wat ons gebruik. Daarsonder sal koerante en tydskrifte veel duurder gewees het en radiostasies moes sluit. Wel sal die hemelhoë subskripsiegeld DStv-kanale soos kykNET en Supersport op die lug kan hou, maar ook dié kanale dra advertensies om die hele projek winsgewender en dus volhoubaar te hou.

Vir sommige sal radio sonder advertensies ideaal wees — soos in die dae voor 1986. Of soos TV was in die jare 1976 tot 1978. Maar ons sou ook armer wees én drasties hoër lisensiegeld moes betaal.

Dit is daarom wenslik om advertensies nie as euwels te beskou nie, maar die nut daarvan te erken — dalk “noodsaaklike” euwels. Dit hou nie net die media bekostigbaar nie, maar stel ons as gebruikers bekend aan produkte en dienste wat ons lewens verbeter. Dit verbreed ons keuses.

Dit is ook ʼn manier om nie-kommersiële idees oor te dra. Dink maar aan reklame wat ons aanmoedig om maatskaplik verantwoordelik op te tree — al weet ʼn mens nie altyd hoe suksesvol dié advertensies is nie.

Dit is natuurlik nie nodig om ingesuig te raak in ʼn verbruikerskultuur waar advertensies ons gunstelingleesstof word nie. Mediagebruikers  moet  steeds hul aankoopbesluite rasioneel probeer benader en nie deur elke advertensie op sleeptou geneem word nie.

Dit is egter makliker gesê as gedoen. Advertensies se hele punt is om jou te oortuig — soms deur jou te vermaak, soms deur jou ligweg te irriteer. Maar ons is nie willose diere nie. Ook as dit by advertensies kom, het ons keuses. Gebruik advertensies dus as nuttige inligting en besluit met oorleg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Die beste advertensie vir ‘n besigheid is die tevredenheid van ‘n klient wat dit aan sy vriend oorvertel en die vriend ook by die besigheid koop. Moderne advertensies is meestal bog en die verbruiker baat min of geensins daarby. Ek het nog nooit die waarde gesien in ‘n “Verjaardag uitverkoping” of ‘n “Paasnaweek afslag”. Baie jare terug het ‘n Joodse Handelaar sy winkel op ‘n dorp toegemaak en ‘n uitverkoping gehou, hierdie was ‘n werklike uitverkoping teen goeie pryse.

Mallie ·

Ja en dan moet ons na die gemors op tv kyk. Het dit nie nodig nie, want ons brtaal ons lidensirs

Heinrich ·

Die probleem met advertensies is dat, toe dit geïmplementeer was, die belofte gemaak is dat, net soos met die inperking se 2-3 weke, daar slegs ‘n paar sal wees. Op televisie het, soos met die inperking, heeltemal buite beheer gespiraal, en programme word vir ten minste ‘n derde van hulle tyd gerek, my tyd word gemors deur advertensies van goed wat ek meestal in elk geval nie wil hê of kan bekostig nie. Stromingsdienste is baie goedkoper en beledig my nie deur my programme te onderbreek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.