Afrika se mees suidelike raadslid praat prontuit

Deur Pierre Massyn

Andries Eksteen is die nuutverkose raadslid vir Afrika se mees suidelike munisipale wyk – wyk 5 van die Kaap Agulhas Munisipaliteit. In ʼn eksklusiewe onderhoud praat hy hier openhartig met Pierre Massyn.

Andries Eksteen (Foto: Linkedin)

In Andries Eksteen se woordeskat bestaan daar nie iets soos tou opgooi nie. “Jy moet aanhou. Op jou lewenspad sal jy ʼn paar houe moet verduur, maar jy vat dit op die ken.”

Dr. Andries Eksteen is die nuutverkose DA-raadslid vir wyk 5 in Afrika se mees suidelike munisipaliteit. Die vier suidelikste dorpe op die Afrika-kontinent is sy verantwoordelikheid: L’Agulhas, Struisbaai, Suiderstrand en Struisbaai-Noord, onder die ouer garde as Molshoop bekend.

Andries Stephanus Eksteen is 67 jaar gelede op Vryheid in Natal gebore, waar hy ook die liefde van sy lewe, Ina, ontmoet het. “Ek het Ina in die kerk ontmoet, waar haar pa die pastoor was. Hy was die gerespekteerde kunstenaar Pieter Millard.”

Maar hoe het Andries Eksteen in die plaaslike politiek beland?

“Ek was vir langer as 30 jaar gemoeid met plaaslike bestuur op Krugersdorp. Maar ons het ook al sedert 1997 ʼn eiendom op die Suidpunt besit. Toe hier ʼn vakature ontstaan het (na die bedanking van die voormalige raadslid, Gerhard “Ollie” Olwage) het die DA-leierskap my genader om te hoor of ek myself beskikbaar sal stel in die pas afgehandelde tussenverkiesing. Ek was klaarblyklik in hulle visier!

“Ek het dit onmiddellik as ʼn geleentheid gesien om my jare-lange ervaring in die gemeenskap terug te ploeg. Dit gaan vir my oor diensbaarheid in die samelewing. My deur staan altyd oop en ek antwoord alle boodskappe en navrae – al is dit nie altyd dadelik nie, omdat ek dikwels vergaderings moet bywoon. Per slot van rekening het ons almal dieselfde basiese behoeftes, soos brood in jou huis, kos op jou bord, water en elektrisiteit, ensomeer.”

Maar Andries Eksteen dra twee hoedens.

As hy nie dag en nag inwoners se probleme, wat kan wissel van navrae op rekeninge tot verstopte dreine en lekkende waterpype, oplos nie, is hy aktief doenig met pastorale- en bedieningswerk. ʼn Doktorsgraad in teologie van die American University in Washington, DC – gestig in 1893 – bemagtig hom om steeds as eksterne eksaminator by NWU op te tree. Hy was ook vir sewe jaar lank medeprofessor in OT by die Global University se Suid-Afrikaanse kampus. Sy alma mater in die VSA staan onder die voogdyskap van die United Methodist Church. Hy is eintlik ʼn ambassadeur van die koningryk van God, vertel hy nederig.

“Ek verteenwoordig iets groters as blote politiek. Die werk van die Here is my eintlike passie. Ek was vir dekades gemoeid met sendingwerk, veral in Malawi, die voormalige Njassaland waar jou oupa die sendingstasie op Mlanda gevestig het. Dis hoekom ek sê jy moet aanhou. As dit nie vir baanbrekers en uithouers (soos jou oupa) was nie, was die Christendom stellig nie so goed gevestig in daardie land as wat hy tans staan nie.”

Ja, hy ken van werk en aanhou en vasbyt, vertel hierdie pa van twee seuns en ʼn dogter.

“Jy sien dalk nie onmiddellik die resultate van al jou pogings en die ure, dae, weke, maande en selfs jare wat jy in ʼn projek insit nie, maar as jy deurbyt, pluk jy uiteindelik die vrugte.”

Die Latynse leuse op sy profiel is Verbum Sit Dei Veritas – die Woord van God is Waarheid. Andries Eksteen vertel aangrypend hoe die saad eers moet sterf voordat dit kan ontkiem en ʼn vrug kan voortbring; hy praat amper hartstogtelik oor die beloning wat vir hom wag op die hiernamaals.

“Ek sien reikhalsend uit daarna dat die Vader eendag vir my sal sê, mooi so goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, maar oor veel sal ek jou aanstel.”

En die buitengewone omstandighede waarin hy die raadslid vir wyk 5 geword het? “Ek sal na die beste van my vermoëns die vakuum vul wat Ollie gelaat het. Ek fokus net op my werk. Ek dien op die burgemeesterskomitee (onder voorsitterskap van Paul Swart, saam met Karin Donald en Ronald Ross). My portefeulje is infrastruktuur en ek werk ten nouste saam met Hendrik Krohne (direkteur).

Oor die omstrede Nexus-verslag waarin daar beweerde ongerymdhede teen die burgemeester, Paul Swart ondersoek is, sê hy die volgende: “Ek het deur daardie verslag gewerk en kon persoonlik geen konkrete bewyse van bewese ongerymdhede vind nie. Dit beïnvloed hoegenaamd nie my funksie as raadslid nie. Ek en Paul het ʼn uitstekende verhouding.”

Dit bekommer alle Suidpunters dat ons streek nie beter bemark word nie. Wat is Eksteen se kommentaar hierop? “Dit is nie my portefeulje nie, maar ek sal my insette gee. Ek weet dit is vir die burgemeester van die uiterste belang soos hy aangedui het in die eerste onderhoud wat jy met hom gevoer het.”

Maar is daar nie ʼn klemverskil wanneer jy ʼn politieke ideologie met ʼn godsdienstige dogma probeer versoen nie? “Nee”, antwoord hy met oortuiging nadat hy die vraag momenteel aan sy bogemiddelde intellek onderwerp. “Hierdie twee konsepte hoef nie noodwendig in konflik met mekaar te verkeer nie; inteendeel kan hulle mekaar aanvul. Ek probeer juis my godsdienstige oortuigings positief toepas in my politieke rol.”

Ons raadslid se tydjie wat hy vir hierdie rare onderhoud kon afstaan is verstreke. Maar voor hy groet, onderneem hierdie toegewyde en begaafde Renaissance-denker ten slotte om uit te reik na sleutelfigure en rolspelers in die plaaslike gemeenskap.

“Ek weet ons het hier inwoners soos ingenieurs, vlootkapteins, skrywers, minstens een voormalige kabinetsminister, asook ʼn hooggeplaaste oud-polisie-offisier, en ek sal werk daarvan maak om hulle kennis te tap.”

  • Pierre Massyn is ʼn plaaslike skrywer en joernalis.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Witbaard ·

Is dit nie eerder Raymond Ross, eerder as Ronald Ross nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.