Afrikaans is beslis nie gesteel nie

afrikaans

Argieffoto.

’n Artikel in verlede Sondag se Rapport oor die Afrikaans wat steeds deur afstammelinge van Afrikaners in Argentinië gepraat word, het my nogal regop laat sit.

’n Mens hoor dikwels die stelling – soms eerder as aanklag bedoel – dat Afrikaans deur die voorouers van die bruin mense, die Khoi-San en die slawe, geskep is en nie deur die wit koloniste nie.

Sover my kennis strek, is dié narratief oorspronklik afkomstig van die bruin taalkundige wyle Achmat Davids. Die subteks wat ’n mens by Davids en sy opvolgers kry – soms implisiet en dikwels ook eksplisiet – is dat die Afrikaners Afrikaans by die bruines gesteel het.

Vroeg in die 20ste eeu, so is hul stelling, het die Afrikaners die taal doelbewus as voertuig vir die ontluikende Afrikanernasionalisme aangewend. Meer nog, hulle het Afrikaans toe van sy Afrikawortels gaan vervreem deur dit te vereuropees en te vernederlands.

Dié narratief bevat nét genoeg waarheid om dit geloofwaardig te laat klink. Daar is geen twyfel dat Afrikaners bruin mense se rol in die skepping van die taal óf ontken óf onderspeel het nie.

Dis ook waar dat Afrikanerleiers soos pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog ná die Anglo-Boereoorlog gesóék het na ’n instrument om die Afrikaners se selfrespek te laat herleef. Dit was nodig, want hulle was hul politieke vryheid kwyt, ekonomies platgeslaan en het onder ’n monumentale minagting van hul Engelssprekende landgenote gebuk gegaan.

As jy die Engelse se uitsprake van dié tyd oor die toe nog onontwikkelde Afrikaans lees, krimp jy ineen van die snydende skerpte van hul neersien op die taal en sy sprekers. In sy biografie van Langenhoven voer John Kannemeyer juis dít as rede aan waarom Langenhoven van Afrikaans as ’n “witmanstaal” gepraat het.

Agterna beskou, was dit sowel feitelik as polities verkeerd, maar in die konteks van die historiese omstandighede wel begryplik.

Dit is ook waar dat die mense wat ’n eeu en langer gelede aan Afrikaans gebou het, doelbewus by Nederlands gaan aanklop het. Jy kan hulle nie kwalik neem nie; dit was die logiese plek om hulp te kry.

Bowendien het geslagte Afrikanerintellektuele – sakelui, onderwysers, predikante, noem maar op – ’n ongelooflike vindingrykheid en deursettingsvermoë aan die dag gelê deur nuwe woorde en begrippe te skep. Jaap Steyn vertel die verhaal uitgebreid in sy boek Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare.

Daarmee het Afrikaans een van slegs vier tale geword wat in die 20ste eeu van kombuistaal tot volwaardige intellektuele taal ontwikkel het. Die ander is Hindi, Maleis en Hebreeus.

Maar daarmee is die aanklag van Davids en ander teen die Afrikaners nog nie beantwoord nie – en dis hier waar die artikel oor Afrikaans in Argentinië inkom.

In die artikel word prof. Andries Coetzee, van die Universiteit van Michigan se Departement van Linguistiek, aangehaal:

“Een van die dinge wat my die meeste verras het, is hoe soortgelyk die Patagoniese Afrikaans aan Afrikaans is soos dit vandag in Suid-Afrika gepraat word. ’n Taal is veronderstel om baie te verander oor 120 jaar. Dat Patagoniese Afrikaans so soortgelyk aan vandag se Afrikaans is, dui aan, dink ek, dat Afrikaans as taal teen die begin van die 20ste eeu reeds redelik gevestig was.”

Hy wys daarop dat dié gemeenskap Suid-Afrika verlaat het voordat Afrikaans in 1925 amptelike status gekry het.

“Hul Afrikaans is dus nie beïnvloed deur die standaardisering wat gekom het ná 1925 in Suid-Afrika nie.”

Dít is ’n antwoord op diegene wat beweer dat die Afrikaners hul taal ná die Anglo-Boereoorlog by die bruines “gesteel” en van sy Afrika-wortels gestroop het.

Maar daar is meer. Jare gelede lees ek van ’n voorval in 1772, toe die weduwee Hanna Wagenaar ’n buite-egtelike baba gekry het van Johann Hermann Casper Scholtz (ja, die Scholtze was maar altyd ’n klomp stoute blikskottels!).

In die ondersoek na dié skandaal het ’n onbekende persoon Hanna se verweer op die vraag of Scholtz die vader van haar kind is letterlik opgeteken: “het Hulle dan overal geloop waar ons geloop het hoe weet hulle dat of het hulle De Nues daar beij gehad”.

Die spelling is soms anders as vandag se Afrikaans, en ook is daar geen leestekens nie. Maar dis pront Afrikaans net soos ons hom vandag praat.

Met die korrekte spelling en leestekens sou dit wees:

“Het hulle dan oral geloop waar ons geloop het? Hoe weet hulle dit? Of het hulle die neus daarby gehad?” (Oftewel, het hulle gesién wat gebeur het?)

Onthou, dis 1772, net 120 jaar nadat Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, en Afrikaans is al feitlik klaar gevorm. En dit uit die mond van ’n wit vrou!

In sy boek So kry ons Afrikaans teken wyle Christo van Rensburg “die eerste Afrikaanse teks” uit die mond van Khoisan-mense uit 1673 op:

“Dat is doet: Was mak-om? Duytsman altyt kall-om: icke Hottentots doot mak-om: Mashy doot, icke strack nae ons groote Kapiteyn toe, die man my soon witte Boeba ge-me.”

Ek weet ek is geen taalgeleerde nie; slegs ’n eenvoudige historikus. Maar waaragtig: Dít is geen Afrikaans nie, selfs nie vroeë Afrikaans nie. Van Rensburg sleep die Khoisan-brabbelnederlands by die hare by om dit tot Afrikaans te verklaar.

Hy wys ook op ’n lys van 221 Khoi-woorde en frases wat die Fransman De Flacourt al in 1626 opgestel het, waarin woorde voorkom soos kers, kis, knoop, tou, koring, môre, reën, ensovoorts, wat ook in moderne Afrikaans voorkom. Wat Van Rensburg nié vermeld nie, is dat ál daardie woorde in destydse (en selfs hedendaagse) Nederlandse dialekte voorkom.

Natúúrlik is Afrikaans mede in die monde van slawe en Khoi-San gevorm. Niémand wat iéts weet, ontken dat Afrikaans se woordeskat en sintaks wortels in Maleis en Khoisan-tale het nie.

Maar laat ons sake nie oordryf nie. Afrikaans is gevorm deur álmal wat hom in die VOC-tyd aan die Kaap gepraat het, slawe, Khoi-San én wit koloniste.

Oordrewe politieke korrektheid lei ons nie nader aan die waarheid nie. Inteendeel.

Bly nou maar nugter en by die feite. Of, soos die pragtige Nederlandse gesegde dit stel: “Doe maar gewoon, dan ben je al gek genoeg!”

Ek hoop alle lesers het ’n geseënde Pase gehad.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephan de S

Dankie vir die deurgee vd feite. Vele mense het vandag geen historiese perspektief op sake nie en glo blindelings alles wat deur sg. kenners opgedis word. Êrens het ek n artikel gelees wat feit vir feit die onwaarheid aangaande die oorsprong vd taal weerlê het.

Katie

Baie interessant, en uitmuntend geskryf.

Charles

Baie dankie vir jou skrywe Leopold. Baie, baie dankie dat jy die kwessie aanraak- die onderwerp en die powere rewisionisties-polities korrekte hantering daarvan pla my al geruime tyd sedert ek dit op die web raakgesien het.

EK HOOP VAN HARTE AL DIE “HISTORIESE REWISIONISTE” LEES DIT -MAAR BELANGRIKER NOG -NEEM DIT TER HARTE EN KRY OOK VREDE IN HUL HARTE.

Dis MY TAAL- dis almal se taal wat dit liefhet en dit verder wil ontwikkel as WONDERWERK en MODERNE REUS!

Al wat ek kan se is: Afrikaans Leef!!! (magtig, kyk hoe groei die Afrikaanse Wikipedia bv!)

Andreas

“Spot on” Leopold.

Adriaan Louw

Daar is baie wanvoorstellings en persepsies oor Afrikaans. Om die ontstaan van Afrikaans te verstaan moet daar na die hoofstuk DIE EKSPANSIE VAN AFRIKAANS deur wyle Prof S. A. Louw in die KULTUUR GESKIEDENIS VAN DIE AFRIKANER Deel II gekyk word. Volgens sy uiteensetting is dit duidelik dat Afrikaans as taal reeds voor om en by 1720 onwikkel en gevestig was. Waarom maak hy die stelling: Na 1720 het die Afrikaanssprekendes so vêr uitmekaar getrek na die Ooste en die Weste dat die beïnvloeding tussen mekaar om ‘n uniforme taal te vorming nie meer moontlik sou wees nie. Let veral… Lees meer »