Afrikaanse onnies ís skool

Argieffoto (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Oor die gewraakte Bela-wetgewing is al heelwat geskryf en gepraat, en die stryd is lank nog nie verby nie. Daar is egter nog min gesê oor wat die vernietigende invloed daarvan op die Afrikaanse onderwyser kan wees.

Bela is ʼn swaard wat bo elke Afrikaanse onderwyser se kop hang en daarom moet Bela ter wille van ons onderwysers beveg word. As ons ons skole wil beskerm, moet ons onderwysers beskerm word. Afrikaanse onderwysers moet soos een teen Bela opstaan, ter wille van hulself, maar des te meer, ter wille van Afrikaanse onderwys.

As ons niks doen omtrent Bela nie kan tienduisende poste van Afrikaanse onderwysers daarmee heen wees. Die gevolge vir Afrikaanse kinders is ondenkbaar.

In die Afrikaanse skoolwêreld is die onderwysers altyd sentraal. Skool is nie die gebou, kurrikulum of die stelsels nie. Dit is primêr die onderwysers. Alles is daar om die oordrag van kennis tussen die onderwyser en die kind te bewerkstellig. Ná die Anglo-Boereoorlog is ʼn skooltjie vir oorlogswesies in die kelder van die NG Klipkerk in Heidelberg begin. Juffrou Katie en juffrou Anna was die skool. Hulle het kennis oorgedra, was versorgers, mentors en opvoeders. Die keldertjie was bloot die plek, die onderwyseresse was die skool.

Die sosioloog Lawrence Schlemmer het gesê die herrysing van Afrikaners ná die vernietigende depressie van die 1930’s was te danke aan roepingsgedrewe onderwysers. Vandag is Afrikaanse skole steeds van die beste presterende skole in die land en as die skole saamgegroepeer word en met lande vergelyk word, sou hulle onder die toplande ter wêreld presteer het. Die Afrikaanse onderwyser is die hart van hierdie sukses.

As ʼn wet of enigiets anders ʼn skool bedreig, word die onderwysers primêr aangeval, want ʼn skool is sy onderwysers. Die huidige bewoording van Bela bepaal dat ʼn regeringsamptenaar die finale sê sal hê oor toegang tot die skool en die skool se taal. Die staat wil dus finaal besluit hoe ʼn skool moet lyk, watter taal die skool moet praat, maar veral ook wat die skool sy leerders moet leer. Die samestelling van die skool moet verander. Skool is egter onderwysers en die finale samestelling van die skool gaan eers verander as die onderwysers verander. Die skool kan nie verander en die onderwysers bly dieselfde nie. Die verandering van taal en toegang tot ʼn Afrikaanse skool gaan direkte gevolge vir die Afrikaanse onderwyser inhou. Anders gestel, Afrikaanse onderwysers staan tussen die staat se ideologie en die kind. Hulle is lastig vir die staat.

Tydens openbare verhore oor die Bela-wetsontwerp. (Foto: Andrus Strauss)

Die staat wil die skool besit. Bela wil van ons openbare skole staatskole maak. Dit beteken dat onderwysers staatsamptenare in die volle sin van die woord moet word. Dít is Afrikaanse onderwysers nié. Hulle is opvoeders, het ʼn spesifieke kultuur, gee onderrig op ʼn spesifieke manier en dra spesifieke dinge oor. Net die naïewes sal glo dat Afrikaanse onderwysers sal bly as die totale skoolbedeling verander. Net die naïewes sal dink die skool sal dieselfde bly; net die taal gaan verander. Verandering van taal en toegang tot ʼn skool is ʼn verandering van kultuur. As ons ons skole wil beskerm, moet ons by die onderwysers begin. Ons as die groter skoolgemeenskap moet bankvas agter die skole, en dus ons onderwysers, staan.

Bela gaan oor ʼn groter stryd, die stryd om idees – staatsentralisering teenoor gemeenskapverantwoordelikheid. Dit gaan oor die totale verandering van ʼn onderwysbedeling – weg van ʼn gemeenskap na die staat. Die verandering van openbare skool na staatskool hou ook ander gevolge in. Openbare skole was ʼn openbare saak. Anders gestel, dit was die saak van die gemeenskap. Die gemeenskap het verantwoordelikheid vir die skool geneem. Afrikaanse ouers het dit met uitnemendheid gedoen. Ouers het geld ingesamel, pannekoeke by skoolbyeenkomste vir geldinsameling verkoop, aangemeld om as beamptes by sportgeleenthede op te tree. Hulle was betrokke, want hulle weet dit is hulle plig en hulle skool.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit/x)

Die regering se betrokkenheid is maar klein. Die provinsie se bydrae tot die gemiddelde enkelmedium- Afrikaanse skool in Gauteng se bedryfsbegroting, salarisse uitgesluit, is slegs tussen 5% en 10%, met enkele skole waar dié bydrae selfs minder as 5% van die begroting uitmaak. Die standaard by Afrikaanse skole is dat tussen 45% en 75% van die onderwysers deur beheerliggame aangestel word.

ʼn Skuif weg van die gemeenskap na die staat toe kan vernietigende gevolge vir die befondsing van skole inhou. As die skool die saak van die staat word, bedreig dit die tienduisende beheerliggaamposte weens ʼn departement wat nie ʼn begroting het om vir die verlies aan ouerbefondsing in te staan nie. Die prys wat die onderwyser, en dus die skool, hiervoor gaan betaal, is onberekenbaar.

Daar word te min gepraat oor die uitwerking van Bela op onderwysers en dit terwyl onderwysers skool ís. Bela gaan die hart van die Afrikaanse skool, naamlik die Afrikaanse onderwyser, uit die stelsel ruk. Ter wille van ons skole, ter wille van ons kinders moet ons die Afrikaanse onderwyser, Bela of nie Bela nie, met alles wat ons het beskerm.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

Dis my oortuiging dat Afrikaanse onderwysers en skole dié beste in die hele wye wêreld is.
Van die opvoeding en onderwys in die klasse tot op die sportvelde, tot by kuns en kultuur en anderkant uit.
Finish en klaar.

skurweberg ·

Beskerming van ons onderwysers is ‘n goeie ding, maar om hulle te bemagtig deur opleiding wat ‘n sterk element van weerbaarmaking bevat, behoort die primêre doelwit te wees.

Anel ·

Beskerm ons Afrikaanse skole en ons beskerm ons onderwysers. Kyk maar wasr die skole verengels. Die kultuur verander en dan vertrek ons onderwysers ook, want disipline gaan ook by die deur uit. Kyk hoe word ons onderwysers mishandel en as rasiste uit gekryt? En ons Afrikaanse skole is van die bestes in die werêld. En ons Arikaanse kinders is gesogte werkers oorsee. So, ja, beskerm ons Afrikaanse onderwysers en skole!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

In beginsel stem ek saam. Maar die verskil tussen 2024 en 1924 is dat Afrikaners nie meer politieke mag het nie. Swart mense begin stelselmatig in “wit” Afrikaanse woonbuurte intrek. Daar is geen bymotiewe nie. Hulle koop bloot ‘n huis om in te woon. Hulle stuur hul kinders na die naaste skool. Indien dit ‘n Afrikaanse skool is moet die departement plan maak. Tot drie dekades gelede het wit Engelse ouers net gekoop waar daar Engels medium skole is. Dieselfde met Afrikaner ouers wat liewer Engelse buurte vermy het. Afrikaans medium skole in sekere woonbuurte het al 25 jaar gelede tot ‘n einde gekom. Solidariteit het gelate toegekyk. Noudat die upper middelklas in gedrang is spring hulle wakker. Ietwat te laat daarvoor. Indiër en bruin skole is ook onder druk om hul skole te beskerm. Die gemeenskapslewe verander vinnig. Dink uit die boks. Wat van gedeeltelike privatisering van skole?

skurweberg ·

Onderwysers moet voorberei word om ‘n ongesonde Pedagogiese verwydering tussen ouers en kinders en onderwysers en kinders te bestuur. Dit kan alleen suksesvol gedoen word deur opleiding, wat ‘n Multi-dissiplinêre benadering insluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.