Agter die skerms tydens Solidariteit se besoek aan die VN

V.l.n.r. Renate Barnard, Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) en Johan Kruger (adjunkhoofsekretaris van Solidariteit) tydens die VN-perskonferensie op 28 Oktober 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

V.l.n.r. Renate Barnard, Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) en Johan Kruger (adjunkhoofsekretaris van Solidariteit) tydens die VN-perskonferensie op 28 Oktober 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Ons is verstom. Renate Barnard het haar saak in die konstitusionele hof verloor. Dít het ons nie verwag nie. Kan sulke growwe rassediskriminasie toegelaat word? Ons stap van die hof na die lokaal waar die mediakonferensie gaan plaasvind. Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, fluister vir my: “Die geskiedenis gaan hierdie uitspraak verkeerd bewys.”

Die enigste manier hoe ons kon seker maak dat die geskiedenis die uitspraak verkeerd gaan bewys, was om die geskiedenis te skryf. Ons kon dus nie die saak daar laat nie. Só het die idee beslag gekry om ’n klag teen die Suid-Afrikaanse regering oor sy rassekwotas by die Verenigde Nasies (VN) te gaan lê.

Die roete wat ons gekies het, het die vorm van ’n skaduverslag aangeneem. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die konvensie vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie. Die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie, of algemeen bekend as die CERD, moet toesien dat die konvensie uitgevoer word. As ondertekenaar van die konvensie moet die Suid-Afrikaanse regering dit ook onderskryf en onderneem dat dit in sy wetgewing neerslag vind.

Lidlande moet elke twee jaar verslag doen aan die CERD. Burgerlike organisasies kan dan deur middel van ’n skaduverslag gebreke in die regering se verslag aantoon. Ons begin toe navraag doen oor die Suid-Afrikaanse regering se verslag en vind uit dat die regering reeds agt jaar laat was met die indiening van sy verslag. Ons eerste stap was dus om die regering te vermaan om die verslag in te dien en daarna het ons ’n prosedurele klag by die CERD gelê oor die nienakoming van prosedures. Die uitkoms was dat die regering toe wel sy verslag ingedien het.

Ons kon daarna met die hulp van ’n uitstekende regspan ’n klag, in die vorm van ’n skaduverslag, teen die Suid-Afrikaanse regering oor sy beleid van rassekwotas indien. Hoe verder ons op die saak ingegaan het, hoe meer het ons agtergekom dat die regering se rassebeleid nie ooreenkomstig internasionale vereistes is nie.

In September 2015 is ons Genève toe om ons verslag oor Suid-Afrika se beleid oor rassekwotas in te dien. Ons het verskeie VN-amptenare ontmoet. Een ontmoeting was met ’n senior amptenaar van die VN se menseregtekommissie. Sy is ’n swart vrou van Kanada. Ek het ons betoog begin deur te sê dat ek besef wit Suid-Afrikaners is ’n gediskrediteerde minderheid. Sy het my onmiddellik stilgemaak en gesê ons moet meer selfvertoue kry. Ons moet onsself nie laat bind deur die geskiedenis nie. By die VN word gekyk na vergrype en die verlede kan nooit as regverdiging daarvoor dien nie.

Ná ’n lang wagtydperk wat gevolg het op die indiening van ons verslag, het ons uiteindelik verneem dat die Suid-Afrikaanse regering se verslag, asook ons skaduverslag, op 9 en 10 Augustus 2016 aangehoor sou word. Intussen het Solidariteit en AfriForum ’n aanvullende verslag oor sportkwotas ook ingedien.

Ons was onseker oor wat die proses sou behels en oor die ontvangs wat ons te beurt sou val. Ons het almal verwag om die koue skouer te kry. Ons het steeds gedink die geskiedenis van Suid-Afrika tel teen ons.

Ek en Johan Kruger is ’n week vroeër Genève toe om seker te maak ons verstaan die proses. Brittanje en Griekeland se verslae is gedurende dié week aangehoor. Ons het ook toegang gehad tot die verslae van burgerlike organisasies van verskeie ander lande. Al die verslae het oor minderhede gehandel. Dít wat ons in Suid-Afrika meen abnormaal is, is normaal in die res van die wêreld.

Die res van ons afvaardiging het op 6 Augustus by ons aangesluit. Freddie Engelbrecht, wat as vaderfiguur opgetree het vir die bruin applikante in die DKD-saak, en Renate Barnard was deel van die span. Ons het geweet gesigte vertel beter stories as groot politieke argumente.

Maandag 7 Augustus, die groot dag, het aangebreek, die dag waarop ons ’n aanbieding aan ’n VN-komitee, bestaande uit verteenwoordigers van 18 lande, sou doen. Ons het ure bestee aan die aanbieding. Ons het seker gemaak dat dit reg genuanseer is en dat die CERD se spesifieke idioom in ag geneem word. Die gesonde balans tussen storie en feite is gehandhaaf. ’n Volledige skaduverslag was deel van ons pakkie. Die verslag is male sonder tal oorgeskryf – eers is dit deur ons regspan opgestel; daarna is openbare insette bekom en die verslag is daarvolgens bygewerk; toe is die insette van twee konferensies waaraan kenners deelgeneem het, bekom; en daarna het talle interne insette gevolg.

Die voorsitter van die komitee het in haar opening verduidelik watter belangrike rol die ANC in sy struggle-jare gespeel het om die konvensie aanvaar te kry. Dit was ironies dat Solidariteit nou die regering aankla oor ras ingevolge die konvensie wat die regerende party help skryf het teen rassediskriminasie.

Dit is ’n intimiderende omgewing. Jou aanbieding word in vyf tale vertaal.

Elke komiteelid is verantwoordelik vir een land en staan bekend as ’n rapporteur. Suid-Afrika se rapporteur is me. Fatimata-Binta Dah van Burkina Faso. Sy begin deur Solidariteit te komplimenteer met sy voorbereiding. Ons voel verlig; ons is die eerste hekkie oor.

Die komiteelede se vrae was sinvol en op die man af; party was krities, maar die toon was nie aanvallend nie. Het die regering met ons gekonsulteer oor sy verslag? Watter alternatiewe stel ons voor? Het ons hoop vir Suid-Afrika?

Ons kon al die vrae deeglik en goed beantwoord. Renate Barnard kom aan die beurt en gee ’n stem aan die gewone mens. Terwyl sy praat, kon ’n mens ’n speld hoor val. Ná dag een voel ons goed.

Dag twee het ons ’n private ontmoeting met lede van die komitee gehad. Dit verloop uitstekend. Hulle luister na alles en is verstom oor dit waaraan ons al gewoond geraak het as normaal. Freddie Engelbrecht en Renate Barnard se persoonlike stories maak ’n geweldige impak. Dit gee ’n gesig aan die statistieke.

“Leef die gees van Mandela nog?” vra een komiteelid. Hy het Mandela ontmoet en vertel hoe die stem van Mandela nog in sy ore weerklink. Ons kom agter die komiteelede verlang na die Suid-Afrika van Mandela en is bekommerd oor die Suid-Afrika van Zuma. “Suid-Afrika is ’n simbool van hoop – nie net vir Afrika nie, maar vir die wêreld. Die land moet werk,” sê nog ’n komiteelid en ek tel ’n sweem van desperaatheid op.

Dinsdag 8 Augustus breek aan en so kom die Suid-Afrikaanse regering toe aan die beurt om sy verslag aan te bied. Die adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, John Jeffery, doen die aanbieding. Hy verwys weer na apartheid; regverdig rassediskriminasie; voer aan daar is nie kwotas nie; lê klem op die regering se sukses wat met die bekamping van armoede behaal word en herhaal oudpresident Thabo Mbeki se teorie oor twee nasies – die een wit en ryk en die ander swart en arm. Hy dramatiseer alles. Dit het nie gewerk nie.

Die komitee het hom oor die kole gehaal omdat die regering se verslag so laat ingedien is en het inligting aangevra wat nie by die verslag ingesluit was nie. Toe begin die vrae en opmerkings oor Suid-Afrika se beleid van rassekwotas. Dit is te rigied; dit herinner aan ou-apartheid; regstellende aksie moet ’n datum hê waarteen dit afgeskaf gaan word; die beleid is nie belyn met die konvensie nie; en die opmerking is gemaak dat daar nie so iets soos goeie en slegte diskriminasie is nie. Die fokus moet eerder op behoefte en skole val. Nie ons of die regering het dié reaksie verwag nie.

Die sessie verdaag en die Suid-Afrikaanse regering moet op Woensdag 9 Augustus repliek lewer. Ons voel die spanning aan. Die twee spanne stap saam uit. “Julle praat mos nie die waarheid nie,” sê Freddie Engelbrecht. Die adjunkminister is aggressief. “Waar praat ek nie die waarheid nie? Kan Solidariteit nou sê waar ek nie die waarheid praat nie?” Hy is duidelik onder druk. Ons kom ooreen dat ons sy Pinocchio-oomblikke in ’n verslag sal aandui.

9 Augustus breek aan. Ons gesels met amptenare van die Suid-Afrikaanse regering. Hulle lyk bleek en vertel hulle moes deur die nag werk om al die inligting wat aangevra is, te kry. “Kry julle lekker omdat ons op die vingers geraps is?” vra die een. Ek kry dit reg om nie ’n gesigspier te trek nie, maar kry tog lekker.

Die minister begin sy repliek. Hy bestee baie tyd aan regstellende aksie. Hy voer selfs aan dat een van die redes waarom die regering so stadig vorder met transformasie toe te skryf is aan al die hofsake wat Solidariteit teen die staat aanhangig maak en gebrekkige vordering word ook gewyt aan hierdie klag wat voor die VN gebring is. Dit voel vir my soos nog ’n kompliment.

Die adjunkminister maak toe ’n fout en delf dieper in die historiese kapitaal van die ANC. Die geskiedenis van ’n bloedbloed wat deur wit kolonialisasie gelaat is, is histories slordig en oordrewe vertel. Boere wat te min betaal, is die rede vir vreemdelinghaat; die potloottoets is weer opgerakel; daar is verwys na die veiligheidspolisie wat by vensters inloer om die Ontugwet toe te pas; en diskriminasie teen bruin mense is geregverdig omdat hulle in die driekamerparlement verteenwoordig was en kon stem. Talle ander ou koeie is opgehaal.

Die komitee wou weet wat in die héde gebeur en het nie belanggestel in historiese regverdigings nie. Ons is besonder tevrede met die verloop van sake. Ons saak is deur ’n internasionale forum aangehoor en daar is na ons geluister. Die regering sal moet besef dat die land se glans as die wêreld se liefling verdof het. Die regering gaan al hoe meer gemeet word aan wie hulle is en wat hulle doen.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Ek wil net graag weet. Wat nou?
Ons het al gesien dat die regering maak nes hy wil.

Andrea

Baie dankie vir die inligting EN die harde werk. Ek wil egter graag weet wat die uiteinde van hierdie proses is. Kan die regering gedwing word om regstellende aksie en kwotas af te skaf?

Ada

Baie baie dankie vir al julle werk hiraan – ek is soooo trots op julle. Dit gaan 2 jaar neem om die verskil te begin sien.Eerder twee jaar as 2000 jaar.
Dankie weer-eens!

Anthonie Van Bosch

Rassediskriminasie kan nooit geregverdig word nie. Daar moet ‘n beter oplossing wees.

WA

Baie geluk en baie dankie vir alles wat julle vir ons almal doen.
Hou so aan en sterkte vorentoe.