Akkommodasie of assimilasie?

‘n Kamp van migrante vanuit Wes-Afrika en Afghanistan in Parys, Frankryk in Desember 2022 (Foto: Maxime Gruss / Hans Lucas/AFP)

Moslem-meisies in Franse staatskole mag in September, met hulle terugkeer na skool, nie meer hul abaja-vollengte rokke dra nie. Die skole heropen September na die somervakansie in Europa. Dié aankondiging is hierdie week deur Gabriel Attal, Franse minister van onderwys, gemaak.

Die besluit lok heftige reaksie uit in Moslem-geledere. Hulle sien dit as regstreeks op hulle gemik en as berekende diskriminasie teen Moslems. “Frankryk is nou in dieselfde klas as Afghanistan en Iran omdat Frankryk een van die min lande in die wêreld is wat aan Moslem-vroue voorskryf wat hulle mag dra,” het een beswaarde Moslem-ouer gesê.

Ek het Europa verskeie kere voor 1994 besoek. Ek onthou die arrogante en alwetende meerderwaardigheid waarmee die Europeërs, en veral die Franse en Nederlanders, my aangeval en maklike antwoorde vir Suid-Afrika se rasse- en ander probleme gehad het.

Onlangs was ek weer in Europa. Met hierdie besoek was die politieke gesprekke anders. Daar is ʼn gedemptheid oor Europa se probleme asook ʼn bekommernis oor hulle eie immigrasieprobleme. Die immigrasieprobleme het verlede maand tot die val van die Nederlandse premier Mark Rutte se koalisieregering gelei.

Talle enkellopend immigrant-mans kom deurlopend onwettig Nederland binne. Kort nadat hulle asiel of tydelik verblyf gekry het, probeer hulle hulle uitgebreide gesinne na Nederland bring. Rutte wou beperkinge hierop plaas terwyl sy linkse koalisievennote dit as “onmenslik” teenstaan.

Rutte was gewild as ʼn premier wat fietsry werk toe met twee lyfwagte wat saamry. Nou het 75% van Nederlanders in ʼn meningspeiling aangedui hulle verkies dat Rutte moet uittree. Die meeste van hulle steun strenger immigrasiebeheer.

Tydens ons besoek aan Amsterdam wys die gids die gragte, die netjiese smal vierverdieping donkerbruin huisies met tussenin enkele Middeleeuse kerke aan ons uit. Hy verduidelik dat meer mense in Nederland weekliks ʼn moskee as ʼn Christelike kerkdiens besoek. Nie omdat die Moslems so baie in getalle is nie, maar omdat die meerderheid Nederlanders hulleself as “nie-godsdienstig” beskryf. Enkele dekades gelede was meer as 80% van die Nederlanders nog Christene, verdeel tussen Protestante en Rooms-Katolieke.

In my Nederlandse politieke gesprekke gaan dit eers oor die Oekraïne-oorlog en ʼn vrees dat ʼn desperate Poetin Europa in ʼn kernoorlog kan dompel. Vinnig gaan die gesprek daarna oor na hulle onmiddellike probleem wat immigrasie blyk te wees. Ek sukkel om te verstaan hoe Moslems, wat maar 5% van die bevolking is, so ʼn groot probleem kan wees.

In Suid-Afrika werk ons met baie groter meerderhede en minderhede. Hulle antwoord heftig deur jou te vertel dat die 500ste moskee hierdie jaar in Nederland gebou word. Hulle is veral baie verontwaardig dat Moslemlande die finansiering verskaf vir die bou van nuwe moskees in Nederland.

Ek vra hoekom dit ʼn probleem is? Geen Nederlandse belasting- of ander geld word gebruik nie. Die verontwaardiging is omdat hierdie skenkings die assimilasie van die Moslembevolking in die Nederlandse samelewing vertraag en eintlik stop, verduidelik ʼn kenner.

Nou verstaan ek. Die Europese immigrasiemodel misluk. Die Europese model vir vreedsame naasbestaan was om die nuwe immigrante volledig Franse of Nederlanders te maak deur hulle te assimileer en so hulle kultuur in te sluk. Die probleem is dat dit in die praktyk nie gebeur nie soos ek in vorige gesprekke aan hulle voorspel het. Die feit dat immigrante, en veral Moslems, hulle kultuur en godsdiens en selfs kleredrag behou, frustreer die Europeërs. Dit is die situasie in die meeste Wes-Europese lande met miskien Pole en Hongarye uitgesluit. Orals in Europa is volledige woonbuurte met bykans eksklusief Marokkaanse of Turkse of Moslem burgers. Daar het hulle hulle eie moskees, eie winkels, eie gemeenskapsinstellings en selfs eie media.

Dit is duidelik dat die Europeërs nie weet hoe om twee of selfs drie volke en kulture in een land te hanteer nie. Deur die abaja-rokke in skole te verbied is ʼn desperate poging om Moslems so te probeer forseer om volledig sekulêre Franse te word. Dit gaan nie die probleem oplos nie.

Ek dink terug aan die meerderwaardigheid waarmee die Franse en veral die Nederlanders in die verlede geen begrip vir Suid-Afrika se veelvolkige samelewing getoon het nie. Hoe my argumente van hoe die verskillende tale, kulture en godsdienste bestuur kan word om ruimte vir elkeen en sy kultuur te skep, as rassisme en apartheid afgemaak is.

My advies was akkommodasie in plaas van assimilasie met internasionale voorbeelde van kulturele en territoriale selfbeskikking, federalisme, outonomie, ensovoorts. Uit my gesprekke met die bekommerde Europeërs sien ek hoe hulle in die toekoms nog by die Afrikaners gaan kom aanklop vir wenke oor hoe om in ʼn veelvolkige samelewing te oorleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karoo ·

Jou beurt is jou beurt…. Hier sukkel ons al generasies met baie erger dinge wat ons lewens bedryg. Ons voorsaate se tyd het nou ook aangebreek.

Hendrik ·

Te laat ontwaak. Verseker le die aanhef van hul probleme nog voor!!!

Petrus Albertus ·

Die Europeërs ly nogsteeds aan ‘n koloniale meerderwaardigheid waar hulle altyd glo hulle weet beter en nie ag slaan op die werklikheid van die die probleme in die veraf plekke wat hul eens beheer het nie. Nou ja, dan moet hulle maar nou vir hulle kry – “the Empire strikes back”.

Goldy ·

Uitstekende kommentaar. Ons is die hele wereld ver voor. Die verlinkses se oe gaan uiteindelik oop maar te laat ongelukkig. Hulle was toe nooit sulke intellektuele reuse soos eens voorgedoen nie.

Benjamin ·

Oo ek hou daarvan. In Afrikaans se ons “Slim vang sy baas” en nou sit Peter Hain en sy slim maters skielik sonder antwoorde. Toemaar Hain ek het vir jou goeie nuus, die ergste kom nog. Trek maar Orania toe dis skoon, veilig en vrolik.

annie ·

Wat presies is die VFPlus se rasse-standpunt deesdae? Dat Afrikaners, Moslems ea saam in die Kaap kan aard as die Afrikaners net bereid is om die minste te wees? Is dit hoekom die maantuig in die US ontwerp is? Vir ‘n sagte maanlanding?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.