Alle volke klap julle hande: Eenheid te midde van verskeidenheid

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Deur ds. Schalk Strauss

Die monotone deuntjie van ’n nierassige Suid-Afrika, is lankal nie meer boaan die treffersparade nie. Om die waarheid te sê, het hierdie eksperiment klaaglik misluk al weier liberaliste om dit te erken. Tog begin al hoe meer mense om deur die leë beloftes en niksseggende woorde te sien.

Een daarvan is die slagspreuk van Suid-Afrika: !ke e: /xarra //ke (Khoisan vir: Diverse mense verenig) wat in die huidige Suid-Afrikaanse klimaat lankal reeds ’n “klinkende simbaal” geword het. Aangevuur deur politici wat hul volgelinge aanmoedig om hul woede ook teen “wit uitlanders” te mik en die marginalisering van die Afrikaner deur sy simbole as haatspraak te brandmerk, voer rassespanning en polarisasie tans die botoon in Suid-Afrika. Die “diverse mense” van ons land was nog nooit so verdeeld soos nou nie.

Die liberale en humanistiese oproepe tot “versoening en nasionale kohesie” was inderdaad, soos talle gewaarsku het, doodgebore. In navolging van hierdie retoriek, sing baie mense in Suid-Afrika, selfs gelowiges en kerke, sedert die 1980’s nog dieselfde afgesaagde deuntjie waarin ’n horisontale versoening en eenheid bepleit word.

Dit het tyd geword vir ’n nuwe lied, ’n simfonie, waar ons aan die hand van die Skrif by die kerklike tradisie kers opsteek om ’n Godverheerlikende oplossing vir die kompleksiteite in ons samelewing te bied.

Wat die kerk betref, moet ons dit uitbasuin dat Bybelse eenheid en Belhar-eenheid nie dieselfde ding is nie, sonder om by die ander kant van die afgrond af te tuimel deur eenheid in die kerk bloot tot ’n geestelike, onsigbare eenheid (Gnostisisme) te verskraal.

In sy hoëpriesterlike gebed stel die Here Jesus die Drie-eenheid as vertrekpunt vir ons denke oor eenheid: Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het (Joh. 17:20-21).

Binne die Drie-eenheid is die Persone van die Drie-eenheid duidelik onderskeibaar. Terselfdertyd is daar egter ook ’n duidelike en wesenlike eenheid tussen die drie Persone, sodat ons na God as ’n enkelvoudige Wese kan verwys. Dit is dus nie die een of die ander nie, maar beide hierdie aspekte wat bely word (vergelyk die Geloofsbelydenis van Athanasius) en dus in die kerk na vore moet kom. Binne die kerk van die Here is daar dus tegelykertyd andersheid en eendersheid. Om die een ten koste van die ander te beklemtoon, sou ontrou aan die Woord en in stryd met ons gereformeerde tradisie wees.

Wanneer ons vanjaar die 400-jarige herdenking van die Sinode van Dordrecht (1618/19) vier, is dit opmerklik hoedat eenheid te midde van verskeidenheid tydens hierdie sinode voorop gestaan het.

Voor hierdie sinode, het die kerke in die Nederlande eenheid beleef op grond van hul gemeenskaplike belydenis van die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis. Toe die opkoms van die Arminianisme sekere grondwaarhede van die evangelie (soos die soewereiniteit en vrymag van Christus in die verlossing van die mens), verdraai het, is die eenheid binne die kerk versteur en bedreig.

Anders as baie hedendaagse kerke wat sigbare kerkeenheid tot ’n afgodsposisie verhef terwyl daar nie belydeniseenheid binne die kerk is nie, het ons gereformeerde vaders besef dat ware eenheid nie in strukture nie, maar in die gemeenskaplike belydenis van die waarheid te vinde is. Net soos wat daar nie verskillende “waarhede” in die Persone van die Drie-eenheid te vinde is nie, kan daar ook nie verskillende waarhede in die kerk wees nie. Met die oog hierop is ’n internasionale sinode byeengeroep met uitnodigings aan gereformeerdes oor die hele Europa heen. Die vergadering het gekonstitueer met afgevaardigdes vanuit Nederland, Brittanje, Palts, Hesse, Genève, Bremen, Nassau, Wetteravia en die vier gereformeerde republieke van Switserland. Hoewel die Franse kerke ook afgevaardigdes aangewys het, is hulle weens ’n handelsdispuut deur die Franse koning verhoed om die vergadering by te woon.

In sy artikel getiteld Unity in Diversity: The Ecumenical Spirit of the Great Synod, wys Russell Dykstra daarop dat die begeerte tot belydeniseenheid binne die gereformeerde kerke, nie iets nuuts was nie. Die Sinode van Emden het dit al in 1571 in artikel 2 van hul kerkorde verwoord:

Om die eensgesindheid in leer tussen die Nederlandse kerk te bewys, het die broeders dit goedgedink om die geloofsbelydenisse van die Nederlandse kerke te onderskryf en om dieselfde te doen met die belydenisse van die Franse kerke ten einde die band en eenheid met dieselfde Franse kerke te betuig. Dit word gedoen met die vertroue dat die dienaars in dieselfde Franse kerke ook die geloofsbelydenisse van die Nederlandse kerke sal onderskryf as ’n getuienis van onderlinge eendragtigheid.

Tydens Dordt is hierdie doel verwesenlik met die opstel en ondertekening van die Dordtse Leerreëls. Teen 1620 het die Franse nasionale sinode van gereformeerde kerke, as teken van hul eensgesindheid, ook die Dordtse Leerreëls onderteken. Hierdie eenheid in belydenis het nie noodwendig eenvormigheid beteken nie. Die onderskeie kerke het hul eiesoortige karakters behou, terwyl daar terselfdertyd eenheid was op grond van hul eensgesindheid met betrekking tot die belydenis.

Die Dordtse Kerkorde het ook die denke oor eenheid en verskeidenheid prakties verwoord. Die ruimte wat in artikels 50-52 van die Dordtse Kerkorde gelaat is vir partikuliere sinodes vir die Waalse en Nederlandse kerke, onderstreep die feit dat eenheid en eensgesindheid nie die ruimte vir verskeidenheid tot niet maak nie. Eenheid word bewerk deur ’n gemeenskaplike belydenis wat ook die orde in die kerk raak en nie noodwendig deur ʼn gedwonge of kunsmatige organisatoriese eenheid in die naam van politieke korrektheid nie.

Hierdie beginsel is egter nie net vir die kerk normatief nie, maar beslis ook rigtinggewend ten opsigte van ’n pluralistiese samelewing soos die van Suid-Afrika, aangesien dit rekening hou met God se openbaring in die Skrif en die geskape werklikheid. Om anderkant die horison te sien, is dit nodig dat ons op die skouers van die reuse in ons tradisie staan wanneer ons eietyds oor eenheid en verskeidenheid wil nadink. Met hierdie Bybelse uitgangspunt word die waarde van gemeenskapsvorming en selfregering erken, terwyl daar terselfdertyd gedeelde belange is (soos bv. veiligheid, regstelsel, infrastruktuur, die ekonomie, ens.) wat tot almal se voordeel bestuur behoort te word.

Ware ekumenisiteit sentreer rondom die waarheid van die Skrif en word sigbaar in die gemeenskaplike belydenis. Dit is die Geesvervulde gevolg wanneer gelowiges deur die band van die vrede saamgesnoer word (vergelyk Ef. 4:3).

Wanneer hierdie eensgesindheid te midde van verskeidenheid, ook deursuur na die samelewing, ontstaan ’n organiese samebinding wat baie sterker is as ’n kunsmatige of gedwonge integrasie. Dit is hierdie uitdrukking van eenheid te midde van erkende verskeidenheid wat ons vrymoedigheid sal gee om ook oor staatkundige sake van gemeenskaplike belang saam te stem, want elkeen kan binne sy eie taal en kultuur en volk die woorde van Gesang 338 uit volle bors sing:

Alle volke, klap jul hande – juig tot eer van God.
Verhef jul stem en roem sy Naam in elke stad op aarde!

  • Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

…. maar wanneer gesamentlike godsdienstige byeenkomste in SA gehou word daag almal van toordokters tot beeldedienaars op en dan sing almal dieselfde deuntjie sonder Christus as Middelaar en as die aardse regter die Bybel oorgeskryf wil hè dan vra dominee gou mamma se naaldwerkskèrtjie om sekere tekste uit te sny, Baie hogere woorde kenmerk nie ware diens aan die Vader nie, maar toon menslike mag… en bydraes vir daai nuwe nommertjie in die motorhandelaar se vertoonvenster. Dominees moet eers by hulself begin… by hul eie geveinste @EKnetEK.

Piet ·

Nee, hy is nie. Hy is op die regte spoor. Te veel mense het oogklappe aan.

Jerry ·

Hoekom is dit so moeilik om die denke rigting van die ANC/eff en liberale linkses te peil. Is dit agv naiewiteit, desperaatheid, n tekort aan insig, aan kennis van bevrydingsorganisasies ideologiee, swartmensekennis of wat is nou eintlik die probleem. Alles wat aangespreek word oor diversiteit, oor versoening, oor nasiebou geld net vir die rewolusioneres. Indien jy jouself bekeer het tot die bevrydingsteologie en ideologiee, eers dan sal jy deel wees van die idees agter linkse liberale versoening, diversiteit en nasiebou. Alle anti rewolusioneres, maar spesifiek anti rewolusionere witmense en die Afrikaner, word nie beskou as deel van diversiteit, versoening of nasiebou nie. Anti rewolusioneres word nie ingesluit nie, net soos wat die rewolusioneres gedurende apartheid nie ingesluit was nie, finish en klaar, dis hoe dit is en gaan wees! Kennis alleen is nie meer genoeg nie, insig en wysheid word benodig om te verstaan wat in SA aan die gebeur is. Wat goed is vir die rewolusioneres is sleg vir die anti rewolusioneres en visa versa. Huldeblyke en lofsange aan n rewolusionere held is presies die teenoorgestelde vir n anti rewolusioner. My goed, is jou sleg en jou goed is my sleg!

aj ·

So be it Jerry!

Laat die rewulusionêres hulle rewolusie voer as dit hulle gelukkig maak. Solank hulle daarvoor betaal!

Net nie op my koste nie!

Ek wil nie gepla wees met hulle ‘rip-van- winkel’ eeu -oue rewolusie speletjies nie.

“… all animals are equal … but some are more equal”

Wil iemand hul asb waarsku …. die groot HONGERSNOOD lê op loer!

Johannes ·

Dankie tog dat al hoe meer nugter stemme begin opklink. Daar bestaan nie iets soos `n reënboognasie nie en dit sal altyd misluk. Gemeenskapsvorming deur mense met dieselfde taal en kultuur is natuurlik en sal altyd bly gebeur. Wedersydse respek en die erkenning van elkeen se unieke kultuureie is wat ons nodig het. Liberaliste het die kerke en preekstoele beset en stelselmatig het hulle ons probeer wysmaak dat jou eie taal en kultuur in die pad van eenheid staan. Duidelik is hulle definisie van eenheid heel anders as die wat hierdie artikel voor vra. Dankie, ds. Strauss dit is goed om te weet nie alle leraars het hulle uit die liberale fonteintjie dronk gedrink nie.

Frans C ·

Dit is nie waar dat gemeenskapvorming net deur mense met dieselfde taal en kultuur gevorm word nie.So is daar is Nederland 4 hoof dialekte So word Fries bv as onderrigtaal gebruik.Tog is almal Nederlanders.

Die probleem in Suid Afrika is die teenwoordigheid van verskillende volke en kulture en tale wat gelyk gemaak is deur die ANC asof alle swart mense een homogene eenheid is.

As jy dus probeer om alles vir almal te wees is jy op ou einde niks vir almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.