Alternatief tot ʼn Babelse politieke gesprek?

Johannes Froneman

Is sinvolle politieke gesprekke nog moontlik? Is die internet nie tog die antwoord op die vraag na vrye politieke meningsuiting nie?

Met Elon Musk nou in beheer van Twitter, is dit vrae wat miljoene wêreldwye gebruikers van Twitter raak — ook in Suid-Afrika.

Die saak wat ons nou en in die toekoms toenemend kan raak, is die wyse waarop die openbare debat gevoer gaan word — as daar nog ʼn aptyt vir openbare politieke gesprekke is.

Politieke vergaderings is min of meer iets van die verlede — behalwe enkele groot saamtrekke. Koerante word veel minder as in die verlede gelees en bevat buitendien weinig politieke beriggewing soos van ouds. (Onthou jy die bladsye politieke berigte wat tydens parlementsittings in koerante verskyn het?)

Meningstukke word wel in koerante en op nuuswebwerwe geplaas, maar dit is meer dikwels uit die pen van politieke kommentators.

Waar vind die politieke gesprek tussen gewone kiesers plaas? Hier en daar is daar ʼn koerantbrief. En dan is daar die brokkies kommentaar wat onderaan berigte en artikels verskyn, maar wat selde as konstruktiewe kommentaar bestempel kan word.

Ek moet nou reguit erken hierdie waarnemings is grootliks beperk tot die wit Afrikaanse gemeenskap plus, maar net in ʼn mate, die bruin Afrikaanse kiesers. Wat in die townships, op die platteland, in swart middelklashuise en in die ou tuislande gebeur, het ek geen idee nie.

Wel sien ek die SAUK se politieke dekking op kanaal 403, dus die 24-uur-nuuskanaal, of NewzroomAfrika (kanaal 405). Daar vind soms goeie gesprekke plaas, maar dan meestal met swart politieke kommentators wat die regering lekker kan looi. Plus talle vervelige toesprake.

Maar is dit ʼn openbare debat? Is so iets nog moontlik, indien dit ooit regtig plaasgevind het? Is dit nie noodsaaklik vir die demokrasie nie? En hoe kan dit gebeur?

Baie vrae waarop ek kwalik hier beredeneerde antwoorde kan probeer gee. Daarom net ʼn paar kriptiese opmerkings en beslis geen “antwoorde” nie. Dan kan jy as leser verder daaraan herkou en dalk ʼn stukkie kommentaar onderaan skryf.

Ek dink ons moet maar net weer besef ons Suid-Afrikaanse samelewing is hopeloos te divers om te dink die politieke gesprek kan ooit selfs net min of meer landswyd op dieselfde wyse plaasvind.

Die idee van ʼn landswye politieke debat is dalk ʼn mite, ʼn storie. Dalk was dit in die wit gemeenskap nooit meer nie as ʼn morsige kombinasie van allerlei erg plaaslike gesprekke, rowwe vergaderings, propaganda, eensydige koerantveldtogte, plakkate en ʼn paar pamflette.

Sedert die 1990’s is politieke advertensies en boodskappe op radio ʼn poging om aan almal ʼn stem te gee. Gesprekke op radio en TV is ook meer inklusief, sodat verteenwoordigers van heelwat politieke partye darem gehoor word. Maar dit het ook sy beperkinge.

Wat die potensiële rol van die internet — in die besonder sosiale media — ter sake maak. Het dit die spreekwoordelike markplein laat herleef waar menings gewissel kon word?

Op die oog af het die internet vele moontlikhede gebied. Twitter (en allerlei nuwe weergawes) sou die antwoord wees, het sommige geglo. Dalk glo Elon Musk opnuut in die potensiaal van Twitter om ʼn oop gesprek te fasiliteer, maar dit laat onmiddellik die vraag ontstaan of daar dan geen reëls moet geld nie. En wie bepaal die reëls van die gesprek?

Die gebeure van die afgelope jare het egter gewys dit is bykans onmoontlik om saam te stem oor die reëls. Daar is net te min eenstemmigheid oor hoe ʼn beskaafde gesprek moet verloop. Daarby is die rol van foprekeninge erg negatief.

Meer nog: dit voel of daar dikwels geen feitebasis is waarop ʼn gesprek kan plaasvind nie. Hoe praat ʼn  mens as elkeen oor sy eie feite besluit? ʼn Rasionele gesprek moet tog op feite en logika berus.

Dalk was dit nog nooit die geval nie. Dalk is feite nog altyd skeefgetrek en na goeddunke aangewend.

Die gevaar is onttrekking. Dit wil ek allermins aanmoedig. Die antwoord is ook nie om bloot in jou hoekie te sit en net na eendersdenkendes te luister nie.

Dit is altyd beter om ʼn bietjie wyer te lees en te luister. Maar ʼn mens het net soveel tyd en soveel lus om na eindelose, niksseggende aankondigings te luister. Of giftige menings, wat geensins gesprek aanmoedig nie.

Uiteindelik kies jy jou media en daarmee saam jou wêreld — ʼn wêreld waarvan jy die raamwerk verstaan en waarin jy verstaan word. ʼn Wêreld wat sin maak en waarin konstruktief verstaanbare doelwitte nagestreef én bereik word.

Binne dié kleiner konteks kan en moet debatte steeds plaasvind — ʼn ware oop gesprek wat met respek gevoer word. Want daarsonder sal lewenskragtigheid prysgegee word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Openbare politieke gesprekke bly maar ‘n probleem in ‘n diverse samelewing. Minderhede praat teen ‘n muur oor sake waaroor hulle geen beheer het nie.

Marthinus W ·

Ek voel ons is in n nuwe Middeleeue, waar bygelowe en onwetenskaplike idees belangriker geag word as die kennis en wysheid wat deur studie en navorsing ontdek is. Op die internet is daar die diktatorskap van die moderators, wat lukraak besluit of jou deelname aan die gesprek aanvaarbaar is of nie. George Orwell het geskryf oor die “unperson”, iemand wat onbelangrik geag word. Noam Chomsky voeg daarby “unhistory”, waargebeure wat die “powers that be” wegwens, en dit eenvoudig uit die openbare media en gesprek vee, asof dit nooit gebeur het nie. Soos bv die vernietiging van Joegoeslawie deur Navo, of die biolabs in Oekraine. Daar is meer as 46, en in een van hulle is covid-19 nagevors – voor die uitbraak daarvan. Selfs by die VN probeer die Russe n politieke gesprek daaroor he, maar dit word geveto.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.