Amerika: Woorde wek, maar dade trek

Pres. Joe Biden. (Foto: Carolyn Kaster/AP)

Gee krediet waar krediet toekom. President Joe Biden se inhuldigingstoespraak Woensdag voor die kongresgebou in die Amerikaanse hoofstad Washington D.C. was een van versoening en ʼn diepe behoefte vir Amerikaners om te verenig. Biden het opreg oorgekom en ʼn ernstige pleidooi aan alle Amerikaners gelewer om saam die stryd teen die Covid-19-pandemie te stry en saam te werk om die Amerikaanse ekonomie te herstel, die Amerikaanse grondwet en demokrasie te beskerm en Amerika se rol in ʼn wêreld gedefinieer deur krisisse te herbevestig.

Die inhuldigingsgeleentheid was ʼn verstommende vertoon van patriotisme en ʼn bevestiging van die VSA se diepliggende Christelike karakter. Biden het tydens sy toespraak gereeld na geloof, en ook sy eie geloof, verwys en die countrysanger en Republikein, Garth Brooks, se sing van die lied “Amazing Grace” was gevul met simboliek. In ʼn era waar die Demokratiese Party in die VSA toenemend onpatriotiese elemente in sy midde verwelkom en homself as die party van ʼn post-Christelike VSA daargestel het, was Woensdag se geleentheid eerder ʼn terugkeer na tradisie as wat dit die soort verwerping van identiteit, nasietrots en tradisie was waarvoor talle senior lede van die Demokratiese Party hulleself die afgelope tyd beywer het.

Die vraag is egter of Biden se dade as 46ste Amerikaanse president in pas gaan wees met die gees en simboliek van Woensdag se toespraak en die hele inhuldigingsgeleentheid. Daar is verskeie redes om hieroor skepties te wees. Die eerste is die effens versteekte boodskappe in sy toespraak oor wat hy as die oorsake van die verdeeldheid in die VSA beskou.

Biden het dit duidelik gemaak dat die stryd in die VSA, volgens hom, tussen diegene is wat glo dat alle Amerikaners gelyk geskape is en dié wat aan rassisme, blanke meerderwaardigheid, vrees en demonisering vasklou. Hierin lê ʼn ernstige oordeelsfout wat hy vanuit die staanspoor begaan. Die huidige enorme verdelingslyn wat deur die VSA sny, het min te make met rassisme en blanke meerderwaardigheid; dit gaan eerder oor die belangrikste vraagstukke oor hoe die VSA van die toekoms moet lyk. Dit is ʼn stryd tussen ʼn meer-na-binne gefokusde Amerika teenoor ʼn land wat die globalisme omarm en sy ekonomie, maar ook sy buitelandse rol, daarby aanpas. Dit is ʼn stryd tussen mense wat glo dat die oplossings vir belangrike vraagstukke op ʼn gedesentraliseerde vlak in deelstate, dorpe en gemeenskappe gevind moet word, en ʼn liberale beskouing dat die antwoord vir Amerika se probleme in ʼn groter en meer kragdadige federale regering lê. Dit is ʼn stryd tussen die behoud van tradisie, Amerikaanse identiteit en die Christelike geloof as die sentrum van Amerikaanse kultuur aan die een kant, en aan die ander kant die transformatiewe benadering van ʼn VSA wat verby geloof, kultuur en tradisies tree en sy burgers bloot as lede van die nuwe “global village” sien.

Biden se eng beskouing van die verdelingslyn in die VSA kan eerder tot die verergering van die probleem bydra, en die Demokratiese Party se liberale meerderwaardigheid het alle potensiaal om veral landelike, konserwatiewe Amerikaners verder te vervreem. Een uit elke drie Amerikaners van Latyns-Amerikaanse afkoms het in November vir Donald Trump gestem. Tussen twee en drie miljoen swart Amerikaners het vir Trump gestem. Die Trump-verskynsel van die afgelope vier jaar is nie ʼn regse, rassistiese, wit verskynsel nie, maar eerder ʼn kru bevestiging van die vervreemding wat tussen ʼn wesenlike deel van die Amerikaanse bevolking en die stedelike, liberale elite wat die media, die meeste federale staatsinstrumente, universiteite en natuurlik die Demokratiese Party beheer, ingetree het.

Die probleem met moderne liberale regeringsleiers in die VSA maar ook in talle Westerse lande die afgelope paar dekades, is juis dat hulle ʼn posisie van morele meerderwaardigheid inneem waar hulle glo dat eenheid belangrik is solank almal met hulle saamstem. Stemme teen die liberale wêreldbeskouing word vinnig as regs, ekstremisties en selfs rassisties afgemaak. Dit was juis een van die groot foute van president Barack Obama wat tot soveel frustrasie en vervreemding onder konserwatiewe Amerikaners gelei het, en wat die ruimte geskep het vir ʼn ontwrigter en bombastiese stormram soos Trump om tot president van die VSA verkies te word.

Binne enkele ure nadat Joe Biden as president ingehuldig is, het hy begin om uitvoerende opdragte (“executive orders”) in die Ovaal Kantoor van die Withuis te onderteken. Hoewel elke Amerikaanse president die afgelope paar dekades ná hul inhuldiging sulke opdragte onderteken het om ’n beleid van hul voorgangers ongedaan te maak, is dit reeds duidelik dat Biden binne sy eerste tien dae as president meer uitvoerende opdragte as enige vorige Amerikaanse president sal onderteken. Deur eensydige opdragte, in ʼn poging om ʼn groot deel van die Trump-nalatenskap ongedaan te maak, systap Biden dus die gewone proses waarvolgens wetgewing in die Amerikaanse kongres ontstaan wat dan ná onderhandelinge tussen die twee kamers van die kongres en die Withuis uiteindelik goedgekeur en deur die president onderteken word.

Tydens sy eerste dag op kantoor het Biden reeds opdrag gegee dat Amerika weer deel word van die Parys-Klimaatsooreenkoms, dat die proses gestaak word waarvolgens die VSA se lidmaatskap van die Wêreldgesondheidsorganisasie beëindig word, dat die bou van ʼn grensmuur tussen die VSA en Mexiko gestaak word en dat die bou van ʼn oliepyplyn vanaf Kanada na raffinaderye in die VSA nie mag voortgaan nie. Verder het hy beveel dat die dra van maskers op alle federale eiendomme en op reise tussen deelstate verpligtend raak, dat die reisverbod vanaf sommige Midde-Oosterse en Afrika-lande opgehef word en dat die ontginning van natuurlike hulpbronne in, onder meer, Alaska ook beëindig word.

Oor die volgende paar dae sal Biden verskeie stappe doen om Trump se konserwatiewe rekord teen te werk deur werkers se regte om aan kollektiewe bedinging deel te neem, uit te brei, die befondsing van aborsies deur die federale regering te hervat en groot nuwe bestedingsprogramme aan te kondig. Biden beplan ook omvattende immigrasiehervorming en ʼn uiters omstrede voorstel om ʼn roetekaart te ontwikkel waarvolgens die meer as 11 miljoen onwettige immigrante wat tans in die VSA woon, uiteindelik burgerskap kan kry. Terwyl sommige van Biden se uitvoerende opdragte sin maak, gaan heelwat daarvan verder bydra tot die verdeelheid in die VSA en gaan dit die persepsie dat Biden met Republikeine wil saamwerk om die mees knaende kwessies in die VSA te takel, ook teenwerk.

Terwyl Biden oor die volgende week of twee wesenlike stappe gaan doen om die Trump-beleid om te keer, sal die Amerikaanse senaat ook begin om die klagte wat deur die huis van verteenwoordigers teen president Trump ingestel is, en waarvolgens hy in ʼn staat van beskuldiging geplaas word, aan te hoor. Dié verhoor het die potensiaal om uiters verdelend te wees en om uiteindelik deur baie Republikeine as ʼn finale heksejag teen Trump beskou te word.

Biden word ingehuldig (Foto: Andrew Harnik, AFP)

Die groot vraag is dus hoe Biden eenheid in Amerika wil bewerkstellig. Met tussen 40% en 45% van Amerikaners wat in nege peilings (wat die afgelope week bekend gemaak is) aangedui het dat hulle Trump steeds steun, is die vraag oor of ingrypende, byna desperate, uitvoerende bevele en ʼn uiters verdelende verhoor teen Trump in die senaat nie eerder die harde verdelingslyne in die VSA gaan versterk nie.

Intussen moet die meeste van Biden se benoemings vir kabinetslede en ander senior aanstellings in sy regering oor die volgende klompie dae deur die senaat bevestig word. Belangrike beleidsbesluite oor ekonomiese stimulusinisiatiewe, ander federale besteding en Amerika se buitelandse verhoudinge moet deur die kongres gedebatteer en goedgekeur word. Met ʼn baie klein meerderheid in die huis van verteenwoordigers en bykans geen meerderheid in die senaat nie (dié kamer het tans ʼn 50/50-verdeling en die adjunkpresident het die beslissende stem) sal Biden en sy administrasie moet besluit tot watter mate hulle bereid is om op ʼn eerbare wyse met Republikeine in gesprek te tree oor die toekoms van die VSA.

Biden se voorstel vir ʼn ekonomiese hulppakket ter waarde van 1,9 biljoen dollar sal die VSA se staatskuld van 27 biljoen dollar tot 29 biljoen dollar vergroot. Aan die einde van 2020 was die Amerikaanse staatskuld 106% van die land se bruto binnelandse produk (BBP). Daar word verwag dat dit teen die middel van vanjaar tot 136% gaan styg. Sedert 2008 het die VSA se staatskuld reeds met 200% toegeneem.

Terwyl die pandemie ernstige ekonomiese uitdagings veroorsaak het, is Amerika se groeiende staatskuld, handelstekorte, werkskepping wat in Desember en Januarie gestagneer het en kommer oor die herstel van verskeie bedrywe enkele van die dinge wat oor die volgende paar maande ’n groot kopseer vir die Biden-administrasie kan veroorsaak. ʼn Hulppakket van $1,9 biljoen (trillion) het die potensiaal om die Amerikaanse ekonomie te oorverhit.

Behalwe vir die uitdagings om entstowwe teen die koronavirus vinniger beskikbaar te stel en die ekonomiese uitdagings te bowe te kom, heers daar steeds ernstige kommer oor voortdurende opstande deur Black Lives Matter en Antifa in Amerikaanse stede, is daar sonder twyfel ʼn veiligheidsbedreiging van regse ekstremiste wat die spanningslyne wil uitbuit, en is die vertroue in die Amerikaanse kiesstelsel en demokrasie nog glad nie herstel nie. Biden en die Demokrate kan nie alleen oplossings op enige van hierdie vrae bied nie. Hulle het die Republikeine en die konserwatiewe beweging nodig om oplossings te help skep.

Biden se woorde Woensdag was poëties mooi. Sy voordrag het gespreek van ʼn wyse ou man wat werklik droom van ʼn land wat steeds die leidinggewende Westerse demokrasie is en bly wat dit vir die hele twintigste eeu was. Biden se dade sedert sy inhuldiging, gepaardgaande met die aktivistiese eise van ʼn toenemend selfversekerde Demokratiese Party in die Kongres laat ernstige vrae ontstaan oor of die Biden-administrasie die dade tot uitvoer gaan bring wat Amerika nader aan die droom van ʼn verenigde, veilige en demokratiese VSA sal bring.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sarel ·

Sedert Obama het Amerika die ” kleed” van
” in God we Trust” afgeskud. Lippetaal is maklik . Verbod op reise na Amerika…..hulle jet duidelik nie die les by Europa geleer nie.

Human ·

Tenminste regeer Biden nie deur Twitter en FB en treë hy op soos ‘n President en nie soos ‘n “second rate gangster”.

Piet ·

Die huidige VSA regering kan nie slegter wees as die vorige verdelende regering onder hoofnar Trompie nie.

Dries ·

Dit is n heuglike dag vir China en al die kommunistiese lande. Biden gaan makliker regeer as pres. Trump. Biden moet net teken en aanvaar wat hulle gaan voorskryf. Kyk maar die VSA is op dieselfde pad as SA.

Helgard ·

Ai Driesie jy moet meer tyd op jou kniee deurbring en dan glo!

Dries ·

Ja ou maat jy is reg. Bid en vertrou hierdie man gaan nie die hele wereld opneuk nie

Dries ·

Jaco dankie vir n baie insiggewende artikel. Ek dink jy is profeties korrek

annie ·

‘n Regte njewh, njewh oompie… teachers’ pet met ‘n patetieste voordrag van ‘n glo nuwe wèreldleier wat oor en oor met die klas raas en die USA-Verenigde Party wil stig; ‘n reènboognasie met SA as voorbeeld. Gelukkig leef hul Mandela nog om die grense te gaan afbreek; dit móèt nou gebeur want alles wat Trump gedoen het was mos bog. Viva CNN, viva the hillaryious purple witch. Ons wag Gretag op die nekslag vir aardverwarming en vrede in die Midde-Ooste. Sjoe, World peace at last!

Philip ·

Volgens die foto het Biden die Nazi saluut gegee so as die skoen die Libtards pas trek hom aan. Kan nie wag vir die eerste klag van inpeachment teen die oudste van dae nie

Frans ·

Biden maak soos alle politici talle beloftes maar se nie hoe hy dit gaan befonds nie,behalwe om te sê dat hy rykes hoër wil belas en korporatiewe belasting tot 28 % wil verhoog.Dit is juis wat Pres Trump probeer omkeer het want veral hoë korporatiewe belasting dryf maatskappye na lande met laer belasting en goedkoop arbeid.Goedkoop arbeid lei daartoe dat lande soos Sjina die mark oorstroom met produkte.
Trump wou maatskappye teruglok om in Amerika te produseer en sodoende werksgeleenthede daar te stel.Nou sit Amerika ook met ‘n ‘winner takes all’ verkiesingstelsel waarin die party wat verloor,al is dit ook met 11000 stemme uit 5 mijoen geen seggenskap soos in ons prorata kiesstelsel het nie.
Dit ly tot ongelukkigheid onder die kiesers.Ja Biden het met 81 miljoen teenoor Trump se 74 miljoen gekry maar dit word nie weerspieël in Electoral vote verdeling van 306-232 verteenwoordig nie.Prorata sou Biden se 51% hom 274 gegee het met dus ‘n klein meederheid om te regeer.270 is nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.