ANC maak van grondwetlike hof ‘n transformasiekneg

Jeff Radebe - Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling (met die klem op "Ontwikkeling?")

Die Minister van Justisie, Jeff Radebe, het op 28 Februarie 2012 ʼn besprekingsdokument getiteld: “Discussion document on the transformation of the judicial system and the role of the judiciary in the developmental South African state” bekendgemaak. Hierdie dokument is die eerste stap na wat waarskynlik die enkele grootste aanslag op die onafhanklikheid van die howe sedert die aanvaarding van die Grondwet in 1996 is.

Die dokument is waarskynlik die duidelikste aanduiding tot op hede dat die ANC die Grondwetlike Hof in gelid wil bring wanneer dit kom by die uitvoering van die ANC se transformasie-agenda. Die kwalik verbloemde taktiek om te verseker dat die Grondwetlike Hof uit die ANC se mond praat, word deur die ANC as sy grondwetlike mandaat beskou. Dit steun naamlik op skedule 6 tot die Grondwet, wat in ʼn neutedop bepaal dat die regering gemandateer is om te verseker dat die samestelling, funksionering, struktuur en jurisdiksie van alle howe gerasionaliseer moet word om by die behoeftes van die Grondwet te pas. As deel van die ANC se strewe na ʼn progressiewe interpretasie van die Grondwet en spesifiek sosiale regte, glo die ANC dat dit gemandateer is om die transformasie van die judisiële sektor te kan bewerkstellig om die voorbepaalde doelwit van die grondwet te bereik.

Om uitvoering te gee aan die transformasie-mandaat wat die ANC glo dit het, word die inwerkingtreding van ʼn aantal maatreëls in die vooruitsig gestel. Een hiervan is die ontleding van die besluite van die Grondwetlike Hof sedert die ontstaan daarvan, om te bepaal wat die impak van hierdie besluite was op die transformasie van die staat en die samelewing en in welke mate die sosio-ekonomiese omstandighede van mense of kategorieë van mense daardeur geraak is.

As deel van die evaluering van die beslissings van die Grondwetlike Hof sal die kapasiteit van die regbank en dié van die howe om regspraak wat belyn is met die Grondwet te skep, geskied. Verder sal die impak van beslissings deur die Grondwetlike Hof op alle vertakkings van die reg in Suid-Afrika evalueer word. Daar sal ook oorweging geskenk word aan die vraag na in hoe ʼn mate so ʼn vertakking van die reg getransformeer moet word om uitvoering te gee aan die transformatiewe doelwitte van die Grondwet.

Na afloop van die hierdie evaluering en na gelang van die uitkoms daarvan, sal maatreëls in werking gestel word om die kapasiteit van die Grondwetlike Hof so te vorm dat dit tot “die ewolusie van konstitusionele regspraak” kan lei.

Ten einde hierdie ernstige stappe in perspektief te stel, is dit myns insiens belangrik om die ANC se begrip van die Grondwet van nader te beskou. Die dokument maak dit duidelik dat die Grondwet deur die ANC beskou word as ʼn “transformatiewe Grondwet”, wat dit ten doel het om ʼn nie-rassige, nie-seksistiese, gelyke en vooruitstrewende samelewing, gebaseer op menseregte, te bewerkstellig. Die transformasie van die samelewing en die realisering van die sosio-ekonomiese regte, soos verskans in die Handves van Regte, staan in die ANC se beskouing sentraal tot die Grondwet. Dit mag op die oog af na ʼn edele siening lyk wat aanvaarbaar sou kon wees, gegewe die land se geskiedenis. Waar hierdie siening egter na my mening problematies raak is wanneer die ANC sy nasionale doelwitte eenvoudig voorhou as dit wat die Grondwet se bedoeling is. Hier is dus inderwaarheid ʼn oorplanting van die ANC se beleid in die Grondwet in.

Die beweegredes van die ANC om die omvattende proses, soos hierbo vermeld, in werking te stel blyk volgens my tweeledig te wees.

Eerstens is die ANC gefrustreerd dat die Grondwetlike Hof inmeng met kwessies van beleid. Dit is duidelik dat die ANC nie bereid is om te aanvaar dat die regsprekende gesag die bevoegdheid het om, by wyse van uitsprake oor sake van grondwetlike belang, ook by wetgewing of handelinge wat die ANC voorgestel of geneem het in te meng nie. By monde van beide Zuma en Mantashe, het die ANC aangedui dat die uitvoerende gesag die eksklusiewe mag het om beleid te formuleer. Die regsprekende gesag, so voer hulle aan, het nie die gesag om in te meng met die beleid wat die regering daarstel nie.

Dit is duidelik dat die ANC glo dat dit die alleenreg het op die daarstelling van beleid, ook wanneer dit by die bereiking van sy transformasie doelwitte kom. Wie sou die Grondwetlike Hof dan wees om die ANC, die regerende party verkose deur die mense, aan te spreek indien sy beleid, wetgewing of handelinge nie so strook met die Grondwet nie? Deur die omvattende maatreëls wat in die besprekingsdokument voorgestel word, het die ANC eenvoudig ten doel om die regbank en al sy ratte so te omvorm dat dit eenvoudig nie die transformasie doelwitte van die ANC en sy amptenary kan teëspreek nie. Op hierdie manier word sy frustrasie uit die weg geruim.

Die tweede beweegrede sluit aan by waarna ek hierbo vlugtig verwys het. Dit wil voorkom asof die ANC toenemend sy transformasie doelwit “oorplant” as sou dit ook die transformatiewe doelwit van die Grondwet wees. Die besprekingsdokument stel dit ook in soveel woorde dat die grondwet ʼn beliggaming is van die waardes wat die ANC voor 1994 voor gestaan en geveg het. Die Grondwet, so voer die ANC aan, kan dus nie anders geïnterpreteer word as dat dit eenvoudig belyn moet wees met die beleid en doelwitte van die ANC nie. As dit dan so is dat hierdie belyning eenvoudig so is, dan moet die regstelsel op alle vlakke mos getransformeer word om uiting te gee aan hierdie doelwit. Dit is dan wat die Grondwet voorskryf.

Wat die ANC egter uit die oog verloor is dat die Grondwet, tenminste aanvanklik, as die hoogste gesag in die land sou staan ongeag die beleid van die regerende party. Dit is met die inset van verskeie groepe onderhandel om die hoogste gesag te wees en immuun teen politieke inmenging. Die onafhanklikheid van die Grondwet en die Grondwetlike Hof wat daaruit voortspruit, is by konsensus aanvaar deur die onderhandelende partye. Ongelukkig het die verwagtinge wat gekoester is vir die Grondwet nie gerealiseer nie is ons in die posisie dat die regerende party eenvoudig inhoud gee aan die Grondwet se bepalings sodat dit hulle agenda pas.

Zuma se onlangse uitsprake dat die magte van die Grondwetlike Hof hersien moet word, is aanduidend van die kwalikverbloemde doel wat die transformasie program van die regstelsel in die oog het: die ANC wil nie deur die Grondwetlike Hof gekniehalter word wanneer dit sy transformasiedoelwitte najaag nie. Nee, inteendeel, die Grondwetlike Hof moet ʼn gereedskapstuk word vir die ANC om sy doelwitte te bereik.

Dit is eenvoudig so omdat ʼn 75% parlementêre meerderheid nodig is om die magte van die Grondwetlike Hof te verander – en dít haal die ANC nie.

In stede hiervan stoot die ANC nou die spreekwoordelike Trojaanse Perd in die vorm hierdie besprekingsdokument na vore. Dit het dieselfde doel wat dit voor oë – die sprake van die hersiening van die Grondwetlike Hof se magte – maar net op ʼn ander manier. Deur omvattende en veelsydige taktieke om maatreëls daar te stel om die regstelsel en die Grondwetlike Hof se samestelling en werking so te verander dat dit eenvoudig ʼn kneg voor die ANC se transformasie doelwitte is, vermy die ANC ʼn tromp-op aanval op die magte van die Grondwetlike Hof. Die verskil is net dat, versekerings van edele bedoelings ten spyt, baie van ons teen hierdie tyd al bedag is op die ware bedoelings van die ANC.

ʼn Deeglik gekoördineerde en berekende opposisieveldtog teen die rigting wat die ANC nou inslaan is dringend nodig om te verseker dat die laaste arm van die regering wat nog nie in die ANC se hande is nie, se onafhanklikheid beskerm word.

Lees ook Eugene Brink se bydrae oor dié belangrike kwessie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Johan Kruger

Meer oor die skrywer: Johan Kruger

Johan Kruger is 'n praktiserende prokureur en hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut en Kommunikasieafdeling.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae