Apologie vir apartheid – ja of nee?

Dié artikel word geskryf na aanleiding van die nuus dat ’n groep prominente Afrikaners hul berou uitgespreek het oor die pyn wat apartheid aan hul gekleurde landgenote gedoen het. Die groep het “onvoorwaardelik apologie” aangeteken.

Die verklaring volg op die herrie oor pres. FW de Klerk se aanvanklike ontkenning dat apartheid ’n misdaad teen menslikheid was en sy ommeswaai daarna. (Terloops, die bedoeling van die Engelse begrip “crime against humanity” word nie akkuraat deur die vertaling “misdaad teen die mensdom” weergegee nie. Ook in Nederlands en Duits word “misdaad teen menslikheid” algemeen gebruik.)

’n Mens sou die kwessie van apartheid, onreg en apologie uit verskeie hoeke kon bekyk. ’n Eensydige benadering, ongeag vanuit welke hoek dit kom, laat nie reg geskied aan die ingewikkeldheid van die kwessie nie.

Ten eerste sou ’n mens dit moreel kon bekyk.

As aanvaar word dat mense se regte nie op irrelevante gronde – velkleur, etnisiteit, geslag, seksuele geaardheid, ensovoorts – beperk mag word nie, was apartheid verkeerd. Volgens die beleid is swart en bruin mense dekades lank in die praktyk as minderwaardig behandel.

Aansluitende hierby, indien jy waarde heg aan wat die Bybel sê oor hoe mense mekaar moet behandel, kan die apartheidspraktyk van 1948-1990 op geen enkele manier geregverdig word nie. Lees maar byvoorbeeld die Bergrede of Paulus se vermanings oor naasteliefde, iets waarvan sy briewe deurspek is.

Die apartheidspraktyk druis ook in teen die liberale demokrasie soos dit in die laat 18de en 19de eeu in die Weste ontwikkel het, waarvolgens alle mense gelyke regte het. Dit was ’n regstreekse gevolg van die Verligting, wat algemeen as ’n groot morele deurbraak in die wêreldgeskiedenis beskou word.

As ’n mens dit alles in ag neem, moet juis Afrikaners begrip hê vir die woedende manier waarop swart en bruin mense gereageer het op die ontkenning dat apartheid ’n misdaad teen menslikheid was.

Baie Afrikaners het die Engelse nog dekades lank vir hul imperialisme, die verwoesting van die Boererepublieke en die konsentrasiekampe geblameer. Selfs vandag nog gloei die kole van verontwaardiging by sommige.

Kan ons die swart en bruin mense verkwalik as dieselfde by hulle gebeur?

Maar ons kan dit nie laat by ’n blote morele veroordeling of skuldbekentenis nie. Ek is nie bloot ’n Afrikaner of ’n Christen nie; ek is ook akademiese historikus wat wil nagaan hoekom apartheid toegepas is en waarom dit misluk het.

As historikus is dit immers nie my taak om op ’n morele regbank te gaan sit nie.

Apartheid het verskeie bronne. Die basiese een was, om ’n uitspraak van Hermann Giliomee aan te haal, “ ’n radikale oorlewingstrategie”.

Die belangrikste les wat Afrikaners uit die Anglo-Boereoorlog geleer het, was: Nooit weer mag ons in ’n situasie geplaas word waar ons oorlewing as volk in die gedrang is nie. Toe die Nasionale Party – die Afrikaners se ekwivalent van die swart mense se ANC as hul eie bevrydingsbeweging – dus in 1948 aan die bewind kom, is dadelik met die transformasie van die samelewing volgens die apartheidsmodel begin.

Daardie praktiese model het reeds bestaan in die vorm van die Britse koloniale stelsel. In alle kolonies waar hulle setlaarsbevolkings geplant het, het die Britte min of meer dieselfde beleid gevolg – die inheemse bevolking is in reservate saamgepers en daarbuite slegs vir hul laaggeskoolde arbeid geduld.

Die verslag wat ’n kommissie van ondersoek na die rassevraagstuk op versoek van lord Milner in 1905 onder voorsitterskap van sir Godfrey Lagden gepubliseer het, lees in talle opsigte soos ’n bloudruk van apartheid ná 1948.

Die verskil is dat apartheid geregverdig is op grond van die Bybel en van ’n geradikaliseerde Afrikanernasionalisme wat deur die romantiese Duitse nasionalisme beïnvloed is. Dié nasionalisme het op soek gegaan na ’n praktiese beleidsmodel – en dit in die Britse koloniale stelsel gevind, iets wat reeds volstoom aan die gang was.

Dis waar, onder die vaders van die apartheidsideologie was daar enkele idealistiese denkers wat dit gesien het as ’n versoening tussen oorlewing en geregtigheid. Hulle het gemeen apartheid – geografiese partisie – sou die Afrikaners se oorlewing verseker en terselfdertyd vryheid aan die swart mense gee.

Met die voordeel van agternakennis weet ons nou dat dit ’n hersenskim was, eenvoudig omdat die wit mense nooit bereid was om afstand te doen van die voordele van goedkoop swart arbeid nie. Geografiese partisie kon net slaag as die wit mense ’n meerderheidsbesetting in die “wit” gebiede buite die tuislande kon bewerkstellig.

Die nywerheidsomwenteling in Suid-Afrika sedert einde 19de eeu het gepaard gegaan met die geografiese vermenging van die rasse en die intrek van die swart mense in die ekonomie. Toe die NP in 1948 aan die bewind kom, was dit reeds te laat om die roereier te “ontroer”.

Te lank het die destydse regering en sy ondersteuners vasgeklou aan die illusie dat ’n beleid wat in teorie vir vryheid en geregtigheid vir almal voorsiening gemaak het, kon slaag. Die apartheidskip het hom egter onverbiddelik in die stormsee van swart verset teen die tweelingrotse van demografie en ekonomie te pletter geloop.

Die besluit van pres. De Klerk om apartheid af te skaf, was – as ’n mens die geskiedenis objektief bekyk – onvermydelik. (Of die onderhandelings realisties genoeg gevoer is, is weer ’n ander vraag wat egter nie hier aan die orde is nie.)

Maar goed, die geskiedenis lê in die verlede en ons het te make met nóú. Net soos ’n eeu gelede staan die Afrikaners weer uitgelewer aan ’n regering wat hulle onverskillig en dikwels aktief vyandig beskou.

’n Aparte volkstaat klink na ’n blink gedagte, maar die kans dat dit teen die agtergrond van die ANC se veto en ekonomiese werklikhede tot stand kan kom, is na aan nul.

Anders as in 1948, lê ’n antwoord nie voor die hand nie; duidelikheid oor ons oorlewing sal waarskynlik maar deur soek en tas, deur staan en opval moet kom. Intussen lyk Flip Buys se idee dat Afrikaners in groeipunte bymekaar moet gaan woon, na ’n moontlikheid.

Immers, so lank as wat ons mense dun verspreid oor die hele land woon, kan die regering ons minagtend ignoreer. As ons in bepaalde groter dorpe en stede konsentreer, word dit moeiliker om ons te ignoreer.

Intussen is daar niks mee verkeerd om ekskuus vir onreg te vra nie. ’n Mens sou wel kon redeneer dat die ANC ook maar vir sý verlede ekskuus moet vra, maar sy onreg kanselleer nie ons s’n uit nie.

Dalk lê die morele antwoord daarin dat ons álmal maar beskeie oor ons verlede moet wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Luister

Die vraag is: Gaan dit help? Gaan hulle ons vergewe? Gaan hulle om verskoning vra dat hulle nou huidiglik besig is om ons toekoms op te foeter?

Amanda

Wie gaan dan apologie aanteken vir swartbemagtiging????????????????Dis nog erger as apartheid mense wat die besighede vernietig word weens kleur in hogere poste aangestel en hulle kan nie die werk doen nie weens onvoldoende kennis en geen opleiding om so n pos te vul nie…… Besighede gaan a g v daarvan totniet en duisende werkloos gelaat. Hoe skei jy hierdie twee by name apartheid en swartbemagtiging? Watter kategorie is die vrotste??????

Irma

Gaan hulle omverskoning vra dat hulle ‘n eens veilige, gesonde en goed funksionerende land opgevoeter het. Dit wat vandag in Suid-Afrika gebeur is ‘n 1000 maal erger as wat apartheid ooit kon wees.

marius

Laat die britte eers apologie aanteken EN vergoeding betaal vir hul oorlogs misdade teen Afrikaners , “whites only” borde die wereld vol en hul “segregration” beleid . Vra dan weer die vraag .

Rooikoos

Daarom gaan die swart oormag net se…”dus verdien julle wittes wat nou met julle gebeur…”