As Derek Hanekom swart mense rassiste sou noem… 

Ernst Roets, adunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Reint Dykema.

Sedert Zindzi Mandela oor wit mense op Twitter tekere gegaan het en AfriForum se daaropvolgende eis dat sy as ambassadeur in Denemarke afgedank moet word, is die burgerregteorganisasie met medianavrae oorval. Vele joernaliste vra: “Verduidelik asseblief vir ons waarom julle haar opmerkings as rassisties beskou?”

Baie klink opreg as hulle die vraag vra – dat hulle eerlikwaar nie kan verstaan hoe ons haar opmerkings as rassisties beskou nie.

“Verduidelik asseblief aan ons watter deel van wat sy gesê het, onwaar is?” vra een joernalis.

“Dit is waar dat wit mense grond gesteel het. Hoe kan dit rassisties wees?” vra ’n ander.

“Dit kan nie rassisme wees nie, want swart mense kan nie rassiste wees nie,” meen ’n paar op sosiale media.

Om ’n artikel te skryf oor waarom Zindzi Mandela ’n rassis is, voel so bietjie soos om ’n artikel te skryf oor waarom die aarde rond is, maar sommige mense blyk dit glad nie te kan begryp nie.

Eerstens, ’n paar van haar twiets op 13 en 14 Junie 2019:

  • “When you came here without land you found the original people making fire. Next, you’ll claim you taught us. Just like Chris Barnard learnt the basics of heart surgery from his Black gardener. What you’re good at is fantasy.”
  • “Dear Apartheid Apologists, your time is over. You will not rule again. We do not fear you. Finally #TheLandIsOurs
  • “Miss all these trembling white cowards, shem. Botha, Potgieter, Thieving Rapist descendants of Van Riebeeck, etc: how are you my babies?”

Die probleem hier is wat George Orwell as “dubbeldenkery” beskryf het: Die handeling om terselfdertyd twee wedersyds teenstrydige menings as korrek te aanvaar. Dit hou verband met kognitiewe dissonansie – daardie mentale ongemak wat mens beleef as jy teenstrydige menings huldig. Dubbeldenkery lei gewoonlik tot die onderdrukking van feite wat nie met jou narratief belyn is nie, asook dubbele standaarde en onsamehangendheid.

Daar is ontelbaar baie definisies van rassisme en ons hoef nie nou versand te word in ’n definisie van wat rassisme nou eintlik is nie. Om konteks te skep, gee ek egter twee verskillende definisies.

Die Afro-Amerikaanse aktivis en outeur Ta-Nehisi Coates beskryf rassisme as die behoefte om beendiep kenmerke aan mense toe te dig en hulle dan te verneder, verkleineer en vernietig. Die Indies gebore Amerikaanse en konserwatiewe outeur Dinesh D’Souza beskou die basiese definisie van rassisme as ’n ideologie van intellektuele of morele superioriteit wat op die biologiese eienskappe van ras gebaseer is. Filosowe soos Franz Fanon meen dat rassisme alles met mag te make het.

Hierdie is ’n klassieke geval van dubbeldenkery: Die blote erkenning van die feit dat Zindzi Mandela ’n swart Suid-Afrikaanse ambassadeur is en deur ’n swart president aangestel is wat ’n (grootliks) swart regering lei wat uitgesproke is oor die gebruik van staatsmeganismes om die belange van swart mense te bevorder, en terselfdertyd te argumenteer dat sy nie ’n rassis kan wees nie omdat sy swart is en swart mense geen mag het nie. As jy openhartig glo dat jy slegs ’n rassis kan wees as jy mag het, moet jy ook glo dat ’n klein regse randgroep soos die AWB nie rassisties kan wees nie. Daar is geen vorm van mag waaroor die AWB al ooit beskik het wat die ANC nie ook tot ’n eksponensieel groter mate het nie.

In haar twiets dig sy beendiep eienskappe aan wit mense in die algemeen toe in ’n poging om hulle te verneder. Dit was ’n argument van swart (morele) superioriteit wat op niks meer as velkleur gebaseer is nie. Sy het dit gedoen deur wit mense as misdadigers, lafaards en verkragters te beskryf.

“Ja, maar sekerlik moet jy toegee dat hierdie dinge waar is, dat wit mense die grond gesteel het, ensovoorts,” het een joernalis geantwoord.

Die antwoord is taamlik eenvoudig, hoewel dit moeilik blyk te wees vir sommige van ons vriende agter die mikrofone van die land se grootste radiostasies om dit te begryp. Om dit dus maklik te maak, bied ek die verduideliking puntsgewys aan:

  1. Dit is waar dat grondonteiening in Suid-Afrika plaasgevind het.
  2. Dit is egter onwaar dat alle wit mense hieraan deelgeneem het.
  3. Dit is ook onwaar dat alle swart mense se grond van hulle weggeneem is.
  4. Dit is ook onwaar dat alle grond oor die hele oppervlak van Suid-Afrika weggeneem is.
  5. Dit is ook onwaar dat alle wit mense wat grond besit, dié grond op onwettige wyse bekom het.
  6. Ons kan identifiseer waar grond op onwettige wyse onteien is.
  7. Waar dit gebeur het, moet dit deur restitusie reggestel word – juis waarom die land reeds bykans ’n kwarteeu lank ’n restitusieproses het.
  8. Ons moet egter toegee dat 84% van grondeise op stedelike gebiede ingestel word, en dat 93% van grondeisers finansiële vergoeding eerder as die grond verkies.
  9. Om ongebalanseerde grondeienaarskap as regverdiging vir rassisme teen wit mense voor te hou, is misplaas.
  10. Deur toe te gee dat sommige wit mense aan grondonteiening deelgeneem het, regverdig nie die standpunt dat wit mense misdadigers is nie, want dit kom daarop neer dat negatiewe kenmerke aan mense toegedig word wat bloot op die kleur van hul vel gegrond is.

Nou dat dít genoem is, kan ons die argument op sy kop draai om die dubbeldenkery en kognitiewe dissonansie bloot te lê waaraan so ’n groot deel van die hoofstroommedia ly:

  1. Indien ’n wit openbare verteenwoordiger – kom ons sê Derek Hanekom – byvoorbeeld sou sê dat swart mense lafhartig, misdadigers en verkragters is, sou daar geen argument wees oor of hy afgedank moet word nie.
  2. As enigiemand hul kommentaar wou regverdig deur te sê dat dit sekerlik waar is dat alle swart mense verkragters is, sal dit ook as rassisties beskou word.
  3. Die feit dat sommige mense die misdaad van verkragting gepleeg het, regverdig op geen wyse die standpunt dat die hele ras nou ook as verkragters bestempel word nie. Dit is die einste definisie van rassisme.

Jy hoef nie ’n genie te wees om dit te verstaan nie. En die blote feit dat dit nodig is om ’n hele artikel te skryf om te verduidelik waarom dit rassisties en onaanvaarbaar is om ’n hele ras mense as verkragters te bestempel, is bewys van die krisis wat in die Suid-Afrikaanse narratief heers.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
marco polo

Logies vir ons, Ernst, maar dalk nie logies vir die mense wat die afgelope 25 jaar bewys het dat hulle nie logies kan dink nie.

JohanL

Ernst, baie dankie vir ‘n puik en weldeurdagte artikel en antwoord. Die realiteit is egter dat vele swartmense en joernaliste nie die denkproses agter die artikel sal of wil verstaan nie. Of hulle kognitief nie daartoe in staat is of nie, en of hulle bloot nie feite wil aanvaar nie, weet ek nie. Hulle moet maar self antwoord.

Hans

Me Pandor “berispe” net Z Mandela oor haar uitlatings-ongelooflik!!!

Andreas

Martin Luther het op 31 Oktober 1517 die sogenaamde 95 stellings teen een of meer kerkdeure in Wittenberg vasgespyker, so moet alle skrywes en artikels soos hier bo, insgelyks, teen die deure van Luthuli-huis, ons parlement en die Unie Geboue vasgespyker word.

lewies

“die Suid-Afrikaase narratief, word as ‘n probleem geidentifiseer in hierdie artikel. As die probleem deur Intergeneratiewe trauma veroorsaak is, is dit ‘n GROOT PROBLEEM wat nie met afdanking reggestel kan word nie. ‘n Hofsaak vir rassime is moontlik, maar is dit wenslik ?