Basta, Zindzi, ons voetspore is in Afrika!

solidariteit-teen-discovery-veldtog-dirk-hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Argieffoto.

Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie brief geskryf aan Zindzi Mandela na aanleiding van haar uitsprake op Twitter:

Beste Zindzi

So, ons is soos ongenooide gaste wat weier om te loop. Gronddiewe, noem jy ons. Volgens jou het ons mos nie met grond hier aangekom nie. Ons is glo “thieving rapist descendants of Van Riebeck (sic)”.

Mag ek onmiddellik sê jou twiets is walglik, verdelend en ’n vorm van haatspraak wat geweld teen minderhede kan aanblaas. Ons mag dit nie net daar laat en dit normaliseer nie. Volgens die Verenigde Nasies is vertikale haatspraak, dit wil sê deur mense met gesag, net soveel meer onaanvaarbaar en gevaarlik. Jy dra simboliese, morele en politieke gesag.

Die emosioneel belaaide, histories skewe meesterverhaal het al so neerslag gevind dat dit moeilik raak om dit te weerlê sonder om as rassis en apartheidsontkenner gebrandmerk te word. Hoe meer dit herhaal word, hoe meer word dit ’n waarheid totdat ons in ’n postwaarheidwêreld leef.

Ek het ʼn ander storie, en ek stel graag my 11 geslagte hier aan die suidpunt van Afrika aan jou bekend.

Ontmoet vir Hans (1636-1671), getroud met Tryn. Hy was my eerste voorvader hier en het in 1657 voet aan wal gesit. Hy was werkloos ná die Dertigjarige Oorlog en word toe soldaat vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Hans was een van die eerste Vryburgers. Van Riebeeck was ’n amptenaar wat die Kaap ná 10 jaar verlaat het, maar die Vryburgers soos Hans het hul gesig na Afrika en hul rug op Europa gedraai. Die Vryburgers was die werklike geboorte van Afrikaners. Hulle het in daardie stadium Afrika gekies – nie as gaste nie, maar om op hierdie grond te bly. Hans is deur ’n leeu doodgebyt.

Ontmoet Hans se seun, Nicolaas (1666-1713), getroud met Maria. In dié tyd het die Franse Hugenote in Suid-Afrika aangekom. Ook Duitsers en ander, selfs van die inheemse bevolking, was deel van die Afrikaner-mengsel. Afrikaners het nie as Afrikaners hier aangekom nie. Ons het nie grond hier aangebring nie; ons het op hierdie grond Afrikaners geword.

Ontmoet vir Hendrik en Maria (1709 – sterfdatum onbekend). Teen hierdie tyd het ’n sterk Afrikaner-identiteit begin ontwikkel. Hy was deel van die leierskap van die Barbier-opstand teen die regering van die dag. Afrikaners wou weg van die Nederlandse heersers. Later het ons ons taal en mense na Afrika genoem, want ons is van en uit Afrika.

Ontmoet vir Marthinus David (1735 – sterfdatum onbekend), getroud met Adriana. Die trekboere het al verder begin wegtrek. Dit het die klimaat vir die Groot Trek geskep.

Ontmoet vir Marthinus Nicolaas (1780 – sterfdatum onbekend), getroud met Anna. Moord, diefstal en plundering aan die Oosgrens was ondraaglik. Daar was ’n drang na vryheid onder ’n selfstandige regering. Dit was die begin van die Groot Trek.

Dit was ook die tyd van die Mfecane. Honderde duisende mense is deur veral Shaka se magte doodgemaak en massas meer moes vlug. Die veroweraars het nie met grond rondgetrek nie, maar het met uiters wrede metodes grond verower. Dit is die deel van die geskiedenis waaroor daar geswyg word. Daar was ’n reuse-emigrasie en reusestryd vir grond. Afrikaners was deel daarvan.

Dit was ook die tyd toe Piet Retief en sy manskappe wreed deur Dingaan vermoor is, en dit nadat daar oor grond onderhandel is. Die bewys was ’n traktaat. Dit was ook die tyd van die grootste kindermoord in Suid-Afrika by Bloukrans- en Boesmansrivier. In een nag is 185 Afrikanerkindertjies wreed doodgemaak. Soos Europa, en die res van die wêreld, het Afrika ook ’n donker kant in die geskiedenis wat nie gekonfronteer word nie.

Dit was die tyd van slag van Bloedrivier en Dingaan se mag wat verbreek is. Britse beheer van die Kaap sedert 1806 was die begin van ’n eeu van vernedering van Afrikaners. Die Engelse het Afrikaners met minagting behandel. Hulle het ons as onbeskaaf geag – ’n siening oor Afrikaners wat later konsentrasiekampe “geregverdig” het.

Ontmoet vir Willem Adriaan (1824-1890), getroud met Tienie. Die Engelse het Natal weer besit en die Afrikaners wou vry wees. Hulle trek weer en vestig twee klein en arm republieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (oftewel die Transvaal) en die Oranje-Vrystaat.

Ontmoet vir Marthinus Nicolaas (1856-1942), getroud met Hester. In hierdie tyd annekseer die Engelse die Transvaal en die Eerste Vryheidsoorlog breek uit. Marthinus neem deel aan die Slag van Majuba. Die Afrikaners word die eerste Afrika-stam wat die koloniale moondheid in ’n oorlog oorwin. Die koningin van Engeland is verneder. Die Engelse wou steeds die goud hê en ’n tweede oorlog breek uit. Die Boere veg ’n dapper stryd, maar die Engelse gooi ons vroue en kinders in konsentrasiekampe waar 33 000 dood is. Hul plase is ook afgebrand. Marthinus Nicolaas is as banneling weggestuur. Hester is dood in ’n kamp. Haar dogter, Christina, my pa se ma, oorleef die kamp. Koningin Victoria het haar vernedering gewreek.

Marthinus was ook deel van die opstaan ná die oorlog. Die Afrikaners het gekies om self verantwoordelikheid te neem en het deur selfdoen hul vernedering gewreek. Marthinus was deel van die rebellie tydens die Eerste Wêreldoorlog, en deel van die merkwaardige Helpmekaarbeweging daarna. Alles het gekom uit die gemeenskap, los van die staat.

Ontmoet vir Jacobus Johannes, getroud met Christina (1900-1970). Christina het die Irene-konsentrasiekamp oorleef. Hulle het die volle impak van die 1930-depressie en die armblankevraagstuk beleef. Een derde van Afrikaners was werkloos en nog ’n derde was behoeftig, met al die maatskaplike uitdagings wat daarmee saamgegaan het. Dit was weer ’n krisis en weer ’n merkwaardige tyd van opstaan deur die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en verskeie kultuurorganisasies.

Ontmoet Marthinus Nicolaas (1936 – ) en Moira. Dit is my ma en pa. Hulle was beide kinders uit die tyd van blanke armoede. Pa het vertel van sy opgewondenheid toe hy sy eerste langbroek in die hoërskool gekry het. Sy hele lewe is egter ’n merkwaardige storie. Hy het bo sy omstandighede uitgestyg en deur harde werk besturende direkteur van Clover SA geword. Vir die eerste keer in ons geslagslyn is die kringloop van armoede en swaarkry verbreek.

My pa se geslag het daarin geslaag om Suid-Afrika te moderniseer. Hy vertel hoe sy oupa hom vertel het van die Boere-oorlog en die hartseer van sy vrou en sy seuntjie, Petrus, wat in die kamp dood is. Hy vertel hoe sy geslag besluit het dat Afrikaners nooit weer deur so ʼn trauma sal gaan nie. Hy vertel hoe koloniale owerhede uit Afrika gevlug het en hoe Afrikaners hier moes bly, want ons het Afrika geword. Hy vertel van oorlewingsangs.

So is ’n stelsel ontwikkel wat nie moreel of prakties volhoubaar of regverdigbaar was nie – ’n stelsel wat, ironies genoeg, die vernedering van Afrikaners op ander oorgedra het. Die apartheidstelsel het Afrikaners ook van die krag van die gemeenskap ontneem deurdat die staat die verantwoordelikheid van die gemeenskap begin oorneem het.

Ontmoet Dirk Johannes (1972 – ) en Elsha. Dit is ek en my vrou. Ons is die postapartheidgeslag. Ons geslag se verantwoordelikheid is om postapartheidantwoorde te soek vir ’n volgende geslag. Mense van my geslag oorweeg dit om die land te verlaat, maar baie gaan net hier bly. Ons wat hier bly, gaan bou, en ons geskiedenis leer ons van uithou en aanhou. Ons geslag gaan nie die geslag wees wat daardie geskiedenislyn verbreek nie. ’n Voorwaarde daarvoor is wedersydse erkenning en respek.

Ontmoet my dogters, Marisha, Minè, Elzaan en Hanri. Hulle moet jou en ander se tirades absorbeer. Ironies genoeg projekteer jy jou gevoel van vernedering op my kinders, en dit vanuit Denemarke en vanuit ’n hoogs betaalde ambassadeurspos. Woede soos joune word op hulle gerig en dit word geïnstitusionaliseer in rassewetgewing wat niks te doen het met wie hulle is en wat hulle doen nie; dit is gebaseer op hoe hulle lyk.

Hulle het egter ’n storie – dit is ʼn storie wat baie groter is as jou gebrekkige meesterverhaal.

Dat daar vergrype en vernedering in ons verhaal was, is waar, maar dat Afrikaners ’n ongelooflike storie van swaarkry, opstaan, saamwerk en uitreik het, is ook waar. Foute en ’n donker kant het ons wel en ons erken dit. Erkenning maak ons juis sterker, maar dit maak nie van ons gaste wat moet loop nie. Ons haal die goeie uit die verlede en bou eerder die toekoms daarop.

My dogters is die elfde geslag hier. Oor 11 geslagte heen het ons hiér ons beslag gekry. Ons identiteit is hier ontwikkel. Ons is nie ’n koloniale moondheid nie, maar ’n wit stam van Afrika.

Jy het die foute van Afrikaners geneem en dit geëskaleer tot ’n absolute boosheid. Jou storie het, soos almal sʼn, ook ’n donker kant waarmee jy jouself moet konfronteer, maar jy het dit verromantiseer tot slegs edele vryheidstryde.

Ek ken my familie se storie en alles daarvan is deel van my, foute en al.

Vandag is my voltydse werk om ’n nuwe, moderne helpmekaarbeweging te bou. Ons het ’n storie van opstaan uit die gemeenskap. Ons het ’n kragtige DNS. Tot jou frustrasie gaan ons hier bly, maar ons gaan nie stilbly nie. Gaste is ons nie, was ons nie, en gaan ons nie word nie. Ons het nie ʼn ander huis nie. Ons is hier om te bly, want dis ons plek.

Basta, Zindzi, ons voetspore is in Afrika!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

69 Kommentare

jongste oudste gewildste
Waarheid

Mooi gese
Ek saluut jou!

Andreas

Dr. Dirk Hermann, jy kan gerus hierdie brief van jou ook aan Cyril Ramaphosa stuur. Hy, spesifiek, is die een wat die vure stook en disinformasie betreffende grond versprei, al sou die wit mense dit van die swart mense afgevat het, tot so ‘n mate dat Zindzi dit nou as die groen lig ervaar het dat dit haar president se goedkeuring sal wegdra as sy ook die wit mense as gronddiewe in ‘n twiet uitkryt.

Jimmy

Ongelukkig is daar miljoene Zindzis wat presies dieselfde voel. Hulle het geen simpatie met wittes en hul geskiedenis nie. Dinge gaan ook nie verander nie. Terloops, by my vorige werkplek weet swartmense nie eers van die Boere oorloë en die konsentrasie kampe nie. Hulle het geen empatie met die Afrikaners se vryheidstryd en swaarkry nie. Sterkte om dié boodskap oor te dra. Mense wat voor 1975 gebore is sal die laaste Afrikaner geskiedenis skryf voordat die ligte finaal afgeskakel word.

Boerboel

Dankie Herman, Dankie vir Agriforum, Solidariteit vir julle op staan teen die karakter en ook aan die VF plus
Snaaks die DA het nog nie ‘n woord gerep nie ?

Christo Schoeman

Ons kan weer hoop en ‘n nasie bou met sulke waar woorde! Amen.