Bela: Is die koeël deur die kerk vir onderwys?

Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas. (Foto: Facebook)

Deur dr. Jaco Deacon

Daar moet nog baie water in die see loop voordat die voorgestelde wysigings wet word. Tot dan het skoolbeheerliggame steeds ooreenkomstig die bepalings van die Skolewet die verantwoordelikheid om die taal- en toelatingsbeleid van skole te bepaal. Dit sal die geval bly tot die president die wysigingswet onderteken en die termyn van die huidige administrasie loop nou vinnig ten einde.

Wat gebeur volgende?

Die wetsontwerp moet nou deur die Nasionale Vergadering (NV) gedebatteer en aanvaar word. As die samewerking tussen die ANC en die EFF in die portefeuljekomitee as norm gebruik word, sal die ANC eenvoudig sy meerderheid in die parlement gebruik om dieselfde daar te doen. Die wetsontwerp moet daarna deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar word. Hier behoort opposisiepartye groter teenstand te bied en prosedurele aspekte behoort geopper te word.

Die NRP kan die wetsontwerp sonder wysigings aanvaar, ’n gewysigde wetsontwerp aanvaar of die wetsontwerp in geheel verwerp. Indien dit sonder wysigings aanvaar word, moet dit vir goedkeuring aan die president voorgelê word. As die NRP die wetsontwerp verwerp of as die NV weier om die NRP se gewysigde weergawe van die wetsontwerp aan te neem, moet die saak na die mediasiekomitee verwys word. As bemiddeling misluk, sal die wetsontwerp binne 30 dae na die NV vir aanvaarding verwys word en vir hierdie aanvaarding moet tweederdes van die NV ten gunste van die wysigingswet stem.

Die wetsontwerp word daarna eers na die president verwys om dit te onderteken voordat dit van krag sal wees en die spreekwoordelike koeël deur die kerk sal wees. Die president kan ook ʼn datum bepaal vanaf wanneer die bepalings van krag sal wees. As die president bedenkinge oor die grondwetlikheid het, kan hy dit terugverwys na die NV en NRP vir heroorweging. As ’n heroorweegde wetsontwerp die president se bekommernisse akkommodeer, kan die president dit onderteken en goedkeur.

Indien dit nie die president se bekommernisse akkommodeer nie, kan die president dit na die Konstitusionele Hof verwys vir ’n beslissing oor die grondwetlikheid.

Kortom, dit is veilig om te sê dat daar steeds ’n lang pad vir die Bela-wetsontwerp is voordat dit ’n wet sal wees. Daar is ook min tyd vir die parlement om dit te finaliseer voor die volgende algemene verkiesing. Politici is ook deeglik bewus van verskillende partye wat regsaksie oorweeg indien die wetsontwerp ʼn wet word.

Wat is die geskilpunte?

Die twee grootste geskilpunte vir openbare skole is die bepalings oor taal en toelating en die voorstel dat die finale besluit by die departementshoof van onderwys in elke provinsie berus. Bepalings oor tuisonderrig het ook dié gemeenskap warm onder die kraag.

Die regerende party het deurlopend die standpunt gehuldig dat “sekere gemeenskappe” taal en toelating gebruik om leerders uit te sluit en dus diskriminerend van aard is. Toelatingsbeleid is in wese diskriminerend omdat daar kriteria vir toelating bepaal moet word. Die Grondwet is egter teen onbillike diskriminasie gekant.

Taal en toelating het egter die sondebokke vir onbeholpe amptenare en politici geword. Sistemiese gebreke soos te min skole, swak onderrig en power bestuur word nie aangeroer nie.

Geen politikus kon egter ʼn skool uitwys wat onbillik oor taal of toelating gediskrimineer het nie. Indien so ’n skool geïdentifiseer is, sou ʼn mens tereg kon vra waarom die provinsiale LUR nie die besluit van die beheerliggaam tydens die appèlproses omgekeer het nie. Indien so ’n beheerliggaam dan blatant gediskrimineer het, waarom het die onderwyshoof nie die bestaande artikels 22 (terugtrekking van beheerliggame se magte) of 25 (versuim van beheerliggame om werksaamhede te verrig) gebruik om die saak reg te stel nie?

Indien “sekere gemeenskappe” taal en toelating gebruik om leerders uit te sluit en die departementshoof en LUR is daarvan bewus en het niks ooreenkomstig die Skolewet daaraan gedoen nie, het hulle eenvoudig hul plig versuim.

Volgens die jongste data (School Realities 2022) is daar 22 589 openbare skole in Suid-Afrika. Gauteng het byvoorbeeld vandag 2 056 openbare skole teenoor die 2 045 skole van 2012. ʼn Skamele 12 bykomende skole ná ’n hele dekade.

Daar het eenvoudig niks gekom van die huidige premier, Panyaza Lesufi, se “160 nuwe skole in 3 jaar” nie. Die “flaters” moet nou met politieke vlugvoetigheid reggestel word deur Afrikaanse skole die skuld te gee dat daar nie plek is nie. Al word al die Afrikaanse skole oornag Engels, gaan dit nie die oplossing wees nie.

Met ’n algemene verkiesing om die draai, gaan Bela nou oor politiek en nie onderwys nie. Skole en kinders is die pionne in die magspel om swak bestuur en goedkoop politieke skuiwe te verdoesel deur die reëls van die spel oor te neem.

Bela gaan nie die gehalte van die land se onderwys verbeter nie. Dit gaan nie puttoilette uitwis of modderskole herstel nie. Dit gaan nie sorg vir handboeke in Limpopo of onderwysers in die klaskamer in die Oos-Kaap nie. Dit gaan nie die verkoop van poste in KZN stop nie. In teendeel, dit neem ons terug na ʼn stelsel van staatsbeheer en staatskole waar die staat op ʼn totalitêre wyse sy vinger kan rondswaai en besluit wie sal waar skoolgaan en in welke taal.

Dit gaan ons goeie skole swaar tref.

Wat staan gewone burgers te doen?

Ons, die mense van Suid-Afrika, sal moet opstaan vir openbare skole en baie harder baklei vir gehalte-onderwys vir elke kind in ons land. Ons moet besluitnemers aanspreeklik hou vir die nakoming van hul verantwoordelikhede. Goeie ouers moet hand opsteek en staan as kandidate in volgende jaar se beheerliggaamverkiesing en elke ouer moet gaan stem. Raak betrokke by jou plaaslike skool en gee finansiële steun vir organisasies wat die geldigheid van Bela in die hof gaan toets. Gewone burgers van die land moet hul stem in die algemene verkiesing gaan uitbring en politici aanspreeklik hou vir die stand van openbare onderwys.

Die bal is wel in ons hande.

  • Dr. Jaco Deacon is die uitvoerende hoof van Fedsas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Kan iemand, enige iemand, vir my verduidelik (aan die hand van n praktiese voorbeeld) hoe jy politici en besluitnemers “aanspreeklik hou”? In die algemeen, nie spesifiek net m.b.t. onderwys nie.
Deur vreedsame optogte te hou?
Deur petisies te onderteken?
Deur die morele hoëgrond te handhaaf?
Of is dit maar bloot net n holrug geryde frase?

Ek sien met afwagting uit na n antwoord….
Ek vermoed ek gaan laaaaaaank wag……

Harley Davidson ·

Dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie dit sal Afrikaans sprekende mense dwing om hulle eie skole te begin en die kinders wat in Afrikaans wil skoolgaan n beter kurrikulum opvoeding te gee en dan sommer godsdiens terug te bring.

Andrew ·

Daar is reeds Afrikaanse Christelike skole , mense moet net begin deel neem.

Theresa ·

Daar is eenvoudig nie fondse beskikbaar nie, ons het mos lankal ons skole gebou, nou moét ons weer bou…

Andrew ·

Die logika hier is die 75%, met elke generasie word die westerse denker in % minder net a.g.v van onbeheerde immigrasie en exponentiele populasie groeie van die groepering wat die werkende skole verniet wil hê, en op n stadium kom hulle bo die 75%uit, soos nou.

skurweberg ·

Hierdie is sonder twyfel weereens die pad van die minste weerstand. Die wat toegee speel saam in hierdie vernietigende spel. Staan sterk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.