Bela-wetgewing torring aan skikking van 1994

Deur dr. Wynand Boshoff

(Argieffoto: ANA)

Die jongste wysigingswetsontwerp op basiese onderwys (die Bela-wetgewing) is tans in proses. Dit is die eerste keer in 2017 gepubliseer en het deur die openbaredeelnameproses gegaan. Na aanleiding daarvan is dit aangepas en laat verlede jaar na die parlementêre portefeuljekomitee gebring. Hier word nog ʼn openbaredeelnameproses beplan, omdat die hele saak so omstrede is. Maar hoekom is dit omstrede?

Die bevoegdhede van skoolbeheerliggame trek die meeste aandag. Tans kan hulle die taalbeleid, toelatingsbeleid en gedragskode van ʼn skool bepaal. As hierdie wetsontwerp wet word, doen die provinsiale departementshoof dit.

Iets wat ons seker met die oorlaaide woord “alternatief” kan beskryf, is ook belangrik. Tuisskole ken ʼn mens lankal en aanlyn klasse het skielik met die grendelstaat ʼn algemene ding geword – selfs aanlyn skole. Dan is daar mikroskole waar ʼn paar gesinne saam ʼn tuisskool bedryf, of meer geformaliseer byeenkom om skool te gee.

In landelike omgewings is een van die “alternatiewe” maniere van onderwys gee vir party die verskil tussen ʼn huislike omgewing waarin kinders grootword, of van jongs af na koshuise ver van die huis af. As dit van die wetsontwerp afhang sommer al vir vyfjariges – want graad R raak verpligtend.

Vir party mense wat dalk reg oorkant ʼn beroemde skool woon, is “alternatiewe” onderwys ook van belang. Die ouers glo dalk in ʼn heel ander vorm van opvoeding waar skole met gereglementeerde grade en afgebakende vakke plek maak vir leer deur te doen; die wêreld as jou klaskamer.

Of dalk is hulle nie só avant-garde nie, maar hulle verkies buitelandse kwalifikasies en leerplanne bo die ideologies gedrewe kurrikulumverklaring van die Suid-Afrikaanse departement van basiese onderwys.

Die punt is, hierdie alternatiewe is die werklikheid vir tienduisende kinders van skoolgaande ouderdom. Maar vir die wetsontwerp bestaan hulle nie, want net drie vorme van onderwys word erken: Openbare skole, onafhanklike skole en tuisskole.

Openbare skole hoef nie by ʼn regulerende liggaam te registreer of akkrediteer nie, want dis dan die departement se eie skool. Puttoilette, lekkende dakke en al. Onafhanklike skole moet deur Umalusi se streng regulering gaan, wat beteken alles moet tip-top wees. Van seep by wasbakke met warm en koue water in kleedkamers (en nie te veel kinders vir die aantal toilette nie), tot ʼn beleid vir elke moontlike gebeurlikheid op lêer en dadelik beskikbaar. Seker goed en wel.

Tuisskole moet ook registreer. Volgens die wetsontwerp nie regtig registreer nie, meer lisensieer. Twee gesinne wat saam ʼn tuisskool bedryf is nie ʼn tuisskool nie, dis ʼn onafhanklike skool − so sal die wet dit reël as hierdie wet word. Alle dokumentasie en geriewe wat van ʼn volskaalse onafhanklike skool verwag word, sal ook van die twee gesinne verwag word.

Die wetskrywers het dalk nie so oor “alternatiewe” onderwys gedink nie. Hulle het dalk glad nie daaroor gedink nie. En dit is die tweede probleem wat baie aandag trek: Die wet is eenvoudig verouderd nog voor dit wet is.

Maar daar is nog iets en dit kry min aandag: Hierdie wetsontwerp torring die politieke skikking van 1994 verder uit. In prof. Koos Malan se taal: “dit wysig die land se konstitusie sonder om aan die grondwet te raak”.

In die onderhandelingsproses van die 1990’s was “gemeenskapslewe” ʼn belangrike kwessie. In 1992 het die NP selfs die selfvertroue gehad om in ʼn referendum-plakkaat “eie skole, eie woongebiede” te beloof. Op die end het hulle die aandrang op “minderheidsregte” laat vaar, omdat “individuele regte die beste waarborg vir minderheidsregte” sou wees. Met daardie aanspraak is mense ook in 1994 gevra om NP te stem – en die meeste Afrikaners het ook.

Om “eie woongebiede” die waarheid te maak was uit die staanspoor ʼn verlore saak, maar met “eie skole” was daar meer sukses. Dit het so gewerk:

Dat daar slegs een skoolstelsel met gelyke besteding op skole en een leerplan moes wees, was ʼn hoeksteen van ANC-beleid. Wat wel toegegee is, is dat elke gemeenskap beheer oor sy gelyke skool kon hê. Die SA Skolewet van 1996 het dus nie na staats- en private skole verwys nie, maar na openbare – en onafhanklike skole.

ʼn Openbare skool se grond en geboue behoort wel aan die staat, onderwysers word volgens ʼn getalgebaseerde formule deur die staat aangestel, daar is net een nasionale kurrikulum, maar verder sou die skoolbeheerliggaam (SBL) wye magte hê om te besluit wat in ʼn skool aangaan en wat dit kos om daar te wees.

So het ʼn hele nuwe onderwyskultuur in Suid-Afrika ontstaan, waar skole hulle “etos”, “kultuur” en “waardes” naas sport– en akademiese prestasie gebruik om kinders (nou leerders of dalk kliënte) te lok. Die vermenging tussen kulturele–, opvoedkundige– en kommersiële oorwegings het inderdaad voortreflike skole tot gevolg gehad.

Die gemeenskap wat die skool bedien en waardeur dit gevul word, is nie meer geografies soos tevore nie, en ook nie rasgebaseerd nie, maar wel op wat jy wil hê en of jy dit kan bekostig. Dit was so naby as wat ʼn mens aan eie skole kon kom en die nuwe Suid-Afrika was verteerbaar naby genoeg aan die oue, sodat onversetlikes hulle tog maar met die nuwe bedeling versoen het.

Skoolbeheerliggame se uitgebreide bevoegdhede was dus ʼn belangrike deel van die 1994-skikking. En dit is wat met die Bela-wetgewing verander word. Die staat is uiteindelik moeg vir skoolbeheerliggame wat staatsfondse gebruik (al word dit mildelik uit eie bronne aangevul en uitstekend bestuur) en hulle eie ding daarmee doen.

Daarom sal die departementshoof die belangrike besluite neem en die SBL kan besluit of hulle pannekoek of hamburgers verkoop. Dit is die skikking wat verbreek word.

Baie mense praat van ʼn opvolgskikking. Hulle moet oplet: Die opvolgskikking ontvou voor ons oë. En dit is nie beter as die eerste een nie.

  • Dr. Wynand Boshoff is ‘n VF Plus-LP en die party se hoofwoordvoerder oor onderwys.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

casper ·

Hierdie spul sal nioe ophou met hulle inmenging tot on na aksie oorgaan nie !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.