Belhar-debat: Die nuwe hoogste gesag in die NG Kerk

ng-kerk-franschhoekHierdie artikel deur ds. Petrus Kriel is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

Daar is ’n groot verskil tussen wat fout is met die Belharbelydenis en wat fout is met die voorgestelde nuwe Artikel 1 vir die Kerkorde van die NG Kerk.

Die nuwe konstituering van die NG Kerk in 2015/16 is iets anders as die Belharbelydenis van die NGSK in 1986. Die Belharbelydenis is net een kerklike geskrif teen ’n misstand van byna dertig jaar gelede. Artikel 1 van die nuwe kerkorde is ’n nuwe wyse waarop die NG Kerk as kerk vir die toekoms gekonstitueer word.

Die fout met die nuwe voorgestelde artikel 1.2.2 is dat, binne die NG Kerk soos hy nuut gekonstitueer word, die Woord van God nie meer die hoogste gesag in die NG Kerk sal wees nie. In die plek van die Woord van God as hoogste gesag word spiritualiteit, en daarom sogenaamde bemagtigde geestelike leiers, as die verteenwoordigers van hierdie spiritualiteit, die hoogste gesag in die NG Kerk. Hierdie verskuiwing van wat die hoogste gesag in die nuwe gekonstitueerde NG Kerk gaan wees, word op die oomblik heeltemal misgekyk in die hantering van die nuwe voorgestelde artikel oor die Belharbelydenis.

Die nuwe artikel 1.2.2 oor die Belharbelydenis in Artikel 1 van die voorgestelde nuwe kerkorde klink as volg: “ Die belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, sy ampsdraers, en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as belydenisskrif onderskryf nie.”

Die konstitusionele verskuiwing van die Skrif as hoogste gesag na spiritualiteit as hoogste gesag in hierdie artikel, word heeltemal misgekyk indien mens net sou fokus op die byvoeging van die Belharbelydenis as deel van die nuwe belydenisgrondslag van die NG Kerk.

Hierdie artikel gaan oor baie meer as net die byvoeging van die Belharbelydenis by die belydenisgrondslag van die NG Kerk. Dit gaan oor die nuwe bewoording dat ’n belydenisskrif wat volgens die Algemene Sinode “in ooreenstemmig met die Woord van God” waar is, en wat deel van die konstituering van die NG Kerk is, nie meer deur lidmate of kerklike vergaderinge as belydenisskrif aanvaar hoef te word nie.

Ongeag of dit in hierdie artikel oor die Belharbelydenis sou gaan of nie, is hierdie vryheid van lidmate teenoor ’n belydenisskrif wat eerstens volgens die Woord van God die waarheid is, en tweedens deel van die kerk se belydenisgrondslag is, ’n heel nuwe en eie geloofsaak in die NG Kerk, en waarskynlik ook in die Gereformeerde kerke wêreldwyd.

Hierdie nuwe saak in hierdie artikel beteken dat die kerk as gemeenskapsinstelling homself die reg toe eien om te mag besluit dat lidmate nie meer in God hoef te glo soos wat geloof in God ’n belydenisskrif bely word nie.

Dit moet goed verreken word dat die Algemene Sinode as kerklike vergadering reeds aanvaar en verklaar het dat, volgens hierdie spesifieke vergadering van die NG Kerk, die Belharbelydenis ooreenkomstig die Woord van God die waarheid oor God is. Daarom beveel hulle by lidmate aan dat die Belharbelydenis deur lidmate binne die nuut gekonstitueerde NG Kerk aanvaar kan word as die waarheid oor God volgens die Skrif.

Die werklike verskuiwing in hierdie nuwe kerkorde artikel gaan oor hierdie nuwe tipe vryheid wat aan lidmate gegee word. Dit is die vryheid om nie in God te hoef te glo volgens ’n geloofsbelydenis wat in ooreenstemming met die Woord van God die waarheid oor God bely nie. Die waarheid oor wie God in hierdie belydenisskrif volgens die Skrif as God is, is nie meer bindend vir die geloof en lewenswyse van lidmate nie. Lidmate word deur die kerk as instelling die vryheid gegee om hulle nie deur hierdie belydenis oor God in hulle geloof en lewenswyse te laat bind nie.

Dit is die werklike diepgaande konstitusionele verskuiwing wat in hierdie artikel plaasvind. Die Algemene Sinode gee lidmate van die NG Kerk die vryheid om nie deur ’n geloofsbelydenis gebind te word nie, al is hierdie belydenis oor God volgens hulle eie oortuiging, en besluite as kerklike vergadering, in ooreenstemming met die Skrif die waarheid oor God.

Daarom is die werklike vraag wat gevra moet word: waar kry die Algemene Sinode hierdie nuwe vorm van gesag vandaan? Dit is, die gesag om as kerk lidmate vry te maak van ’n geloofsbelydenis wat ooreenstemmig die Skrif die waarheid oor God bely en deel van die konstituering van die NG Kerk is?

Dit mag volgens die eerste punt van die kerkorde lyk asof hierdie nuwe tipe gesag volgens die gesag van die Skrif deur hierdie kerklike vergadering toegestaan word. Want in die eerste punt word gestel dat die NG Kerk gegrond is op die Woord van God, bedoelende as die hoogste gesag in die NG Kerk.

Maar dit sou beteken dat die Skrif openbaar dat ’n geloofsbelydenis oor God wat die waarheid oor God bely, en binne die kerk as die waarheid oor God erken word, iets is wat lidmate nie tot God en mekaar verbind nie.

Die werklike vraag wat dan aan die Skrif gestel moet word, sou dit nog as die hoogste gesag binne die NG Kerk erken word, is wat leer die Skrif oor die karakter en werking van die geloofsbelydenis in en van Jesus Christus as die Here? Kan lidmate van die kerk van die Here die waarheid oor wie die Here is, bely sonder dat ander lidmate van die kerk van die Here aan hierdie belydenis gebind is in hulle eie geloof en lewenswyse?

Seker een van die belangrikste gedeeltes vir die beantwoording van die hierdie vraag in die Skrif is die Here se openbaring van Homself as die Christus, en Petrus se geloofsbelydenis oor Jesus as die Christus, in Matteus 16:13-19 en in die ooreenstemmende gedeeltes in Mark. 8:27-30, Luk.9:18-21 en Joh. 20:19-31.

“Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.

In hierdie Skrifgedeeltes word die eenheid tussen die openbaring van God en die geloofsbelydenis vanuit hierdie openbaring gewys. Dit is dieselfde eenheid wat Paulus beskryf as “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered” (Rom.10:9-10).

Jesus word deur die Vader geopenbaar as die Christus. Die Vader openbaar Jesus nie as die herlewing van Johannes die Doper, as ’n profeet soos die profete van die Ou Testament of die profeet voor die koms van die Christus, Elia, nie. Die Vader openbaar Jesus ás die Christus en ás die Seun van God.

Christus doen iets baie unieks in en deur hierdie spesifieke geloofsbelydenis: Hy bou sy kerk op hierdie geloofsbelydenis. Christus bou nie sy kerk op ander tipe geloofsoortuigings en meningsverklarings oor Hom soos dat Hy ’n herlewing van Johannes of ’n profeet van God is nie.

Die Vader openbaar Christus as Christus en Here in die hart van sy kinders. Geen dissipel openbaar Christus as Here en God nie. Geen menslike handeling, besluit of geskrif anders as die Woord van God kan ooit die karakter van hierdie spesifieke openbaring hê nie. Die openbaring is en bly altyd ’n soewereine daad van God alleen. Daarom stel die Here aan Petrus dat geen mens dit aan hom geopenbaar het nie, maar net die God die Vader alleen. Wat mense aan mekaar oor Christus bekendmaak is verklarings soos dat Hy ’n opvolger van Johannes die Doper of ’n profeet van God is.

Die openbaring van God in Christus bring gelowiges tot die openbare belydenis van Christus as Here en God. Daarom is die woorde van Petrus: “U is die Christus die Seun van die lewende God”, nie self openbaring nie, maar die geloofsbelydenis uit die openbaring van God, net soos Paulus die onderskeid maak tussen hart en mond, glo en bely.

Wat belangrik is, is om te sien wat doen Christus in en deur hierdie spesifieke geloofsbelydenis teenoor ander menslike verklarings oor Christus doen. Die geloofsbelydenis in Christus, wat volgens die openbaring van God die waarheid is, is nie maar net ’n verklaring van menslike oortuiging of beleid van menslike bedoeling nie. Hierdie tipe geloofsbelydenis self is die skepping van die Here en ook werktuig van die Here. ’n Geloofsbelydenis in Christus wat volgens die openbaring van Christus die waarheid is oor Christus, is ’n skepping van die Here self, net soos die geloof in die hart.

Hierdie geloofsbelydenis, uit die hart en met die mond, word ook nie ’n menslik beheerde, bestuurde en georganiseerde daad nie, anders as verklarings oor Jesus uit menslike ervarings van Jesus.

Christus self handel in en deur hierdie tipe geloofsbelydenis wat die waarheid van die openbaring van God erken. In en deur hierdie belydenis bou Christus as Here self sy kerk. Nét deur hierdie tipe geloofsbelydenis wat in ooreenstemming met die waarheid van die openbaring van die Vader is!

In hierdie wêreld bou Christus nie sy kerk op die direkte openbaring van God nie, maar op die belydenis van die kerk uit en oor die openbaring van God.

Hierdie “bou” van Christus van die kerk in en deur die openbare belydenis van die kerk oor Jesus as Here en God, is ’n handeling van die verhoogte Christus. Hierdie “bou” is nie die handelinge van kerklike vergaderinge, godsvervulde geestelikes, visionêre intellektueles of bemagtigde geestelike leiers nie. Daarom is die kerk ook iets heeltemal anders as die spirituele gemeenskappe wat sulke geestelikes, intellektueles en leiers met ander tipe verklarings oor Jesus om hulle vergader.

Christus as verhoogde Here versamel sy kerk met Hom as Here, bring sy kerk teenoor Hom as Here tot verantwoording, bring sy kerk sy tot keuses vir Hom as Here en maak sy kerk ’n openbare instelling in die gemeenskap, net soos wat die Here die staat ’n openbare instelling van God in die gemeenskap maak. Dit alles doen Christus self as Here in die geloofsbelydenis van Hom as Here en God.

Prof. CJ Wethmar dui in sy boek, “Dogma en verstaanshorison”, hierdie werking van Christus in die geloofsbelydenis aan as die antwoordkarakter, die verantwoordelikheidskarakter, die beslissingskarakter en die openbaringskarakter van die geloofsbelydenis in Christus.

Die vryheid wat in die nuutgekonstitueerde NG Kerk aan lidmate gegee word teenoor ’n geloofsbelydenis oor Christus, wat volgens die Skrif die waarheid oor Christus is, word deur die pleitbesorgers van hierdie nuwe soort vryheid “ruimte” genoem en die “skep van ruimte vir mekaar”.

Wat is die bedoeling en werking van hierdie sogenaamde “ruimte” en “ruimteskepping vir mekaar”?

Die bedoeling en werking van hierdie nuwe tipe vryheid is dat ’n geloofsbelydenis oor Christus vir sommige lidmate, ampsdraers en kerklike vergaderinge volgens die Woord van God die waarheid oor Christus kan wees, terwyl dit vir ander lidmate van dieselfde kerk nie die waarheid oor Christus volgens die Woord van God hoef te wees nie.

Die bedoeling en werking van hierdie “ruimte” wat geskep en gegee word, is dat Christus as Here van die kerk ook hierdie ruimte in die kerk vir lidmate sal moet gee.

Dit is die bedoeling van en werking van hierdie nuwe tipe vryheid: dit maak lidmate van die nuut gekonstitueerde NG Kerk vry van wat Christus in en deur die geloofsbelydenis in Hom doen.

Volgens hierdie nuwe artikel gee Christus as Here binne sy liggaam hierdie tipe vryheid aan die lede van sy liggaam. Hierdie vryheid beteken dat Christus as Here nie in en deur ’n geloofsbelydenis oor Hom wat volgens die openbaring van die Vader waar is, lede van sy kerk versamel, teenoor Hom tot verantwoording bring, vir Hom tot beslissing bring of hulle as openbare instelling vorm nie.

Hoe kan Christus as Here van sy Kerk vir lidmate, en dan nog aan sekere lidmate teenoor ander, binne die nuut gekonstitueerde NG Kerk hierdie “ruimte”, dit is vryheid van ’n geloofsbelydenis oor Hom aan lidmate gee en nog sy kerk bou?

Christus kan tog nie as Here van sy kerk sy ledemate vrystel van sy kerkbou nie. Dit is tog ondenkbaar dat Christus as Here sy kerk net vir sommige lede van sy liggaam bou!

Christus as Here van sy kerk kan nie lede van sy liggaam vrystel van sy handelinge as Here waardeur Hy hulle as sy liggaam vergader, hulle tot verantwoording teenoor Hom as Here bring, hulle voor die beslissing teenoor Hom as Here stel of as openbare instelling in die gemeenskap vorm nie.

Sou die Here dit doen, dan sou Hy nie meer die Hoof van sy liggaam wees nie, nie meer die Here van sy Kerk wees nie, of ten minste dan nie meer die Here van die nuut gekonstitueerde NG Kerk wees nie.

Nou hoe kan lidmate van die nuut gekonstitueerde NG Kerk dan volgens die NG Kerk die vryheid hê om hulle te laat bind of nie te laat bind nie, net soos hulle wil, deur ’n geloofsbelydenis wat volgens die openbaring van die Here die waarheid oor die Here is? Volgens ’n geloofsbelydenis waarin die openbaring van God die Vader oor Jesus as Christus en Here bely word?

Want teenoor ’n geloofsbelydenis in Hom, wat volgens sy openbaring waar is, kan lidmate nou volgens die nuwe kerkorde artikel oor die Belharbelydenis, die vryheid hê om hulle nie in en deur hierdie geloofsbelydenis te laat versamel, tot verantwoording gebring te laat word, tot beslissing gebring te laat word of as openbare instelling gevorm te laat word nie, of hulle kan as hulle wil.

Die enigste wyse waarop hierdie vryheid moontlik is, sonder om die kerk te laat disintegreer, is deurdat die Here nie meer deur en in die geloofsbelydenis sy kerk bou nie.

Die Here kan tog nie een kerk bou waarin lede deur Hom of versamel word of nie, of tot verantwoording gebring word of nie, of teenoor Hom tot ’n beslissing kom of nie, of deel van die openbare instelling van die kerk kan wees of nie. Dit is nie kerkbou nie. Dit is kerkskeuring en die Here kan nie sy eie kerk op hierdie wyse verskeur nie.

Wat is dan hierdie nuwe kerkbou van die Here waarin lidmate nie deur ’n geloofsbelydenis in Hom meer versamel en regeer word nie?

Dit is reeds verwoord in die voorgestelde nuwe artikel oor die Belharbelydenis. Die grondslag van hierdie ruimteskeppende gees tussen lidmate is hulle spiritualiteit, nie meer hulle geloofsbelydenis nie.

Spiritualiteit is volgens die Matteusteks dan wat mense oor Jesus sê soos hulle elkeen Jesus beleef. Spiritualiteit is iets anders as die geloof in Jesus uit die openbaring van God die Vader. Die aanvoerders van spiritualiteit noem hulle geestelikheid juis spiritualiteit om hulle te onderskei van hierdie vaste gronde dat oor Jesus net geglo kan word soos God dit net op een wyse in die Skrif openbaar.

Dit kan tog nie anders dat hulle hierdie vryheid op spiritualiteit begrond nie!

Indien hulle die geloofsbelydenis die grondslag van die kerk sou gemaak het, dan beteken dit dat hulle in hulle grondslag as kerk verdeeld is, maar meer as dit, in hierdie artikel ooreenkom om in hulle geloofsgrondslag verdeeld te wees. Want die artikel oor Belhar is ’n spirituele ooreenkoms om oor die geloof wat in ooreenstemming met die woord van God die waarheid is, verdeeld te mag wees.

Dít terwyl hierdie artikel juis bedoel is om kerkeenheid te bewerk!

Hoe absurd dit op die oog af mag lyk gaan dit tóg oor kerkeenheid. Maar dit gaan nie meer in hierdie spesifieke artikel 1.2.2 oor die Belharbelydenis oor kerkeenheid in die eenheid in geloofsbelydenis nie. Die geloofsbelydenis wat volgens die openbaring van die Vader die waarheid oor Jesus is nie! Daaroor kom ons nou ooreen om verdeeld te wees. Dit gaan nou oor eenheid in die spiritualiteite oor Jesus: oor hoe mense Jesus beleef en hoe hulle sê hulle Hom beleef.

Hierdie artikel maak dat lidmate met ’n spiritualiteit waarin God op ’n besondere wyse die God van die maatskaplike armes, verontregtes, gevangenes en onderdruktes is, moet ruimte maak vir lidmate wat nie hierdie spiritualiteit met God deel nie en andersom.

Dit is die werklike geloofs- en konstitusionele verskuiwing wat in hierdie voorgestelde artikel plaasvind. Christus bou nou sy kerk in en deur die spiritualiteit van lidmate. Daarom moet hulle met mekaar in hulle spirituele verskille en diversiteit vir mekaar ruimte gee om een spirituele gemeenskap te wees.

Hierdie spirituele gemeenskap word nie meer deur die Here gebou in en deur hulle geloofsbelydenis as antwoord op sy openbaring as Here nie. Dit is nie meer volgens hierdie artikel die wyse waarop die Here self hierdie spirituele gemeenskap versamel, tot verantwoording bring, tot beslissing bring en tot openbare instelling maak nie.

Volgens hierdie artikel se vryheid bou die Here nou hierdie gemeenskap in en deur lidmate se spiritualiteit en daarom moet húlle kerkeenheid bewerk deur spirituele konsensus in spirituele diversiteit.

Hierdie artikel verwoord die tipiese geestelike “Gemeentebou” spiritualiteit. “Gemeentebou” is volgens geestelikes die geestelike aksie van mense wat met God se krag en gees vervul is, dit is, bemagtigde geestelike leiers. Daarom is volgens hulle oortuiging leraars en sommige lidmate op die geestelike vlak dat hulle “gemeentebouers” is en ander lidmate op die vlak om deur die “gemeentebouers” opgebou te word. Opgebou te word in hierdie spirituele eenheid met God!

Met “ruimte gee” en “ruimte skep” word bedoel om vir mekaar se spiritualiteit vryheid te gee, dit is, om binne een organisasie verskillende spiritualiteite, geestelike belewenisse, oor God te akkommodeer. Deur hierdie diverse spiritualiteite van hoe mense Jesus beleef en sê wie Hy vir hulle in hulle belewenisse is, moet ’n nuwe geestelike eenheid en nuwe kerk opgebou word.

Dit is die werklike konstitusionele verskuiwing wat plaasvind in die voorgestelde nuwe kerkorde artikel 1.2.2 oor die aanvaarding van die Belharbelydenis. Dit is ’n verskuiwing in die vraag en antwoord oor wie die kerk van die Here bou en waardeur die kerk van die Here gebou word.

Maar wie en wat is dan die hoogste gesag in hierdie nuwe geestelike gemeenskap?

Hierdie antwoord lê opgesluit in die antwoord wie besluit het dat Christus sy kerk nie in en deur die geloofsbelydenis as antwoord op sy openbaring as Here bou nie, maar dat Christus as Here sy kerk nou sou bou deur lidmate se spiritualiteit!

Want wie vir die Here hierdie tipe besluit geneem het dat Hy nie meer in en deur die geloofsbelydenis in Hom sy kerk versamel, sy kerk tot verantwoording en tot beslissing vir Hom as Here bring nie en Hy nie meer hierdie geloofsgemeenskap as openbare instelling deur hierdie belydenis vorm nie, is nou teenoor die Here wat Hom in sy Woord openbaar, die hoogste gesag in hierdie geestelike tipe gemeenskap.

Wie hierdie besluit vir die Here geneem het om lidmate vry te maak van die geloofsbelydenis in Hom as sy kerkbou en spiritualiteit ingestel het as die Here se nuwe kerkbou is nou die hoogste gesag in die nuut gekonstitueerde NG Kerk!
Want hulle het die Here se middel van kerkbou vir die Here verander! En wie dit vir die Here verander het, het nou hoër gesag as die Here wat Hom anders as dit in sy Woord openbaar.

Die Woord van God kan binne hierdie nuwe “ruimte” nie meer die hoogste gesag in die kerk wees nie. Volgens die woord van God bou Christus sy kerk op die geloofsbelydenis as antwoord op sy openbaring as Here. Wie besluit dat die Here dit nou deur spiritualiteit en spirituele konsensus doen, het hoër gesag as die Woord van God.

Die geloofsbelydenis in die Here is nie maar net die kerk se “leer”, die kerk se “dogma” of die kerk se “beleidskrif” waaroor die kerk kan besluit hoe dit lyk, saamgestel is en hoe ’n geloofsbelydenis in die Here werk nie. Mense se verklarings oor hulle belewenisse van Jesus is ’n spirituele gemeenskap se “leer”, “dogma” of beleidskrifte oor Jesus, wat hulle kan opstel en laat werk soos hulle God beleef. Die geloofsbelydenis as antwoord op die Here se openbaring is iets anders as hierdie ervarings en verklarings oor Jesus. Dit is nie ervarings en verklarings nie. Dit is die kennis van en vertroue in die Here soos Hy Hom openbaar in sy Woord.

Die geloofsbelydenis in Christus as Here ís die Here se kerkbou. In en deur hierdie belydenis is die Here self handelend besig: versamel Hy, bring Hy sy kerk tot verantwoording, tot beslissing teenoor Hom en vorm Hy hulle as openbare instelling.

Wie gee hierdie tipe vryheid, hierdie “ruimte”, vir lidmate teenoor die wyse waarop die Here in en deur die geloofsbelydenis as Here sy kerk bou? En watter gesag het hulle wat hierdie “ruimte” skep en gee, om dit teenoor die wyse waarop die Here deur ’n geloofsbelydenis in Hom, sy kerk bou, te mag gee?

Die antwoord op die vraag wie hierdie vryheid binne die nuut gekonstitueerde NG Kerk gee, is – bemagtigde spirituele leiers.

Hulle gee hierdie vryheid en eis as bemagtigde geestelike leiers die aanvaarding van hierdie vryheid deur lidmate. Dit doen hulle deur lidmate te verplig om Christus na te volg volgens die voorbeeld van hulle spiritualiteit oor Jesus as die bemagtigde leiers.

Die antwoord op die vraag op grond van watter gesag hulle hierdie ruimte kan gee, is: op grond van die gesag van hulle spiritualiteit en op grond van hulle posisie in meerdere kerkvergaderinge.

Dit is die nuwe hoogste gesag in die nuwe kerk van geestelike diversiteit: spiritualiteit en bemagtigde spirituele leiers.

In hulle geestelike verhouding met God word hulle een met God in sy openbaring, raadsplan en wil. Daarom is hulle visies, God se nuwe droom vir die kerk; hulle spirituele belewenisse, God se stem in die kerk en hulle besluite in vergaderinge, God se raadsplan vir die kerk.

Hierdie eenheid met God in sy openbaring buite die geloofsbelydenis in Christus is die werkende krag wat maak dat wanneer die kerklike vergaderinge oor die Belharbelydenis in gesprek gaan dit nie as vergaderinge bestuur word nie maar as aanbiddingsgeleenthede met die ritueel van oop Bybels. Hierdie nuwe verskuwing moet in die gees van aanbidding van die nuwe geestelike leiers aanvaar word want hulle visie is God se droom, hulle geestelikheid God se stem en hulle besluite die raad van God.

Daarom ook die opvallende verandering in die motivering van Artikel 1. Dit word nie meer gemotiveer as omdat dit volgens die Woord van God die waarheid is nie. Dit kan trouens nie meer as motivering dien binne hier die nuwe tipe vryheid nie. Die nuwe motivering is omdat die leiers “die stem van God” gehoor het, wat iets anders is as die geloof in die Woord van God. In hierdie “stem van God” bou die Here nou die kerk op die direkte openbaring van God aan die geestelike leiers, nie meer op die geloofsbelydenis in Christus as Here nie.

Daarom moet lidmate nou die voorbeeld van die geestelike leiers volg. Húlle het in húlle belewenis van Jesus “die stem van God” gehoor.

Dit is ook die gronde vir die drif dat sinodes voor lidmate en kerkrade moet stem: sodat die bemagtigde leiers vir lidmate die voorbeeld sal stel hoe om Jesus in hierdie stemming na te volg.

Hierdie nuwe hoogste gesag, spiritualiteit en bemagtigde geestelike leiers, word treffend geïllustreer in wisselvallige optrede en mening van die huidige moderator van die ASM, dr. Nelus Niemandt, as een van die pleitbesorger van hierdie voorgestelde nuwe kerkorde artikel.

Tydens die sinode-sitting van die Noordelike Sinode in 2012 het dr. Niemandt die vergadering toegespreek en gestel dat die Heilige Gees self lidmate sal oortuig om die Belharbelydenis as in ooreenstemming met die woord van God te aanvaar.

Die Skrifgedeelte wat hy vir hierdie stelling gebruik het, was Handelinge 15 se berig van die gesamentlike vergadering en besluit van die gemeentes van Antiochië en Jerusalem.

Hierdie vergadering en besluit het gehandel oor die opvatting van Joodse Christene dat dit nodig is om besny te word om gered te word:

“Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.” (Hand 15:1.)

Die strekking van sy stelling was vir die vergadering duidelik: net soos die vergadering in Jerusalem kon sê dat hulle en die Heilige Gees saam besluit het, net so kan die Algemene Sinode na 2011 sê dat hulle en die Heilige Gees besluit het die Belharbelydenis moet deel wees van die NG Kerk se belydenisgrondslag. Daarom sy gewraakte stelling dat die Heilige Gees na die 2011 Algemene Sinode die lidmate van die Belharbelydenis sal oortuig.

Hierdie oortuiging wat hy uitgespreek het, was ook die gronde van die sogenaamde “interpretasie” van Algemene Sinodale Moderatuur op 30 en 31 Januarie 2013 van die besluit van die AS 2011.

Die ASM, as dagbestuur van die Algemene Sinode, het naamlik besluit dat die AS 2011 “’n duidelike besluit vir Belhar sou gemaak het”. Met hierdie “interpretasie” het hulle besluit dat die stemming van lidmate, kerkrade en sinodes net ’n approbasieproses sou wees. Die AS 2011 sou kláár besluit het.

In hierdie besluit was die oortuiging dat húlle die stem van God gehoor het, deur God se stem bemagtig is en die bemagtigde leiers is wat lidmate moet navolg as deel van hulle navolging van Christus.

Volgens hierdie eiemagtige optrede van die ASM sou die goedkeuring van die Belharbelydenis nie ’n proses wees waarin die NG Kerk vir of teen die Belharbelydenis kon kies, en die AS eers daarna die Belharbelydenis as ’n belydenis van die NG Kerk kon aanvaar nie.

Hulle het as bemagtigde leiers besluit die Algemene Sinode en die Heilige Gees het klaar oor die Belharbelydenis besluit. Dit kan nog net geapprobeer word terwyl dit die Heilige Gees se werk sou wees om lidmate te oortuig om die Belharbelydenis
te aanvaar as in ooreenstemming met die Woord van God.

Hierdie “interpretasie” is vervat in die voorstel van die ASM aan die AS van 2013:
“1. Die Nederduitse Geformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.
2. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die
belydenisskrifte wat deur kerkvergaderinge, ampsdraers en lidmate onderskryf word.
3. Die Kerk bely:
3.1 in verbondenheid met die vroeë kerk die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese
Geloofsbelydenis, die Geloofbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanatius;
3.2 in verbondenheid met die kerk van die reformasie die drie Formuliere van Eenheid, naamlik die
Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofbelydenis en die Dordtse Leerreëls;
3.3 in verbondenheid met die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks die Belydenis van Belhar.”
(Agenda bl.173.)

Volgens die voorstel van die ASM aan die AS 2013 sou die NG Kerk die Belharbelydenis aanvaar het vir elke lidmaat, kerkraad, ampsdraer en kerklike vergadering “as in ooreenstemming” met die Woord van God.

Volgens dr. Niemandt se stelling aan die Noordelike Sinode sou hierdie manier waarop dit aanvaar moet word, dus die besluit van die AS 2011 en die Heilige Gees gewees het. Daarom moes die vergadering van die Noordelike Sinode maar net van ’n bemagtigde geestelike leier hoor en aanvaar dat die Heilige Gees hulle een of ander tyd self hiervan sal oortuig. Die Heilige Gees het klaar die leiers oortuig!

Die AS 2013 het nie hierdie aanbeveling aanvaar nie, maar wel die nuwe voorgestelde artikel oor Belhar soos bo verwoord, goedgekeur.

Die AS het ook nie “klaar oor Belhar besluit” in 2013 nie, maar net ’n wysiging van Kerkorde Artikel 1 voorgestel vir goedkeuring deur lidmate, kerkrade en sinodes, vóór die Algemene Sinode daaroor kan besluit om dit deel van die geloofsgrondslag van die NG Kerk te laat wees.

Op die sinode-sitting van die Oostelike Sinode in 2014, waar die sinode oor hierdie nuwe voorstel van Artikel 1 van die AS 2013 gestem het, het dr. Niemandt weer Handelinge 15 gebruik as motivering hoekom nou vir die voorstel van die AS 2013 gestem moes word.

Maar nou met ’n heel nuwe spirituele interpretasie. Die interpretasie van 2012 was dat omdat die Algemene Sinode en die Heilige Gees saam besluit het, moes die Belharbelydenis deur die hele kerk as in ooreenstemming met die Woord van God aanvaar word.

In hierdie sinode vergadering het dr. Niemandt verduidelik dat die Handelinge 15 vergadering juis ’n voorbeeld sou wees van hierdie tipe vryheid dat nie almal die Belharbelydenis moet aanvaar nie: die Handelinge 15 vergadering sou besluit het die Joodse Christene mag besny wees maar die nie- Joodse Christene hoef nie besny te word nie, en elkeen is reg. In 2014 is Handelinge 15 nou ’n voorbeeld van spirituele konsensus, nie meer van wat volgens die Woord van God waar is nie.

Omdat die AS 2013 ’n ander besluit geneem het as die “besluit” van AS 2011, gaan die Heilige Gees lidmate nou van die nuwe besluit van die AS oortuig: spirituele konsensus is die nuwe werkswyse van die Heilige Gees.

En so sal elke nuwe besluit van bemagtigde geestelike leiers ná kerklike vergaderinge nou die besluit van die geestelike leiers “en die Heilige Gees wees”. Maak nie saak hoe teenstrydig die nuwe besluite van die nuwe bemagtigde leiers of vergaderinge met die vorige geestelike leiers of vergaderinge se vorige besluite gaan wees nie.

Die werklike saak in die vergadering van Handelinge 15 was dat jy net deur jou geloof in Jesus Christus gered word, en nie deur enige ander voorskrif volgens die wet nie (Hand. 15:11). Hieroor is daar in die vergadering van die gemeentes Antiochië en Jerusalem geen konsensus in verskil toegelaat nie. Paulus gee in sy brief aan die Galasiërs die vergadering van Handelinge 15 se standpunt as volg: “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou.”

In dr. Niemandt se spirituele herinterpretasie van die Skrif word hierdie eenheid waarin daar geen spirituele verskil of konsensus in die verskil oor die geloof in Jesus Christus mag wees nie, heeltemal verduister. NG Lidmate mag nou volgens Handelinge 15 aan die een kant glo dat Jesus die Here op ’n baie besondere wyse vir sekere sosiale klasse teenoor ander sosiale klasse is, en aan die ander kant hoef ander lidmate hieroor oor die Here heeltemal ’n ander geloof hê. In een kerk ter wille van kerkeenheid!

Hoe hierdie Skrifverduistering juis voorgehou kan word as die bedoeling van die Skrif, is alleen deur die nuwe hoogste gesag in die artikel oor die Belharbelydenis moontlik: die spiritualiteit van lidmate soos bestuur deur die geestelike bemagtigde leiers in meerdere kerkvergaderinge.

Die gekende weg van die Gereformeerde kerke om ’n belydenis wat nie as “in ooreenstemming” met die Woord van God aanvaar kan word nie, dan te aanvaar “in soverre as wat dit met God se Woord ooreenstem”, sodat elkeen deur die Skrif as hoogste gesag in die geloofsbelydenis gebind bly, kon die AS nie volg nie.

Want om die Belharbelydenis op hierdie wyse te aanvaar, “in soverre as wat dit met die Woord van God” ooreenstem, is daar en sal daar nooit binne die familie van die NG Kerk spirituele konsensus oor gekry kan word nie. Om spirituele konsensus te kry moet die wese van die geloofsbelydenis verander word – dat dit die wyse is waarop Christus sy kerk bou.

Spirituele konsensus is die wyse waarop die kerk en die eenheid van die nuwe gekonstitueerde NG Kerk gebou sal word deur bemagtigde geestelike leiers. In hierdie spirituele konsensus kan ’n geloofsbelydenis oor Christus wat volgens die openbaring van Christus waar is, vir lidmate in hierdie nuwe gekonstitueerde gemeenskap nie meer bindend wees nie.

Want in hierdie nuwe gesag en grondslag bou Christus nie meer sy kerk deur en in die geloofsbelydenis nie. Die Here bou nou ’n spirituele gemeenskap op uit wat mense oor Hom sou sê uit al die verskillende wyses waarop hulle Hom beleef.

Die keuse waarvoor die Algemene Sinode sy lidmate, ampsdraers en kerkrade met die nuwe voorgestelde kerkorde artikel geplaas het, is om te kies vir die verskuiwing van die hoogste gesag van die kerk as die Skrif, vir ’n nuwe hoogste gesag: die spiritualiteit van die kerk soos bestuur deur bemagtigde geestelike leiers.

Die gronde vir hierdie verskuiwing is dat Christus nie hierdie nuwe spirituele gemeenskap bou in en deur die geloofsbelydenis volgens sy openbaring nie, maar deur die spiritualiteit van geestelikes.

Hierdie verskuiwing gaan ook nie eers gebeur met die aanvaarding van die kerkorde artikel oor Belhar nie. Dit het reeds in die Algemene Sinode van 2011 gebeur.

In die wyse waarop in die AS 2011 besluit is dat in die NG Kerk:

– aan die bestaan van engele geglo kan word as persoonlike wesens of nie, ten spyte van die geloofsbelydenis hieroor;
– in die instel van die praktyk van die uitdryf van duiwels in die NG Kerk;
– in die aanvaarding van ander menslik opgemaakte seremonies in die plek van nét die doopseremonie wat die Here ingestel het as teken van die eenheid met sy dood en opstanding;
– en ook in die erkenning van saambly as ’n vorm van Christelike liefde voor die huwelik, wat nog net kerklik ingeseën moet word;

het die grondslag van die NG Kerk reeds van die Skrif na spiritualiteit as die hoogste gesag verskuif .

Hierdie besluite is reeds geneem deur en volgens spirituele konsensus van diverse spiritualiteite vir die nuwe NG spirituele gemeenskap.

In die voorstel voor die AS 2013 het die teenstrydigheid in die vergadering aan die orde gekom dat die ASM ’n nuwe geloofsbelydenis as deel van die grondslag van die NG kerk wou goedkeur, volgens die Gereformeerde kwalifikasie van “in ooreenstemming met die Woord van God”, teenoor “net in soverre as wat dit met God se Woord ooreenstem”, terwyl die vergadering self al reeds gefunksioneer het op die nuwe grondslag – spiritualiteit.

In die nuwe voorgestelde artikel oor die Belharbelydenis word hierdie verskuiwing in die begronding van die kerk, wat reeds in die praktyk van die kerk gebeur het, nou net deel van die amptelike kerkorde en amptelike konstituering van die NG Kerk.

Daar is nou ’n wesenlike verskil tussen wat die Here van die Kerk met die geloofsbelydenis in Hom doen en wat in die nuwe gekonstitueerde NG Kerk met die geloofsbelydenis in die Here gedoen word.

Die Here bou sy Kerk op die geloofsbelydenis in Hom. Die nuwe gekonstitueerde NG Kerk word op spiritualiteit gebou terwyl lidmate vrygestel word van ’n geloofsbelydenis in die Here wat volgens die Algemene Sinode volgens die Woord van God die waarheid oor God se openbaring bely.

Wat hou dit in vir die nuwe gekonstitueerde NG Kerk in die aanvaarding van die voorgestelde aritkel 1 oor die Belharbelydenis?

Dit wys duidelik in die Woord van God in 1 Petrus 2: “Daarom staan daar in die Skrif:
“Kyk, Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” en: “’n klip waaroor ’n mens struikel en ’n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem.”

Kan ’n tweederdemeerderheidstem in die NG Kerk van lidmate, kerkrade, sinodes en die Algemene Sinode die wyse waarop die Here sy Kerk bou verander?

Moet die Here sy wyse van regering en die wyse waarop Hy die Hoof van sy Kerk is verander indien daar ’n tweederdemeerheidstem teen Hom en sy kerkbou is?

Gaan die Here na die tweederdemeederheidstem sy kerkbou verander van kerkbou op die geloofsbelydenis in Hom volgens die openbaring van die Vader na kerkbou deur bemagtigde geestelike leiers en diverse spiritualiteite?

Die Here gaan nog steeds die Here wees, soos Hy die Here is!

Hy gaan sy Kerk bou op die Rots wat Hy skep deur sy openbaring as Christus en Seun van God. Hy as Here gaan die Klip wees waaroor mense wat oor Hom verklarings van hulle belewenisse maak, sal struikel en Hy sal self die Rots wees waarteen spirituele gemeenskappe wat hulle self op hierdie belewenisse en verklarings grond, sal vasloop, sal disintegreer en sal verpletter.

Die Here het nog nooit sy Kerk gebou op die verklarings dat mense Jesus beleef as Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een of ander geestelike profeet nie.

Net so min sal die Here sy Kerk versamel rondom ’n verklaring dat Hy meer spesiaal God vir een sosiale klas in die gemeenskap teenoor ’n ander sosiale klas in die gemeenskap is, maak nie saak hoeveel kospakkies aan armes uitgedeel word of hoeveel onderdruktes politieke vryheid verkry nie; die Here sal nie sy kerk teenoor Hom tot verantwoording bring in ’n belydenis dat Hy meer spesiaal Here vir sosiaal armes, verdruktes en gevangenis is as vir hulle wat ryk, vry en nie in die tronk is nie. Al roep geestelike leiers elke dag, in elke preek en elke kategese-les lidmate in hulle gewete voor God hieroor tot verantwoording. Die Here sal nie sy Kerk tot ’n keuse bring vir ’n belydenis dat Hy ’n voorkeurgod vir armes teenoor rykes is of hulle tot die keuse bring dat hulle Hom in so iets sal moet navolg nie, al staan hulle elke dag voor die beskuldiging van rassisme deur mense se spirituele belewenisse oor nuwe navolgingsmodelle van Jesus; nog minder sal die Here spirituele gemeenskappe sy openbare kerk in die gemeenskap laat wees.

Hoe gaan die Here Here wees vir ’n instelling wat in Hom glo volgens die Woord van God en hulle self tegelykertyd vrystel van die geloof wat volgens die Woord oor Hom die waarheid is?

Die Here gaan sy kerk bou op die geloofsbelydenis in Hom en nie een van sy lede vrystel in die wyse waarop Hy sy Kerk bou in en deur die belydenis van Hom as Christus en Here nie. Maak nie saak wie verklaar dat hulle van die wyse waarop Hy sy Kerk bou vrygestel is nie. Elke gelowige sal in sy hart glo en met sy mond bely soos die Here hom in sy Woord openbaar, ongeag vrystellings deur geestelike gemeenskappe en bemagtigde leiers.

Die Here sal elke verklaring oor Hom uit belewenisse van Hom, self verpletter en die gemeenskap wat om hierdie verklaring versamel is laat struikel en disintegreer.

Waar in een instelling soos die nuut gekonstitueerde NG Kerk voorgehou word dat die Here volgens sy openbaring én volgens mense se belewenisse oor Hom Here is, sal die Here in hierdie instelling aan die een kant die Here wees wat op die rots van geloofsbelydenis sy kerk bou, en aan die ander kant terselfdertyd ook die Here wees wat binne hierdie instelling spirituele gemeenskappe oor Hom laat struikel en hulle laat disintegreer.

Hy sal nie hierdie instelling met twee Here’s sy een Kerk laat wees nie. Hý sal dit ’n verdeelde en verskeurde instelling laat wees. Want in sy Kerk is Hy en sy Woord die Hoogste gesag.

Die Here van die Kerk sal die nuut gekonstitueerde NG Kerk ’n innerlike verdeelde en verskeurde instelling laat wees.

Hierdie verdeeldheid en verskeuring sal nie, soos wat die bemagtigde geestelike leiers dit gaan voorhou, deur die rassisme van lidmate verdeeld en verskeurd wees nie. Die Here sal self die Here van hierdie verdeeldheid en verskeuring wees, totdat hierdie instelling sy Woord as hoogste gesag erken en die wyse waarop Hy sy Kerk bou volgens die Woord weer erken.

Die Here bou sy Kerk nét op die geloofsbelydenis wat volgens die openbaring van die Vader waar is, nie op mense se verskillende en uiteenlopende belewenisse van Jesus en hulle verklarings oor Jesus nie.

En van die Here se kerkbou kan geen lidmaat vrygestel word of vryruimte voor gegee word nie.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Petrus Kriel

Petrus Kriel is dominee van die NG Kerk Levubu.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Thys Human ·

Baie interessante artikel – en ‘n deeglike ontleding van die dubbelsprakerigheid wat daar wel in die NGK is oor Belhar.

As ‘n nie-godgelowige maar tog ‘n NGK-lidmaat van baie, baie jare gelede en met familie wat baie bekommerd is oor wat in hulle kerk aangaan, is die Belhar-debat vir my van groot belang. Ek is dan ook op rekord dat ek as politieke joernalis ‘n politieke pamflet ken as ek een sien, en as ‘n kerklidmaat jare gelede ‘n godsdienstige traktaatjie ken as ek een sien en Belhar is beslis ‘n politieke pamflet, nie ‘n traktaatjie nie, laat staan nog ‘n belydenis!

Maar wat my absoluut verstom van bostaande artikel is die wyse waarop daar onverskonend, selfs arrogant, na die NGK verwys word as die “Kerk van God (of die Here)”.

So skryf Kriel bv.: “Die enigste wyse waarop hierdie vryheid moontlik is, sonder om die kerk te laat disintegreer, is deurdat die Here nie meer deur en in die geloofsbelydenis sy kerk bou nie.

Die Here kan tog nie een kerk bou waarin lede deur Hom of versamel word of nie, of tot verantwoording gebring word of nie, of teenoor Hom tot ’n beslissing kom of nie, of deel van die openbare instelling van die kerk kan wees of nie. Dit is nie kerkbou nie. Dit is kerkskeuring en die Here kan nie sy eie kerk op hierdie wyse verskeur nie. ”

Op die keper beskou, se^ hierdie stelling dat alle ander kerke (insluitend NHK, GK en APK) en sieninge nie “Kerke van God” is nie! Sjoe, en dan probeer die Wereldraad van Kerke die spul verenig!

Johann ·

At Fourie jy behoort by hierdie tyd te weet dat die “Kerk” nie reageer of plasings publiseer waar mense eerlike vrae vra of antwoorde soek wat die “Kerk” se dogma en eksklusiwiteit blootlê nie.

Johann van Wyk ·

At Fourie jy behoort by hierdie tyd te weet dat die “Kerk” nie reageer of plasings plaas waar mense eerlike vrae vra of antwoorde soek wat die “Kerk” se dogma en eksklusiwiteit blootlê nie.

Johann van Wyk ·

As voormalige lid van die NGK (dalk nogsteeds lid want het dit nie gekanselleer nie) staan ek vandag nogsteeds verstom dat die Belhar-debat voortleef in ‘n eeu waar die vraag eerder moet gaan oor die aard en wese van ‘n “God”. Of Mens die Veda, Kur’an of Bybel lees dan hoort die “Kerk” te besef dis uitgediende filosofieë van oningeligte denkers.

Johann van Wyk ·

Het te min ruimte gehad. Wil ook byvoeg dat as mens in ag neem hoe groot die heelal moet wees, hoeveel groter moet ‘n sg. “God” of dergelike entiteit net nie wees nie. En tog lê gelowiges Hom/Haar/Dit hul eie woorde in Sy /Haar/Dit se mond! Spiritualiteit is ‘n funksie v/d brein alleen.

Johann van Wyk ·

As mens in ag neem hoe groot die heelal is, dat lig van ander sonnestelsels ons nooit sal bereik nie, dat selfs die Hubble-teleskoop in 2020 die einde van sy perke sal bereik het en ons kennis van afgeleë sonnestelsels daarmee tot ‘n einde sal kom, kennis wat selfs graad 8 leerlinge vandag het, dan vra ek myself af hoe almagtig en groot so ‘n “Godheid” moet wees as daar só iets is en dit alles sou geskep het. Hoe kan gelowiges dan gaan en die woorde en gebeure soos vervat in die Bybel, Kur’an of Veda aan Hom/Haar/Dit in Sy/Haar/Dit se mond lê? Die Bybel is geskryf deur filosowe van daardie tyd toe hul kennis beperk was, toe kennis van die heelal vandag hierdie filosofiese denke oor en oor weerlê het. Waarom kan gelowiges nie verder ondersoek instel oor hoe versoenbaar hierdie primitiewe denke is met vandag se kennis nie? Die denke van mense, en veral gelowiges, is ‘n funksie van die brein alleen. Sou iemand ‘n Godheid soek, doen dit dan ten minste in die “idioom” van vandag se kennis.

Jaco Steyn ·

Dit is interessant dat hierdie eerste deel van die Belydenis van Belhar
(http://www.kerkweb.org/node/1430) wat die dogma aangaande God Drie-enig verwoord, na géén Bybelvers verwys waarop dit gebaseer is nie!

1. “Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe”.

Die verwerping van “… die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur” waarna deel 3 verwys, het óók geen Bybelvers waarop hierdie voor die hand liggende politieke stelling gebaseer is nie.

Dit is broodnodig om beide godsdienstige én politieke misleiding te ontbloot alvorens die ware vyande van die meeste Suid-Afrikaners geïdentifiseer kan word en daar doeltreffend weerstand gebied kan word teen hulle.

Neels Malan ·

Beste ds Petrus — Jy sal vir ons ‘n groot guns bewys as jy jou lang artikel rubriseer (saamgroepeer) onder opskrifte en net die essensie van jou argument weergee. Vandaar kan mens dan na jou lang artikel gaan kyk. Ek verdrink bietjie daarin, en het eerlikwaar nie die tyd om die rubrisering self te doen nie. Hoe lyk dit? Intussen kan jy my Belhar Alternatief gratis by my aanvra by 0828151809.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.