Bevorder die belange van die land

Dr. Isak Burger (Foto: Facebook)

Selfs die grootste optimis sal in hierdie dae erken dat daar ʼn klomp skroewe los is in Suid-Afrika. Hiervoor moet die regerende party die grootste deel van die blaam dra – iets wat hulle sukkel om te doen. Ontkenning van verantwoordelikheid, sistemiese korrupsie en ʼn arrogante skaamteloosheid is kenmerkend van die soustrein-ryers.

Dit is veral die toenemende arbeidsonrus van die afgelope tyd wat ʼn beklemming om die hart bring. Die tekens van ʼn klassieke arbeids- en klasse-rewolusie is onmiskenbaar.

Die vraag wat toenemend by my, as Christen, opkom is die een in Psalm 11:3: “As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?”. Wat kan en behoort Christene in hierdie tyd in ons land te doen om ʼn verskil te maak?

Natuurlik is verantwoordelike burgerskap vir Christene ʼn gegewe. Die welstand van die land waarin ons onsself bevind, moet vir ons as gelowiges belangrik bly. Ek lees onlangs weer die woorde van die profeet Jeremia (eintlik van die Here sélf) aan die ballinge in Babilon in Jeremia 29:7: “Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange”.

As die Here hierdie soort gesindheid en lojaliteit van Sy volk verwag het teenoor ʼn vreemde land waarheen mense teen hulle sin as ballinge geneem is, hoeveel te meer ten opsigte van ons eie land. Hier waar ons huise en grond besit.

Die huidige regerende party faal in feitlik elke opsig. ʼn Ander regering kan beter doen, maar ook swakker (alhoewel ʼn mens jou dit kwalik kan indink). Tog verander dit niks aan God se opdrag aan Sy mense nie – Bid vir die land en bevorder die belange van hierdie land!

Daar was nog altyd die individue, maatskappye en moondhede wat net belanggestel het om hulleself te bevoordeel en te verryk uit die land en sy minerale rykdomme. Die negatiewe sentimente van baie jeens kolonialisasie is nie heeltemal ongegrond nie. Afrika se minerale rykdom en sy mense is in die eeue wat verby is dikwels deur Westerse moondhede uitgebuit.

Die tragedie is dat dit tans weer gebeur, maar hierdie keer deur die Ooste, veral China. Die ironie is dat dit hierdie keer deur die meeste regerings in Afrika met applous begroet word – omdat die voordele daarvan meestal nie by die mense wat dit die nodigste het uitkom nie, maar in die sakke (en buitelandse rekeninge) van korrupte staatsamptenare en -leiers beland.

Daarby het ons in Suid-Afrika oor die algemeen te make met ʼn julle-skuld-my verbruikers-mentaliteit en ʼn dikwels bedenklike werksetiek.

Aan die ander kant moet ʼn mens erkenning gee aan individue, private inisiatiewe en organisasies wat regtig vir hierdie land omgee en op verskillende maniere waarde daaraan probeer toevoeg. Kyk maar hoe is Kroonstad reggeruk.

In hierdie verband is daar dus twee soorte landsburgers: Die uitbuiters en fortuinsoekers aan die een kant en die “waardetoevoegers” aan die ander kant.

Christengelowiges moet waarde toevoeg aan die land en sy mense. Só doen ons die wil van God en bou ons in daardie sin aan Sy Koninkryk.

Een van die dinge wat die Here Israel beveel het om selfs tydens hulle ballingskap te doen, is om tuine aan te lê. (Jeremia 29:5) Daarom moet ons ons landbouers waardeer en ondersteun. Om die land te bewerk, is om uitvoering aan God se opdrag te gee. Ons voeg waarde tot die land toe, selfs as ons net ʼn boom plant.

Die grootste waardetoevoeging wat ons as Christene egter kan maak, is om in mense se lewens te belê. Dit begin wanneer ek die mense wat vir my werk nie uitbuit nie, maar ʼn menswaardige en lewenskoste-verwante besoldiging gee. Om, sover as wat ek dit kan bekostig, mense – veral kinders en jongmense – te bemagtig en hulle te help om die lewe beter toegerus in te gaan.

Een vir een, stukkie vir stukkie kán ons ʼn verskil maak!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Groen Ghoen ·

Onderdrukking deur die ANC is die beste oplossing om die Afrikaner te laat saamstaan. Die geskiedenis leer dit: Kyk na die verspreiding van die Christendom en die Israeliete in Egipte. Laat ons saamstaan, selfdoen, en selfwerk. Deur onsself te help, help ons tog ook die hele land?

Atta ·

Om die analogie van die Jode in ballingskap op ons vandag toe te pas is in die kol. Maar dit laat dan onmiddellik die volgende vrae by my opkom: As uit al daardie ballinge slegs drie jongmanne nie die knie gebuig het voor die koning se beeld nie, wat sê dít dan vir ons vandag? Hoeveel ware Christene is daar nog vandag?

Maroela Media het tans ʼn meningspeiling hier onder wat wys dat slegs 29% van die respondente dit nog belangrik genoeg ag om op ʼn Sondag kerk toe te gaan. En ek is van mening dat die meerderheid respondente Afrikaners is. Ek weet kerkbywoning bepaal nie of jy ʼn Christen is of nie, maar dis ʼn goeie barometer. Hoe kan jy deel wees van die Liggaam van Christus as jy nie saam met die ander lede van die Liggaam wil wees nie?

Nettie ·

God het so 5-10 jaar terug begin verander aan hoe Hy wil hê mense moet Hom dien. Die kerk self, begin verander. Meer terug na wat “kerk” was in die apostels se tyd. Tans is dit wat die sinagoges was in Jesus se tyd, en Hy het dit verander.

Hulle het elke Sabbat bymekaar gekom, een persoon het voorgestaan en gelees en ander geleer. Die apostels het gesê nee wat, sit almal sommer saam in ‘n huis en almal kry ‘n beurt om te gesels en te leer en te lees. Mens is nie deel van die Liggaam omdat jy Sondae na ‘n “Sinagoge” of Kerkgebou gaan nie. Maar omdat jy Jesus volg, en werklik deel van Sy Liggaam is. Doen waarvoor jy geroep word. Ek hoop hierdie maak sin. Vir party mense is kerk toe gaan nog belangrik, maar dis beslis nie vandag ‘n aanduiding of soos jy dit stel, ‘n goeie barometer nie. Inteendeel. Luister na die nuwe dinge wat God doen! Hy is baie, baie aktief onder Sy mense.

annie ·

Miskien moet ons dominees en leraars hulself afvra: Wat is ons aandeel? Kerkleiers wat nie die geestelike behoeftes van hul gemeentelede wil raaksien nie net hul eie, is nie in die regte beroep nie. Gemeentelede is arm en voel verstote, is hoogs gestres en moedeloos veral ná die epidemie. Die toekoms van Afrikaners in SA is onseker en om dan in die kerk te moet hoor van dominee se weereens stukkende motor en hoeveel meer eerder vir die verste gedoen moet word om die Vader se seën te ontvang, is om die minste te sê, sluwe bearbeïng hetsy afpersing.

Nettie ·

Eendag toe ek kla oor plaasmoorde, antwoord die dominee dat “Boere moet aanpas in die nuwe SA”. Dit was die dag waarop ek klaar gemaak het by die kerk. Die Bybel vertel ons nie om “aan te pas” by moord nie. Dis soos jy sê Annie. Die dominees is soms ver verwyderd van wat in die harte van hul mense omgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.